Die verwerking van trauma in twee Afrikaanse romans

  • 0

 

Abstract

The portrayal of trauma in two Afrikaans novels

This article discusses the traumatic experiences of characters in two recent Afrikaans novels: Stiltetyd (Time of silence) by Marita van der Vyver (2006) and Chinchilla by Nanette van Rooyen (2007).The article examines the way in which the novels describe the experience of trauma by the characters and the ways in which a process of healing is started by different processes. The theory of trauma and psychotherapy, psychology, recent findings in the field of neurobiology and the interdisciplinary discourse with literary narrative are used in this discussion.

 

Opsomming

Die verwerking van trauma in twee Afrikaanse romans

Hierdie artikel bespreek die uitbeelding van trauma in twee onlangse Afrikaanse romans: Stiltetyd deur Marita van der Vyver (2006) en Chinchilla deur Nanette van Rooyen (2007). Die artikel belig eerstens hoe genoemde romans verskillende karakters se ervaring van trauma uitbeeld, en tweedens hoe die verwerking- en helingsproses deur middel van verskillende prosesse waarin die narratief ’n rol speel, in die romans uitgebeeld word. Deur teorieë oor trauma en psigoterapie, sielkunde en onlangse navorsingsbevindinge op die terrein van die neurobiologie naas besprekings deur letterkundiges op hierdie navorsing te betrek, lewer dié artikel ’n bydrae tot die interdissiplinêre diskoers oor die rol van narratiewe in die verwerking van trauma.

 

Die verwerking van trauma in twee Afrikaanse romans

1. Inleiding

Verskeie Afrikaanse romans met die verwerking van trauma as tema het onlangs verskyn. Hierdie artikel ondersoek die wyse waarop hierdie tema in twee van hierdie romans, naamlik Stiltetyd deur Marita van der Vyver (2006) en Chinchilla deur Nanette van Rooyen (2007), vergestalt word.

Van der Merwe en Gobodo-Madikizela (2007:66) stel dit duidelik dat dit feitlik onmoontlik is om oor trauma as fenomeen te teoretiseer; net soos dit feitlik onmoontlik is om ’n sogenaamde inklusiewe raamwerk vir die bestudering van trauma op te stel.

Teenswoordig word daar verskillende prosesse onderskei wat vir die verwerking van trauma aangewend kan word. Kaminer (2006:483–4) onderskei ses. Een hiervan behels dat die getraumatiseerde persoon ’n narratief moet skep, ’n benadering wat die afgelope paar dekades reeds baie aandag geniet het – in Europa veral met verwysing na die Holocaust, en hier te lande veral met betrekking tot die ervarings waaroor mense voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) getuig het.

Navorsing oor die skep van ’n narratief as middel tot die verwerking van trauma verg dus kennis van sowel die terrein van die sielkunde as die terrein van die letterkunde. So ’n interdissiplinêre ondersoek hou sy eie gevare in, soos Kathryn Robson (2001:115-6) en Gerhard Werner (2004:246) reeds aangedui het: dissiplinêre grense moet oorskry word, en die navorser kan maklik in die strik trap om te veralgemeen oor die uiters sensitiewe en subtiele verwoording van die onverwoordbare trauma en die skep van simplistiese modelle vir die begryp van die prosesse van trauma.

Wanneer die hoofkarakters in romans soos Stiltetyd en Chinchilla uitgebeeld word as persone wat simptome van posttraumatiesestres-versteuring (PTSV) toon (nie alle persone wat trauma ervaar het, ly later aan PTSV nie), het die skrywer die taak om nie net die proses van die ervaring en verwerking van die trauma uit te beeld nie, maar ook om deur die fokalisator-karakter die trauma te verwoord. Trauma staan egter juis verwoording teen, en kan nooit in sy volle werklikheid as talig ervaar of as taal geformuleer word nie. Dit is ook nodig om te beklemtoon dat verskeie kenners op die gebied van trauma waarsku dat die hervertelling van die traumatiese gebeure soms tot hertraumatisering kan lei (Kaminer 2006:482) en dat die ervaring en verwerking van trauma ’n uiters individuele aangeleentheid is wat nie tot veralgemeende prosesse en stappe gereduseer kan word nie (Caruth 1995:4; Kaminer 2006:493; Robson 2001:127).

In die bespreking van hierdie twee romans word beoog om die fiktiewe uitbeelding van die proses van die verwerking van trauma daarin aan te dui, die geslaagdheid en die uitbeelding daarvan na aanleiding van die teorie daaroor te bespreek, en ’n vergelyking te tref tussen die wyses waarop dit in die twee romans hanteer word. Dit is egter nodig om eers kortliks aandag te gee aan die teorie oor trauma soos op hierdie stadium in die sielkunde en deur die getuienis van die oorlewendes van trauma aan ons bekend is (vergelyk ook Anker 2008).

 

2. Trauma

2.1 Trauma en die simptome van PTSV

Die woord trauma beteken oorspronklik “(’n fisiese) wond”, en het eers later ’n term geword om veral ’n sielkundige toestand te verwoord. Trauma gaan altyd oor geweld en die slagoffer word geweld aangedoen op een of ander wyse wat hom magteloos maak teenoor die pyn van die ervaring, magteloos teenoor ’n oorheersende mag wat fisiese, kulturele en sosiale grense oorskry (Culbertson 1995:4).

Ruth Leys (in Saunders 2005:16-7) definieer trauma soos volg:

Owing to the emotions of terror and surprise caused by certain events, the mind is split or dissociated: it is unable to register the wound to the psyche because the ordinary mechanisms of awareness and cognition are destroyed. As a result, the victim is unable to recollect and integrate the hurtful experience in normal consciousness; instead she is haunted or possessed by intrusive traumatic memories. The experience of the trauma, fixed or frozen in time, refuses to be represented as past, but is perpetually re-experienced in a painful, dissociated, traumatic present.

Hierdie soort trauma word tans gediagnoseer as die simptomatiese effek van posttraumatiesestres-versteuring (PTSV).

Verskeie navorsers het reeds gewys op onlangse navorsing in die werking van die brein wat daarop dui dat trauma die effek het dat daar ’n vermindering van verbindings tussen die regter- en linkerhelfte van die brein plaasvind en dat daar tegelykertyd selfs ’n breuk in die regterbrein, waar die meeste van die beheer van emosies plaasvind, voorkom. Vir pasiënte wat so ’n breuk ondervind as gevolg van trauma, is dit essensieel om juis die integrasie tussen linker- en regterbrein te herstel tydens terapie, sodat daar uiteindelik ’n koherente narratief oor die emosionele ervarings kan ontstaan (Wilkinson 2005:485).

Tydens die traumatiese ervaring word veral die enkodering en die herroep van die geheue wat daarmee geassosieer word, direk geaffekteer. Sielkundiges het bevind dat hierdie dissosiasie juis beteken dat die ervaring van gevoel, emosie, optrede, beelde en die betekenis daarvan, gefragmenteer word in losstaande eenhede sonder logiese verband (Wilkinson 2005:487). Die gevolg hiervan is dat daar nie ’n direkte herinnering of herroepbare geheue van die gebeure is nie. Hierdie ervarings word dus nie as narratiewe, eksplisiete historiese geheue bewaar nie, maar slegs implisiet bewaar binne die emosionele brein en in die reflekse van die liggaam, sodat die persoon op daardie vlak gewaarsku kan word wanneer dieselfde gevaar weer sou dreig (2005:487). Van der Kolk (2002:384-5) wys daarop dat onlangse navorsing bevestig dat gedurende die ervaring van trauma die voorste gedeeltes van die brein, wat verantwoordelik is vir die analise van ervarings en die verbandleggende assosiasies daarvan met ander kennisterreine, gedeaktiveer word. Sodanige deaktivering van die dorsolaterale prefrontale korteks meng dan in met die persoon se vermoë om ’n reaksie op die bedreiging te formuleer. Tereselfdertyd kan trauma ook inmeng met die sogenaamde Broca se area, die deel van die brein wat juis meewerk om gevoelens in woorde te formuleer. Gepaardgaande met die afname van aktiwiteit in Broca se area en die vermoë om talig te reageer, is daar ’n intensivering van aktiwiteit in die limbiese sisteem van die regterbrein. Die samevattende gevolg van hierdie reaksies in die brein is dat persone wat hul trauma herleef, baie moeilik die ervaring in taal kan formuleer (vgl. Anker 2008; Brewin 2003:117-23; Peres 2005:433; Van der Kolk 2002:387).

