Die verantwoordelikheid van uitgewers – die Wiid-geval

  • 22

Die afgelope week of wat woed daar ’n fel debat oor die aanvegbare stellings wat Gretha Wiid maak oor homoseksualiteit in twee boeke, Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies. Hierdie stellings het groot ontsteltenis veroorsaak, veral in die sosiale media, en uiteindelik het die uitgewer ’n verskoning aangeteken, waarop ek later terugkom. In ’n oomblik van woede het ek meegedoen aan die sosiale-media-gesprek met die volgende opmerking: “Hierdie verskoning help niks. Daar is slegs een oplossing: Onttrek die boek uit die mark.” LitNet het my opmerking raakgelees en ek het toe die versoek ontvang om my standpunt oor die rol en verantwoordelikheid van die uitgewer ’n bietjie verder te verduidelik.

Aan daardie versoek voldoen ek graag, maar dan met inagneming van die volgende belangrike punte:

  • Ek is nie ’n kenner op die gebied van seksualiteit nie. Hieroor gee ek wel later ’n besondere perspektief.
  • Ek ontken nie die skrywer of enige ander persoon se reg op ’n eie standpunt oor hierdie of enige ander (kontroversiële) saak nie. Met hierdie bydrae wil ek dan ook nie in ’n debat of stryd tree met die skrywer of met mense wat soos sy mag dink nie.
  • Ek is wel ’n spesialis op die gebied van kommunikasie-ontwerp, waaronder ook die meting en beoordeling van kommunikasiekwaliteit. Dit sal my uitgangspunt in hierdie bydrae wees.
  • Ek het beide boeke bestudeer en ’n eie oordeel gevorm, en verlaat my dus nie op hoorsê nie.

Wanneer dit gaan om die beoordeling van die gehalte van skriftelike kommunikasie – maar dit geld in breë trekke ook vir mondelinge kommunikasie – moet mens aan die volgende aspekte van die kommunikasie-ontwerp aandag skenk:

  • die inhoud – wat gesê word oor ’n bepaalde tema, die feitelikheid van die inhoud, die argumente wat gevoer word, ens.
  • die struktuur – hoe die inhoud georganiseer is, die volgorde van stellings of argumente, die fokus op die belangrikste argumente, ens.
  • die styl – hoe die inhoud oorgedra word, die keuse tussen ’n meer formele en meer informele styl, die “stem” van die skrywer, woordkeuse, ens.
  • die vormgewing – hoe die inhoud sigbaar gestruktureer word, die aanwending van struktuurmeganismes soos paragrafering, opskrifte, tipografie en die interaksie van verbale en nieverbale materiaal (die grafika).

By die beoordeling van hierdie aspekte word daar dan ’n aantal “dwarsliggende” veranderlikes in ag geneem, waarvan ek die volgende uitsonder: die breër konteks waarin die kommunikasie plaasvind, die doel van die kommunikasie en die doelgroep aan wie die kommunikasie gerig word, en veral die diversiteit van hierdie doelgroep as dit kom by veranderlikes soos kultuur, waardestelsels, houdings, vooroordele, kennis en ervaring.

En oor dit alles hang dan die vraag: Wie is verantwoordelik vir die gehalte van die kommunikasie?

Uiteraard oorvereenvoudig ek ’n baie komplekse sisteem van kwaliteitsbeoordeling hier ter wille van die beperkte ruimte wat ek het om my punt te maak. Daarom sal ek bg model ontgin deur slegs te kyk na die kwessie van inhoud en dit dan van toepassing maak op ons geval, en spesifiek op die afdelings in die twee boeke wat oor homoseksualiteit handel.

As demonstrasie stel ek maar enkele van die kritiese vrae wat oor die inhoud gestel kan word:

