Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt

  • 0

Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1
WAM Carstens en EH Raidt (2017)
ISBN: 9781485300380
Pretoria: Protea Boekhuis

Deel 1 van Die storie van Afrikaans, met die subtitel “uit Europa en van Afrika”, is ’n uitbreiding en wydlopige aanvulling van EH Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede, ’n gewaardeerde handboek oor die geskiedenis van Afrikaans wat drie uitgawes (die derde in 1991) beleef het. Die nuwe boek kan beskryf word as ’n kragtoer op die gebied van die historiese taalkunde van Afrikaans, bloot al wat betref die rykdom aan materiaal waarmee die storie ingeklee word. Ofskoon die inligting wat veral in die eerste hoofstukke aangebied word, in ’n mate ook die storie van die Germaanse en baie ander tale vertel en selfs onderwerpe soos die herkoms van taal en die geskiedenis van die taalkunde aanraak, kan die draad vanaf Oer-Indo-Europees (OIE) deur Oergermaans, Oudnederfrankies, Middelnederlands en 17de-eeuse Nederlands duidelik gevolg word tot by moderne Nederlands en Afrikaans. Die hoofdoel van die boek is om die eksterne geskiedenis van Afrikaans weer te gee, dus alles wat met en rondom Afrikaans se “voorouer”-tale, dus veral die voorouers van 17de-eeuse Nederlands, gebeur het. In die laaste van die 11 hoofstukke word egter ook intensief ingegaan op taalverandering as sodanig en die interne geskiedenis van Afrikaans, en kortliks aandag geskenk aan die gevolge van taalkontak aan die Kaap.

Die leser se belangstelling word vóór die teks al geprikkel deur 26 kleurkaarte wat ’n taalkundige panorama verskaf van enigiets vanaf die taalfamilies van die wêreld tot by die besonderhede van Nederlandse dialekte. Tussen hierdie uiteindes is daar kaarte ter illustrasie van die moontlike tuiste van die Oer-Indo-Europeërs, die uitbreiding van die landbou vanaf die Vrugbare Halwe Maan na die uithoeke van Europa (wat moontlik verband hou met die verspreiding van OIE), die uitbreiding van Indo-Europees as sodanig (verskeie kaarte), die Germaanse volksverhuising, die (verskuiwende) taalgrens tussen Nederlands en Frans en ’n kaart van plekke in die wêreld waar Nederlands gebruik of verstaan word. Kaarte wat miskien nie direk met die storie van Afrikaans verband hou nie, maar tog interessant is, is byvoorbeeld dié wat die grootste verbreiding en latere verkleining van die Romeinse Ryk, trekbewegings van die Angele en Saksers na Groot-Brittanje, die Friese taalgebied en die uitbreiding van die Hoogduitse klankverskuiwing uitbeeld. Die kaart wat toon hoe Nederland sonder sy dyke daar sou uitgesien het, is ’n grafiese uitbeelding van wat onder die term Lae Lande verstaan moet word. En Engels speel immers later ’n groot rol in die storie van Afrikaans. Na die meeste van hierdie kaarte word dan ook in die loop van die verhaal terugverwys.

In hoofstuk 1 word ná enkele opmerkings oor die aard van taal die vraag gestel wat sentraal staan in die boek: “Deur watter prosesse en fases het die besondere taal (in hierdie geval Afrikaans) gegaan om die taal te wees wat dit vandag is?” (24) Daar word tereg op geroem dat Afrikaans “die jongste Dietse taal (is) wat sedert die 17de eeu selfstandig ontwikkel is uit ’n Hollandse dialek” (24) en dat Afrikaans een is van slegs enkele tale wat binne een eeu ontwikkel het “vanaf ’n blote dialek van Hollands tot ’n volwaardige taal” wat in wetenskapsbeoefening, op universiteite en op die regbank gebruik kan word (25). Later in die boek kom daar enkele korrektiewe hierop, naamlik dat ook Standaardnederlands uit die dialek van Holland ontwikkel het en dat (onder die Germaanse tale altans) Faroëes meer onlangs as Afrikaans tot standaardtaal verhef is. Te midde van hierdie akkolades vir Afrikaans moet egter gewaak word teen ’n teleologiese siening van die ontwikkeling van Afrikaans – dat die geskiedenis van Afrikaans teruggevoer kan word na OIE of “die uiteindelike resultaat van ’n lang ontwikkelingsproses” (25) is wat reeds in OIE begin het, beteken nie dat hierdie ontwikkeling van die begin af op ’n taal soos Afrikaans afgestem was nie.