Culbertson (1995:1) verwys na hierdie stilte by die oorlewende/slagoffer as intern en ekstern: intern in die sin dat die slagoffer die ervaring onderdruk sodat hy dit nie oor en oor hoef te ervaar nie, of omdat ’n gedeelte van homself dit onbewustelik onderdruk; en ekstern omdat dit vir ander ongelooflik en onverstaanbaar sal klink, of omdat dit doodgewoon nie verwoordbaar is nie. Culbertson (1995:2) beklemtoon egter dat die ervaring van die trauma ’n dwingende teenwoordigheid by die slagoffer bly, maar dat dit nie bereikbaar is deur die gewone meganismes van die historiese geheue nie. Dit kom eerder voor in ’n ander dimensie van die logika, soos van die droom, as dié van taal. Volgens Caruth (1996:153) is die geheue wat in terugflitse verskyn, eintlik sonder enige plek in die geheueskakel, want dit pas nie in die verlede, waar dit nooit ten volle ervaar is nie, en ook nie in die hede, waar dit nie ten volle verstaan kan word nie.

Verskeie simptome van PTSV, die herhaalde latere ervaring van die traumatiese gebeure, word deur sielkundiges as algemeen vir hierdie toestand beskou. Die terugkerende terugflitse, wat deel is van die liggaam se verdedigingsmeganisme teen die herhaling van die gebeurtenis self, is al ’n aanduiding dat ’n deel van die persoon afstand inneem teenoor die gebeure – die ervaring is slegs beskikbaar in die vorm van onwillekeurige terugflitse: die persoon kan dit nie self willekeurig oproep nie (Wilkinson 2005:489).

Ander simptome sluit die volgende in: dissosiasie, angs, depressie, verlies van emosies, die vries van beelde en gevoelens, die gevoel van afstand teenoor die gebeure, geheueverlies, terugkerende nagmerries, emosionele afstomping, intense hartseer, die gevoel van skuld, verraad, vernedering en woede (Brewin 2003:30; Culbertson 1995:2; Sealy 2005:22; Van der Kolk 2002:383; Williams 2006:321-2).

Die feit dat die ervaring van trauma volledig ’n beliggaamde (“embodied’) ervaring is, word ook beklemtoon. Dit kruip byna letterlik onder die vel van die slagoffer in en word ingegraveer in die brein, sê Karin Sealy (2005:23). Die beliggaming van die traumatiese ervaring is deel van die bewussyn daarvan as ’n durende teenwoordigheid wat juis die chronologie van tyd, die lineêre verskil tussen verlede en hede, ophef (Culbertson 1995:2). Die gevolg van hierdie simptome, veranderde funksies in die liggaam, veranderde reaksies in die brein, en ’n oorontwikkelde sensitisering vir enige herhaling van die bedreiging, lei daartoe dat die ervaring van sekere emosies, sensasies en beelde die ervaring van die herhaling van die traumatiese gebeure tot gevolg kan hê. Daardie gedisorganiseerde, gefragmenteerde sensasies en sintuiglike ervarings wat in die proses van die trauma in die toestand van totale hulpeloosheid gevries is, lê aan die kern van die traumatiese ervaring (Williams 2006:327).

Een van die maniere om uit hierdie wurggreep van die traumatiese ervaring te beweeg is om hierdie gevoelens en ervarings in woorde te formuleer, om geleidelik ’n persoonlike narratief te ontwikkel sodat dit deel word van die persoon se historiese geheue. Trauma moet onder andere in die struktuur van taal geënkodeer word om ’n sinvolle geheel te probeer skep uit die gefragmenteerde en versplinterde emosies en ervarings (Van der Merwe en Goboda-Madikizela 2007:15, 25, 26).

Kaminer (2006:483, 484) noem die volgende moontlike prosesse om die trauma te verwerk: ’n emosionele katarsis, die vorming van ’n talige voorstelling, ’n herhaalde blootstelling aan angsverwante assosiasies en herinneringe, die gebruik van ’n empatiese luisteraar, die ontwikkeling van ’n verduideliking van die gebeure en die identifikasie van ’n doel met die gebeure.

2.2 Trauma en geheue

Verskeie kenners en sielkundiges is dit eens dat die ekstreme ervaring van trauma byna altyd lei tot ’n verlies aan woorde, ’n verslae stilte, omdat taal doodeenvoudig nie in staat is, of genoegsaam is, om die ervaring te beskryf nie. Dit is een van die groot paradokse van trauma dat die formulering in taal so belangrik is vir die verwerking van ’n ervaring wat juis nie in woorde formuleerbaar is nie (Van der Merwe en Gobodo-Madikizela 2007:6).

Wilkinson (2005:238-239) verduidelik die proses soos volg:

[If] the frantic distress associated with trauma takes its toll, and flight or fight is perceived to be impossible, hopelessness supervenes and the limbic system commands the freeze reaction. The parasympathetic nervous system takes over and inhibits activity … It is then that disengagement and dissociation of both mind and body occur. Such traumatic experience becomes encoded in implicit memory, unavailable to the conscious mind.

Die gevolg van hierdie proses is dat die ervaring van die traumatiese gebeure nie in die narratiewe geheue (ons vermoë om die verlede te organiseer en verstaan) van die persoon geassimileer word nie. In plaas daarvan kom dit net te voorskyn in die vorm van nagmerries, intrusiewe denke, terugflitse, hallusinasies en gepaardgaande emosies. Hierdie ongeassimileerde sensoriese fragmente, sonder enige verbale komponent, is slegs beskikbaar in die sensoriese/emosionele geheue. As sodanig word dit herhaaldelik deur die getraumatiseerde persoon ervaar, totdat so ’n persoon uiteindelik die effek en die herkenning van die gebeure en assosiasies daarmee deur middel van taal kan formuleer (Kaminer 2006:485; Van der Kolk 1995:167).

Caruth (1995:8) beklemtoon baie sterk die tydloosheid en ruimteloosheid van die herhaalde ervaring van trauma. Omdat die trauma nie ervaar word terwyl die gebeure afspeel nie, maar die gevolg is daarvan, word dit net geassosieer met ’n ander tyd en plek. Brewin (2003:100) verwys na die verwringing van tydsbegrip en Caruth (1996:7) verwys ook daarna as ’n dubbele verhaal: die wisselwerking tussen die verhaal van die ondraaglike ervaring, en die verhaal van die ondraaglikheid van die oorlewing daarvan.

Freud se verwysing na die Nachträglichkeit, die verwyderde aard van die ervaring, word betrek by die verduideliking van die ervaring van die traumatiese as die tweede belewing daarvan: “it is the second reliving and memory that becomes traumatic, not the first act” (Caruth 2001:2). Daar is dus ’n verskil tussen die primêre traumatiese gebeure (primal scene) en die ongeassimileerde geheue daarvan wat later die oorlewende traumatiseer. Die beliggaming in die geheue van ’n self wat skynbaar verlore geraak het tydens die proses van trauma is die essensie van hierdie traumatiese geheue (Culbertson 1995:3). Hierdie traumatiese geheue is gewoonlik gevul met flitsende beelde, harde geluide, en liggaamsbewegings en -sensasies wat ook dikwels met reflekse verbind is en vrees en angs oproep. Die ervaring is dus nie vergete nie, maar wel tydelik verlore vir die outobiografie van die self, omdat die liggaam en bewussyn van die persoon hom juis probeer beskerm teen die herhaalde traumatiese ervaring en dit dus onderdruk. Dit is juis hierdie leegheid of leemte waaruit die traumatiese geheue bestaan (Culbertson 1995:5, 6). Caruth (1996:7) verwys na hierdie gaping in die geheue as “a gap that carries the force of the event and does so precisely at the expense of simple knowledge and memory”.

