By die viering van die US se honderdste bestaansjaar: Ope brief aan Jannie Marais van Coetzenburg

  • 2

Foto van Jannie Marais: LitNet; foto van Gerrit van Wyk Kruger: Stellenbosch Writers

Ope brief aan Jannie Marais. Deur ’n alumnus, Gerrit van Wyk Kruger, Professor Emeritus in Grieks aan die US

Veels geluk, onse eerste alma mater, met die meeste dinge wat jy die afgelope honderd jaar wel hier vermag het na ’n uiters beskeie en miskien, wie weet, godgegewe begin. Het oom Jannie werklik nooit heimlike bedenkinge gekoester nie? Maar, oom Jannie, ék voel vandag erg beswaard, spytig, ontnugter, bedruk en selfs ietwat bitter as ek sien wat van die US in die jongste tyd geword het; ’n universiteit Oom, wat hierdie dienswillige dienaar vir 33 jaar met alles in sy vermoë gedien het, al was dit nie in die voorste gestoeltes nie. En ek het goeie redes hiervoor wat ek straks ook namens u, wat nou u sê vir goed verloor het, gaan aanstip. Vergewe my as ek hier en daar effens gaan struikel en miskien gaan mistrap. Ek het dit egter alles maar net goed bedoel.

Quo Vadis ons geliefde US? Jy is besig om totaal te verengels, juis dit waarteen oom Jannie Marais, lank geroem as “Ons Weldoener” op die Rooiplein, ’n man wat hierdie universiteit wou skep nadat ’n Engelse universiteit in Kaapstad, reg op ons voorstoep, deur die destydse owerhede as die enigste “teaching university” in ons kontrei aangewys is. Oom Jannie, jy het toe besluit om ’n honderdduisend pond (’n aardige bedraggie destyds, moet ek sê) in jou testament na te laat vir die ideaal van ’n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch, jou geboortedorp, want jou moedertaal het sy nis diep binne-in jou ruim hart gehad. Oom Jannie, jy sal seker vandag in die skamele asse van jou graf omdraai as jy sou moes sien wat besig is om hier te gebeur. En jy sal jou geld maar liewer weer wou kom haal het om eerder nog goud en diamante te skenk vir die strate van die Goeie Hiernamaals waar jy nou al vir meer as ’n eeu jou finale rus gekry het.

Ek het, as modernis, niks per se teen Engels nie, oom Jannie. Dit het lank reeds ’n internasionale wêreldtaal geword, ’n lingua franca wat almal verstaan – iets wat nie die geval met ons kleine Afrikaans is nie. Maar ek gaan, uit eerbied vir jou oom Jannie, vandag argumenteer vir die ewige en onaantasbare bestaansreg van hierdie Afrikaans wat vir jou so kosbaar en spesiaal was, en die verdienstes daarvan probeer uitwys. Hora est.

Oom Jannie, ek is ’n moderne eksistensialis wat net namens myself wil en kan praat. Verskoon daarom as ek miskien te ekkerig klink, want dit was nie jou styl nie.

Komende van die amperse Kalahari het ek ook vir vyf jaar op Stellenbosch studeer, voordat ek, as Afrikaanssprekende, ’n sonderlinge studiebeurs verwerf het om op Cambridge in Engeland te gaan studeer aan King’s College vir drie jaar. Dit was ’n verrykende ervaring, danksy sir Henry Strakosch en ek het uiteindelik teruggekom met ’n PhD in NT Grieks – sonder om te sneuwel. Immers my kontak vandag nog met Cambridge, deur rondskrywes en uitnodigings almaardeur, is drukker as met dié van my eerste alma mater.  Sien, by hulle is dit deel van ’n lang tradisie van dinge doen, ’n tradisie wat reeds oor meer as 800 jaar volgehoue dáár strek. Maar wat het nou, intussen, van Stellenbosch se dure, kosbare en sweetverworwe tradisie as ’n Afrikaanse universiteit geword? Oom Jannie, ek sien daar is besig om dadels van te kom. Dit grens vir my amper aan verraad, veral teen jou. En ons staan reddeloos en magteloos en toekyk hoe hierdie Afrikaanse tradisie stelselmatig geërodeer word om uiteindelik volkome vernietig te word. Hierdie ou Afrikaanse instelling van jou is in ons tyd besig om metodies-planmatig sy tradisionele karakter te verloor en geheel gedepersonaliseer te word deur, myns insiens, visielose intellektueles van oorsee wat holle retoriek gebruik om ons gekweldes tevrede mee te hou. Maar ons sien deur dit alles, want die neteldoek is maar dun. Met blote uiterlike vertoon (die Engelse noem dit “tokenism”, oom Jannie, soos jy weet) word Afrikaans nou genadeloos in ’n cul-de-sac ingelei wat terugkeer uit die doodloop bitter moeilik en selfs onmoontlik gaan maak.

