Die "sluipmoordenaar" en die "patriot": Hendrik van den Bergh, John Vorster, John Harris en die Johannesburgse stasiebom, 24 Julie 1964

  • 0

Die "sluipmoordenaar"1 en die "patriot": Hendrik van den Bergh, John Vorster, John Harris en die Johannesburgse stasiebom, 24 Julie 1964

Kobus du Pisani, Geskiedenis, Skool vir Sosiale en Owerheidstudie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus

LitNet Akademies Jaargang 12(2)
ISSN 1995-5928


Opsomming

Tydens spitstyd op Vrydagmiddag 24 Julie 1964 het ’n bom by die Johannesburgse stasie ontplof. Een van die beseerdes, ’n bejaarde vrou, is dae later in die hospitaal dood. Die bomplanter, John Harris, is op die dag van die ontploffing gearresteer, voor die einde van 1964 verhoor, skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel. Sy appèl was onsuksesvol en hy is op 1 April 1965 gehang. Bewerings is oor die jare deur verskillende persone gemaak dat Hendrik van den Bergh, wat destyds die hoof van die veiligheidspolisie was, en John Vorster, wat die minister van justisie was, voor die ontploffing van die bom geweet het, maar niks gedoen het om dit te keer nie, en daarom medepligtiges was aan die misdaad waarvoor Harris tereggestel is. In hierdie artikel word historiese kritiek aangewend om te bewys dat die aantygings teen Van den Bergh en Vorster vals is. Die artikel demonstreer dat historici ’n verantwoordelikheid en plig het om die mynveld van historiese onwaarhede wat deur propagandiste vir en teen apartheid agtergelaat is, op te ruim.

Trefwoorde: African Resistance Movement; anti-apartheidsveldtog; Hendrik van den Bergh; historiese kritiek; Hugh Lewin; John Harris; John Vorster; propaganda; sabotasie; stasiebom; waarheid


Abstract

The "assassin" and the "patriot": Hendrik van den Bergh, John Vorster, John Harris and the Johannesburg station bomb, 24 July 1964

During peak hour on Friday afternoon, July 24, 1964, a bomb exploded at the Johannesburg station. One of the injured, an elderly lady, died some days later in hospital. Her granddaughter sustained facial burns that permanently maimed her. Some twenty other persons were less seriously injured. The bomb planter, John Harris, was arrested on the same day, was brought to trial before the end of 1964, found guilty of murder and sentenced to death. His plea of not being accountable owing to a temporary mental disorder was rejected. His appeal was also unsuccessful. On April 1, 1965 he was hanged. Ever since that date allegations have been made by, among others, Gordon Winter, Peter Hain, Terry Bell, Alan D. Elson and David Beresford that Hendrik van den Bergh, who was chief of the security branch of the South African Police at the time of the station bomb, and John Vorster, who then was minister of justice, had known about the bomb before it exploded, but had done nothing to prevent its explosion. According to these accusations Van den Bergh and Vorster were accessories to the crime for which Harris was hanged.

In this article historical criticism is used to prove beyond doubt that the allegations against Van den Bergh and Vorster are false. The author shows that both the South African government and its enemies in the anti-apartheid movement exploited the station bomb incident to make propaganda. He argues, using the station bomb as a case study, that historians have the responsibility to try to clear up the minefield of historical untruths generated by propagandists for and against apartheid.

Keywords: African Resistance Movement; anti-apartheid campaign; Hendrik van den Bergh; historical criticism; Hugh Lewin; John Harris; John Vorster; propaganda; sabotage; station bomb; truth


1. Inleiding

Propagandiste gebruik halwe waarhede, verdraaiings en leuens om hul argumente te ondersteun. ’n Uitgerekte propaganda-oorlog, soos die een oor apartheid, laat gevolglik ’n mynveld van historiese onwaarhede agter.

Weinig stelsels en beleide is meer gebrandmerk as apartheid. Anti-apartheidspropagandiste was uiters suksesvol in die onthulling van die euwels van apartheid. Baie van hulle het “Afrikaner-bashing” gebruik om die Afrikaners en hul leiers deur skuld-deur-assosiasie-smeerveldtogte as wrede onderdrukkers uit te beeld. Vir hierdie leiers was dit bykans onmoontlik om hulself doeltreffend teen valse beskuldigings te verdedig, juis omdat die internasionale mening so sterk teen apartheid gekant was.

Die waarheid is ontwykend en broos (Lowenthal 2013) en Leopold von Ranke se "wie es eigentlich gewesen"-ideaal lyk dikwels onbereikbaar. Sedert die verskyning van Hayden White se Metahistory (1973) het die Rankeaanse benadering dan ook onder hewige kritiek van postmoderniste deurgeloop (Spiegel 2013:494). Tog bly die soeke na die waarheid oor die verlede vir die meeste historici die sentrale etiese verantwoordelikheid van hul beroep (Gorman 2004:103; Clark 1967:15, 209; Thompson 2004:27).

Wanneer onbevestigde beskuldigings en bewerings gemaak word wat leuens en valse gerugte aan die gang hou, het historici ’n plig om dit te ontmasker. In hierdie artikel wil ek die verskynsel van onwaarhede wat deur anti-apartheidspropagandiste versprei is, onder die soeklig plaas deur te fokus op slegs een stel bewerings wat met ’n bekende gebeurtenis in die stryd teen apartheid geassosieer word. Vooroordele maak mense vatbaar vir hierdie soort propaganda.

’n Bewering in ’n boek van David Beresford wat in 2010 verskyn het, het die Johannesburgse stasiebom weer in die herinnering geroep. Dit het nuwe lewe geblaas in die ou bewerings dat brigadier (later generaal) H.J. (Hendrik) van den Bergh, destyds hoof van die veiligheidspolisie en later hoof van die Buro vir Staatsveiligheid (BSV), en B.J. (John) Vorster, minister van justisie in H.F. Verwoerd se kabinet en latere eerste minister, selfs nog voor dit ontplof het, al bewus was van die bom en "vir die propaganda-effek" toegelaat het dat dit ontplof (Beresford 2010:333−4). Die toespeling is dat Van den Bergh en Vorster, eerder as Harris, wat met sy lewe moes boet vir die daad, die ware skuldiges is wat verantwoordelik gehou moet word vir die dood, beserings en skade wat deur die bom veroorsaak is en dat hulle harteloos, gewetenloos en immoreel was.

Ter wille van die soeke na die historiese waarheid is dit nodig om hierdie bewering deeglik te ondersoek. Standaardprosedures van historiese kritiek word in die artikel toegepas om die bewerings en ontkennings oor Van den Bergh en Vorster se voorafkennis van die bom in die fynste besonderhede te ontleed. Die ontleding toets die betroubaarheid en geloofwaardigheid van die skrywers en bronne, asook die waarheidsgetrouheid en/of waarskynlikheid van elke afsonderlike stelling in die verskillende bewerings oor die kwessie. Daardeur kan bo redelike twyfel vasgestel word of Van den Bergh en Vorster wel voor die tyd van die bom geweet het en kon verhoed het dat dit ontplof.


2. Voor die bom: bevestigde feite oor Harris en die ARM

Van 1963 af was Van den Bergh se veiligheidstak van die polisie bewus van John Harris se bestaan. Kragtens die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme is ’n inperkingsbevel, onderteken deur Vorster, op 12 Februarie 1964 teen Harris uitgereik weens sy politieke bedrywighede vir SANROC (South African Non-Racial Olympic Committee), ’n anti-apartheidsorganisasie wat Suid-Afrika se deelname aan die Olimpiese Spele wou stopsit (Beresford 2010:323–4; Harris 1964c:256–7).

Nog voordat die inperkingsbevel op Harris bedien is, het Rosemary Wentzel hom gewerf om by ’n sel van die African Resistance Movement (ARM) in Johannesburg aan te sluit. Sy deelname aan ARM-sabotasiebedrywighede was van korte duur, omdat sy kamerade hom as ’n veiligheidsrisiko beskou het, aangesien die inperkingsbevel moontlik kon meebring dat hy deur die polisie dopgehou sou word (Harris 1964c:264–5). Indien hy wel deur Van den Bergh se mense dopgehou is, sou hulle waarskynlik net sporadies seker gemaak het dat hy nie die voorwaardes van sy inperkingsbevel verbreek deur politieke vergaderings by te woon of die landdrosdistrik van Johannesburg te verlaat nie.