2.3 Trauma en die narratief

Sielkundiges stem in ’n groot mate saam dat die skep van ’n narratief (die sogenaamde koherente traumanarratief of “narrative cure”) die persoon met PTSV kan help om betekenis te vind in die gefragmenteerde beelde en terugflitse. Op hierdie wyse kan die ervaring van die traumatiese verlede geïntegreer word met die historiese geheue, sodat dit kan bydra tot die vind van ’n selfbeeld wat die geheel van die persoonlikheid verteenwoordig en nie meer die verdeling tussen die "getraumatiseerde ek" en die "oorlewende ek" nie (Kaminer 2006:486; Ragland 2001:13; Van der Kolk 1996; Williams 2006:330).

Wanneer die persoon op hierdie wyse die verlede en hede, beeld en werklikheid, tot ’n sintese kan bring, word die proses van realisering betree; die persoon integreer die traumatiese ervaring as deel van sy lewensverhaal, sy narratiewe geheue (Van der Hart et al 1993:6). Die vertelling as sodanig, die skep van die narratief, is dus ’n wesenlik belangrike komponent van hierdie realisering en integrasie: “words begin to allow the patient to form new semantic structures that will assist him or her to assimilate the trauma over time” (Van der Hart et al. 1993:13).

Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie narratief of vertelling slegs ’n poging tot hervertelling is van die liggaamlike ervaring, wat nie werklik die volle realiteit van die gebeure kan herskep nie, maar eerder, volgens Delbo, die skep van ’n eksterne, sosiaal-gekonstrueerde geheue (Culbertson 1995:2). Volgens Knox (2003:227) is dit ook baie moeilik om werklik te bepaal watter meganisme vir die verlies aan geheue oor ’n traumatiese gebeurtenis verantwoordelik is: die beperkte fokus van aandag tydens ’n traumatiese gebeurtenis, die verdedigingsmeganisme van die brein om die herbelewing van trauma te verhoed, of die fisiologiese breuk in die breinfunksies van die hippokampus en amigdala.

In die romans Stiltetyd en Chinchilla skep die skrywers verskillende fokaliserings om die ervarings van die trauma te verwoord, veral deur middel van terugflitse en die ek-vertelling waarin gebruik gemaak word van indirekte innerlike dialoog. Dit is egter nie in een van die romans die doel om die spesifieke verwóórding van die trauma deur die karakter self uit te beeld nie; eerder die beskrywing van die proses waardeur die karakters tot daardie stap begin oorgaan. Dit is dus ’n geval waar die narratief van die karakter se verwerking van die trauma deur die verteller georganiseer word en die klem meer val op die proses van emosionele verwerking as die direkte weergawe van die innerlike vind van ’n eie narratief deur die karakter.

 

3. Stiltetyd

In hierdie roman word die fokalisasie verdeel tussen dié van die hoofkarakter, Hester, haar man, André, en hul seun, Emile. Hester se fokus word vanuit ’n ek-perspektief vertel, terwyl André en Emile se fokus deur die derdepersoonsverteller hanteer word. Op hierdie wyse word ook onderskei tussen die intense innerlike ervaring van die moeder en vrou, teenoor ’n oënskynlike poging tot ’n meer verwyderde en ontkennende ervaring deur die twee manspersone. Die hallusinasies en illusies van Hester word dus ook vanuit ’n eerstepersoonsperspektief beleef.

Die verskillende simptome van die agterna-effek (die vroeër genoemde Nachträglichkeit) van die ervaring van die traumatiese gebeure word in die roman aangedui as onder andere die volgende: spraakloosheid, geheueverlies en verwarde geheue, terugflitse, hallusinasies, die gevoel van skuld en verraad, emosies soos wanhoop, verlange, angs en pyn, die liggaamlike ervaring van trauma, die gevoel van verwyderdheid en afstand, die ervaring van die persoon self as ’n "ander ek" teenoor die vroeëre getraumatiseerde ek, die heling deur middel van taal, en die aanvaarding van die gebeure. Malan (2006) en Victor (2006) het in hul resensies van die roman onder andere ook na hierdie simptome verwys.

Die primêre oorsaak van die trauma by die drie persone is die doodskiet van hul sesjarige dogter en sussie, Manon, tydens ’n rooftog op ’n kafee in Kaapstad, waarna die “stilte oor hulle huis toegesak” het (62). Hulle vertrek na Frankryk om ’n jaar daar te vertoef om ’n huis te restoureer. In ooreenstemming met Van der Kolk (2002:387) se uitspraak dat trauma dikwels lei tot ’n onvermoë om die traumatiese ervaring te verwoord, beskryf Hester haarself aanvanklik as “siende blind, horende doof, pratende stom” (10); woorde word vir haar betekenisloos (11), en sy stel uit om oor die “vreeslike dag” te praat, oor “alles wat gebeur het” (23). Ook Emile en sy pa ervaar die pratery as ’n pyn, Emile praat al hoe minder (16) en beide ervaar Hester se stilte as ’n totale afsluiting: as Hester by is, “beteken klanke, woorde niks” (24). Hester smag slegs na stilte (36) en erken teenoor haar man dat sy nie woorde oor haar “stroewe lippe” kan kry nie (52). Sy praat slegs met haarself deur middel van swaar stiltes (51). Sy tree wel in gesprek met Myriam Soro, die veroordeelde vrou uit Afrika, haar oorlede dogter en die spookkat (77, 79). Sy voel “’n vrou se tong is nie gemaak om die dood van haar kind te beskryf nie” (110). Selfs in ’n poskaart aan Myriam sê sy “sommige woorde is te swaar vir ’n poskaart” (182). Sy besef later dat sy “die stilte in hierdie huis gesaai het” (276) en vir die tydperk van amper ’n jaar voel dit vir haar asof sy alleen binne die stilte nog “my dogter se stem kan hoor” (276).

By al drie hierdie karakters is intense emosies, ondraaglike verlange (136), die gevoel van skuld (27) en selfs verraad teenoor Manon oorheersend. Hester voel asof “te veel emosies opgegaar word” (14), asof die “stil wanhoop” van Tsjechof se karakters haar deel geword het (31). Elke keer wanneer sy aan haar borste raak, groei die skuldgevoel (36).

Vir Emile groei die skuldgevoel tot ’n “ondraaglike las” (41). Hy voel aan die einde van die roman asof hy “vir die res van sy lewe gestraf gaan word omdat hy nie voor sy sussie ingespring het nie … nie in haar plek doodgegaan het nie” (252). Hy moes haar beter opgepas het (304), erken hy later teenoor sy ma. “Dis een van die redes hoekom hy so uitmekaar geval het, oor hy nie geweet het of sy pa en ma hom sou vergewe nie” (300).

Vir André lyk dit asof sy vrou se lyf weggevreet word deur droefheid, skuld en ’n “ongeneeslike smart” (70-1), totdat sy later selfs sê sy weet “hoe dit voel om niks meer te voel nie” (110). Hester is bewus van die verskillende skuldgevoelens van haar gesinslede (95), selfs net omdat die kinders gestuur is om te gaan roomys koop (313) en sy en haar man erken dat “dit voel soos verraad om te sê jy het net een kind” (126).

Knox (2003:224) merk op dat veral die selfverwyt en skuldgevoelens by die oorlewendes van trauma groot innerlike pyn veroorsaak, maar ook tog minder angswekkend kan wees as totale hulpeloosheid wat so ’n persoon kan oorval.

Dit is egter tog asof hulle later ’n “soort weerstand opbou teen die pyn” (192). Hester verwoord die afstandelike (“belated”) ervaring en verwonding van trauma so: “Die probleem is dat dit lankal nie meer soos ’n wond voel nie, eerder ’n gebrek aan ’n wond …’n Ewige afwesigheid” (225).

Hierdie verwarrende emosies, stilte, gebrek aan en onvermoë tot kommunikasie, herinneringe en pyn skep ’n eie afstand tussen die gesinslede en hulle het ook verskillende maniere om die herlewing en die daaglikse belewing van die pynlike ervaring te ontvlug, wat op sy beurt bydra tot ’n verdere afstand, gevoelsafstomping en verwydering. Hulle leef in ’n “soort verdwasing veroorsaak deur ’n verdriet wat te groot is om te verteer" en “vrywillige afsluiting van die buitewêreld” (32). André gooi homself voltyds in die restourasieprojek van die vakansiehuis (30, 199) en die klassieke musiek wat altyd nog sy ontvlugting was, die muur wat hy om homself kon bou (24, 36).