  • Om mee te begin, merk ek op dat die stuk byna net so geknip en geplak is van die een boek na die ander – enkele sinne is in die een weergawe weggelaat en hier en daar is die woord seun met meisie vervang. Die eerste deel van die stuk behou in albei weergawes ’n sterk manlike oriëntasie. Daarom as eerste evalueringsvraag: Is dit geregverdig om dit so te knip en plak? Is die manlike en vroulike perspektief op homoseksualiteit wesenlik dieselfde?
  • Hou die inhoud rekening met die diverse doelgroep, met hulle verskille in kultuur, verskille in waardestelsels, houdings en vooroordele, verskille in kennis en ervaring en – natuurlik – moontlik ook verskillende seksuele oriëntasies?
  • Wat is die doelwit(te) met die kommunikasie? In hierdie geval, om meer insigte te bring rakende homoseksualiteit om – soos die boeke dit self wil hê – die talle vrae wat tieners oor hierdie onderwerp mag hê te beantwoord? Om hulle “lyfslim” te maak, dus?
  • Hou die inhoud rekening met die breër konteks waarin dit gekommunikeer sal word? Onder andere die besondere aandag wat die onderwerp die afgelope paar jaar geniet het in die media en in ander openbare domeine?
  • Is die inligting oor die tema feitelik korrek en volledig? Word bestaande kennis en insigte oor die tema in berekening gebring? Gedagtig aan die doelwit wat in ’n vorige kolpunt gestel word, bespreek die skrywer die verskillende tipes seksualiteit en die veranderlikes wat tot verskille in seksualiteit mag lei? Praat sy met die tieners oor die idee dat ’n persoon se seksualiteit eintlik op ’n kontinuum lê? Ek is nie ’n spesialis op dié gebied nie (en terloops, mev Wiid ook nie), maar dit het my opgeval hoe maklik ’n mens deur middel van ’n verstandige soektog onder die indruk kom van die uitgebreide literatuur oor hierdie uiters komplekse saak. Dink maar net aan die verskillende kategorieë van seksualiteit en die verskeidenheid teorieë oor die sogenaamde oorsake van ’n persoon se besondere seksualiteit. Die inhoud in die boeke slaag nie naastenby die toets van volledigheid of korrektheid nie.
  • Getuig die inhoud van goeie argumentasie, die ordelike opweging van verskillende standpunte? Of spreek die inhoud van ’n bepaalde vooroordeel vir slegs een standpunt? Vergelyk byvoorbeeld die volgende gedeelte: “Die ding wat die meeste kinders wil weet, is hoekom mense gay raak. Nou ja, party mense sê dat sulke mense gay gebore word. Dis iets waarmee ek nie saamstem nie. Ek glo met my hele hart dat God mans en vroue geskape het om lief te wees vir die teenoorgestelde geslag.” Hierdie aanhaling het geen verdere bespreking nodig nie.
  • Wat die godsdienstige perspektief in die vorige punt betref: Hou die skrywer rekening met die feit dat nie alle tieners noodwendig hierdie perspektief deel nie? En verder: Verreken die skrywer die intense debat wat tans oor die aangeleentheid in die kerk woed, en die gepaardgaande debat oor hoe die Bybel geïnterpreteer moet word op hierdie punt?
  • Is daar in die inhoud sprake van stereotipering en stigmatisering wat kan lei tot die vervreemding van minstens ’n deel van die betrokke doelgroep? Die volgende aanhaling stel homoseksualiteit voor as iets wat sleg is, verkeerd is, iets om oor hartseer te voel: “Ongeag wat die redes vir homoseksualiteit is … dit bly hartseer. Sulke mense kan nooit op die normale manier kinders hê nie. En sou hulle kinders aanneem, sal die kinders nooit die wonderlike voorreg hê om ’n pappa én ’n mamma te hê nie. Dit is verder ook hartseer omdat God sê dat dit sonde is om seks met iemand van dieselfde geslag te hê. Sjoe, al hierdie dinge is só hartseer!” Hierdie uitspraak hou nie rekening met die uitgebreide versameling getuienis wat daarop dui dat mense in homoseksuele verhoudings ’n gelukkige en volronde bestaan kan voer nie, en dat kinders van liefdevolle homoseksuele ouers tot volwaardige en gelukkige lede van die samelewing kan ontwikkel nie. Deur die gelaaide taal in die stuk word die stigmatisering van homoseksuele mense net verder versterk.

Ek het maar enkele evaluerende vrae gestel, en ek het hulle nie almal naastenby volledig beantwoord nie, en ek hoef ook nie – ek laat dit aan die leser oor om self die beoordeling verder te voer. Hierdie vrae, met ’n enkele spesifieke uitsondering of twee, kan van alle kommunikasie gevra word. Die vrae wat ons reeds gestel het, gee wel vir ons ’n aanduiding van die probleme wat die betrokke boekdeel kan oplewer.