ARM-sabotasie in Mei 1964 wat vyf elektriese maste in die omgewing van Kaapstad en Johannesburg beskadig het (Gunther 2004:246; Brokensha en Knowles 1965:72–4), het Van den Bergh se personeel aangevuur om die saboteurs uit te snuffel. Op 4 Julie 1964 het hulle ’n deurbraak gemaak toe Adrian Leftwich, ’n senior lid van die ARM in Kaapstad, en sy vriendin, Lynn van der Riet, aangehou is (Brokensha en Knowles 1965:75–8; Leftwich 2002:12–7; Gunther 2004:246–7; Lewin 2011:88–91). Leftwich het baie geweet van die lidmaatskap en bedrywighede van die ARM-selle in Kaapstad en Johannesburg (Gunther 2004:247; Lewin 2011:92). Sowel hy as Van der Riet het ingegee onder ondervraging. Leftwich het die meeste ARM-lede se name vir sy ondervraers gegee (Leftwich 2002:17–8).

Tussen 4 en 9 Julie het verskeie ARM-lede oor die landsgrense geglip, soos Claire (2006:213–20) vertel. Ander was minder gelukkig en is gearresteer (Brokensha en Knowles 1965:84–91; Leftwich 2002:16; Gunther 2004:247; Lewin 2011:92–4). Altesame 29 ARM-lede is aangehou. Veertien van hulle is verhoor. Leftwich, Van der Riet en John Lloyd het staatsgetuies geword en is na die verhore toegelaat om die land te verlaat. Tien ARM-lede is skuldig bevind en het tronkstraf van tot 15 jaar gekry (Gunther 2004:247; Brokensha en Knowles 1965:136, 146).

Leftwich het nie geweet dat John Harris ’n ARM-lid was nie en het dus nie sy naam vir die polisie gegee nie (Leftwich 2002:18; Lewin 2011:91). Teen 9 Julie 1964 was Harris en Lloyd die enigste ARM-lede in die land wat nog nie in aanhouding was nie. Harris was in Johannesburg en Lloyd was op besoek in Natal. Van den Bergh se personeel was onbewus dat twee ARM-lede nog op vrye voet was.

Op die aand van 8 Julie 1964 het Hugh Lewin en Ronnie Mutch, lede van die Johannesburgse ARM-sel, Harris by sy tuiste in Roodepoort besoek en hom ingelig dat die ARM in duie gestort het. Mutch was op die punt om die land te verlaat en Lewin het verwag om spoedig in hegtenis geneem te word. John Harris en John Lloyd sou die enigste oorblywende "operateurs" van hulle ARM-sel wees. Lewin en Mutch het Janet Helmstead se naam vir Harris gegee. Dennis Higgs, wat die land al in Mei 1964 verlaat het (Claire 2006:200–1), het plofstof, lonte en ontstekers in haar kantoor by die Universiteit van die Witwatersrand weggesteek (Lewin 2011:91; Harris 1964c:265–6).

Lewin en Harris se weergawes van die gesprek op 8 Julie verskil van mekaar. Volgens Lewin het hy en Mutch dit duidelik gemaak aan Harris dat hy ’n lae profiel moes handhaaf en niks verder op sy eie moes probeer doen nie. Lewin het dieselfde boodskap aan Harris oorgedra tydens ’n tweede besoek voor dagbreek die volgende oggend (Lewin 2011:91, 95, 107). Daarteenoor het Harris in sy getuienis by sy verhoor gesê dat hy hul besoek vertolk het as ’n aangee van die stokkie aan hom om die ARM se werk voort te sit. Hy het dit as sy verantwoordelikheid beskou om iets te doen wat ’n keerpunt in die land se geskiedenis sou bewerkstellig (Harris 1964c:267). Harris se vrou, Ann, het in haar getuienis by die verhoor bevestig dat sy gedrag na Lewin en Mutch se besoek verander het (A. Harris 1964:525, 528, 529, 532).

Op 9 Julie het Harris met Janet Helmstead geskakel. Twee dae later het hy die plofstof uit haar kantoor verwyder. ’n Deel daarvan het hy by die Johannesburgse spoorwegstasie gestoor en die ander deel in die kelder van die Swersky's se huis in Forest Town. Ann Swersky was sy medestudent in die politiekestudies-honneursklas by die Universiteit van die Witwatersrand (Helmstead 1964:244–5; Harris 1964c:267, 269; Harris 1964d:386).

Harris het John Lloyd, wat intussen na Johannesburg teruggekeer het, verskeie kere tussen 14 en 21 Julie ontmoet. Hulle het potensiële sabotasiedade oorweeg om te demonstreer dat die ARM nog aktief was (Lloyd 1964:218, 220; Harris 1964c:276, 291).

Teen 18 Julie het Harris besluit dat ’n ontploffing tydens spitstyd in die binnehof van die Johannesburgse stasiegebou baie effektief sou wees (Harris 1964c:289). In sy getuienis by sy verhoor het Harris vertel dat die idee om ’n bom by die stasie te plant by hom opgekom het toe Ann Swersky genoem het dat die ondergrondse beweging in Israel, Irgun, die Britte vooraf gewaarsku het wanneer hulle bomme geplant het.2

Hy het toe besluit om ’n bom by die stasie te plant en die spoorwegpolisie betyds te waarsku sodat hulle die area waar die bom was, kon ontruim en dus die gevaar van beserings aan enige persoon kon uitskakel (Harris 1964c:288, 293–4).

John Lloyd en Ann Swersky was die enigste persone vir wie Harris oor sy plan in sy vertroue geneem het. Niemand anders, nie eers sy vrou Ann nie, het geweet wat hy in die mou gevoer het nie (Harris 1964d:393). Op 21 Julie het Harris begin om die bom aanmekaar te sit. Toe dit op 24 Julie voltooi is, het dit uit agt stokke dinamiet, twee ontstekers, ’n smeltdraad, ’n viergellingkan halfpad vol petrol, en ’n Zobo-sakhorlosie as tydmeganisme bestaan (Harris 1964d:399,403; Harris 1964b:12). Hy was gereed om sy plan in werking te stel.


3. Aantekeninge oor historiese kritiek

Postmoderne historici het die moontlikheid dat die waarheid oor die verlede enigsins epistemologies vasstelbaar is, bevraagteken (Frank Ankersmit aangehaal in Saari 2005:5). Hierdie siening is deur historici met ’n konvensionele benadering betwis. Saari (2005:19) skryf: “Historians do know, in the ordinary sense in which the term ‘know’ is used in historical discourse, many things about the past which is epistemically accessible to them insofar as they have evidence about what happened.”

Selfs Hayden White (2005:147), bekend vir sy kritiek op positivistiese historici se "illusies" van objektiwiteit, wetenskap en realisme, moes toegee dat die historiese werklikheid meer as verbeeldingsvlugte inhou: “The real would consist of everything that can be truthfully said about its actuality plus everything that can be truthfully said about what it could possibly be.”

In die lig van meer onlangse historiese diskoerse het dit duidelik geword dat daar vele gedaantes van die waarheid bestaan en dat die waarheid ontwykend vir die navorser kan wees. Dit impliseer nie dat die strewe na historiese waarheid laat vaar moet word nie. In hierdie artikel is die uitgangspunt dat die historiese waarheid wel deur ’n geskiedskrywer vasgestel en weergegee kan word. Die Rankeaanse beginsels van bronnekritiek is steeds geldig (Boldt 2014:472).

Historiese kritiek word in die artikel toegepas op die inligting wat met die stasiebominsident verband hou. Skeptisisme is die essensie van historiese kritiek. Die uitgangspunt is dat aan die begin van die standaardprosedure van historiese kritiek die vermoede moet bestaan dat die teks van enige gegewe bron in sy geheel of gedeeltelik onwaarhede mag bevat. Interne bronnekritiek is die meganisme wat gebruik word om die betroubaarheid van elke bron te bepaal om vas te stel of die inhoud daarvan geloofwaardige getuienis bevat. Dit ondersoek die vermoë, bedoelings, oogmerke en motiewe van die skrywer in ’n poging om uit te vind of dit wat as feite aangebied word, werklik as sodanig aanvaar kan word (Clark 1967:128; kyk ook Gottschalk 1950).

Die prosedure van interne kritiek behels dat eerstens vasgestel moet word of die skepper(s) van die bron betroubaar is deur sy/haar/hulle bedoeling, oogmerk, kennis, waarheidsgetrouheid en akkuraatheid te ondersoek. Daarna moet die bron vertolk word om deur te dring na die ware betekenis van die inhoud daarvan. Laastens moet die geloofwaardigheid van die afsonderlike "feite" in die bron deur ’n logiese proses van uitskakeling getoets word. Dit wat ooglopend onwaar is en dit wat baie onwaarskynlik is, moet eers geïdentifiseer en uitgeskakel word. Daarna kan gefokus word op dit wat aanvaarbaar, waarskynlik en klaarblyklik waar is. Handleidings oor die historiese metode bevat lyste van al die aspekte wat deur die historiese kritiek getoets moet word (Garraghan 1946:168; Shafer 1980:166–7; Marwick 2001:180–2).