Emile skuil agter ’n onverskillige uiterlike en tipiese tieneropstand en woede: dis asof “hy ’n spul landmyne in hom ronddra. Die ligste aanraking kan hom laat ontplof” (40), totdat die verhouding met Nathalie as afleiding en heling begin dien.

Hierdie handhawing van emosionele en fisieke afstand teenoor mekaar word deur Knox (2003:211-3) beskryf as deel van die verdedigingsmeganisme van die liggaam wat spesifiek so gereguleer word (“distance regulation”) dat enige verdere moontlikheid van spanning en intense emosie vermy kan word. Die reaksie geskied onbewustelik, is geïnternaliseer in die emosionele brein, as verdediging teen verdere trauma (Knox 2003:215, 223).

Vir Hester is daar, as deel van haar verdedigingsmeganismes, die gesprek met Myriam en haar afgryslike verhaal (31) wat op die eerste bladsy begin (9, 26) en aanvanklik net briewe “in haar kop” is (52). Daar is ook die hallusinasies waarin sy met haar dogter praat, sing en dans (13, 17, 18, 28, 46, 48, 65, 66-8, 93, 134, 139), want sy stort al haar krag aanvanklik daarin om te keer dat haar dogter onbereikbaar word (46), die vriendskap met Aurore en haar ma (99, 205), en die beskerming van Aisha, sodat Emile al vroeg dink sy ma is “op ’n ander planeet” (24).

André ervaar sy vrou as ’n “mistroostige motreën” (13) en Hester beleef self hierdie afstandelikheid asof sy afkyk van die maan na hierdie “aardse geskarrel” (29) en verwyt haarself dat sy haarself nie so ver kan kry om haar seun te troos nie (33). Sy kan nie André se lyflike toenadering hanteer of toelaat nie (35, 37, 43), kyk na hom “sonder enige begeerte” (47); hul “dubbelbed bly in plastiek gehul”, maar sy het darem nog haar “ontsnappingsroetes” en kan in die huis ontsnap na die badkamer, haar “metaforiese baarmoeder” (76). Hester word in haar eie huis en gesin ’n “indringer, plaasvervanger” (87), iemand wat haarself “ommuur met stilte en verdriet” (149). Omdat sy en haar man nie meer na mekaar kan kyk sonder om hul dooie kind te sien nie, verkies hulle om eerder weg te kyk van mekaar (167). Selfs as sy na ’n foto van Emile en Manon kyk, is dit soos om na “’n kiekie van iemand anders se kinders te kyk” (189). Sy voel nog baie lank dat mense nie aan haar moet raak nie (239). Williams (2006:321, 326) bevestig onder andere dié simptome van gevoelsafstomping, lae libido, afstandelikheid en die onvermoë tot hegte persoonlike verhoudings as deel van PTSV.

Hester (en later Emile) se belangstelling in Afrika, en veral die rampe in Afrika (12, 62-5, 106, 100, 101), word ’n wyse waarop sy die geweld en hartseer wat haar en haar gesin aangedoen is, van ’n afstand kan beskou en verwerk (Malan 2006). Volgens Wilkinson (2003:248) is dit een van die wyses waarop die getraumatiseerde persoon binne ’n veilige konteks kan veralgemeen oor die smart en lyding wat hy ervaar en sodoende die emosies daarmee geassosieer deurwerk, sonder dat die gevaar van hertraumatisering bestaan (vergelyk ook Kaminer 2006:488). Hester voel veral betrokke by Myriam, die vrou wat uit Afrika kom en uit hulpeloosheid en radeloosheid albei haar kinders vermoor het (81). Sy skryf elke dag vir haar, in haar kop (53), omdat sy ook ’n ma is wat weet hoe dit voel om haar kinders te verloor en ook uit Afrika kom (53, 82, 85); omdat sy met haar kan praat (77); omdat Myriam ook, soos sy, stom geword het as gevolg van trauma en depressie (110). Sy voel hulle het beide hul kinders se dood veroorsaak (86), Hester deur net haar kind te stuur om roomys te gaan koop, Myriam deur moord. Hester herken uiteindelik hierdie ooreenkomste:

Omdat ek ook ’n ma is. Omdat ek ook rou oor ’n kind. Omdat my hart ook terselfdertyd in twee rigtings getrek word, weg van Afrika en terug na Afrika. Omdat ek genoeg van myself in hierdie vrou herken om haar alles te vergewe, selfs die dade wat ek nie verstaan nie … Myriam Soro is ek? (118)

Daarom verkies sy haar ook as die beeld van die “ewig swyende, ewig lydende slagoffer” (148), om sodoende met haarself te identifiseer. Dit is aan Myriam dat sy die eerste keer op skrif die dood van haar dogter verwoord (223), om ook later te erken: “Jy het my oë oopgemaak vir baie dinge, Myriam” (295). Myriam, en later Aurore se ma, vervul die funksie van die sogenaamde “empathic witness”:

An empathic witness can therefore help the survivor to re-establish trust in the benevolence of others … an empathic witness may also be vital to developing the survivor’s sense of trust and validity of his or her own experiences” (Kaminer 2006:488).

Soos die teoretici oor trauma (o.a. Van der Kolk 1996), beklemtoon die roman ook die lyflikheid en liggaamlikheid van trauma. Hester is aanvanklik fisies kragteloos gelaat deur die traumatiese ervaring (13); sy word al hoe meer uitgeteer (15, 70); voel selfs die behoefte om haar lyf te martel (26); maar ontken dat haar liggaam dringende behoeftes het (27). Volgens haar voel die liggaam nie die geestelike pyn nie (31), maar haar man neem waar hoe haar lyf van binne verteer word (71). Sy word wel later meer bewus van haar liggaam: dat sy stadig begin ontdooi (78) en dat sy haar lyf verwaarloos (105). Die afstand teenoor haar man word ook deurentyd in liggaamlike terme ervaar.

Tipies van die ervaring van trauma is die gefragmenteerde en onvolledige geheue van die spesifieke gebeure, asook die onderdrukking daarvan. Tyd word ook verwarrend ervaar, asof verlede en hede en selfs die toekoms soms moeilik onderskeibaar is: “Môre is oormôre se gister” (18). Williams (2006:323) wys daarop dat die tydloosheid en die vries van die traumatiese geheue die getraumatiseerde agterlaat met ’n verwarrende tydsbegrip waarin hy/sy nie die geheue van verlede en hede maklik onderskei nie.

André ervaar dat sy geheue vreeslik kort is (16); die karakters wil nie praat oor wat op daardie dag gebeur het nie (23); hallusinasies moet Manon bereikbaar hou (46). Emile kon nie met die terapeut praat nie, omdat hy nie kan onthou wat gebeur het nie (75) en “hoe dieper hy in sy geheue grawe, om by daardie dag te probeer uitkom, hoe groter en swarter word die gat rondom hom” (75). En wanneer hy dit aan Nathalie probeer vertel, “is daar ’n soort donkerte” tussen die laggende sussie en die sussie in die plas bloed voor hom (76). Soos Saunders (2006:29) dit stel: “the self is perforated by trauma, leaving gaps, black holes, silence.” Die repressie van daardie oomblikke ervaar hy as “makliker om te vergeet wat hy nie wil onthou nie” (76, 196). Volgens Kaminer (2006:487) is dit die geheue van die gebeure self wat gevrees word, omdat dit geassosieer word met die angs en gevaar wat daarmee gepaard gegaan het. Omdat die persoon dus vrees dat hy weer getraumatiseer gaan word, onderdruk hy die geheue daarvan en het dan nie die geleentheid om te ervaar dat die herinnering daarvan hom nie in dieselfde situasie sal plaas nie.