Nou kom die belangrike vraag: Wie is verantwoordelik vir die gehalte van ’n publikasie? Of: Wie doen mee aan die versekering van die gehalte van enige kommunikasie? Ook hierdie vrae is nie so eenvoudig nie. ’n Mens kan maklik oordeel dat die verantwoordelikheid vir die kwaliteit van kommunikasie net lê by die sender daarvan, in die geval van geskrewe kommunikasie dus die skrywer. Maar daar is meer partye wat deel het aan die versekering van kommunikasiegehalte: lesers speel byvoorbeeld ’n rol deur die terugvoer wat hulle gee, soos met die kommentaar wat ons in die sosiale media gesien het.

Maar daar is ook ander partye wat ’n rol kan speel, en in die geval van gepubliseerde werk is die uitgewer beslis medeverantwoordelik vir die kwaliteit van publikasies. Dat verantwoordelike uitgewers hierdie taak ernstig opneem, blyk uit die keurings- en redaksionele meganismes wat hulle aanwend, en die terugvoer wat hulle aan skrywers kan (of selfs moet) gee oor aspekte van die publikasie waarmee hulle nie gelukkig is nie, selfs die mate waarin hulle kan aandring op bepaalde wysigings of selfs kan besluit om ’n manuskrip nie vir publikasie te aanvaar nie.

Ek het die webwerf van die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA: Publishers’ Association of South Africa) bestudeer. Die meeste vooraanstaande uitgewers is lede van hierdie vereniging (soos David Philip, Human en Rousseau, Jonathan Ball, Juta, LAPA, Macmillan, Maskew Miller Longman, NB Uitgewers, Pearson, Tafelberg, en nog vele meer), en hulle onderskryf ’n uitgewerskode waarin uitsprake soos die volgende voorkom: “To promote and protect the rights and responsibilities of the independent publishing sector … to promote best practice and highest standards of ethics in publishing … to promote a culture of reading and excellence in writing and publishing in South Africa … in all instances to act in the best interests of the ongoing development and transformation of South African society.” Veral die laaste uitspraak het my opgeval, ook as mens dink aan die tema waaroor dit in die gewraakte teksgedeelte gaan.

Uitgewers het duidelik ’n besondere verantwoordelikheid rakende die kwaliteit van die publikasies wat hulle uitgee. Ons leef in ’n samelewing wat vandag kwesbaarder is as ooit, en juis daarom moet ’n uitgewer twee keer dink voordat inkorrekte, onvolledige, bedenklike inhoude oor omstrede onderwerpe gepubliseer word. Juis hierdie kwesbare samelewing vra ’n besonder genuanseerde benadering tot die kwaliteit van dit wat die wêreld ingestuur word.

Ek kon die naam van die uitgewer van die twee boeke nie in die ledelys van PASA vind nie. Die verskoning van die uitgewer vir die ontsteltenis wat die skrywer se uitsprake veroorsaak het – hoewel opreg bedoel – was nie veelseggend nie: “Daarom wil ek vandag uit my hart jammer sê as ek of ons maatskappy jou seergemaak het met ons woorde, ons aanwesigheid of ons afwesigheid. Dit was en sal ook nooit ons bedoeling wees nie. Vergewe ons daarvoor, want ons besef – you too are fighting a tough battle” (soos aangehaal uit ’n Netwerk 24-berig).

Die verantwoordelikheid van ’n uitgewer strek veel verder as dit, sou ek sê.

  • 22

Kommentaar

  • Theart Korsten

    Ek het goot geword in 'n eensydige uitkyk op die wêreld, waar net een kant van 'n saak aan my geleer is. Ek was gesê dat dit die enigste waarheid is. Ek kon slegs as tiener begin om te sien dat die wêreld uit duisende verskillende opinies en menings bestaan. Dit is nou vir my meer belangrik ass ooit dat ons die volgende geslag groot mense met meer insig en visi grootmaak. Dis is belangrik dat alle kante van sake uitgewys word. Dus, as hierdie boekies vir kinders geegee word en geleer word is dit net een kant van die saak. Sulke radikale stellings en menings is nie vandag meer aanvaarbaar nie. Ons moet verstaan dat daar 'n groter groep menings is wat in die wêreld omgaan.

