Die stand van Afrikaans aan universiteite

  • 1

Die stand van Afrikaans aan universiteite is ’n gesprek wat nou al vanuit vele rigtings gedebatteer is. Talle mense, onder wie kenners en studente, het menings daaroor, en dikwels lyk dit asof geen konsensus bereik word nie. Tog bly dit ’n nodige debat, want soos Freek Robinson in sy opening by dié gesprek by die Suidoosterfees gesê het: “Afrikaans is ’n groot taal, daarom moet ons aandag daaraan gee.”

Die gesprek rondom die stand van Afrikaans aan universiteite is deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Taalraad en die Suidoosterfees gehou. Robinson was die gespreksleier en die mense op die paneel was Wannie Carstens (Noordwes-Universiteit), Rufus Gouws (Universiteit Stellenbosch), Steward van Wyk (Universiteit van Wes-Kaapland) en Angelique van Niekerk (Universiteit van die Vrystaat).

In sy inleiding het Robinson genoem dat die konsensus onder die paneel is dat werkbare oplossings gevind moet word om meertaligheid ’n werklikheid te maak. Die gevoel van die ATR was ook dat daar nie van vooraf oor die stand van Afrikaans gepraat moet word nie, want almal weet dit gaan beroerd. By die onderskeie universiteite word die geveg vir en teen Afrikaans al lank gevoer en talle meen dit is nog lank nie verby nie. Meertaligheid skyn vir sommige die oplossing te wees, maar tog byt besluitnemers en die regering nog nie heeltemal aan die idee van meertaligheid nie.

Die gesprek rondom meertaligheid is ’n belangrike een en die vraag was wat meertaligheid ons kan bring wat die eensydige geveg ons tot dusver nog nie mee gehelp het nie. Die eensydige geveg is net vir die behoud van Afrikaans, want Afrikaans is by talle universiteite nie meer die primêre taal van onderrig nie. Dit is ook waarom die gevoel in die ATR was dat daar na werkbare oplossings rakende die stand van Afrikaans aan universiteite gekyk moet word. Mense is al voos gedebatteer; dis tyd vir aksie.

’n Interessante punt wat Robinson belig het, is oor die 11 ampstale van ons land, waarvan 10 inheemse tale is. Dit is, volgens hom, hoogs ironies dat daar toegelaat word dat een taal, Engels, wat nie ’n inheemse taal is nie, oorheers. Dit is inderdaad ’n vreemde verskynsel en daar moet in gedagte gehou word dat al die tale regte het; al die regte is egter tot dusver net nie ewe veel beoefen nie.

Wannie Carstens, wat al lank by die taaltoneel betrokke is, het genoem dat die kwessie van meertaligheid al in 1993 aan bod gekom het. In 1993 is die 11 ampstale aangekondig en daar was opgewondenheid in taalkringe, omdat daar taalontwikkeling sou kon plaasvind. Almal het toe ook verwag meertaligheid sou realiseer. Carstens het ook gesê: “Ons het nog nie aanvaar dat ons meertalig is nie. Ons praat dit, maar ons doen dit nie.”

Rufus Gouws het genoem dat meertaligheid as ’n politieke term gesien word en hy sê: “Meertaligheid word as politieke speelbal gebruik en baie oppervlakkig geïnterpreteer. Toepassing word volgens dié interpretasie aanbeveel sonder dat daar vanuit ’n taalkundige hoek na die kwessie van meertaligheid en al die tersaaklike literatuur in die veld van taalbeplanning gekyk word. Taalkundiges moet sê wat meertaligheid is en veronderstel; nie politici nie.”

Carstens het egter gevoel dat ’n politieke oplossing gevind moet word om Afrikaans in stand te hou en dat daar op regeringsvlak gesels moet word om meertaligheid te laat realiseer.

Dit is dalk waar, want dit voel dikwels asof universiteitsbesture nie na taalkundiges of studente luister nie. Daar moet dan egter op ’n politieke vlak gekommunikeer word, maar die nodige mense se stemme moet in so ’n geval gehoor word. Dit sal futiel wees as die gesprek slegs tussen politici en bestuurspanne plaasvind en nie ook met en deur die studente, dosente en ander personeel, wat die ergste daardeur geraak word nie.