Drie elemente van die heuristiek word gewoonlik deur historici in die hantering van getuienis benut:

  • Bevestiging. Die inligting in dokumente word vergelyk. ’n Feit word bewys indien al die bronne daaroor saamstem. Indien bronne wat onafhanklik van mekaar ontstaan het, oor inligting saamstem, word die geloofwaardigheid daarvan verhoog, maar dit moet steeds aan die toets van kritiese teksontleding onderwerp word. Wanneer bronne oor bepaalde inligting verskil, sal die historikus voorkeur gee aan die gesaghebbendste bron, dus die bron wat deur ’n ooggetuie of kenner opgestel is.
  • Bronontleding. Die skrywer, datum van ontstaan en plek van ontstaan van ’n bron moet bepaal word om die egtheid of akkuraatheid van die inhoud daarvan te beoordeel. Hoe nader die skepper van ’n bron aan die gebeurtenis was wat daardeur beskryf word, hoe waarskynliker is dit dat die inligting histories betroubaar is. ’n Primêre bron, gebaseer op die weergawe van ’n eerstehandse ooggetuie, is meer betroubaar as ’n tweedehandse sekondêre of derdehandse tersiêre bron. Indien die inligting nie direk van ’n ooggetuie kom nie, moet die historikus naspeur op watter primêre getuienis dit gebaseer is en of die skrywer die vermoë en ingesteldheid het om ’n geloofwaardige weergawe te verskaf.
  • Kontekstualisering. Daar moet vasgestel word wanneer, waar en in watter historiese omstandighede ’n gebeurtenis plaasgevind het voordat die egtheid en akkuraatheid van inligting daaroor getoets kan word. Die historikus moet op die uitkyk wees vir weersprekings binne ’n teks en die waarskynlike waarheid van elke element van die teks ondersoek. In gevalle waar bronne verskil en daar geen ander manier is om die geloofwaardigheid van inligting te toets nie, verkies die historikus die bron wat gesonde verstand die beste weerspieël (Thurén 1997).

In die res van die artikel word die tegnieke en prosedures van historiese kritiek toegepas op bronne en stellings oor die 1964-stasiebominsident.


4. "Hulle het vooraf geweet" – Winter en Hain se bewerings

’n Maand nadat Harris in Pretoria tereggestel is, is die apartheidsregering vir die eerste keer in die openbaar vir die dood en beserings wat deur die stasiebom veroorsaak is, geblameer. Dit is gedoen deur die voorsitter van die VN se Spesiale Komitee oor die Beleid van Apartheid van die Republiek van Suid-Afrika (Marof 1965). Sedertdien is herhaaldelik vanuit anti-apartheidskringe gepoog om die blaam vir die gevolge van die stasiebom op die Suid-Afrikaanse regering af te skuif deur aan te voer dat die polisie en hul bevelvoerders toegelaat het dat die bom ontplof deur nie betyds op Harris se waarskuwings daaroor te reageer nie.

My oogmerk is om interne bronnekritiek toe te pas om vas te stel of hierdie gepoogde verskuiwing van die blaam vir die stasiebom gebaseer is op geloofwaardige feitelike gegewens of op gefabriseerde halwe waarhede of onwaarhede. Al die verskillende weergawes van die stasiebominsident moet dus aanvanklik skepties benader word as waarskynlik ongeloofwaardig, totdat bewys kan word dat een of meer van hulle waar of ten minste baie naby aan die volle waarheid is. Die egtheid en akkuraatheid van elke enkele stelling in elke bron wat betrekking het op die vraag of Van den Bergh en Vorster vooraf van die bom geweet het wat hulle in staat sou gestel het om te verhoed dat dit ontplof, moet beoordeel word.

In 1981 het Gordon Winter in sy boek Inside BOSS: South Africa's Secret Police beweer dat Van den Bergh en Vorster in kennis gestel is van die bom voordat dit ontplof het:

H.J. [Van den Bergh] het my iets anders in die privaatheid van sy kantoor vertel. Hy het erken dat die spoorwegpolisie hom ingelig het oor die anonieme oproep wat hulle om 4.08 ontvang het om te waarsku dat die bom geplant is. H.J. het sy waarskuwing teen 4.20 gekry en toe sy noodlyn gebruik om die minister van justisie, John Vorster, te bel. (Winter 1981:96; my vertaling)

Winter het in die 1960's met ’n kriminele rekord na Suid-Afrika gekom en nadat hy meer as twee jaar tronkstraf vir diefstal in die VK uitgedien het (Swanepoel 2007:59). In Suid-Afrika het hy as joernalis kontak met Vorster en Van den Bergh gemaak (Winter 1981:20–2, 34–5). Terwyl hy in die 1960's en 1970's openlik by Suid-Afrikaanse koerante werksaam was as ’n misdaadverslaggewer, het hy agter die skerms as ’n informant vir Republikeinse Intelligensie (RI) en later die Buro vir Staatsveiligheid (BSV) gewerk. In anti-apartheidskringe is na die BSV verwys as BOSS (Bureau for State Security). Winter het daarop aanspraak gemaak dat hy Van den Bergh se gunsteling ("blue-eyed boy") was wat toegang tot binne-inligting gehad het (Winter 1981:24, 38, 43).

Winter is in 1966 uit Suid-Afrika gedeporteer. Na bewering was die deportasie net ’n rookskerm, sodat hy in Londen sy werk as ’n agent vir die BSV kon voortsit. In 1974 het hy na Suid-Afrika teruggekeer (Anon. 1976). In 1978 het hy uit Suid-Afrika gewyk en daarna Inside BOSS geskryf om die beweerde vuilspel van RI en die BSV aan die kaak te stel (Anon. 1976; Winter 1997).

Dit is onwaarskynlik dat Winter so naby aan Vorster en Van den Bergh was as wat hy beweer het. ’n Voormalige BSV-agent, Piet Swanepoel, het ’n boek, Really inside BOSS, geskryf ter verdediging van die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste in die apartheidsera en as teenvoeter vir “Afrikaner-bashing”. Volgens Swanepoel was Winter maar net ’n deeltydse BSV-informant en "die wêreld se mees bedrewe leuenaar" (Swanepoel 2007:57, 59, 60). Hy beweer dat James Sanders, skrywer van Apartheid's friends: the rise and fall of South Africa's secret service, Winter in ’n private e-pos beskryf het as ’n "besonder korrupte joernalis" met ’n "geneigdheid tot selfbevordering en oordrywing" (Swanepoel 2007:61; my vertaling).

Swanepoel meen dat dit ondenkbaar is dat Van den Bergh potensieel skadelike binnegeheime aan iemand soos Winter sou uitgelap het (Swanepoel 2007:57). Hy beweer dat Winter BSV-dokumente in die hande gekry het wat hy (Swanepoel) aan ’n ander joernalis, Aida Parker, gegee het (Swanepoel 2007:58). Inside BOSS is uitverkoop, maar ondanks aanvraag daarvoor nooit herdruk nie. Swanepoel skryf dit daaraan toe dat die uitgewers, Penguin, deur verskeie persone vir laster gedagvaar is en baie geld moes betaal om die eise buite die hof te skik (Swanepoel 2007:79). Swanepoel is in sy boek weliswaar miskien self geneig tot oordrywing en sensasie, maar sy uitbeelding van Winter versterk die twyfel oor Winter se betroubaarheid as getuie.

Dit lyk onwaarskynlik, maar nie heeltemal onmoontlik nie, dat Van den Bergh geheime inligting oor die stasiebom aan Winter sou meegedeel het. Daarom is dit nodig om die volgende stap van interne kritiek toe te pas deur die geloofwaardigheid van die afsonderlike stellings in sy weergawe van die stasiebominsident te toets.

In Inside BOSS het Winter die volgende stellings oor die beweerde voorafkennis van Van den Bergh en Vorster oor die stasiebom gemaak:

  1. Van den Bergh is deur die spoorwegpolisie van Harris se bomwaarskuwing in kennis gestel.
  2. Hy het die telefoonoproep daaroor om 16:20 op 24 Julie 1964 ontvang.
  3. Hy het sy noodlyn ("hot line") gebruik om Vorster in te lig.

Die eerste stelling is heel waarskynlik waar. J.H. Openshaw van die Rand Daily Mail het by Harris se verhoor getuig dat hy, dadelik nadat hy die bomwaarskuwing gekry het, dit aan die hoofkwartier van die spesiale tak (dit is die veiligheidspolisie) in The Grays gerapporteer het (Openshaw 1964:148). Dit kan aangeneem word dat die persoon in die gebou wat Openshaw se oproep geneem het sy hoof, Van den Bergh, onmiddellik in kennis sou stel.