Maar laat ek jou kortliks vertel, oom Jannie, wat die afgelope eeu met Afrikaans hier op Stellenbosch en elders, vertak soos dit geraak het, in Suid-Afrika gebeur het. Afrikaans het die afgelope honderd jaar werklik skitterende literêre skeppinge op feitlik elke terrein van die letterkunde van die mees hoogstaande gehalte gelewer om vir ewig as ’n monument nagelaat te word. As dit nie vir die politiek was nie, sou iemand soos NP van Wyk Louw dalk die Nobelprys vir Letterkunde in sy tyd verower het. Oom Jannie, ek het met bykanse oormoed wat aan hubris grens, en met vele togte, persoonlik gesorg dat feitlik al die min of meer 4 000 eerste Afrikaanse literêre publikasies van die vorige eeu (en vele daarby geteken deur die outeurs self vanaf die vroegste tyd) byeengebring is, wat tans eenkant in die Universiteitsbiblioteek hier bewaar word teen uiteindelike verderf. Dit was mý passie en plesier vir jou Afrikaanse universiteit, oom Jannie. Verder, die Woordeboek van die Afrikaanse taal (die WAT) trek nou al by sy 14de hoogs omvattende volume, waarmee ook op jou Stellenbosch reeds in 1926 begin is, skaars ’n dekade na jou droewige oorlye by Montagu se warmbaddens waar jy verligting teen jou rumatiek gaan soek het. Oom Jannie, NP van Wyk Louw van veel later het per geleentheid gesê dat Afrikaans ons met Wes-Europa bind, en ’n soort brug vorm tussen die “groot helder Weste” en die “magiese” Afrika, iets wat my ook laat dink aan die Portugese digter Luis Vaz de Camões se Lusiadas, ’n groot epiese gedig, waar hy reeds gewys het hoe die grootse natuurgees Adamastor, wat in die Wes-Kaapse berge vasgevang is, met wilde stormwinde stry teen die “verligte gees” van die Europeër. Maar ons het reeds sedertdien geleer om volkome vrede te maak met die Kaap van Goeie Hoop en sy mense. Die Afrikaner is lank reeds óók ’n Afrikaan in ’n gans nuwe demokrasie, ’n Afrikaan óók gebore in hierdie droewe, wye en verdeelde land. Ons volkskrywer, CJ Langenhoven, het gesê dat Afrikaans nie “klaargemaak” van oorsee af gekom het nie. Dit is hier geformeer en geanker met bydraes uit die verskillende volksgroepe in hierdie geboorteland van ons. Afrikaans het sedertdien ook ’n belangrike en veelgeroemde bydrae tot die ryke verskeidenheid van tale in ons gemeenskaplike vaderland, Suid-Afrika, gemaak. Daar is al daarop gewys, oom Jannie, dat jóú Afrikaanse universiteit op Stellenbosch die enigste nie-Europese en nie-Asiatiese universiteit ter wêreld is wat suiwer gewortel is in sy eie taal – dié Afrikaans waarvoor jy so lief was en waarvoor jy al jou aardse besittings goedwillend nagelaat het. Dis ’n prestasie vandag om op trots te wees, oom Jannie. Maar ons wil ons kosbare pêrel, Afrikaans, nog steeds vryf en vryf totdat dit blink en klink soos NP van Wyk Louw se beiteltjie. Afrikaans, het ou Wyk gesê, is geen “optelkind” sonder ouers en agtergrond nie. Dit het ’n ma en ’n pa waarop hy trots kan wees. In die nuwe land kon hy nuwe dinge kom uitsê soos geen ander taal dit kon doen nie. Dit het ’n soepelheid, konkreetheid, boersheid en soms felheid geërf wat ons nie nou onder ’n sweetdoek durf begrawe nie. En dit was alles deur NP van Wyk Louw kwytgeraak in sy helderste uur, vates en filosoof wat hy ook was. Afrikaans, sien ons nou, word by die dag vryer, meer modern, cool en meer loslittig gebruik. Dit het nooit stagneer nie. Ons moet nou net bly bou aan hierdie pilare, die Kaaps van ons bruin medebroeders ingesluit.