  • Johannes Comestor

    Mense behoort vry te wees om hulle vir of teen homoseksualiteit uit te spreek. Om 'n boek te wil verbied omdat 'n ander standpunt gestel word as waaraan De Stadler voorkeur gee, is om radikale sensuur te bepleit. In die huidige geestesklimaat word homoseksuele myns insiens oorbeskerm teen kritiek. Ek verskaf 'n enkele voorbeeld. Na talle koerantberigte oor die mannetjieleeu Sylvester is berig dat hy na 'n afkoeltydperk onder wyfieleeus losgelaat word. Ek reageer toe soos volg: "Die volgende berig sal seker wees dat Sylvester gay is." My opmerking is as onpubliseerbaar beskou. De Stadler openbaar nie die werklike rede vir sy "woede" nie. Dit is egter 'n feit dat baie mense, seker die meeste, homoseksualiteit om grondige redes afkeur.

    • ... en watse "grondige redes" sou daar wees om homoseksualiteit 'af te keur'?

      Seblieftoggies, vertel ons ... en sê ons sommer ook wie jou aangestel het as "keurder" van mense, en hoe hulle gebore is?

      • Johannes Comestor

        Trixie, in sommige gevalle word mense homoseksueel gebore. In ander gevalle word hulle mettertyd homoseksueel. Niemand het vir my en jou as gesaghebbendes oor homoseksualiteit aangestel nie. Ons albei probeer seker maar net om hierdie verskynsel te verstaan. Ons het klaarblyklik tot verskillende gevolgtrekkings gekom.

    • Johannes Comestor, dit is nie 'n feit dat "baie mense, seker die meeste, homoseksualiteit om grondige redes afkeur" nie. Die feit is dat baie mense homoseksualiteit afkeur op grond van hulle opinies of geloof - daar is niks grondigs omtrent 'n opinie of geloof nie, dit bly debateerbaar of weerlegbaar. Kom ons begin by die feite omtrent homoseksualiteit, voor ons opinies en oordele uitspreek.

      • Johannes Comestor

        Magriet, ek is dikwels aan die kant van 'n minderheid maar in hierdie geval is ek aan die kant van die meerderheid. Die meeste mense is heteroseksueel. Homoseksuele is in die minderheid, al is dit skynbaar 'n groeiende minderheid. Opinies en gelowe kan inderdaad foutief wees. Nou moet ons volgens jou na die feite gaan. Dit is 'n feit dat sommige homoseksuele so gebore word. 'n Ander baie harde feit is dat huwelike of seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag geen eie kinders oplewer nie. Die vraag is waarom Moeder Natuur so harteloos is om nie aan diesulkes kinders te gun nie. Dit kan dui op die verskil tussen 'n natuurlike natuurlikheid en 'n onnatuurlike (of ongewone) natuurlikheid, wat ons terugbring by die verskil tussen die meerderheid (heteroseksuele) en 'n minderheid (homoseksuele). 'n Opsig waarin heteroseksuele en homoseksuele nie behoort te verskil nie, is in verdraagsaamheid teenoor kritiek. Desnieteenstaande word daar deesdae glad te dikwels van die standpunt uitgegaan dat geen kritiek hoegenaamd teen homoseksuele en homoseksualiteit uitgespreek mag word nie.

  • "Die eerste deel van die stuk behou in albei weergawes ’n sterk manlike oriëntasie. Daarom as eerste evalueringsvraag: Is dit geregverdig om dit so te knip en plak? Is die manlike en vroulike perspektief op homoseksualiteit wesenlik dieselfde?"

    Haar onlangse "raad" vir meisies wat die eerste keer menstrueer, "Pak, hom pappa, pak hom..." dui ook op 'n taamlike manlike aanslag.

    • Pak hom pappa, pak hom is vir my persoonlik aanstootlik, en ek gril om te dink wat my twee (ouer) susters daaroor sou sê. Klink soos Trump se locker talk. Walglik.

  • Jaap Coetzee, Rooi-Els

    Hoekom kan sy dit nie uitgee nie? Hoekom mag sy nie haar opinie gee nie? Feit is haar opinie is net so onderhewig aan die kritiek soos enige ander opinie of boek. Bv die kerk en politiek.
    Net omdat jy nie daarvan hou nie of jy 'n ander opinie het oor die saak beteken dit nie dat JY of die ANDER persoon mekaar se woorde/opinie mag of kan verban nie.
    Kan julle bv die Soviet-Unie onthou?
    Of wil julle in 'n land woon waar iemand besluit dat almal groen karre moet besit, rooi hemde dra en almal vir een politieke party en leier stem?