Winter se tweede stelling, oor die tyd, is waarskynlik onakkuraat. In sy getuienis by die verhoor het Harris self gesê dat hy die waarskuwingsoproepe tussen 16:20 en 16:25 gemaak het (Harris 1964b:308). Die drie persone wat hy gebel het om sy waarskuwing te gee, het getuig dat hulle die oproepe tussen 16:20 en 16:25 (Openshaw 1964:51), tussen 16:25 en 16:27 (Vermeulen 1964:45) en ongeveer 16:27 (Van Rooyen 1964:46) ontvang het. In sy uitspraak het die regter die dispuut oor die presiese tyd van die waarskuwingsoproepe behandel en Vermeulen en Van Rooyen se getuienis aanvaar (Ludorf 1964:838). In die lig van hierdie getuienis is dit dus onwaarskynlik dat Van den Bergh al voor 16:20 in kennis gestel kon gewees het. Dit het waarskynlik eers omtrent tien minute later gebeur.

Die bewoording van Harris se waarskuwing is in die hof betwis. Harris (1964c:307) het beweer dat hy in sy waarskuwing aan kaptein Vermeulen gesê het dat die bom in die middel van die stasie se binnehof is en dat die binnehof onmiddellik ontruim moes word. Vermeulen (1964:45, 126, 127) het ontken dat Harris die presiese plek waar die bom is, aangedui het en verklaar dat Harris net gesê het dat dit iewers in die stasiegebou is. Winter (1981:93) het in sy boek ook beweer dat Harris die plek presies aangedui het, maar sy weergawe van die waarskuwing is natuurlik uit sekondêre en tersiêre bronne saamgestel en was die produk van sy eie verbeelding.

Selfs indien Harris die presiese plek waar die bom was, aangedui het, sou die spoorwegpolisie dit baie moeilik reggekry het om binne ’n kwessie van enkele minute die bom te vind, die mense in die nabyheid daarvan te ontruim, en die area af te sper (Van den Berg 2010).

Dit maak nie regtig saak of Van den Bergh om 16:20 – 13 minute voor die ontploffing – of om 16:30 – drie minute voor die ontploffing – van die bom bewus geword het nie. Dit sou aan hom tussen drie en 13 minute tyd gegee het om iets te doen om te verhoed dat die bom ontplof. Met die tegnologie wat in 1964 beskikbaar was, sou dit vir hom onmoontlik gewees het om betyds van ver af oor ’n landlyn opdrag te gee dat die stasie ontruim moes word. Dit was net te veel gevra om te verwag dat hy die ontploffing met sulke kort kennisgewing kon verhoed. Daarom is die bewerings vanuit anti-apartheidskringe dat Van den Bergh en die polisie "niks" gedoen het om te keer dat die bom ontplof nie, niks meer as blote propaganda nie. Hulle het eenvoudig te min tyd gehad om vinnig genoeg op Harris se waarskuwing te reageer (Swanepoel 2012). In sy getuienis by Harris se verhoor het hoofkonstabel J.F.M. van Rensburg van die spoorwegpolisie gesê dat om 16:30 op 24 Julie 1964, nadat majoor Opperman hom laat weet het dat daar ’n bom op die stasie is, hy tien tot 13 konstabels gestuur het om vir ’n verdagte persoon of voorwerp te soek. Voordat hulle iets gevind het, het die bom ontplof (Van Rensburg 1964:188–90).

Winter se derde stelling handel daaroor dat Van den Bergh per noodlyn vir Vorster oor die bom ingelig het. Dit verskil van Vorster se weergawe, wat jare voor die verskyning van Winter se boek in John D'Oliveira se biografie, Vorster – the man, gepubliseer is. Vorster het D'Oliveira meegedeel dat toe die bom ontplof het, hy in ’n teater in Johannesburg die 75ste herdenking van die stigting van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie bygewoon het en salig onbewus was van wat op Parkstasie gebeur het. Hy was nog in die ouditorium, besig om na ’n film oor die rugby-unie te kyk, toe iemand met ’n flits hom kom soek het. Buite die ouditorium het ’n speurder hom oor die bomontploffing ingelig en hy is vinnig van daar af na die stasie geneem (D'Oliveira 1977:151).

D'Oliveira se boek was daarop gemik om Vorster se beeld te bou, hoewel die skrywer verklaar het dat sy politieke siening die teenoorgestelde van Vorster sin was (D'Oliveira 1977:6). D'Oliveira se boek is gebaseer op primêre navorsing in die vorm van bandopnames van onderhoude met Vorster en mense wat hom goed geken het, aangevul met materiaal uit Tini Vorster se plakboeke oor haar man se loopbaan. Die kassetbande van die onderhoude is steeds by die Argief vir Eietydse Aangeleenthede in Bloemfontein beskikbaar. D'Oliveira (1977:7−8) het toegegee dat daar in die skryfproses dalk klein onjuisthede kon deurgeglip het, maar feitlik die hele inhoud van die boek word as akkuraat en betroubaar bevestig wanneer dit met ander betroubare bronne vergelyk word.

Dat Vorster toe die stasiebom ontplof het, wel by die rugbyvierings teenwoordig was, word deur koerantberigte bevestig (Sondagstem 1964). In 1964 was daar nog nie draagbare fone nie. Die hot line waarvan Winter praat, sou hoogstens ’n afsonderlike landlyn vir Van den Bergh se eksklusiewe gebruik gewees het om met Vorster by sy kantoor of huis te kommunikeer. In die ouditorium by die rugbyviering sou Vorster nie naby die hot line gewees het waar Van den Bergh hom kon bereik nie. Winter se bewering hieroor kan nie waar wees nie. D'Oliveira se weergawe, gebaseer op sy onderhoud met Vorster, dat Vorster eers ná die ontploffing van die bom bewus geword het, selfs al word dit nie deur ander bronne geverifieer nie, lyk baie waarskynlik.

Dit is duidelik dat Winter se weergawe uit ’n mengsel van feite, halwe waarhede en leuens bestaan en dus as onbetroubaar beskou moet word. Nogtans is dit vir baie jare deur anti-apartheidsaktiviste, soos Peter Hain, gebruik om die aanspraak te ondersteun dat die polisie genoeg tyd gehad het om op Harris se waarskuwing te reageer, maar dat hulle nagelaat het om dit te doen. Toe Hain nog ’n skoolseun was, het hy die boodskap in 1965 by die gedenkdiens vir Harris, wat ’n vriend van sy gesin was, gelees. Oor die jare het Hain volgehou met sy standpunt dat die Suid-Afrikaanse regering en die polisie kon verhinder het dat die stasiebom ontplof, maar verkies het om dit nie te doen nie (Routledge en MacKinnon 1995; Trewhela 2013). Kennelik wou Hain vir Harris verhef tot ’n vryheidstrydheld wat vir sy verset teen apartheid met sy lewe moes boet, terwyl die apartheidsleiers wat die bom opsetlik laat ontplof het, skotvry daarvan afgekom het.


5. "Hulle het genoeg tyd gehad om te reageer" – Bell se weergawe

In 2003 is nuwe bewerings oor die stasiebom in ’n boek van die joernalis Terry Bell gemaak. Hy het daarop aanspraak gemaak dat die polisie "lank voor die tyd" al geweet het dat die bom geplant gaan word en genoeg tyd gehad het om te verhoed dat dit ontplof. Hy het ook Winter (1981:97–8) se bewering herhaal dat die bom waarskynlik verskuif is nadat Harris dit in die binnehof van die stasie neergesit het (Bell 2003:47, 48). Die toespeling is dat iemand, in opdrag van hoër gesag, in die paar minute voor die ontploffing die tas met die bom na ’n plek verskuif het waar dit meer beserings en lewensverlies kon veroorsaak.

In ’n artikel in City Press het Bell geskryf dat getuienis in "verklarings en amptelike dokumente" op ’n sterk waarskynlikheid dui dat Van den Bergh al ’n paar uur voor die stasiebomontploffing geweet het dat ’n bom op die Johannesburgse stasie geplant gaan word. Toe Harris die bom in die stasie se binnehof geplaas het en sy waarskuwings na die spoorwegpolisie en koerante deurgebel het, sou hierdie waarskuwings, volgens Bell, aan Van den Bergh gerapporteer gewees het, wat ’n "direkte lyn" na Vorster gehad het. Die stasie is nie ontruim nie, die publiek is nie oor die luidsprekerstelsel gewaarsku nie, en daar was geen polisie in die nabyheid toe die bom om 16:33 ontplof het nie (Bell 2005:21).

Indien die bewering van Bell dat Van den Bergh al ure voor die tyd geweet het dat die bom op die stasie geplant gaan word, waar is, moes iemand Van den Bergh oor die bom ingelig het. Wie sou dit kon gedoen het?

Die enigste persone, behalwe Harris self, wat nog in Suid-Afrika was toe die bom ontplof het en bewus was daarvan dat hy plofstof tot sy beskikking gehad het, was Janet Helmstead, Hugh Lewin, Ann Swersky en John Lloyd.