Hoofstuk 2 handel oor die ontwikkeling van die taalkunde as wetenskap, vanaf die Oudheid deur verskillende tydperke tot die 20ste eeu. In die aanloop word uitgewei oor die tipe vrae wat sedert vroeë tye oor taal gestel is en steeds gestel word, en word klem gelê op die noodsaak om aan te hou soek na groter insig in die wese van taal.

Die ontwikkeling van die taalkunde as wetenskap, met sy fluktuasies tussen sinchroniese en diachroniese tydperke en die sintese wat in die 20ste eeu tot stand gekom het, word boeiend (en met afbeeldings van die persone en soms die omslae van beroemde boeke) vertel met verwysing na groot denkers oor taal, vanaf die Grieke Plato en Aristoteles en die Romeinse Latinis H Varro, Pānini en (veel later) sir William Jones in die geval van die Indiese grammatika, Priscianus in die 6de eeu nC, die Duitser GW von Leibniz en die Nederlander Lambert ten Kate in 17de tot 18de eeu en ander bekendes uit die taalgeskiedenis soos Wilhelm von Humboldt, Rasmus Rask, Jacob Grimm, LA te Winkel, August Schleicher, William Dwight Whitney, Hermann Paul, Ferdinand de Saussure, Otto Jespersen, Leonard Bloomfield en talle andere, tot Noam Chomsky en Michael Halliday – wat elkeen op sy manier ’n steentjie bygedra het tot die gebou nie alleen van die historiese taalkunde nie, maar ook van die taalkunde as sodanig.

’n Teenstrydigheid waarop gewys moet word, is dat die Middeleeue op bl 52 afgebaken word as 1000–1550 nC, terwyl dit elders in die boek (243–4) juister aangegee word as 500 tot 1500 nC. Tog word Wulfila se selfs vroeër (4de-eeuse) Gotiese Bybelvertaling as illustrasiemateriaal vir dié periode gebruik.

Al verskaf hierdie hoofstuk ’n massa materiaal vir enige kursus oor die geskiedenis van die taalkunde en word dit in die titel aangedui as “agtergrond tot die studie van Afrikaans”, staan dit betreklik ver van die eintlike “storielyn” van Afrikaans.

In hoofstuk 3 word, ná enkele beskouings oor die aard van taal, heelwat aandag bestee aan die problematiek rondom die bepaling van die presiese getal tale in die wêreld, aangesien skattings baie sterk uiteenloop. Dit is byvoorbeeld ’n vraag in hoeverre “dooie” tale, soos Latyn, of sterwende tale in aanmerking geneem moet word. Verder gaan die bespreking oor taaldood, met talle voorbeelde van tale oor die wêreld heen wat pas uitgesterf het of nog net ’n handjievol sprekers oor het. Na aan huis word byvoorbeeld die Namataal Khoekhoegowab bedreig, maar in ander wêrelddele hordes tale. Verder is die grens tussen “taal” en “dialek” besonder vaag. ’n Aantal kriteria om die verskil te bepaal, word bespreek, en toegelig met ’n tabel op bl 99. Vervolgens word tabelle verskaf van verspreiding van tale volgens waar hulle voorkom (100), hulle getal eerstetaalgebruikers (101), die 23 tale met die meeste sprekers (102), die getal tale wat tot die hooftaalgroepe in die wêreld behoort (104) en les bes die beskikbaarheid van Bybels in verskillende tale oor die wêreld heen (103). Implikasies en verdere inligting rondom hierdie statistiek word in 54 punte bespreek. Ook inligting wat direk ter sake is vir die taalsituasie in Suid-Afrika, naamlik die sprekertalle van die amptelike tale, word bespreek. Dan volg daar ’n bespreking van die rol van Engels in die wêreld, en die vraag of dit ’n wêreldtaal is of nie. Ten slotte word ’n aantal sienings van David Crystal aangehaal oor hoe minderheids- en bedreigde tale beskerm behoort te word.

Wat die leser veral sal interesseer, is waar Afrikaans getalsgewys geplaas is tussen die tale van die wêreld en wat gedoen kan word om die posisie van Afrikaans te verbeter. Dit is bemoedigend dat Afrikaans – met sy “bykans 6,8 miljoen sprekers” – volgens een bron die 126ste grootste taal in die wêreld is; die skrywers meen selfs dat as die jongste sensusgegewens in ag geneem word, Afrikaans nader aan die 110de posisie kan lê (101). Op bl 100 word Afrikaans egter vaagweg in die groep met “minder as 10 miljoen” sprekers geplaas (teenoor Nederlands met sy méér as 10 miljoen).