Ook Hester weier om oor die gebeure te praat of dit direk te onthou (80). Wanneer haar man haar met die werklikheid konfronteer (88), reageer sy met ’n “hoë, kermende, onmenslike geluid” (88) en weet sy dat haar dogter nog net in haar geheue van voor die gebeure kan bestaan. Sy krap egter aanhoudend in haar geheue rond “asof dit ’n vullisdrom is wat iets bruikbaars sal lewer” (91). Gedeeltelik is hierdie geheue bereikbaar in die drome oor Manon (91). Vir haar is daardie deel ’n “beskermende beswyming” (138) waaruit sy nie wil wakker word nie, want daar kan sy nog “ongeïnhibeerd” met haar dogter kommunikeer (140). Knox (2003:217) beweer dat die ontvlugting in fantasie, soos deur Hester, een van die vorme van selfverdediging is teen die pyn wat die persoon nog nie gereed is om ten volle te hanteer nie.

Dit is met die wakkerword uit hierdie beswyming, met die poging tot integrasie van daardie vreeslike dag, dat die karakters daarin begin slaag om die getraumatiseerde, emosionele geheue met die narratiewe, historiese geheue te integreer, deur daaroor te praat en te skryf, deur ’n emosionele rouproses en herhaalde smart en innerlike pyn (Kaminer 2006:48), dat die heelwordingsproses begin plaasvind.

Die proses van heelwording, waarin onder andere die geheue van die traumatiese gebeure langsamerhand oor die tydperk van ’n jaar binne die narratiewe of historiese geheue geïntegreer word en die gepaardgaande emosies se traumatiese assosiasies begin vervaag (Van der Hart 1993:6; Van der Kolk 2002:388), beslaan uiteindelik die verteltyd en vertelde tyd van die roman. In ’n sekere opsig is Hester se interne gesprek met Myriam vanaf die eerste bladsy reeds die begin daarvan. Daarna verskyn die eerste tekens daarvan by die gesinslede fragmentaries: dit is Emile, die kind, wat eerste openlik oor die traumatiese gebeure praat met sy nuutgevonde vriendin uit Afrika (73), en Hester begin besef dat sy haar huis en liggaam verwaarloos (105). Dit is egter wanneer André haar direk konfronteer met die werklikheid van haar dogter se gewelddadige dood dat sy vir die eerste keer fisies erkenning gee aan daardie smart: “al wat uitkom toe haar mond oopgaan, is ’n hoë kermende, onmenslike geluid, soos ’n loeiende sirene" (88), en haar erkenning daarna: “Natuurlik weet ek dat my dogter dood is” (91). Sy besef daarna die gedeelde skuldgevoel tussen haar en haar seun (95) en vir die eerste keer stort sy trane oor hom, en nie haar dogter nie, dink sy nie net meer aan haar eie smart nie: “trane van vertedering eerder as verlies” (97). Sy begin die werklikheid besef: hulle is ’n “onvoltallige gesin in ’n onvoltooide huis” is (112), en vir Emile voel dit asof die gesin begin wakker word na die droom wat Manon was: “Nou het hulle wakker geword, hy en sy ma en sy pa, net hulle drie” (116). Na die lang stilte begin hulle langsamerhand met mekaar praat (126).

Alhoewel Hester “geen begeerte het om in haar onderbewuste rond te krap nie”, kan sy haarself nie keer om die drome oor Manon neer te skryf in die boek wat André vir haar gee nie (141). Op daardie wyse begin die formele formulering van die narratief van die traumatiese geheue, alhoewel sy op daardie stadium ook beweer dat die “werklikheid al hoe vaer” word (143). Dit is ’n liggaamlike ervaring wat haar die hede vir die eerste keer werklik laat ervaar:

’n Welige heining vol vet swart braambessies ruk my uit my waterige mymeringe terug na vaste aarde, na die behoeftes van my lyf … Ek kan nie onthou dat bessies al óóit so hemels gesmaak het nie … Om die waarheid te sê, ek kan nie onthou wanneer laas enigiets vir my so gesmaak het nie … My mond vertrek in pyn, en tog wil ek terselfdertyd grinnik omdat ek ’n slag iets voel, al is dit ook pyn. (184-5)

Sy en André kry beide die moed om weer na die foto’s van Manon te kyk – vir
Hester voel dit asof sy “uit ’n soort beswyming ontwaak” (190) en André sê hy begin ’n soort weerstand opbou teen die pyn” (192).

Hester praat die eerste keer met Aurore se ma oor Manon (207), en vir die eerste keer ervaar sy weer “magtelose liefde” vir haar seun (210); André besef hy sou nie langer “kon verdwyn in die vioolklanke” nie (217). Dit is egter aan Myriam wat Hester die eerste keer werklik skryf oor haar dogter se dood: “Nege maande om haar in die lewe te bring en nege maande om haar dood skriftelik te erken” (223). Sy besef sy moet “terugkeer na die toneel van die misdaad” (225), maar ervaar terselfdertyd die kern van trauma, die afwesigheid, die gebrek aan ’n wond (225). Die afsydigheid, ook liggaamlik, teenoor mekaar verdwyn ook langsamerhand, en André en sy vrou kan selfs vir die eerste keer in maande intiem aan mekaar raak (290).

Dit is met die volgende skok, die gewelddadige ingryp in die geveg met Habib, dat die gesin finaal geruk word uit hul afstandelikheid en verdwaasdheid. Emile ervaar met sy bykom in die hospitaal dat hy vir die eerste keer weer alles met al sy sintuie kan beleef en onthou (301), en ook sy reaksie is “’n skreeu wat nooit-ooit gaan ophou nie” (304). Skielik is die verwarde, onderdrukte traumatiese geheue ’n sinvolle verhaal en eenheid en kan hy die emosies van daardie dag konfronteer: “Vir die eerste keer in ’n jaar kan hy helder onthou wat daardie somerdag in die kafee gebeur het” (305) en sy ma kan vertel van die eerste ure in die hospitaal. Ook André kan nou die middag in sy gedagtes rekonstrueer, nadat hy vroeër net ’n “warboel van emosies” oorgehou het (310).

Noudat die narratief van daardie verskriklike middag vir al drie voltooi word, geïntegreer kan word met die historiese geheue, “het alles verander,” dink Hester (312). Sy besef die jaar “in die land van verlies” is ’n plek wat “’n mens verander” (317), maar ook dat hulle nou vir die eerste keer werklik kan voortgaan met hul lewens. Nou kan sy haar dogter “laat gaan” (320) en kan die roman eindig met: “Ons stap stadig na mekaar toe” (334). Nie net word die vertroue tussen die gesinslede herstel met hierdie herkenning van die trauma as oorsaak van hul gedrag nie (Williams 2006:326), maar ook die traumatiese geheue begin integreer met die narratiewe geheue (Saunders 2006:40).

 

4. Chinchilla

Verskeie karakters in Chinchilla het trauma beleef, maar die hoofkarakter, Lea (wat sentraal in die storie staan), se trauma is die sterkste. Die derdepersoonsverteller fokaliseer gevolglik meestal vanuit Lea se perspektief, hoewel haar pa, Zacharias, en die Portugees, Bastos, in enkele kort hoofstukke as fokalisators optree.

Die primêre oorsaak van Lea se trauma is die verlies van haar kind, ’n seuntjie wat doodgebore is, nadat haar man en minnaar, Martin, haar aangerand het: “'n kind het laas week deur my lyf geval” (9). Martin se optrede teenoor Lea was gekenmerk deur emosionele afkraking, intimidasie en fisieke geweld, ook in hulle seksuele verhouding; hy het gedurig “sy merke op haar kom maak” (11). Zacharias se trauma was die dood van sy vrou met die geboorte van Lea, wat hy nooit verwerk het nie: dit het hom “totaal verrinneweerd gelaat” (33). Bastos se trauma het ontstaan uit sy vlug uit Angola en uit die verlies en geweld wat daarmee gepaard gegaan het.

Wanneer Lea terugkeer huis toe, ’n week na die verlies van haar kind, is sy “verslete” (14) na die treinrit, “sonder woorde” (15) en “sonder taal” (47). Sy kom voor asof sy sonder enige lewe is (16), sy het “moer in haar manier” (41), en Krisjan sien die “pla-ding in die kind se oë” (42). Sy loop “sku vir mans” (47), en sy en haar pa het lankal verleer om met mekaar te praat: “om so verby mekaar te praat, het hulle manier geword” (44). Ook Bastos en Zacharias leer om so “in staccato te praat” (20). Sy dui vir Zacharias aan “sy kan nog nie iets sê nie” (50), waaroor hy baie verlig is, want hy sal nie weet hoe om dit te hanteer nie: “van menswees weet hy min” (51). Hy het “intiemer verhoudings met sy roofvoëls gehad as met haar” (99). Krisjan voer dit terug na die dood van haar ma: “Van daai tyd dat Olga dood is, praat niemand meer hul prate nie” (187), sodat Lea met Zacharias se dood aan die einde erken dat sy en haar pa altyd te laat daar was vir mekaar “omdat hulle nooit met mekaar geleer praat het nie” (209).