    • Nêrens word daar van verbanning gepraat nie. Sy mag haar boek uitgee. Maar die boek (soos enige ander boek) is wel oop vir grondige, wel deurdagde kritiek soos wat hierbo gelewer word. En mens kan, in die geval van 'n opvoedkundige publikasie, slordige uitgewerswerk kritiseer en 'n regstelling eis. Ek weet van opvoedkundige boeke wat uit die mark uitgehaal word vanweë foute. Dan word veranderinge aangebring en dan word die boek heruitgegee. Met digitale drukkerstegnologie, is dit vandag baie maklik.

  • Basil van Rooyen

    As (genadiglik nou afgetrede) uitgewer - ook van sommige van Leon de Stadler se uitstekende boeke - net die kommentaar: Die wêreld is vol swak skrywers en swak uitgewers. Hoe nou die lot beheer sonder 'n terugkeer na die tyd van sensorskap? Daar is geen wet wat bepaal wat goed of ordentlik is nie, en inderdaad is die lewe vol gemors van allerlei aard. Comme c'est la vie.

    • Leon de Stadler
      Leon de Stadler

      Goed om jou stem te hoor, Basil. Ek maak graag een saak duidelik: My betoog gaan nie oor sensuur nie, en ek betwis ook nie mense se reg om te sê wat hulle wil nie. Ek wil wel beklemtoon dat ons 'n duidelike onderskeid moet tref tussen sensuur en dokumentkwaliteit. As 'n skrywer en/of uitgewer toelaat dat iets van bedenklike kwaliteit die lig sien (ook wat die inhoud daarvan betref), moet hulle die gevolge daarvan kan vat.

  • Anna S Ahllers

    Bravo, me Wiid! Dis tyd dat die feite en slaggate van homoseksualiteit pertinent toegelig en/of belig word. Ons jongmense word gebombardeer met 'n uitkyk op die lewe wat jou vrystel van verantwoordelikheid vir jou eie en die effek op ander - solank jy jouself uitleef, is alles wel. Ongelukkig is daar by elke keuse ook reperkussies, waarvan die seksuele een van die mees vernietegende kan wees; synde vrye liefde, eie-liefde; of eie-geslag liefde. Veral in die voor- en tiener stadium wanneer hormone deurmekaar begin trap, kan 'n kind 'n ernstige fout maak wat later jare groot emosionele skadu kan veroorsaak en 'n hele lewe kan verongeluk. Hou op om sensuur op menings toe te pas! Uitgewers het NIE die reg om te besluit wat die leser moet lees nie - hulle moet media versprei wat goed geskryf en grammatikaal behoorlik versorg is; NIE media wat feite verdoesel nie.

    • So, Anna, vetel vir ons, wat is die "slaggate" van homoseksualiteit?

      En presies wanneer het JY "gekies" om NIE homoseksueel te wees nie, hmmmm ...?

      En hoe kan jy GrietWiet se gemors, waar sy nie eers ordentlik kan spel nie "grammatikaal goed versorg", noem?

      Jou homofobiese onderrokkie hang uit, sussie...

  • Ai,ons leef in die 21ste eeu. As jy nie-fiksie skryf, moet jy by feite bly. Geslag word in die baarmoeder bepaal. Sy skep wanpersepsies wat sowel die ouers as die persoon wat homoseksueel is,met emosionele bagasie laat. Om nie eers te praat van vooroordeel uit die gemeenskap nie.

  • Gerda Whitehorn

    Eers wanneer iets jou lewe raak, gaan jou oë daarvoor oop. Dis 'n veilige voorspelling dat almal, êrens in hul families met homoseksualiteit gekonfronteer sal word. Dis dan wanneer etikette uit jou kleintyd jou kan pootjie. Volstruis vs navorsing?

  • Anton J Jansen

    Nou ja, laat dié wat van beter weet dit beter stel as die geval hier. Soos gewoonlik kom die felste kritiek in die kommentaar van homofobe of dié wat graag hul onkennis adverteer as die waarheid.