Kommentaar wat puntsgewys gelewer word, soos bogenoemde 54 stellings, loop ongelukkig die gevaar om aanvegbaarhede, of selfs teenstrydighede, op te lewer. So word in punt 31 op bl 104 stellig verklaar dat alle kinders “hulle moedertaal met dieselfde gemak aanleer” en dat daar “nie maklike en moeilike moedertale” is nie. In die volgende punt, 32, gaan dit egter juis oor watter tale die moeilikste is om aan te leer. Die verskil in kompleksiteit tussen tale kom weer in punt 34 ter sprake, ook (weer) dat moeilike skrifstelsels moontlik hier ’n rol speel. Eintlik behoort skrifstelsels – ’n sekondêre vorm van taal – glad nie oor dieselfde kam as gesproke taal geskeer te word nie en is oordele oor kompleksiteit onder meer afhanklik van hoe die begrip universele grammatika hanteer word. Punte 38 tot 40 handel oor watter tale die oudste is. Word onder “oudste” verstaan oudste geskrewe taal of miskien oudste standaardtaal? Met die huidige stand van ons kennis is die beste verstekaanname waarskynlik dat alle natuurlike tale teruggevoer kan word na dieselfde ontwikkelingstadium van homo sapiens. Slegs pidgins, kreole en kunsmatige tale kan miskien beskou word as “nuwe ontwikkelings”, maar ook hulle bou op een of ander manier op bestaande/bekende strukture van natuurlike taal.

Dan kan ook gevra word watter “boodskap” hierdie bespreking vir Afrikaans moet inhou. In eerste instansie regverdig die posisie van Afrikaans, as 126ste grootste taal, nie ’n vergelyking met tale wat twee of drie sprekers oor het nie. Dit is ook nie duidelik of die feit dat die wêreldtaal Engels volgens sommige kundiges oor enkele dekades ’n draaipunt gaan bereik, enige troos moet bring vir Afrikaanssprekendes nie. Uiteindelik lewer hierdie hoofstuk tog nie ’n sterk argument op oor waarom klein tale juis behoue moet bly nie. ’n Argument wat miskien genoem kon gewees het, is dat as tale verdwyn wat seldsame of unieke grammatiese strukture of verskynsels bevat (en Afrikaans is byvoorbeeld nogal uniek onder die Germaanse tale), dié inligting vir altyd verlore sal wees.

Met die bespreking in hoofstuk 4 oor die klassifikasie van tale in groepe begin Afrikaans duideliker in die prentjie kom. Eers word gekyk na die verskillende maniere waarop tale geklassifiseer kan word – geografies, etnografies, genealogies en tipologies – en daarna word die klassifikasietipes in meer besonderhede behandel. Die tipologiese indeling word uitgesonder om in fyner besonderhede uiteengesit te word, byvoorbeeld foneties- fonologiese, sintaktiese, semantiese en morfologiese tipologie, en by laasgenoemde die bekende klassifikasie in analitiese, agglutinerende, flekterende en polisintetiese tale. Onder sintaktiese tipologie word Afrikaans, Nederlands en Duits met Engels gelykgestel as “sogenaamde SVO- (subjek-verbum-objek-) tale (127). Daar moet egter op gewys word dat Nederlands, Duits en Fries (en dit sluit natuurlik Afrikaans in) op grond van onderskikkende volgorde in bysinne ook al as onderliggend SOV beskou is, en in elk geval ’n meer komplekse volgorde het as Engels. ’n Interessante waarneming is dat baie tale nie in die een of ander groep ingedeel kan word nie en dat Afrikaans nie gemaklik in een van die hoofgroepe ingedeel kan word nie, en dus selfs nie duidelik isolerend of analities is nie, maar in werklikheid ’n hibried: enersyds sterk isolerend of analities as gevolg van defleksie, maar ook met kenmerke van die ander tipes (132).

Vir die Indo-Europese tale, waarvan baie ou geskrifte bewaar gebly het, word die genealogiese indeling as die geskikste beskou.. Die historiese en vergelykende metode word vervolgens beskryf, asook interne rekonstruksie, en met talle voorbeelde geïllustreer. Daar word ook gewys op die belangrikheid van rekenaargebaseerde statistiese en korpuslinguistiese benaderings wat groter verfyning kan bring. ’n Groot deel van die hoofstuk word gewy aan ’n klassifikasie van die tale van die wêreld, meer spesifiek die Indo-Europese taalfamilie, met uiteindelik Afrikaans as behorende by Wes-Germaans.