Van skryf en praat oor hul trauma is daar, soos aan die begin van Stiltetyd, dus nie veel sprake in hierdie roman nie. Deur middel van terugflitse en indirekte monoloog word die leser bekend gestel aan hulle binnewêrelde en hul gevangeskap binne hul trauma. Resensies deur Anker (2007), Fourie (2007) en Le Grange (2007) het ook reeds na hierdie aspek verwys. Van der Kolk (2002:383) en Knox (2003:228) verwys ook onder andere na die voorkoms van terugflitse as een van die simptome van PTSV as een van die vorme wat dui op onderdrukte trauma (repressie).

Die fisieke geweld wat Lea aangedoen is, veroorsaak dat sy die trauma ook lyflik, liggaamlik, ervaar en herleef, veral deur terugflitse. Die fisiese werk met die chinchillas en die ruimte vol geweld skep die sintuiglike assosiasies vir die terugflitse waarin sy van die herinneringe en emosies van die traumatiese gebeure herleef:

[T]his automatic physiological process may itself reinforce psychodynamic defenses; after each occasion in which a "flashback" occurs the traumatized person will identify features of the environment or of their own state of mind that may have triggered the "flashback" and will avoid those situations or thoughts on future occasions. ( Knox 2003:228)

Wanneer Lea die tafsy van die rooi rok voel, onthou sy die geweld waarmee Martin haar teen die paal op die kaai gestamp het (12); sy ervaar nog die pyn van haar ongebruikte borste (30) en sien die “swart lyn van verlies” op haar maag (30), maar dit voel of dit behoort tot “'n ander tyd in ’n ander wêreld” (30). Sy sien nie kans vir nog “slagters” nie (45), maar word juis gekonfronteer met die versorging en slag van die chinchillas. Op pp. 53-4 word haar versorging en gereedmaking van die chinchilla vir die slag afgewissel met die terugflits na Martin se ruwe, gewelddadige seksuele hantering van haar. Sy herleef en beleef haar gevangeskap in die skarrelende chinchilla, haar weerloosheid in die klein diertjie, die sagte paring van die nagdiere in teenstelling met Martin se dierlikheid (53-5). Dit is paradoksaal juis hierdie vertroude wêreld waarheen sy ontvlug, hierdie werk waarmee sy goed is, wat die stimulus verskaf vir die herlewing van die traumatiese gebeure wat sy probeer onderdruk en ontvlug. Wanneer sy die chinchillas afwas om hulle skoon aan Bastos te oorhandig, herleef sy die skoonwas van haarself na die slagting onder Martin se hande (56). As ’n parallel met Lea se eie ervaring is daar met die gedetailleerde beskrywing van die slag van die chinchilla “telkens die fyn skeur van vliese”(60). Daarom voel sy alleen volkome in haar skelet, want “geen ontoepaslike penetrasie (kan) haar skelet ooit bereik nie” (64).

Sy droom van haar dooie kind en dooie ma (77), maar dit is die neutreuk van koffie wat die volgende terugflits na haar wonde as gevolg van Martin veroorsaak (86). Sy is kwaad omdat sy nie vroeër weggeloop het nie wanneer sy die kind se as onder die boom strooi (90); en daardie aand onthou sy die reuk van vrugwater toe sy die dooie kind vasgehou het. Wilkinson (2003:239) verwys na Schore se beskrywing van die aard van hierdie terugflitse:

In these flashback moments, a right subcortically-driven re-enactment, encoded in implicit memory would occur in the form of a strong physiological anatomic dysregulation and highly aversive motivational state of terror and helplessness.

Dit is teenoor Krisjan dat Lea die eerste keer haar trauma direk verwoord: “’n Kind wat in my lyf doodgeskop is omdat ek te stadig vir hom gekeer het. Hoe vergeet mens ’n deel van jou lyf …” (101). Wanneer die broeiseisoen van die chinchillas aanbreek en die “koppelgeluide van die seisoen” hoorbaar word, vul dit haar gedagtes met assosiasies oor die kind, en wanneer Martin onverwags bel, is sy stem “’n gloeiende staaf wat haar brandmerk” (118). Hiermee keer die intense emosies terug en besef sy daar is “swere wat nog nie oopgemaak is nie”, en die angsdrome duur voort (122, 125). Haar vel word deur Martin gemerk en afgetrek soos die chinchillas s’n (126). Wanneer Martin opdaag, slaan die angsvlekke op haar uit (143) en ervaar sy die weerloosheid van onthou, die dorheid van die herlewing en die natgeswete lyf na die nagmerries (144). Haar gees is “verslae” en sy “voel sonder vel” (144) – magteloos teenoor al die intrusiewe gevoelens en emosies, oop vir en voor die pyn; soos Wilkinson (2003:240) ook verduidelik: “at any time a patient may suddenly find herself vividly re-living the abuse in the most painful and terrifying way if something happens to trigger state-dependent retrieval.”

Dit is met die bloedige versorging van die chinchilla se kleintjie dat Lea die terugflitse na Martin se geweld en haar kind se dooie geboorte herleef. Sy besef sy moet daaroor praat, as verdedigingsmeganisme, “om die onthou af te weer” (154), en vertel as parallel in detail oor die versorging van die chinchillas wanneer kleintjies moeilik afkom. Die uitdrukking van die onderdrukte emosie kom aan die einde daarvan wanneer sy onophoudelik begin vloek (156).

Dit is egter die sien van die gemummifiseerde chinchilla-fetus wat Lea se onderdrukte ervaring van die traumatiese gebeure na die oppervlak dwing (175). Eers verduidelik sy baie beheers die voorkoms van die verskynsel, maar dan stort sy ineen en begin kermend huil (176), sodat Mirjam haar kom haal en wegneem. Die laaste terugflits kom voor wanneer Bastos die bewustelose Martin voor haar neerlê en sy dit assosieer met ’n vlek, die bloed van al die geweld, die vernedering dat hy oor haar urineer, maar ook “om binnegoed uit te haal” (194), wat kan dui op ’n laaste reiniging en suiwering.

Lea se proses van heling en herstel loop die weg van fisies-emosionele verwerking eerder as ’n narratief, eerder ’n emosionele katarsis wat verwys daarna dat die persoon fisies en verbaal baie sterk emosies beleef tydens die herleef van of herinneringe aan die traumatiese gebeure (Kaminer 2006:484). Op daardie wyse word die persoon (die getraumatiseerde) herhaaldelik blootgestel aan die angs en vrees wat sy ervaar het binne ’n veiliger omgewing, sodat sy gekondisioneer word om nie meer die gebeure, persone of sensoriese ervarings direk te assosieer met die traumatiese gevolge daarvan in die verlede nie (Kaminer 2006:488).

Alhoewel sy wel praat oor haar ervarings met Miriam en Krisjan, oor die chinchillas met Bastos, is die vind van ’n koherente verbale narratief nie in dié roman oorheersend nie. Sy ontvlug eers na die sekuriteit van ’n bekende ruimte, word gedwing om die geweld wat haar aangedoen is, te konfronteer en die gapings tussen terugflitse van ’n traumatiese verlede en haar teenwoordige leefwêreld te vul, sodat dit kognitief ook sin maak. Kaminer (2006:489-490) sê: "The discovery of unconscious meanings provides an explanation that enables the client to link earlier events causally with current experiences, thus filling the narrative gap between apparently unrelated events." In Lea se geval is dit as gevolg van die gedurige assosiatiewe stimulasie deur die versorging van die chinchillas, Martin se terugkeer, asook die teenwoordigheid van liggaamlike merke, letsels en herinneringe. Sy beleef dus ’n fisiese, emosionele en simboliese verwerking van haar trauma, wat versterk word deur die begrafnis van haar kind, die bou en voltooiing van haar huis, die konfrontasie met Martin en die verwekking van ’n plaasvervangende kind. Op dié wyse moet sy tog die nagelate storie van haar ma voltooi, in meer as een opsig. In Lea se geval kan ons praat van ’n positiewe transformasie ná die trauma na ’n hoër vlak van funksionering, ’n groter besef van selfwaarde en ’n verbetering van persoonlike verhoudinge (Kaminer 2006:492).