Helmstead, uit wie se kantoor Harris die plofstof verwyder het, is ’n dag na die ontploffing ondervra. Harris het haar naam vir sy ondervraers gegee (Harris 1964a). Sy het in Harris se verhoor getuig dat Dennis Higgs haar versoek het om die dinamiet in haar kas by die kantoor te versteek en dat Harris dit verwyder het (Helmstead 1964:244–5). Harris het nie in sy verklarings aan die polisie of sy getuienis in die hof enige verdere kontak met Helmstead vermeld nie. Sy het beslis nie geweet van sy planne om ’n bom op die stasie te plant nie. Selfs al het sy geweet, was daar geen rede waarom sy van haarself ’n medepligtige sou maak deur die veiligheidstak van die polisie vooraf in te lig oor die plofstof in Harris se besit nie.

Hugh Lewin is op 9 Julie 1964 in hegtenis geneem, die dag nadat hy en Ronnie Mutch vir Harris ingelig het waar die plofstof is. Hulle boodskap aan Harris was dat hy ’n lae profiel moes handhaaf en nie nodig gehad het om enigiets te doen nie. Lewin het nooit verwag dat Harris op sy eie ’n bom sou plant nie. In sy herinneringe erken Lewin dat hy Harris se naam aan sy ondervraers by The Grays gegee het, maar eers op die Vrydagaand nadat die bom ontplof het en hy van die aanhoudingselle in Jeppestraat vir verdere ondervraging daarheen gebring is (Lewin 1981:35; Lewin 2011:110).

In sy getuienis by sy verhoor het Harris verklaar dat hy net twee persone, Swersky en Lloyd, vooraf oor sy stasiebomplan ingelig het. Kon een van hulle dalk die veiligheidspolisie oor Harris se voorneme ingelig het?

Harris het aangedui dat hy Swersky in die twee weke voordat hy die bom geplant het, oor sy skema in sy vertroue geneem het (Harris 1964d:380). Sy het toegelaat dat hy van die tasse waarin die "materiaal" was, in die kelder van haar en haar man se huis in Forest Town kon stoor. In sy verhoor het Harris gesê dat hy Swersky meegedeel het dat hy ’n bom op die stasie gaan plant (Harris 1964c:287). Dit was sy wat die kan gekoop het vir die petrol wat aan die ploftoestel geheg is (Harris 1964b:11). Onbevestigde bewerings is gemaak dat Swersky ’n groter rol in die plant van die stasiebom gespeel het as wat Harris laat blyk het (Beresford 2010:337; Bell 2003:47, 48). Harris het haar nooit as ’n medepligtige geïmpliseer nie en volgehou dat die bom sy plan was en dat hy alleen daarvoor verantwoordelik was (Harris 1964d:388, 401).

Die feit dat sy geweet het van Harris se plan en versuim het om die polisie daaroor in te lig, het Swersky in elk geval ’n medepligtige gemaak (Beresford 2010:336). Sy het uit Suid-Afrika na Israel gevlug en nie teruggekeer om in Harris se verhoor te getuig nie, al is vrywaring van vervolging haar aangebied (Moodie 1964:4). Ondanks navrae het sy haar stilswye oor die stasiebom bly handhaaf (Beresford 2010:337).

Daar is geen sweem van getuienis dat Swersky die polisie vooraf oor Harris se voorneme om ’n bom te plant, ingelig het nie. Dit is ondenkbaar dat sy haar medepligtigheid sou erken deur haar verbintenis met die bomplanter bekend te maak. Dit maak tog geen sin dat sy geweier het om ’n staatsgetuie teen Harris te word indien sy die polisie al vooraf oor Harris se planne ingelig het nie. Eers toe Harris ná sy inhegtenisneming sy ondervraers vertel het van die plofstof by die Swersky-woning het hulle van haar betrokkenheid bewus geword.

Die waarskynlikheid is baie groter dat John Lloyd, eerder as Ann Swersky, Harris kon verraai het deur die polisie voor die ontploffing oor die bom in te lig.

Harris en Lloyd het mekaar verskeie kere tussen 14 en 21 Julie 1964 ontmoet om te beplan hoe hulle die beskikbare plofstof kon gebruik om te demonstreer dat die ARM steeds aktief was. In sy getuienis by Harris se verhoor het Lloyd erken dat hy vanaf sy ontmoeting met Harris op 17 Julie daarvan bewus geword het dat ’n plan om ’n bom by die Johannesburgse stasie te plant in Harris se kop begin vorm aanneem het. Lloyd het ontken dat hy hierdie plan in enige opsig goedgekeur of aangemoedig het, omdat hy absoluut gekant was teen die moontlike verlies van menselewens (Lloyd 1964:207, 209).

Lloyd is al op 21 Julie, voor sy inhegtenisname, deur die veiligheidspolisie ondervra. Volgens sy getuienis in die Harrisverhoor het hy toe aan Harris voorgestel dat hulle hul sabotasieplanne heeltemal moet laat vaar (Lloyd 1964:209). Later dieselfde dag het Harris egter na Lloyd se woonstel gegaan om die beplande sabotasieprojekte verder te bespreek. Dit is moontlik dat die polisie Harris by Lloyd se woonplek kon opgemerk het, maar daar bestaan geen getuienis dat dit wel gebeur het nie.

Lloyd is om 14:00 op 23 Julie in hegtenis geneem en na The Grays geneem vir ondervraging (Lloyd 1964:209). Het hy dalk toe die polisie van Harris se stasiebomskema vertel? By Harris se verhoor het Lloyd niks gesê wat daarop gedui het dat hy die polisie vooraf oor die bom ingelig het nie. Bell (2005:21) beweer dat Lloyd minstens vier ure voordat die bom ontplof het, ’n verklaring afgelê het waarin hy onder meer die polisie verwittig het oor Harris se planne. Hierdie beweerde "verklaring aan die polisie" kan nêrens opgespoor word nie en dit lyk nie of dit bestaan nie.

Net soos Adrian Leftwich het John Lloyd sy voormalige ARM-kamerade verraai deur ’n staatsgetuie te word en in die verhore van sowel Harris as ander ARM-lede te getuig. Hierdie kamerade se afsku in Lloyd se optrede word deur Lewin (2011:130–42) verwoord. Lloyd is na die verhore toegelaat om Suid-Afrika sonder vervolging vir sy eie aandeel aan ARM-aktiwiteite te verlaat. Hy het saam met sy moeder na Londen verhuis en daar ’n nuwe lewe begin. Hy is in 1965 namens Harris se familie genader om dele van sy getuienis terug te trek om te probeer help verhoed dat Harris tereggestel word. Hy het verkies om nie ’n verklaring met hierdie strekking te onderteken nie (Routledge en MacKinnon 1995; Beresford 2010:330; Lewin 2011:138–9; Bell 2003:49). Afgesien van sy getuienis in die hof was Lloyd nie bereid om enigiets verder oor die gebeure van 24 Julie 1964 te sê nie.

Veertig jaar na Harris se dood is ’n spesiale reinigings- en kransleggingseremonie ter ere van hom gehou. Sy rol in die bevrydingstryd is erken deur sy naam op die muur by die Tuin van Herinnering in Vryheidspark aan te bring. Die seremonie is deur familie en vriende van Harris, ANC-verteenwoordigers, raadslede van die Vryheidsparktrust en die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag bygewoon (Shope 2005). In dieselfde week is ’n steen met die inskrywing "John Harris, 1937–1965, true patriot" by die graf waar sy as in ’n begraafplaas by Krugersdorp begrawe is, aangebring (Bell 2005:21).

’n "Tribute: on the occasion of a memorial for John Harris (1937–1965)" het op die South African History Online-webwerf verskyn. Daarin word verklaar:

Met waarskuwingsoproepe aan die spoorwegpolisie en prominente koerante ’n halfuur voor die tyd het hy (Harris) aangeneem dat die stasiebinnehof betyds voor die ontploffing ontruim sou word. Maar iemand wat die planne met hom bespreek het, is die vorige aand in hegtenis geneem en het – sonder dat John Harris dit geweet het – oënskynlik die polisie van die plan vertel. Dit lyk of getuienis deur ’n veiligheidspolisieman baie jare later daarop dui dat ’n besluit op die hoogste vlak van die regering geneem is dat niks in reaksie op Harris se waarskuwings gedoen sou word nie. Dus is die stasie se binnehof nie ontruim nie en ’n bejaarde vrou het later beswyk aan die beserings wat sy tydens die bomontploffing opgedoen het; ander mense is ernstig beseer. (Harris, Harris en Harris 2005 (my vrye vertaling); Naidoo 2010)

Die "iemand" wat die planne met Harris bespreek het en "oënskynlik" die polisie daarvan vertel het, was John Lloyd, en die "veiligheidspolisieman" was Gordon Winter.