Daar moet egter ongelukkig op ’n aantal redaksionele foute in hierdie hoofstuk gewys word. Latyn glutinare onderaan bl 129 is ‘vaslym’ en nie ‘vaslyn’ nie.  Enkele foute het deurgeglip in die Franse, Spaanse en Italiaanse voorbeelde (en selfs ’n enkele Engelse voorbeeld) wat op ble 140, 147 en 149 gelys word. Vgl ook die spelling van Sioux op bl 157. Op bl 161 word aangedui dat Goties in die 6de in plaas van die 16de eeu uitgesterf het; vgl bl 206. Onderaan bl 161 word die oudste geskrifte vir party tale aangedui as vC in plaas van nC. Jiddisj is die gebruiklike benaming vir die betrokke taal. In aansluiting by die eindnotas oor vervoeging en verbuiging op bl 131 kan daarop gewys word dat die term fleksie van eindnota 3 op bl 492 nie net op die verbuiging van naamwoorde slaan nie, maar ook die vervoeging van werkwoorde, trappe van vergelyking by adjektiewe, ens insluit (vgl onder meer HAT).

Die kort hoofstuk 5 vernou, ná al die inligting van die vorige hoofstukke, die fokus na die Indo-Europese taalfamilie en van daar na Nederlands en Afrikaans. Indo-Europees is nie net van belang omdat dit die taalfamilie is waaruit Afrikaans ontwikkel het nie, maar ook omdat sowel die historiese as die moderne taalwetenskap aan die hand van die Indo-Europese tale ontwikkel het. Verder word vertel uit watter variëteite van Nederlands – in die 17de eeu self nog nie ’n gestandaardiseerde taal nie – Afrikaans ontwikkel het. Daar word ook op gewys (166) dat juis die manier waarop Nederlands sy intrede in die bevolkingsituasie aan die Kaap gemaak het, so emosioneel ervaar word dat die hele bespreking oor die ontstaan van Afrikaans in omstredenheid gehul geraak het.

Aangesien die evolusie van die taal met die wording van ’n veelrassige bevolking in die destydse Nederlandse kolonie aan die suidpunt van Afrika vervleg is, en meer nog omdat die taal ná 1875 toenemend deur wit Afrikaners as hulle besit opgeëis is, het die taal en sy ontstaansgeskiedenis ’n emosioneel omstrede twisappel van polemieke in akademiese kringe, spraakgemeenskappe en politieke groepe geword en gebly. (166)

Die skrywers pleit egter daarvoor dat daar tog, ondanks hierdie “emosioneel gelaaide atmosfeer”, “’n kalm, beredeneerde en objektiewe ondersoek na die wordingsgang van Afrikaans” sal plaasvind.

Verder word gekyk na die geografiese verspreiding van Indo-Europees en na moontlike bronne van inligting oor wie die oorspronklike sprekers was en waar hulle gewoon het (aangesien geen oorspronklike geskrifte gevind is nie). Belangrike afleidings oor die bevolking en hulle moontlike woonplek kan gemaak word uit die woordeskat wat deur die meeste dogtertale gedeel word, byvoorbeeld dat hulle ook al uit verskillende groepe bestaan het, ’n patriargale sosiale struktuur gehad het, in koeler streke woonagtig was en nie naby die see nie, en watter diere hulle makgemaak het. Hieruit volg dat hulle moontlik in Noordoos-Europa, in die omgewing van die Swart of Kaspiese See, of in Anatolië (die huidige Turkye) woonagtig was. Talle kenmerke van die Indo-Europese grondtaal, waarvan sommige nog in moderne Afrikaans aangetref word, het deur rekonstruksie bekend geraak, byvoorbeeld ablaut (wreek/wraak, boog/buig, ens). Van die ryk fleksiestelsel het min egter oorgebly in Afrikaans. Ook die splitsing tussen Centum- en Satemtale word behandel; dis uit die Centumgroep, met sustertale soos Helleens, Italies en Kelties, dat Afrikaans afstam. Hierdie hoofstuk vat die hooflyne uit vorige hoofstukke goed saam en verwys dan ook dikwels terug na voorafgaande gedeeltes.

In die soektog na die oorsprong van Afrikaans word die kring steeds nouer getrek, en in hoofstuk 6 word gekyk na Afrikaans se plek binne die Germaanse taalfamilie. Ná opmerkings oor die naam Germane en hulle vroegste woonplek, word stilgestaan by die Germaanse volksverhuisings, die Germaanse woordeskat (woorde in verband met die krygswese, die regswese, die maatskaplike lewe, ens), Germaanse woorde van Keltiese oorsprong, die Latynse invloed op die Germaanse woordeskat wat dui op kontak met ’n meer ontwikkelde beskawing (militêre terme en woorde oor die handel, argitektuur en boukunde, akkerbou en veeteelt), en hoe die ontlenings gedateer kan word.

