Die sonde van die kinders

  • 1

In ons finale jaar moes al die voornemende predikante Siekepastoraat as kursus loop. Dit het onder andere besoeke aan hospitale en inrigtings behels, waar ons soms onderhoude met pasiënte moes voer. Hierdie onderhoude moes verbatim neergeskryf word en is dan ontleed vir effektiwiteit.

Daar was 10 studente in my groep en op ’n Vrydag in Januarie was die skedule dat ons Herfsland Psigiatriese Hospitaal om 9-uur sou besoek. Ek het glad nie lekker opgestaan nie en was soos ’n steeks donkie toe ons vertrek het.

Ons het daar aangekom en is vriendelik deur die hoofverpleër, oom Attie, ontvang. Hy het voorgestel dat ons eers na Neuro B toe gaan en dan na Neuro C.

In Neuro B was daar een van ons dosente, prof Chris. In die vorige jaar was hy so af dat ons as studente opsommings van die handboek gemaak het en vir mekaar klas in sy plek gegee het. Hy is glo behandel vir ’n verslawing aan Ativan, waarskynlik aan die sterkste dosis van 2,5 milligram, ’n paar pille per nag. Prof Chris het aan depressie en insomnia gely – letterlik: die onvermoë om drome te droom.

Ek het met hom gesels, nie ’n onderhoud gevoer nie. Die ander studente was op ’n afstand. Daar sluit toe ’n ouer man by ons aan. Hy het sommer uit sy eie die wonderlike stories van sy lewe vertel en ook dat hy teen sy sin hier aangehou word. Hy het dan ook nie juis siek gelyk nie, totdat ’n mens sy diagnose verneem: Korsakoff se sindroom. ’n Vorm van demensie, gewoonlik veroorsaak deur alkoholmisbruik en swak eetgewoontes. As jy hom uit die hospitaal vrylaat, sal hy dadelik na ’n kroeg toe gaan. Al die praatjies maak word “konfabulasie” genoem. Later in my lewe het ek agtergekom hoe baie mense kan konfabuleer, al is hulle nog deel van die gemeenskap. Veral as hulle hulself verontskuldig. Op daardie stadium van ons besoek het ek beter gevoel. Ek het nie verniet 100% gekry vir die toets oor psigiatrie wat vir selfstudie was nie. Korsakoff en konfabulasie het ek gou aan mekaar gekoppel.

Prof Chris vertel ’n snaakse storie. Sy seun Jacques was in ’n stadium ’n TV-kommentator vir sport. Een aand terwyl die pasiënte van Neuro B televisie kyk, kom Jacques se gesig op TV. Ewe trots noem prof Chris dat dit sy seun is, maar almal kyk hom aan asof hy mal is. Sommige draai toe sommer die vinger in die rondte by die oor. Prof Chris lag lakonies daaroor. Ses jaar later was lagtyd verby, want Jacques het geselfdood op dwelms.

Toe ons in die kar klim op pad na Neuro C, raak ek angsbevange. Neuro C was immers die eenheid waar ek self twee “institusionele” winters vir depressie of wat ook al deurgebring het. Dat ek merkwaardig herstel en intussen ’n paar grade verwerf het, neem nie die neerdrukkende herinnering aan Neuro C, en die chaos van my lewe toe, weg nie. Wat ek in Neuro C beleef het, sou my hele lewe stempel. Gelukkig nie brandmerk nie, want nie noodwendig alles was die heeltyd sleg nie. Maar te veel, te erg, te gou. Ek was maar 17 jaar oud.

Dit was nou tien jaar later. Ek is intussen getroud en wil graag kinders hê. Sal hulle dalk my geneigdheid tot “depressie” oorerf?

By Neuro C is ons toegelaat om met die pasiënte te praat. Hier het ek my skaars gehou. Gelukkig was sy nêrens te siene nie.

Volgende was saalronde. Die dokter en die studente het egter nie die pasiënte in die sale besoek nie, maar in ’n groot konferensiekamer bespreek. Soms wel is ’n pasiënt daarheen ingebring.

Die matrone het die verslag ingelei: “Min probleme is laas nag ervaar. Dit is net mevrou De Villiers wat die hele nag nie kon slaap nie. Sy het aanmekaar opgestaan en rondgedwaal en gevra vir ’n slaappil.” Ek het geruk van skrik. Sou my klasmaats kon agterkom van wie daar gepraat is? Die psigiater het geantwoord: “Ja, ons het dit verwag. Ons moet haar eers speen van die massa pille wat sy gedrink het en ’n korrekte diagnose maak voordat ons haar weer kan medikeer.”

Daarna het ons tee gedrink. Ek het egter afgedwaal van die groep en my ma gaan soek. Ek het haar in ’n klein sitkamertjie gekry waar sy voor haar uitstaar. Ek het haar nie gesteur nie, net omgedraai en bewoë geword.

Dit was hierdie selfde vrou, Anna, my ma, wat kort voor haar dood 15 jaar later aan my sou sê: “Ek moes nooit kinders gehad het nie.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top