Die skrywerskap van hierdie huldiging is onder verdenking. Onder aan die teks word die opstellers aangedui as D.W. Harris, L. Harris en B. Harris, "John Harris se kinders". Dit is denkbeeldige kinders, want Harris het net een seun, David, gehad, wat nog ’n baba was toe sy pa tereggestel is. Sy vrou, Ann, het Suid-Afrika in 1966 verlaat om in die VK te gaan woon. In 1970 is sy weer getroud, met Martin Wolfe, wat in Cambridge woonagtig was. David het sy stiefpa se van aangeneem. Hy is ’n advokaat in Londen (Beresford 2010:321). D.W. Harris, L. Harris en B. Harris is dus fiktiewe name, gekies om meer "gesag" aan die huldiging van Harris te gee. Die inhoud van hierdie dokument van twyfelagtige herkoms, wat hoofsaaklik uit ongeverifieerde stellings bestaan, kan kwalik ernstig opgeneem word.

Wat nuut was in die tekste van Bell en die huldiging, was die bewerings dat Van den Bergh nie net ’n paar minute nie, soos Winter voorheen geskryf het, maar ’n goeie halfuur (huldiging) of selfs ure (Bell) voor die tyd geweet het dat ’n bom op die stasie geplant gaan word. Die "halfuur voor die tyd" wat in die huldiging vermeld word, is ooglopend ’n verdraaiing van die feite. In die hof het, soos reeds hier bo aangedui, Harris self, spoorwegpolisiemanne en koerantredakteurs getuig dat die waarskuwing tussen 15 en ses minute, beslis nie ’n halfuur nie, voor die ontploffing gegee is.

Hoewel Winter ’n sekondêre en Bell ’n tersiêre bron is en die meeste van hul bewerings nie geverifieer is nie, het ander skrywers met ’n anti-apartheidsagenda hul "feite" vrylik gebruik. James Sanders herhaal Winter en Bell se aantygings in sy boek wat in 2006 gepubliseer is. Hy beskryf Harris as iemand wat in niegewelddadige verset geglo het (Sanders 2006:23), wat herinner aan Winter (1981:97) se tipering van Harris as ’n "softie".

Die idee dat ’n "softie", of iemand wat in niegewelddadige verset geglo het, so ver kon gaan as wat Harris gegaan het deur ’n dodelike bom te stel om tydens spitstyd tussen mense op ’n besige stasie te ontplof, is deur die regter in sy verhoor verwerp. Regter Ludorf het bevind dat die staat bewys het "dat die beskuldigde die subjektiewe voorneme gehad het om dood te maak" en dat Harris sy plan uitgevoer het "met ’n roekelose verontagsaming van die moontlikheid dat iemand mag sterf." (Ludorf 1964:909, 910; my vrye vertaling)


6. "Hulle het besluit om dit te laat gebeur" – Beresford se boek

Meer onlangs is nog stertjies by die bewerings oor Van den Bergh en Vorster se voorafkennis van die stasiebom bygelas.

Alan D. Elsdon se boek Die lang generaal: Die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika, wat in 2009 gepubliseer is, bevat ’n hoofstuk oor die stasiebominsident. In hierdie weergawe kontrakteer Van den Bergh vir Harris deur ’n agent om die stasiebom te plant (Elsdon 2009:50–8). Weliswaar maak die skrywer nie daarop aanspraak dat sy teks die historiese waarheid rapporteer nie – hy verwys na die boek as fiksie wat op historiese feite en gebeure gebaseer is – maar die teks dien tog as ’n verlengstuk van bewerings in anti-apartheidskringe. Doelbewus word die indruk geskep dat Van den Bergh ’n gewetenlose moordenaar en monster was en dat sulke gruweldade in Suid-Afrika onder apartheid kon gebeur en inderdaad wel gebeur het. Elsdon se weergawe demonstreer dat daar op die terrein van politieke propaganda maar ’n dun skeidslyn tussen feit en fiksie bestaan.

’n Dokumentêre film oor John Harris met die titel A true patriot? is deur Kevin Harris-produksies uitgereik. Die bemarkingsmateriaal daarvoor maak die stelling dat "die owerhede", insluitende John Vorster as minister van justisie, nie die stasie ontruim het nadat hulle Harris se waarskuwings ontvang het nie, omdat hulle "’n bewuste besluit geneem het om niks te doen nie en toe te laat dat die gruweldaad uitgevoer word" (Kevin Harris Productions 2012).

In 2010 is Truth is a strange fruit: A personal journey through the apartheid war, geskryf deur die bekroonde joernalis David Beresford (kyk Guardian 2007 vir sy profiel), gepubliseer. In die inleiding erken Beresford sy vooroordeel ten gunste van Harris deur die hoop uit te spreek dat die boek "John Harris se plek in die heldegalery van Suid-Afrikaanse patriotte" sal bevestig (Beresford 2010:6; my vertaling). Hy beeld Harris uit as ’n held van die bevrydingstryd en verwys na hom as die "eerste en enigste wit persoon wat vir ’n politieke oortreding tereggestel is" gedurende die apartheidsbedeling (Beresford 2010:5; my vertaling). Tegnies is hierdie stelling nie korrek nie. Harris is aangekla van, en in die hof skuldig bevind aan, een klag van moord en twee klagte van sabotasie kragtens artikel 21(1) van Wet 76 van 1962 (Klagstaat 1964). Aan die einde van sy verhoor het die regter Harris op die klag van moord, ’n gewone kriminele oortreding en nie ’n politieke oortreding nie, ter dood veroordeel. Geen vonnis is opgelê vir die twee sabotasieklagte, die "politieke oortreding", nie (Ludorf 1964:910).

Beresford se boek probeer simpatie vir Harris opwek. Hy gebruik lang aanhalings uit die briewe wat Harris en sy vrou, Ann, verwissel het toe hy tussen Julie 1964 en April 1965 in aanhouding was. Daardeur probeer Beresford vir Harris as ’n deernisvolle mens, ’n eggenoot en vader wat vir sy gesin omgegee het, voorstel. Ooglopend beskou hy Harris as ’n "ware patriot" eerder as ’n "moordenaar". Sy vooroordele vir Harris en teen apartheid veroorsaak dat sy weergawe van die gebeure rondom die stasiebominsident eensydig is.

Truth is a strange fruit bevat die volgende paragraaf:

Winter beweer dat die bom wat mev. Rhys se dood veroorsaak het, nie net deur die spoorwegpolisie toegelaat is om te ontplof nie, sonder enige poging om die binnehof van die stasie te ontruim, maar dat die besluit om dit te doen geneem is deur brigadier Van den Bergh en onderskryf is deur die destydse minister van justisie, John Vorster [...] Winter sê hulle het ’n "noodlyn" gehad – ’n rooi telefoon – vir dringende kommunikasie met mekaar. Winter, wat daarop aanspraak maak dat die storie oor die telefoonoproep in vertroue deur Van den Bergh self aan hom meegedeel is, sê die gesprek was kort, die veiligheidspolisiehoof het vir Vorster gesê dat die bom in posisie was en Vorster het geantwoord "laat dit gebeur". Die implikasie was natuurlik dat hulle die bom al voorheen bespreek het en bereid was om dit in ’n openbare plek te laat ontplof vir die propaganda-effek daarvan. (Beresford 2010:333–4; my vertaling)

Beresford se aantygings is baie meer veroordelend as dié van Winter. Winter beweer Van den Bergh se voorafkennis van die bom het net teruggestrek tot 16:20 op 24 Julie 1964, 13 minute voor die ontploffing. Dit kan beredeneer word, en is ook reeds hier bo in hierdie artikel gedoen, dat dit onmoontlik vir Van den Bergh of enige van sy ondergeskiktes was om op sulke kort kennisgewing te verhoed dat die bom ontplof. Indien daar enige waarheid steek in Beresford se bewering dat Van den Bergh en Vorster genoeg tyd gehad het om die bom te bespreek en te besluit dat toegelaat moes word dat dit ontplof, is die implikasie natuurlik dat hulle, en nie Harris nie, die blaam moet dra vir die dood, beserings en skade wat deur die ontploffing veroorsaak is. Dit sou neerkom op verdoemende getuienis van die immoraliteit van die apartheidsleiers.