Daar word ook aandag gegee aan waar verskillende Germaanse stamme, deur die Romeine ingedeel in Istvaeone, Ingvaeone en Herminone (onder meer uit die geskrifte van die Romeinse geskiedskrywer Tacitus bekend), hulle ná die volksverhuisings bevind het. Dit bring ons by die ontstaan van die Romaans-Germaanse taalgrens wat vandag deur België loop. Voorts word aan die hand van die oudste bronne van Germaans ingegaan op die kenmerke van die “primitiewe Germaanse oervolk”, soos dit onder meer in die runeskrif neerslag gevind het.

Die taalkundige kenmerke van Germaans in teenstelling met OIE word behandel: die Germaanse klankverskuiwing uitvoerig, maar ook die Germaanse aksentverskuiwing en ander grammatiese veranderinge.

Enkele opmerkings kan hier gemaak word. Op bl 180 word gesê dat die Germaanse in plaas van die Indo-Europese taalfamilie in die Satem- en Centumgroepe verdeel word en op bl 185 word ten onregte die indruk geskep dat die Hunne ’n Germaanse stam was. Die getal 10 is in Goties taíhun (bl 199). Afrikaans wil is nie so suiwer toekomsaanduidend soos Engels will nie (bl 201).

In hoofstuk 7 word Afrikaans meer spesifiek binne die Wes-Germaanse deel van die Germania gelokaliseer. Die driedeling Noord-, Oos- en Wes-Germaans word bespreek, en die feit dat Oos-Germaans eintlik ’n vorm van Noord-Germaans is. Die belang van Goties in die studie van Germaans word toegelig deur ’n insiggewende artikel van Meyer de Villiers wat as deel van die teks opgeneem is. Die bronne en bewaring van fragmente van Goties word bespreek.

Om verskillende variëteite van Germaans te illustreer, word die “Onse Vader” in verskillende tale opgeneem: fragmente van Wulfila, of Ulfilas, se Gotiese vertaling, verskillende Nederlandse vertalings, vertalings in Fries, Duits, Engels en die Skandinawiese tale en Afrikaans in verskillende vertalings, onder meer die 1933- en 1983-vertalings, en die konsepteks van die direkte vertaling waaraan tans gewerk word. (Op bl 210 is wat ’n voorbeeld van die Gotiese “Atta unsar” moes wees, vervang deur ’n ou Nederlandse “Dat Vader Onze”.)

Verder word inligting verstrek oor Engels, en veral heelwat oor Fries en sy verhouding tot Nederlands. ’n Gedeelte oor die Hoogduitse klankverskuiwing (appel > Apfel, ens) dra by tot ’n goeie begrip van die verhouding tussen Hoogduits en Nederduits, en is ook verhelderend ten opsigte van die verhouding tussen Nederlands en Duits oor die algemeen.

Die hoofstuk eindig met ’n stamboomvoorstelling van die Germaanse tale; die verwikkelde (en deels gedeelde) verhouding tussen ’n aantal verskillende Germaanse dialekte enersyds en tale soos Engels, Duits en Nederlands (waarby Afrikaans aansluit) andersyds kom hieruit goed na vore. (Die Noord-Germaanse stamtaal kan gerus aangedui word as Oudnoors of Ou Noors eerder as net Noors.)

Die bespreking van Oud- en Middelnederlands in hoofstuk 8 bring ons steeds nader aan die herkoms van Afrikaans. Die eerste twee fases van Nederlands, te wete Oudnederlands of Oud-Wesnederfrankies (400–1150 nC) en Middelnederlands (1150–1550 nC) word baie deeglik behandel. Die ingewikkelde prentjie van die samestelling, trekbewegings en interaksies van stamme soos die Franke, Saksers en Friese in die eerste eeue ná die begin van ons jaartelling word helder uiteengesit. Die fragmente wat ons ’n beeld kan gee van Oudnederlands word uitvoerig behandel, met baie aandag aan die “Hebban olla vogala”-gediggie en die nodige regstelling dat dit lank nie die oudste voorbeeld van Oudnederlands is nie. ’n Afbeelding daarvan in die konteks waarin dit gevind is (bl 236), is baie welkom, ofskoon ongelukkig baie klein gedruk. Ná ’n kort uiteensetting van enkele kenmerke van hierdie taalfase word uitvoerig ingegaan op veral die Latynse woordeskatinvloede op Oudnederlands en die rol wat die verspreiding van die Christendom in dié verband gespeel het.