Oom Jannie, ek word vandag genoodsaak om weer op die tamboeryn van Afrikaans as taal te speel, want baie van ons hoë amptenare wil dit nie meer praat, sien, of hoor nie. Net soos jy, oom Jannie, het ek Afrikaans op my moeder se knie geleer. Dit is die taal van my hart wat ek die beste verstaan in al sy subtiele nuanses. Dit is deel van my menswaardigheid en integriteit, dit is deel van die bruisende innerlike energie in my. Dit is soos die suurstof wat ek daagliks inadem om werklik te kan lewe.

Oom Jannie, ek het 20 jaar gelede al druk aan die debat oor Afrikaans deelgeneem in Die Burger, ’n Kaapse dagblad wat jy, ook op Stellenbosch, help stig het. Ek het selfs onlangs ’n ellelange referaat op LitNet gelewer (wat steeds in hul argief is) en Tim du Plessis het later gesorg dat dit in ’n boek opgeneem word, naamlik Om te skryf, wat in 2013 by Van Schaik in Pretoria verskyn het, en wel onder die subtitel “As ’n taal sterf”. Maar ek het meer as dit gedoen. Ek het verskeie eerste vakkundige inleidings in Afrikaans geskryf, en verlede jaar nog die taalkundige geskiedenis van Grieks oor 35 eeue heen in 500 bladsye behandel. Dink daaraan: ’n verslag van die oudste Westerse taal in die idioom van die jongste Westerse taal wat jou, oom Jannie, so na aan die hart gelê het. Ander werke is nog op pad, danksy die reuse steun van die SA Akademie wat genl Hertzog nog op Bloemfontein help stig het. Daar is ook vele, vele, ander, net soos ek, wat nie net op die kantlyn bly staan en skree het nie. Ons taal is mos die wesensproduk van ons eie geboorte-akker, eindeloos en amper onherkenbaar vergroei uit die 17de eeuse Nederlands van Vondel, Hooft en Bredero. Dit is ’n taal wat alles kan sê, ’n taal waarop ons meer as fleurig trots is.

Toe die vlagskip van die US in 1886 ingewy is, naamlik die Ou Hoofgebou, wat  die heel eerste amptelike lesinglokale vir ons geliefde universiteit gebied het, was jy self seker breëbors. En dit was Afrikaanssprekendes op Stellenbosch wat daarvoor hulle hande diep in hul sakke gesteek het om dit ons eiegoed te maak. En Karl Otto Hager het aan hierdie praggebou ’n eg klassieke voorkoms gegee – juis soos die Renaissance van Wes-Europa begin het.  Dit is ook die gebou waarin ek, oom Jannie, deur my hele professionele loopbaan heen my klasse in Grieks aangebied het. Dankie, oom Jannie. Baie dankie.

Oom Jannie, ek kan nie verstaan waarom die gene van jou universiteit nou skielik verander moet word nie. Dis tog teen-natuurlik. In die nuwe bedeling van Suid-Afrika moes ons noodgedwonge van simbiose en sintese van die verskeie volksgroepe by mekaar geleer het, en dat almal vir almal aanvaarbaar moet wees. Die stryd van die Afrikaanses om hul taal amptelik te behou en die politieke stryd van versoening tussen wit en swart in ’n nuwe demokrasie in ons land was ewe intens en heftig. Maar nou kan ons immers mekaar se aspirasies, uit eie ondervinding, des te beter verstaan, meen ek. Ons is beide in hierdie proses deeglik gelouter. Leef en laat leef, moes ons aan eie bas leer.