Beresford verklaar dat hy sy inligting hieroor uit Gordon Winter se Inside BOSS gekry het. Die aanhaling in ’n vorige afdeling van hierdie artikel is die enigste in Winter se boek waarop Beresford sy aantygings kon baseer het, omdat daar niks verder oor die stasiebom in Winter se boek staan nie. Daar bestaan ook nie in enige ander geskrif van Winter of in die dokumente in sy argiefversameling enige ander weergawe van die gebeure van 24 Julie 1964 deur hom nie. In sy boek vermeld Winter wel die telefoonoproep waarna Beresford verwys, maar hy beweer nêrens, soos Beresford aanvoer, dat Van den Bergh en Vorster toegelaat het dat die bom ontplof nie. Beresford se weergawe dat Van den Bergh gesê het dat die bom in posisie was en dat Vorster geantwoord het "laat dit gebeur", kom nêrens in Winter se teks voor nie. Daar is ook niks anders in Winter se boek waaruit die afleiding gemaak kan word dat Van den Bergh en Vorster "die bom al voorheen bespreek het en bereid was om dit in ’n openbare plek te laat ontplof vir die propaganda-effek daarvan" nie.

Beresford gaan dus een stap verder as ander skrywers in sy rekonstruksie van die stasiebominsident. Hy plaas die volgende woorde in Winter se mond: "Winter [...] sê die gesprek was kort, die veiligheidspolisiehoof het vir Vorster gesê dat die bom in posisie was en Vorster het geantwoord 'laat dit gebeur'." Hierdie woorde, wat deur Beresford aan Winter toegeskryf word, is ongetwyfeld Beresford se eie fiktiewe versinsel. Sy weergawe van wat na bewering tussen Van den Bergh en Vorster gebeur het net voordat die bom ontplof het, is die produk van sy eie verbeelding. Daar bestaan geen feitelike bewyse vir Beresford se aantygings nie. Maar anders as Elsdon erken hy nie dat dit maar net "fiksie gebaseer op historiese feite en gebeure" is nie.


7. Beroep op ’n primêre bron: Lewin se herinnerings

Die bronne wat tot dusver bespreek is – dié deur Winter, Hain, Bell en Beresford – is almal sekondêre en tersiêre bronne. Ek het aangedui dat, wat die bewering betref dat Van den Bergh en Vorster vooraf van die stasiebom geweet het, hierdie bronne hul weergawes baseer op ongetoetste inligting en dat hulle feite, verdraaiings, halwe waarhede en leuens met mekaar vermeng. Waar daar gapings in kennis bestaan het, het hierdie skrywers nie geaarsel om hul eie "feite" te vervaardig nie. In die proses het hulle anti-apartheidspropaganda geskep.

Dit is merkwaardig dat Hain, Bell en Beresford verkies het om hulle op Winter se boek, ’n taamlik onbetroubare sekondêre bron, te verlaat. Baie meer betroubare bronne was beskikbaar, insluitende die hofverslae van die Harrisverhoor. ’n Ander bron, wat al voor Winter se boek gepubliseer is en besonderhede verskaf van die gebeure van 24 Julie 1964 uit die oogpunt van ’n ooggetuie, is deur Winter, Bell en Beresford geïgnoreer. Dit is Hugh Lewin se verhaal oor sy arrestasie, aanhouding, verhoor en tronkstraf.

Lewin is in 1962 gewerf om by die ARM aan te sluit. Hy is in Julie 1964 in hegtenis geneem, daarna verhoor en skuldig bevind aan klagte van die oortreding van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis. Hy moes sy volle termyn uitdien en het daarna tien jaar as ’n uitgewekene in Londen spandeer. Tien jaar na die stasiebominsident is sy herinnerings in Bandiet: Seven years in a South African prison (Lewin 1974) gepubliseer, wat in die 1980's herdruk is (Lewin 1981). In die 1990's het hy na Suid-Afrika teruggekeer en die direkteur van die Instituut vir die Bevordering van Joernalisme in Johannesburg geword. Hy het sy boek hersien en dit is heruitgegee as Bandiet out of jail (Lewin 2002). In 2003 is die Olive Schreiner-prys daaraan toegeken. Lewin het ’n tweede outobiografiese boek, Stones against the mirror,voltooi, waarin hy op sy simboliese reis van versoening met Adrian Leftwich, sy vroeëre beste vriend wat hom in 1964 verraai het, fokus (Lewin 2011). Dié boek is in 2012 met die Sunday Times se Alan Paton-toekenning bekroon.

In albei hierdie boeke is daar afdelings wat handel oor Lewin se interaksie met John Harris en John Lloyd, sy arrestasie op 9 Julie 1964 en sy ondervraging by The Grays in die weke toe Harris sy stasiebomskema beplan en uitgevoer het. By The Grays op 24 Julie 1964 was Lewin in die posisie om waarnemings te doen wat direk betrekking het op die kwessie of Van den Bergh en Vorster vooraf van die bom geweet het.

Lewin wil sy lesers daarvan bewus maak dat ook liberale ’n betekenisvolle rol in die bevrydingstryd gespeel het wat vandag oor die hoof gesien word. Anders as Winter, Bell en Beresford, is Lewin se skryfstyl nie sensasioneel nie. Hy gaan nie uit sy pad om enige ARM-lid tot heldestatus te verhef nie. Sy benadering is nadenkend en hy delf dieper in vrae wat met die persoonlike moraliteit te doen het wat agter menslike optrede sit (Umuzi 2011). Die teks van sy vertelling gee die indruk van ’n eerlike soeke na die waarheid deur ’n skrywer wat probeer verstaan waarom hy en sy ARM-kamerade in die 1960's gedoen het wat hulle gedoen het. Resensente wys daarop dat Lewin aandag aan die fynste besonderhede gee in sy poging om ’n korrekte weergawe van die gebeure van die verlede te gee (Thomas 2011).

Hoewel Lewin ’n meer betroubare bron as Winter, Bell of Beresford is, bestaan die moontlikheid van onakkuraatheid in sy herinnerings. Die waarheid van individuele stellings in sy tekste moet daarom steeds getoets word.

Al die uitgawes van Bandiet en Stones against the mirror bevat beskrywings in besonderhede van wat by The Grays, die veiligheidspolisiehoofkwartier in Johannesburg, gebeur het op 24 Julie 1964 nadat die stasiebom ontplof het. Die moontlikheid, deur onder meer Bell gesuggereer, dat John Lloyd sy ondervraers so vroeg as 23 Julie kon ingelig het oor Harris se plan (Braude 2011:62), word skynbaar deur Lewin se weergawe in sy boeke uitgeskakel. In Bandiet verklaar Lewin dat hy baie duidelik kan onthou wat alles op die aand van die ontploffing afgespeel het (Lewin 1981:31). Hy gaan dan voort om in besonderhede te beskryf presies wat alles op daardie Vrydagaand gebeur het. Vroeg in die aand is hy uit sy sel by die Jeppestraatpolisiestasie laat haal en na die toneel van die ontploffing by Parkstasie en daarna na The Grays vir verdere ondervraging geneem. Hy was daar tot laat in die aand toe Harris reeds in hegtenis geneem en ook na The Grays gebring is. In die nag is Lewin na die Jeppestraatsel teruggeneem (Lewin 1981:31–9).

Uit Lewin se herinnerings is dit duidelik dat die veiligheidspolisie onmiddellik na die ontploffing geen idee gehad het wie daarvoor verantwoordelik kon wees nie. Dit het geblyk uit die dringendheid waarmee luitenante Van der Merwe en Viktor hul ondervraging van Lewin hervat het. Hulle was vasberade om die bomplanter se naam by Lewin te probeer kry (Lewin 1981:33–5). Toe Lewin uiteindelik Harris se naam vir hulle gegee het, het Viktor aangedui dat hulle kort tevore ook sy naam by Lloyd, wat in die vertrek langsaan ondervra is, gekry het (Lewin 1981:35). Lewin meld hoorsêgetuienis dat toe Lloyd ingelig is oor die bomontploffing, hy gesê het: "Oh my God, has John done it" (Lewin 2011:115).

’n Rukkie later het brigadier Van den Bergh en kaptein Swanepoel die ondervragingskamer binnegekom. Van den Bergh het Lewin versoek om die bomplanter se naam te verstrek. Van den Bergh het die man wat hulle in verband met die ontploffing gesoek het, beskryf as ’n persoon van gemiddelde lengte met ligte hare, wat nie ’n akkurate beskrywing van Harris was nie. Lewin het vir Van den Bergh gesê dat hy niemand ken wat aan sy beskrywing voldoen nie (Lewin 1981:36–7). Lewin se weergawe wys dat teen ongeveer 23:00 daardie Vrydagaand die veiligheidspolisiehoof nog nie seker was wie die bomplanter was nie. Kaptein Swanepoel het toe reeds, nadat Lloyd en Lewin die naam van Harris verstrek het, luitenant Muller na Harris se woning gestuur om hom in hegtenis te neem en vir ondervraging in te bring (Muller 1964:46).