In teenstelling met Oudnederlands is Middelnederlands uit baie bronne bekend. Die ontstaan en verspreiding van die Middelnederlandse literatuur word gevolg, van waar dit begin met Limburg as fokus in die 12de/13de eeu en Vlaandere in die 13de/14de eeu tot Brabant in die 14/15de eeu. Heelwat inligting oor amptelike dokumente en die verskillende Middelnederlandse woordeboeke word verstrek, en die hoogtepunte uit die letterkunde word beskryf en geïllustreer met voorblaaie van of uittreksels uit Sinte Lutgart, Karel ende Elegast, Van Maerlant se Spieghel Historiael, Van den Vos Reinaerde, Beatrijs, Mariken van Nieumeghen en Lanseloet van Denemerken. Die verhaal van die Reinaert word kortliks vertel. (Miskien kan tog vermeld word dat die eerste gedeelte ’n vertaling/verwerking van die Frans is.) Van Middelnederlands as taal word ’n aantal algemene, geografiese en chronologiese kenmerke behandel. Dan volg lang teksuittreksels, onder andere uit De jeeste van Walewein en ’n voorbeeld van die pragtige prosa van die mistikus Hadewijch. Ten slotte word stilgestaan by die invloed van Frans op Middelnederlands en word die taal van die Rederykers bespreek.

In hoofstuk 9 word die belangrike ontwikkelingsgang vanaf vroeë Nieu-Nederlands na vandag se Standaardnederlands (“Van Nieu-Nederlands na ABN”) beskryf en tereg in die titel aangedui as “op pad na Afrikaans”. Hierdie hoofstuk verskaf ’n voortreflike beeld van die politieke, kulturele en godsdienstige konteks waarin Hollands verder ontwikkel het tot ’n standaardtaal, en terselfdertyd ’n beeld van die konteks waaruit variëteite van Nederlands, en veral Hollands, na die Kaap oorgeplaas is. (Terloops: waarom die gestigmatiseerde ABN in die hoofstuktitel gebruik?) Die 16de eeu is ’n tydperk van oorgang as gevolg van die invloed van die Hervorming, Renaissance, en die uitvinding van die boekdrukkuns, maar op taalgebied ook ’n tydperk van geleidelike oorgang van Middelnederlands na Nieunederlands

Die Hervorming lei tot ’n groter waardering vir die Bybel, wat aanleiding gee tot die Statevertaling as opdragwerk van die State-Generaal, wat op sy beurt nie alleen bydra tot die standaardisering van Nederlands nie, maar as veelgebruikte boek aan die Kaap ook bepaalde implikasies inhou vir die ontwikkeling en latere standaardisering van Afrikaans. Die Renaissance bring behalwe groter waardering vir die Klassieke kultuur ook groter waardering vir die eie, wat dan ook die volkstaal – en uiteindelik ook die spreektaal aan die Kaap – insluit. Die boekdrukkuns maak dit moontlik om inligting wyd te versprei, maar bewerkstellig ook verdere standaardisering in die vorm van ’n eenvormige spellingstelsel. Dit alles lei onder meer tot groter belangstelling in die volkstaal, en Nederlandse grammatikas van verskillende soorte ontstaan, waardeur steeds groter eenvormigheid bewerkstellig word. Die rol van woordeboeke in hierdie proses, byvoorbeeld dié van Kiliaan, word uitvoerig behandel.

Verder word vertel hoe die ekonomiese en kulturele swaartepunt in die Lae Lande ná die val van Antwerpen in 1585 na die noorde verskuif, van die vooruitgang van Hollandse stede en veral Amsterdam as gevolg van groot getalle professionele persone wat na die noorde uitwyk, die ekonomiese vooruitgang wat weer handel met die Ooste moontlik maak (onder meer deur die stigting van die VOC), oor die kulturele opbloei van die letterkunde en kuns. Verskillende stylsoorte in die geskrewe taal word onderskei, byvoorbeeld die literêre taal, die “plat volkstaal” van die klugte, briefstyl, die taalgebruik in die reisjoernale (hier met spesiale verwysing na Van Riebeeck se taalgebruik) – almal geïllustreer met talle langerige tekste. Die taalkundige kenmerke en woordeskat van hierdie tekste word aangeraak, en die belang van dit alles vir Afrikaans uitgestippel. Aangesien Afrikaans meer te danke het aan die alledaagse omgangstaal van die 17de eeu as die gesofistikeerde taalgebruik van sekere skrywers, digters, historici en andere uit de tyd en daar juis ’n tekort aan inligting is oor eersgenoemde registers, kan gerus meer aandag gegee word aan die sogenaamde “gekaapte briewe” uit 17de- en 18de-eeuse oorloë met Engeland wat danksy projekte van die Universiteit van Leiden en die (voormalige) Meertens-Instituut vir navorsing ontsluit is en word.