Oom Jannie, die Afrikaner het op ’n nuwe trek gegaan, dié keer een hoër as om oor die Drakensberge hul waens te dra. Afrikaans sal nog eendag hierdie epiese trek van sy eie renaissance in jou Afrikaans verhaal soos Vergilius dit  gedoen het vir die Romeine totdat hulle in Latium aangekom het, John Milton en Edmund Spencer dit vir die kerklikes in Engeland gedoen het, en Dante, in die alledaagse Italiaans van die dag, weer gedoen het vir die suiwering van die siel van die sondige mens – én selfs Homeros vir sy oorlog om ’n femme fatale weer terug te gaan haal uit Troje. Want Afrikaans besit ook daardie inherente onblusbare en onplunderbare genialiteit van segging.

Oom Jannie, ons weet dat die akademiese voortbestaan van ons taal by die jeug lê. Geslagte het reeds gekom en gegaan, maar húlle, die jonges, bly die sine qua non. Die stryd kan uiteindelik alleen deur die jeug gewen word. Eens het Onze Jan ook gevra: “Is’t ons erns?” Op 6 en 7 April 1911 het ’n sewentigtal studente op Stellenbosch in Dorpstraat met hul taalkonferensie besluit: “Wij zullen handhaven”. Dít moet weer die gees van herlewing word. Die ware siel van ’n volk word alleen deur sy taal wakker gemaak. Ons hoef nie meer oor die bestaansreg van Afrikaans te twyfel nie, oom Jannie. Dis reeds ’n fait accompli. Dit word nog selfs steeds in die parlement gehoor, hoewel nie meer so gereeld soos vir ’n tyd ná 1925 nie. Die jeug moet net die stokkie weer optel eerdat dit op die buitenste baan gaan val. Dit is reeds aangegee.

In 1856 het ’n Russiese skrywer, IA Goutsjarof (skrywer van die roman Oblomof) Stellenbosch besoek, ’n hele 10 jaar voordat die Stellenbosch Gimnasium gestig is, en opgemerk (en ek haal hom in Engels aan): “Who knows what oak of learning will grow up in this ancient, yet still young colony, which is (now) remoulding itself. Perhaps Stellenbosch College may (one day) become the African Göttingen or Oxford”. Hierdie profetiese woorde het waar geword. Met my eerste sitting op die senaat van die US in 1977 is Stellenbosch reeds “oop” verklaar, maar met die verstandhouding dat hy sy Afrikaanse karakter behou. En waarom nie? Die UCT gee al sy klasse in Engels. Kan daar dan nie net één universiteit in Suid-Afrika wees wat Afrikaans as sy basiese voertaal het nie? België het, ook na ’n lang stryd, in Gent sy Vlaamse universiteit gekry. Of sal oom Jannie toegee dat Stellenbosch ook 50/50 tweetalig word soos die Universiteit van Ottawa in Kanada? Oom Jannie weet, soms vereis die lewe ook maar kompromieë as die dood reeds in die pot is. Maar ek dink stellig nie dat Oom net Engels as voertaal sou aanvaar het nie. Dit sou totaal ingedruis het teen Oom se laaste lewenswens en brandende hartsbegeerte toe Oom daardie groot skenking vir ’n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch gemaak het.

Ek is jammer om so persoonlik te gewees het, oom Jannie. Maar ek is intens hierby betrokke, en Oom het nie meer ’n stem nie. Die stem wat daar vir lank nog was, is Oom nou ontneem.

Laastens, oom Jannie, sou jy ’n private Afrikaanse universiteit verkies het soos een van die Ivy-League’s by Boston, Princeton en Yale in die VSA? Ek vra maar net, want soos wyle Martin Luther King van die einste VSA het ék ook eens ’n droom gehad, net soos jy ook hierdie Stellenbosse droom getroetel het. Niks op aarde is onomkeerbaar vir die wat ’n opregte strewe het nie. Dankie, Oom Jannie. Dixi. Lank lewe onse groot weldoener!

Die uwe

Gerrit van Wyk Kruger

http://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

  • 2

Kommentaar

  • Matthys Strydom

    As 'n oud-Ikey sê ek hoor-hoor.
    Oor moedertaalonderrig: daar is nie daaroor te redeneer dat dit die ideaal is nie, ten minste tot matriek.
    Maar Afrikaans het vele moedertale. Luister bietjie na die tale wat vandag se moeders (en veral toekomstige moeders) praat en raak saam met my ernstig besorg.

  • Johannes Comestor

    My dank aan Gerrit vir hierdie skrywe. Moedertaaldag het nie ongemerk verbygegaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top