Robson (2001:125) verwys na die belangrikheid van ’n veilige ruimte waarin die getraumatiseerde die gefragmenteerde elemente van trauma kan verwerk en haal Herman in dié verband aan: “safety is the necessary condition for traumatic experience to be remembered and narrated.” Lea moes eers wegkom van die “godsverlatenheid” (9) en Martin se “toe huis” waarin sy soos die slakke besig was om te versmoor (9), waar sy “nutteloos en misplaas” (10) gevoel het, na ’n plek waar sy haar kon besig hou met dit waarmee sy goed was, die teel en versorg van chinchillas (10). Sy het reeds “soveel van haarself verloor” (11) dat sy haarself slegs sou vind in die “bekende lug” van die Sutherland-omgewing (17). Sy loop plaas toe, want “(d)is my plek hierdie, dink sy … sodat die geur van kruibos op haar kan kom lê” (19). Hier het Krisjan haar elke plant leer ken (26), is dit “stil soos sterre”, is alles nog “op sy plek”, kan sy “haar binnekant weer skoonkry” (28). Hier in die “bekende hitte”, in die “veilige onveranderlikheid van Zacharias se huis” (32), wag die sekuriteit wat sy nodig het, lê die herinnering aan trauma in ’n “ander tyd in ’n ander wêreld” (30).

Vroeg besluit sy reeds om vir haar ’n huis te bou (48). Sy voel egter nog steeds “verlate op die werf”, want sy is nog te “haaks met die hede” (59), omdat die trauma van die verlede die hede verdring. Die bou van haar huis word ’n intens persoonlike saak (63), bewustelik ook simbolies van haar heelwording. Sy moet haarself weer vind, vanaf haar geboorte, waarvan Miriam haar weer moet vertel (70), en ook begin vertel van haar kind wat ses-en-dertig weke in haar was (69). Haar eerste vryheid lê in die vrymoedigheid om weer haar rokke aan te trek, “want sy mag” (75), maar sy besef ook sy moet die verlede saam met Martin volledig herroep, “(a)nders het sy alles verloor” (78). Die besluit om haar kind se as onder die sambreelboom te gaan strooi (86) is die begin om haar eie orde te skep (89), en daarvan is ook die huis ’n teken: “Ek bou my eie huis en ek bring daarin wie ek wil en wanneer ek wil” (89). Op daardie wyse begin sy die gees en liggaam, verlede en hede wat deur die trauma gefragmenteer is, weer integreer, “want vir jou het dinge deurmekaar geneuk,” sê Miriam (89).

Tussen die chinchillas is sy “meer mens”, sê Bastos (93), maar daar is ook die gedurige herinneringe en emosionele pyn wat sy moet verwerk: “’n mens kan nooit genoeg doen nie” (110).

Ten spyte van die terugkerende angs met Martin se oproep (118) besef sy die waarde daarvan om al die pyn te laat uitkom; ten spyte van die terugkerende drome word die sirkelhuis (simbool van voltooidheid) klaar gebou (180), en sy het genoeg selfvertroue om nuwe omgewings te betree: “Dit het tyd geword om ’n ander wêreld te sien” (121). Met Martin se terugkeer, die hernude weerloosheid, angs en selfs verslae gees (142) besef sy dis hier waar sy “weer haar wortels laat sak het” en kan sy hom wegstuur. Sy ervaar nog altyd die verlies van haar kind wanneer die kleintjie uit die lyf van die chinchilla peul (156), maar sy kan troos vind in die omgewing/ruimte. Sy kyk na die sterrewag en die sonsondergang en dink: “Hier sal sy bly sit tot die oorgeblewe lig van die dag in ’n genadige lig op haar kom lê. En so sal sy bly sit tot dit haar hele lewe, van toe af tot nou, outyds sal vlek. Sodat sy haar kan verbeel dat alles daarvan aan die geskiedenis behoort” (162).

Al kan sy egter stadig om haar huis loop “asof sy dit vir die eerste keer in sy klaar toestand gesien het” (175), bly daar nog die finale emosionele uitbarsting oor haar kind wanneer sy die gemummifiseerde fetus van die chinchilla sien (176). Wanneer Bastos dan die bewustelose Martin na haar toe bring, is “die gif uit haar uit” (193) en besef sy dat sy van die “vlek” ontslae kan raak en uiteindelik al die binnegoed finaal kan uithaal (194). Miriam se kaarte word simbolies van ’n transformasie, nuwe lewe en suiwering (196), en aan Bastos word belowe dat sy as alles verby is vir hom ’n storie sal vertel (197) – per implikasie die voltooide storie van haar ma, van haar trauma en die storie van hul toekoms. Met die stort van Martin se bloed by die boom waar haar kind se as lê, en die vuurkring om hom, word ’n simboliese offer gebring en ’n simboliese suiwering voltooi: “omdat vuur soveel skoner maak as water” (200). Williams (2006:330) sien hierdie soort optrede en denke as tekens van heling: “A point of departure for all healing and creative processes is found in the transformation of metaphor, symbols, and patterns in words and visualizations.”

Intussen het sy reeds die toekoms beplan, die besoeke aan Bastos om die kind weer na haar toe te laat terugkom (201). Met die huis in die kring van die lentebloeisels wat op haar wag, is sy “gereed om terug te gaan” (201) na die nuwe begin van haar lewe en Bastos se besoek aan haar huis. Die knope wat soos bloeddruppels tussen die klippe lê, is nie meer tekens van haar bloed nie – “(d)aardie verwonding het sy laas nag opgehef” (206). Een van die tekens van heelwording na trauma, sê Saunders (2006:37-8), blyk wanneer die persoon die fokus teenoor die traumatiese gebeure kan verander en ook vanuit die gesigspunt van die geweldenaar kan dink: "the ability to encompass the mind of the other in a relational moment: 'You know, like it is bad enough that he raped me, but then to humiliate me? What was in his mind?’.”

Met Zacharias se dood word ook die gemis aan haar ma tussen hulle opgehef en het sy die dra van haar ma se rokke ontgroei (210). Lea se kind sal ’n meisiekind wees, die voortsetting van haar en haar ma (213). Die chinchillas word vrygelaat, sonder enige merke; gevangeskap is iets van die verlede: “nooit, ooit weer nie” (217).

 

5. Slot

Beide romans, Stiltetyd en Chinchilla, skep ’n geloofbare en oortuigende uitbeelding van die verwerking van trauma by die hoofkarakters. In Stiltetyd se geval word die proses van verwerking dalk net te netjies vertel en geformuleer (Hambidge 2006), terwyl die styl in Chinchilla meer kripties en ellipties is en reg laat geskied aan die fragmentariese aard van traumatiese ervarings. Die verwysing na en uitbeelding van die simptome van PTSV is getrou aan die huidige teoretiese uiteensetting daarvan.

Die leser moet egter ook deurentyd bewus wees daarvan dat die tekste in die konteks van trauma slegs twee fiktiewe voorbeelde is. Die deurlopende verwysings na terugflitse, hallusinasies, liggaamlike ervaring, gapings in die geheue, onderdrukte gevoelens, intense emosies, die rouproses, afstandelikheid, woordeloosheid en stilte skep die oortuigende konteks van karakters wat van die geweld van ’n traumatiese gebeurtenis moet ontvlug, maar dit uiteindelik konfronteer.