Hoofstuk 10, wat die lyn deurtrek na “die Lae Lande en Nederlands vandag”, bied ’n wye spektrum van kulturele en ander inligting wat strek van Nederlandse en Vlaamse “Landeskunde” tot verskille tussen Nederlands en Afrikaans. Inligting word oor onder andere die volgende verstrek:

  • kulturele omstandighede en historiese ontwikkelings met betrekking tot Nederland en Nederlands, en Vlaandere en Vlaams (met talle foto-illustrasies)
  • wat onder “Vlaams” verstaan moet word, onder meer die persepsie dat Afrikaanssprekendes Vlaams makliker as Nederlands verstaan
  • waar Nederlands oral in die wêreld gepraat word
  • bronne oor die geskiedenis van Nederlands en die Nederlandse taalkunde
  • die taalstruktuur en woordeskat van Nederlands
  • verskille tussen Nederlands en Vlaams
  • organisasies wat hulle met die bevordering van Nederlands besig hou, soos die Nederlandse Taalunie en die Koninklijke Nederlandse Academie voor Wetenschappen (en soortgelyke Vlaamse instansies)
  • die Nederlandse letterkunde
  • die invloed van Frans, Duits en Engels op Nederlands
  • verskille tussen Afrikaans en Nederlands
  • toekomsverwagtinge vir Nederlands in die 21ste eeu
  • die kulturele boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans en die oorwegend nadelige gevolge daarvan vir Afrikaans-Nederlandse verhoudinge
  • hoe Afrikaans in die Lae Lande bevorder word en Nederlands in Suid-Afrika
  • taalverskille tussen Nederlands en Afrikaans in voëlvlug (wat in hoofstuk 11 indringend behandel word).

Hierdie hoofstuk is ongetwyfeld ’n nuttige wegwyser wat die huidige stand van sake weerspieël vir wie ook al in Afrikaans-Nederlandse en Afrikaans-Vlaamse betrekkinge belangstel. Waar die volgende hoofstuk weer toegespits is op taalbeskrywing en met name die interne taalgeskiedenis, is die vraag of hierdie hoofstuk met sy prakties-informatiewe aanslag en toekomsperspektiewe nie miskien meer geskik sou wees as slothoofstuk nie.

Waar dit in die voorafgaande tien hoofstukke hoofsaaklik om die eksterne taalgeskiedenis (en eietydse taaltoestande) gehandel het, gaan dit in hoofstuk 11 (“Die ontstaan van Afrikaans – die rol van taalverandering”) oor veranderinge in die sintaksis, morfologie, fonetiek, fonologie, semantiek en leksikologie, dit wil sê die interne taalgeskiedenis. Die skrywers verklaar hulle bewus daarvan dat verskillende invalshoeke met betrekking tot die herkoms van Afrikaans moontlik is, maar spreek ’n voorkeur vir die perspektief van taalverandering uit omdat dit na hulle mening die grootste moontlikheid bied om antwoorde te vind in verband met die struktuur van Afrikaans as taal (486) – ’n benadering wat egter miskien pragmaties eerder as prinsipieel genoem kan word.

Verskillende teorieë of hipoteses van Suid-Afrikaanse en buitelandse taalkundiges aangaande die ontstaan en vroeë ontwikkeling van Afrikaans word bespreek en daar word uiteindelik sterk aangesluit by die empiriese benadering van taalkundiges soos JLM Franken, GG Kloeke en veral J du P Scholtz. Die gedagte word uitgespreek dat dit vandag om kombinasies van hierdie teorieë gaan eerder as dat ’n enkele teorie uitgesonder word. Ná ’n bespreking van die begrippe kreools en pidgin en die debat wat oor ’n lang tyd gevoer is oor die moontlike rol van kreolisering in die ontwikkeling van Afrikaans word tot die gevolgtrekking gekom dat kreolisering nie ’n primêre faktor kan wees nie en daar eerder gedink moet word aan “taalverandering op grond van verreikende taalversteuring” (437).

As hooffaktore in wat beskryf word as ’n geleidelike verandering van Nederlands na Afrikaans, word “normale” taalverandering sedert 17de-eeuse Nederlands, taalkontak en -beïnvloeding en taalversteuring uitgesonder. Die eerste kategorie word behandel in afdelings oor woordeskat en idiomatiese uitdrukkings, woordvorming (samestellings en afleidings), verskillende konsonant- en vokaalveranderings, en veranderings met betrekking tot die sinsbou, onder meer die verbale hendiadis (soos lê en slaap) en die “dubbele” ontkenning. Die stelling dat “die Afrikaanse sinsbou byna geen afwykings van die Nederlandse toon nie” (449) is enigsins aanvegbaar. Wat betref die sinsbou en spesifiek die “volgorde in die sin” (461) is dit waar dat Afrikaans ingewikkelde werkwoordstrukture uit Nederlands behou het, maar daar moet gewys word op drastiese afwykings, soos die uitskakeling van sekere opsionele eindvolgordes (heeft gedaan; doen moet) en veral die verdubbeling van werkwoorde in die tweede sinsposisie (Hulle bly sing die liedjie) en elders. Ook wat betref die stelling (453) dat Engels, in teenstelling tot Afrikaans, die Germaanse patroon van woordvorming in ’n groot mate verloor het, moet in ag geneem word dat Engels ook op groot skaal komposita gebruik, ofskoon dit verbloem word deur Engelse spellingbeginsels (of die gebrek daaraan).