Gouws het ook genoem dat meertaligheid moet lei na meerfunksionaliteit en dat al die funksies van ’n taal aan universiteit moet seëvier. Die verskillende funksies is Afrikaans as onderrigtaal, taal as vak en Afrikaans (en die ander tale) as akademiese administrasietale. Gouws het ook gepraat oor die genuanseerdheid van moedertaaldebattering en dat iemand hul die beste kan uitdruk in hul moedertaal, maar omdat moedertaalonderrig en meertaligheid nie konsekwent hanteer word nie, lei dit ongelukkig tot ’n vervlakking in die akademie.

Steward van Wyk het begin deur Jakes Gerwel se droom dat elke universiteit verantwoordelikheid moet neem vir die tale in die betrokke universiteit se omgewing, te deel. In hierdie geval voel bruin Afrikaanse studente by die UWK moontlik versaak deur hul taalbeleid. Verengelsing van die Universiteit Stellenbosch kan moontlik dieselfde uitwerking hê op talle bruin studente wat in hul moedertaal wil leer.

Indien meertaligheid goed uitgevoer word, gaan dit beteken dat die tolkdienste meer effektief gebruik gaan moet word. By sommige universiteite en instansies werk dit, by ander nie. By dié waar dit nie werk nie, is tolke soms nie goed genoeg opgelei nie en voel studente dat hulle tweedehandse kennis kry. Tolking is, volgens Carstens, net ’n teoretiese pragmatiese oplossing, want op hierdie oomblik kan universiteite nie bekostig om in al 11 ampstale te onderrig nie. Daar is ook ’n wanpersepsie dat tolking net tussen Engels en Afrikaans moet gebeur – in ’n meertalige konteks moet tolkdienste egter uitgebrei word na al die tale van ons land.

Carstens meen ook dat ons ’n onverdraagsaamheid vir eentaligheid moet hê. Die Soweto-opstande van 1976 was die gevolg van eentaligheid en die taal was op mense afgedwing. Dit sou hartseer wees as die geskiedenis in so ’n opsig herhaal word.

’n Vraag uit die gehoor was of Afrikaans regtig onder beleg is en deur wie Afrikaans onder beleg geplaas word. Gouws het geantwoord dat Afrikaans wel in sy hoëfunksiegebruik onder beleg is.

Myns insiens is dit ook nie noodwendig negatief dat Afrikaans onder beleg kom nie, want dit skep geleentheid om aspekte van die taal te heroorweeg – aspekte soos of al die variëteite ewe veel verteenwoordig is en of Standaardafrikaans werk al dan nie. Ons moet ook nie Afrikaans meet teen ’n ander taal om dit te bekragtig nie; elke taal verskil en is belangrik binne ’n spesifieke konteks.

Gouws het genoem dat dit dikwels die geval is dat Afrikaanssprekendes se versoek vir meertaligheid en verteenwoordiging van ander tale eintlik net ’n verskansing van Engels is. Hy sê ook ons moet ons bemoei daarmee dat elke taal gelyke regte het en dat dit nie net ’n geval moet wees van Afrikaans langs Engels nie.

Van Wyk het genoem dat ons meer moet doen om te bevestig dat Afrikaans ’n Afrika-taal is. Sodoende sal jongmense ook vryer voel om eienaarskap van die taal te neem.

Om te verseker dat meertaligheid ’n werklikheid word, moet alle sprekers daarvoor verantwoordelikheid neem. Carstens sê “Ons moet ophou praat, en ons moet doen.”

Nou ja toe. Afrikaans is ’n groot taal en dit sal skokkend wees as besluite vir die taal geneem word sonder om te kyk na die mense wat die taal nodig het. In die gesprek oor die stand van Afrikaans aan universiteite het nie veel oplossing na vore gekom nie, omdat die onderwerp nie binne ’n dag opgelos kan word nie. Wat wel nodig is, is dat meer jongmense se stemme gehoor word in hierdie tipe gesprekke, want hulle (ons!) is die mense wat die geveg gaan moet voer, ophou praat, en begin doen.

  • 1

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Ons is al verby stadium van praat oor Afrikaan se stand. Die enigste lewensvatbare uitweg, is Orania Universiteit- kollege so gou moontlik aan die gang te kry. Die res wie nog wil praat en onderhandel oor Afrikaans, is welkom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top