Beide romans gebruik die tradisionele seisoen-simboliek (van lente na lente) en die bou van ’n huis om die tydsverloop en die helingsproses aan te dui: in Stiltetyd van die vroeë, koue lente (10) in Europa tot die kersieboord “wit soos in die lente” (332); van die “blerrie wingerde” (23) tot Emile “teësinnig moet erken dat die wingerde die tyd van die jaar op hul beste lyk” (237); van restourasieprojek (11) tot André trots kan terugkyk op sy handewerk (323). In Chinchilla beweeg Lea van Swakop, waar die son al hoe bleker word en die stinkhoute kaal staan (9), tot by haar ronde huis op Blomtuin “in die kring van die spierwit amandelbloeisels” (201), waar sy Bastos na haar huis toe sal nooi en hy sal verstaan, “want hy sal weet dat dit lente geword het” (206).

Alhoewel Stiltetyd meer aandag gee aan ’n konkrete verbale narratief (gesprek met Myriam en ander vroue, poskaarte, droomboek) as Chinchilla, is die emosionele verwerking van beide romans uiters intens: by Hester die lang, invretende rouproses, by Lea aanvanklik die fisiese verwerking van haar woede en verlies en later die simboliese dade rondom die strooi van die as, die bou van die huis en die offerande by die kring vuur. By beide sou ’n mens in mindere of meerdere mate ’n proses van emosionele katarsis, die vorming van ’n narratief, die deurlopende blootstelling aan parallelle gebeure om trauma-assosiasies te verwerk, gesprekke met empatiese luisteraars (o.a. Myriam en Miriam!), die vorming van ’n verklarende vertelling om die gebeure te begryp, en uiteindelik die formulering van ’n doel vir voortbestaan, soos deur Kaminer (2006:484-90) uiteengesit, kan identifiseer.

Saunders (2005:22) beklemtoon die feit dat ’n affektiewe integrasie net so belangrik is as ’n narratiewe integrasie. In hierdie proses het ander aspekte ook ’n rol gespeel, soos die relatiewe veiligheid waarbinne die karakters kon bly, die ondersteuning van mense na aan hulle, die identifisering van parallelle wêrelde (Afrika en die chinchillas) waarmee hulle geleidelik vanaf ’n onbetrokke afstand hul eie traumatiese ervarings kon verwoord en/of ervaar.

Die romans dui ook ’n genderverskil aan tussen die mans en vrouens se verwerking van trauma. Saunders wys spesifiek op die belangrikheid om verder aandag te gee aan die verskil in formulering en verwerking van die traumatiese geheue by mans en vrouens (2006:26). Miriam (in Chinchilla) praat nie verniet van die binnewêrelde en buitewêrelde nie. By al die manskarakters is die uiterlike verwerking en innerlike onderdrukking van emosie beklemtoon: André se restourasieprojek en klassieke musiek; Emile se woede teenoor die vreemde skool, taal en omgewing; Zacharias se obsessie met sy valke; en Bastos se werk met die chinchillas. Daarin soek hulle en probeer skep hulle uiterlike en innerlike orde teenoor die wanorde van die emosies in hul binneste.

Ten slotte: daar sal altyd ’n gaping en konflik bly tussen die waarheid en die fiksie van trauma én die uitbeelding daarvan in ’n fiktiewe teks. Hierdie twee romans bied hoogstens ’n oortuigende fiktiewe uitbeelding van ’n hoogs sensitiewe, individuele en emosionele ervaring. Die teorie van trauma en psigoterapie bied egter een wyse waarop die leser so ’n teks kan benader.

 

Bibliografie

Anker, J. 2007. Chinchilla: aangrypende roman oor trauma. LitNet, https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&
cause_id=1270&news_id=29690
. 20 Augustus 2008 geraadpleeg.

—. 2008. Metaphors of pain. Ongepubliseerde referaat gelewer tydens die International Conference on Humanities, Universiteit van Pretoria, 22-25 Junie 2008.

Brewin, Chris, R. 2003. Post-traumatic Stress Disorder. Michigan: Vail-Ballou Press.

Britz, E. 2007. Marita van der Vyver: Stiltetyd. ’n Handleiding vir Boekklubs. Insig-Argiewe, boekeinsig@insig.com.

Caruth, Cathy. 1996. Unclaimed Experience. Trauma, Narrative and History.
Baltimore: The John Hopkins University Press.

— (ed.). 1995a. Trauma. Explorations in Memory. Londen: The John Hopkins University Press.

—. 1995b. An interview with Jay Lifton. In Caruth, Cathy (ed.) 1995a.

—. 2001. An Interview with Jean Laplanche.http://www3.iath.virginia.edu
/pmc/text-only/issue.101.2caruth.txt
. 26 Oktober 2007 geraadpleeg.

Culbertson, Robert. 1995. Embodied memory. Transcendence, and telling: recounting trauma, re-establishing the self. New Literary History, 26:1 (Winter).http://find.galegroup.com/itx/retrieve.do?contentSet=IAC-
Document&resultListType
. 5 November 2007 geraadpleeg.

Fourie, E. 2007. ’n Indrukwekkende roman-deurbraak. Beeld, 9 September 2007.

Hambidge, J. 2006. Storielyn, maar is dit ’n groot roman? Volksblad, 25 September 2006.

Kaminer, D. 2006. Healing Processes in Trauma Narratives: A Review. South African Journal of Psychology, 36(3).

Knox, Jean. 2003. Trauma and defences: their roots in relationship. Journal of Analytical Psychology, 48.

Le Grange, C. 2007. Van Rooyen steek haar kleim af met "Chinchilla". Die Burger, 13 Augustus 2007.

Malan, C. 2006. Stem vir die stemloses. Beeld, 9 Oktober 2006.

Peres, Julio, Juliane Mercante en Gladys Nasello. 2005. Psychological dynamics affecting traumatic memories: implications in psychotherapy. Psychology and Psychotherapy: Theory, Research and Practice, 78.

Ragland, E. 2001. The Psychical Nature of Trauma: Freud’s Dora, The young Homosexual Woman, and the Fort! Da! Paradigm. http://www.3iath.virginia.edu/pmc/text-only/

issue.101/11.2ragland.text. 12 November 2006 geraadpleeg.

Robson, K. 2001. Curative Fictions: the "Narrative Cure" in Judith Herman’s Trauma and Recovery and Chantal Chawaf’s Le Manteaunoir. Cultural Values, 2001:15-130, Januarie.

Saunders, Rebecca en Kamran Aghaie. 2005. Introduction: Mourning and Memory. Comparative Studies of South Asia, Africa and the Middle East. 25(1).

Saunders, R.B. 2006. How metaphors shape the concept and treatment of Dissociation. The Psychiatric clinics of North America, 29(1).

Sealy, K. 2005. Trauma as a Metaphor: The Politics of Psychotherapy after September 11. Psychotherapy and Politics International, 3(1).

Van der Hart, O., C. Steely, S. Boon en P. Brown. 1993. The Treatment of Traumatic memories: Synthesis, realization, and Integration. Dissociation, 6 (2/3).
http://www.-trauma-pages.com/a/vdhart-93.php (1-25). 2 November 2007 geraadpleeg.

Van der Kolk, Bessel, A. en Onno van der Hart. 1995. The Intrusive Past: The Flexibility of Memory and the Engraving of Trauma. In Caruth, Cathy (ed.) 1995a.

Van der Kolk, Bessel A. 2002. Posttraumatic Therapy in the Age of Neuroscience. Psychoanalytic Dialogues, 12(3).

Van der Kolk, Bessel A., A.C. McFarlane en L. Wiesaeth. 1996. Traumatic Stress. The Effects of Overwhelming Experience on Mind, Body and Society. New York: The Guilford Press.

Van der Merwe, Chris en G. Gobodo-Madikezela. 2007. Narrating our Healing. Perspectives on Working through Trauma. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing.

Van Rooyen, N. 2007. Chinchilla. Kaapstad: Human en Rousseau.

Van der Vyver, M. 2006. Stiltetyd. Kaapstad: Tafelberg.

Victor, M. 2006. Stiltetyd deur Marita van der Vyver: ’n Jaar in die land van verlies.
LitNet, https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&
cause_id=1270&news_id=4488
. 18 Augustus 2008 geraadpleeg.

Werner, G. 2004. Siren Call of metaphor: Subverting the Proper Taste of Neuroscience. Journal of Integrative Neuroscience, 3(3).

Williams, W.I. 2006. Complex trauma: Approaches to Theory and Treatment. Journal of Loss and Trauma, 11.

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top