Verder word daar agtereenvolgens ingegaan op die kontaksituasie met betrekking tot Khoi-stamme, Oosterse slawe en Europese sprekers. ’n Gevolgtrekking hier is dat daar “nooit ’n stadium van ’n algemeen gebruikte pidgin as omgangstaal bestaan het nie”, al het individuele aanleerders van Nederlands “deur ’n persoonlike en tydelik beperkte pidginstadium” gegaan; daar was naamlik “op geen tydstip ’n breuk in kommunikasie” nie (472).

Taalversteuring (veral tussen 1680 en 1740) behoort tot die hooffaktore wat taalverandering in die geskiedenis van Afrikaans veroorsaak het. Daar word onderskei tussen eerstetaalversteuring (T2 versteur T1) en tweedetaalversteuring (T1 versteur T2). In die geval van Afrikaans is taalversteuring veral deur laasgenoemde, “vreemdelinge se gebrekkige aanleer van Nederlands”, veroorsaak (475). In die lig hiervan word agtereenvolgens gekyk na veranderings in die verbale en nominale stelsel, asook spesifieke versteuringsverskynsels soos reduplikasie en die objekskonstruksie met vir.

Die algemene gevolgtrekking is dat die Afrikaanse taalstruktuur geleidelik oor ’n tydperk van 200 jaar ontwikkel het, sonder ’n kommunikasiebreuk, met die gevolg dat daar nooit ’n behoefte aan ’n algemeen-gebruikte pidgin was nie (483–5).

Slotwoord

Tot slot kan gesê word dat Die storie van Afrikaans, Deel 1, sekerlik die grootste versameling inligting oor hierdie onderwerp is wat nog ooit gepubliseer is. Die groot getal internetskakels wat oral bygevoeg is, verhoog die bruikbaarheid van die boek verder.

Deel 1 behandel nie alleen die eksterne geskiedenis, en ’n hele stuk interne geskiedenis, van die “Europese” aspek van die ontwikkeling van Afrikaans met groot deeglikheid nie, maar bied selfs ’n goeie oorsig oor die interne of talige ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands. Die omvang van die boek maak dit ’n nuttige naslaanwerk, nie net wat Afrikaans betref nie, maar ook vir die Germanistiek as sodanig. Sou dit as handboek gebruik word, bied dit genoeg leerstof vir verskeie taalkundekursusse, nie slegs in historiese taalkunde nie.

Maar juis in hierdie volledigheid en bron-gerigtheid skuil daar ook gevare – in eerste instansie dat, om die Engelse uitdrukking aan te pas, die bome van inligting die sig op die (oer)woud van Afrikaans enigsins kan versper. Die boek gaan byvoorbeeld onder veel herhaling gebuk, wat dit nie alleen onnodig lank maak nie, maar ook die indruk van onoorwoë beplanning skep en selfs tekstuele teenstrydighede in die hand werk. So word die terminologiese vervanging van Indo-Germaans deur Indo-Europees byvoorbeeld in twee eindnotas (2:20 en 5:1) verduidelik, maar desondanks albei in die teks gebruik. Meertaligheid by die Iere word in punte 43 en 48 (105–7) op soortgelyke wyse bespreek. Op ble 112 en 113 kom ons twee maal te wete dat slegs 15% van die sprekers van Engels die standaardvorm gebruik. Die (geldige) besware teen die gebruik van die term Bantoetale neem twee lang eindnotas (4:1 en 4:15) in beslag. Verder is dit, ondanks die verduidelikings op ble 32 en 523, tog jammer dat die nuuskierigheid wat geprikkel word deur sommige verwysings by aanhalings, in eindnotas en in die teks self, byvoorbeeld Cluver (1996), Du Preez (2006) (in hoofst 9, nota 34, genoem), Elphick (1977), Liebenberg (2005) en Waher (2001), nie in die bronnelys of ter plaatse in die aanvullende bronne neerslag vind nie.

Bostaande opmerkings moet egter nie afbreuk doen aan wat as ’n grondverskuiwende prestasie in die Afrikaanse taalkunde beskou kan word nie. Ons sien uit na deel 2!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top