  • Wat uit sig verloor word is dat homoseksualiteit nie uitsluitlik 'n "gay" saak is nie. Daar is vele getroude persone wat gereeld buite-egtelik homoseksuele dade pleeg. Hulle kan in werklikheid saam met "gays" gebondel word. Dan het ons diegene wat dan en wan homoseksuele dade pleeg of gepleeg het.
    Die Kinsey-verslag, en instituut wat sy verslag op datum hou is 'n goeie bron om te bepaal tot watter mate homoseksualiteit in die samelewing aanwesig is. Vir diegene wat werklik na objektiwiteit soek, kan gerus die volgende skakel deurlees:
    https://www.well.com/~aquarius/kinsey7-12.htm
    The Kinsey Scale https://kinseyinstitute.org/research/publications/kinsey-scale.php
    Rating | Description (sien die grafiek op die skakel hierbo aangegee om te verstaan)
    0 | Exclusively heterosexual
    1 | Predominantly heterosexual, only incidentally homosexual
    2 | Predominantly heterosexual, but more than incidentally homosexual
    3 | Equally heterosexual and homosexual
    4 | Predominantly homosexual, but more than incidentally heterosexual
    5 | Predominantly homosexual, only incidentally heterosexual
    6 | Exclusively homosexual
    X | No socio-sexual contacts or reactions

    • Jaco,dankie vir info - natuurlik is daar 'n hele spektrum wat homoseksuele optrede betref. Hormone en eie keuses speel sekerlik ook 'n rol. Die feit bly iemand kan nie vir 'n voorkeur wat deel van sy DNS is,verkwalik word nie.

      • Jeanette
        Dankie vir jou respons. Jy skryf: "Die feit bly iemand kan nie vir 'n voorkeur wat deel van sy DNS is, verkwalik word nie." Dit is nog nie feitlik bewys nie. Indien jy 'n wetenskaplike bron tot die teendeel het, sal ek dit waardeer indien jy dit met my deel.
        Kinders voor puberteit, so jonk as sewe jaar wat reeds op daardie ouderdom simptome tot homoseksualiteit toon, en na puberteit wel feitlik is, staaf die teorie op hierdie stadium.
        Wat wel waarneembaar is, is dat "environmental" invloede soos bv dominerende ma, heteroseksuele teleurstellings, ens daartoe ook aanleiding kan gee gedurende puberteitsjare, op welke stadium seksuele keuses so te sê permanent gevestig word.
        As gevolg van hierdie waarnemings, is die teorie dat 'n minderheid "gays" (uitsluitlik homoseksueel) so gebore is, die res onveranderbaar ten gevolge van "environmental" faktore.
        Ek self is uitsluitlik gay en ek glo nie as gevolg van DNS-faktore nie. Gedurende my puberteitsjare kon ek suksesvol met die teenoorgestelde geslag gemeenskap geniet, maar 'n traumatiese gebeurtenis het my sedertdien 'n afsku vir die vagina gegee wat homoseksualiteit my uitsluitlike voorkeur seks laat geskied het.

        • Jeanette,

          Terloops. Net soos gays (uitsluitlik homoseksueel), 'n minderheid in die samelewing is, is uitsluitlik heteroseksueel ook 'n minderheid, die res tot 'n groter of mindere mate tussen-in volgens Kinsey.

  • 'n Paar punte: 1. Uitgewers gee nie so baie om vir die kwaliteit van die skryfwerk of die argumente van die skrywer nie - wat saak maak in die bedryf is of hulle geld kan maak uit die boek uit. Kyk na 50 Shades of Grey as voorbeeld - nie 'n wonderlike literêre werk nie, maar 'n topverkoper. Die uitgewers het geweet daar is 'n mark vir Wiid se boeke, ongeag of hulle met die inhoud saamstem of nie. Dis die vrye mark wat bepaal watter boeke gepubliseer word, nie soseer die uitgewers se eie smaak nie. 2. Hoe omstrede dit ook mag wees, me Wiid het 'n reg op haar opinie en om dit te publiseer. As dit 'n Moslem-skrywer was wat dieselfde dinge gesê het, sou mense nie 'n wenkbrou gelig het nie - hoekom moet Christene teen 'n ander maatstaf gehou word? 3. Al jou argumente van stereotipering en stigmatisering en swak redenasie kan ook op die Bybel of die Quran toegepas word. Moet 'n mens nou alle boeke wat vanuit 'n geloofsoortuiging geskryf is verban of uitgewers kritiseer omdat hulle dit durf publiseer? Ek stem nie saam met Wiid se standpunt nie, maar ek dink ook regtig al die ophef is onnodig. In 'n samelewing wat staan vir regte en vrye spraak is daar net vir my te baie dinge wat nou weer taboe geword het om oor te praat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top