By The Grays is Harris na ’n vertrek reg bo die een waar Lewin was, geneem. Lewin het geluide gehoor wat daarop gedui het dat Harris aangerand word. Harris het spoedig ingegee en erken dat hy die bomplanter was. Ongeveer 01:00 die Saterdagoggend het Swanepoel die vertrek waar Lewin was, binnegekom en gesê: "Ons het hom." Kort daarna is Lewin teruggeneem na die sel in Jeppestraat (Lewin 1981:38).

Lewin verwerp Van den Bergh se storie dat onmiddellik toe hy van die bomontploffing hoor, hy dit op ’n mistieke wyse in sy kop aan Harris verbind het. Hy verwerp ook Vorster se weergawe dat Van den Bergh, kort nadat hy na die ontploffing op die stasie aangekom het, gesê het dat hulle op Harris moes fokus (D'Oliveira 1977:151–2). Lewin se reaksie is dat daar niks mistieks aan Van den Bergh se hantering van die insident was nie, maar dat hulle Harris se naam na die ontploffing eenvoudig eers by Lloyd en toe by hom gekry het (Lewin 2011:111).

Elke enkele stelling in Lewin se ooggetuieverslag kan nie deur inligting uit ander bronne bevestig word nie. In die algemeen word sy herinnerings aan mense, plekke en tye wat met die gebeure van 24 Julie 1964 verband hou, egter wel deur ander bronne gestaaf. Lewin se verhaal is aanvaarbaar en strook met gesonde verstand.

Dit is nie heeltemal onmoontlik dat John Lloyd sy ondervraers voor 16:33 op 24 Julie 1964 kon ingelig het dat John Harris ’n sabotasiedaad beplan het nie. Indien sy oorspronklike skriftelike verklaring aan die polisie, wat volgens Bell bestaan, opgediep kan word, mag dit dalk of mag dit dalk nie, afhangende van die inhoud daarvan, uitsluitsel hieroor verskaf nie.

Op grond van die feitelike gegewens wat tans beskikbaar is, skyn dit asof Lewin se herinnerings die moontlikheid uitskakel dat Van den Bergh en Vorster vroeg genoeg van die bom geweet het om, soos Bell en Beresford beweer, te kon bespreek wat om daarmee te doen en te kon besluit om dit vir propagandadoeleindes te laat ontplof. Lewin se weergawe bevestig dat die veiligheidspolisie by The Grays en hul hoof, brigadier Van den Bergh, Harris se naam eers ’n hele ruk na die bomontploffing by Lloyd en Lewin gekry het. Toe eers kon hulle verskillende brokkies inligting aan mekaar verbind om die skakels tussen Harris, die ARM en die bom te besef. Winter skryf dat onmiddellik na die ontploffing van die stasiebom die veiligheidspolisie ’n massiewe operasie geloods het om ’n net om alle bekende politieke aktiviste in die omgewing te span. ’n Swart geheimepolisieagent, Matthew Nkoana, het inligting verskaf wat op Harris se betrokkenheid gedui het (Winter 1981:94). Om 22:30 op 24 Julie 1964, ses uur na die ontploffing, het kaptein Swanepoel vir luitenant Muller na Harris se woonplek in Roodepoort gestuur om hom in hegtenis te neem.


8. Wanneer ’n leuen later as die waarheid aanvaar word

’n Ontleding van die bronne bring aan die lig dat die volgende die kern van die aantygings uit anti-apartheidskringe oor Van den Bergh en Vorster se voorafkennis van die stasiebom is:

  • Van den Bergh en Vorster het van die bom geweet voordat dit ontplof het.
  • Hulle kon iets gedoen het om te verhoed dat die bom ontplof.
  • Hulle het niks gedoen nie en toegelaat dat die bom ontplof.
  • Hul besluit om nie te keer dat die bom ontplof nie, is met ’n politieke motief gedoen vir die "propaganda-effek" wat die bom sou hê.

In die lig van die getuienis wat in hierdie artikel ontleed is, is my gevolgtrekking:

  • Van den Bergh is hoogstens ’n paar minute voor die tyd oor die naderende bomontploffing op die Johannesburgse stasie in kennis gestel.
  • Vorster het die 75ste herdenking van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie bygewoon en is by die funksie oor die ontploffing ingelig eers ’n ruk nadat dit gebeur het.

Daarom is my slotsom dat die bewerings dat Van den Bergh en Vorster reeds geruime tyd vooraf geweet het dat die bom gaan ontplof en genoeg tyd gehad het om te besluit wat om daaromtrent te doen, van alle waarheid ontbloot is. In werklikheid het Van den Bergh nie genoeg tyd gehad om enigiets te doen wat die ontploffing sou kon verhoed nie. Die bewerings van Hain, Bell, Beresford en andere in hierdie verband moet as vals verwerp word.

Verder bring die ontleding sekere tendense oor die vals bewerings aan die lig.

Eerstens het die bewerings oor tyd al hoe ernstiger geword. In 1981 het Winter beweer dat Van den Bergh om 16:20 oor die bom in kennis gestel is, 13 minute voordat dit op 24 Julie 1964 ontplof het. Sonder dat hulle oor enige nuwe getuienis beskik het, het Bell (2005), die skrywers van die huldiging vir Harris (2005) en Beresford (2010) verder gegaan deur te beweer dat hy vroeër, selfs ure voor die ontploffing, gewaarsku is. Volgens Winter se weergawe het Van den Bergh Harris se waarskuwing nog voor die ontploffing oor sy noodlyn aan Vorster oorgedra. Bell, die skrywers van die huldiging en Beresford verklaar dat die twee, Van den Bergh en Vorster, al van die bom geweet het nog voor Harris se telefoniese waarskuwing en dat hulle genoeg tyd gehad het om te besluit wat om te doen wanneer die bom geplant word. Winter se weergawe kom daarop neer dat Van den Bergh en Vorster waarskynlik in die enkele minute tot hul beskikking nie veel kon doen om te keer dat die bom ontplof nie. Bell en die huldigingskrywers redeneer dat die twee genoeg tyd gehad het om op die hoogste vlak ’n besluit te neem om nie te verhoed dat die bom ontplof nie. Beresford gaan selfs so ver om te beweer dat Vorster op ’n gewetenlose wyse gesê het dat dit vir die propaganda-effek toegelaat moes word om te ontplof.

Die tweede opmerklike tendens is dat die bewerings oor Van den Bergh en Vorster se voorafkennis ongeverifieer is. Winter se aanspraak dat hy sy inligting direk van Van den Bergh gekry het, word in twyfel getrek. Bell baseer sy aantygings op "dokumentêre getuienis" in die vorm van ’n verklaring aan die polisie deur John Lloyd, maar dit word ernstig betwyfel of so ’n verklaring bestaan. Die huldigingskrywers het Bell se inligting gebruik om hul teks op te stel en Beresford haal Winter as sy bron aan. Geen van hierdie skrywers is primêre bronne nie en hul bewerings kan nie sonder historiese kritiek en verifikasie as die waarheid aanvaar word nie. Interne kritiek bewys dat die bewerings vals is.

Ongelukkig is dit so dat hoe meer dikwels ongetoetste bewerings herhaal word, hoe makliker word hulle mettertyd as die waarheid aanvaar. Die derde neiging is daarom dat sekondêre en tersiêre bronne die bewerings oor Van den Bergh en Vorster se voorafkennis van die bom later begin aanvaar het sonder om hulle te bevraagteken.

Selfs opgeleide en ervare navorsers trap in hierdie strik. In die uitgawe van Augustus 2011 van Focus, die tydskrif van die Helen Suzmanstigting, het Claudia B. Braude, ’n "onafhanklike navorser" (kyk Helen Suzman Foundation s.j. vir haar profiel), in ’n boekresensie die aanhaling hier bo uit Beresford se boek net so oorgeneem sonder om haar daarvan te vergewis of Beresford se weergawe van Winter as sy bron korrek was en sonder om die moontlikheid in ag te neem dat dit dalk onakkurate inligting mag bevat (Braude 2011:62). Deur Beresford se weergawe as korrek te aanvaar en na te laat om die betroubaarheid daarvan aan kritiek te onderwerp, het Braude haarself skuldig gemaak aan die voortsetting van ’n valse en kwaadwillige siening van Van den Bergh en Vorster se "skuld" aan die stasiebominsident.


9. Die hantering van propaganda oor die stasiebom

Van albei kante is baie propaganda rondom die stasiebom gemaak. Bell (2003:47) beklemtoon hoe die apartheidstaat die stasiebom vir propaganda uitgebuit het en die gebeurtenis "gemelk" het "vir elke ons propagandawaarde". Hy beskryf dié propagandaveldtog soos volg:

Die omstandighede van die gebeurtenis is oor die jare versluier deur soms bisarre amptelike verklarings wat daarop gemik was om John Harris en almal wat dit durf waag het om hulle teen die apartheidstaat te verset te demoniseer [...] John Harris is as ’n argetipe voorgehou: ’n gewetenlose moordenaar [...] [D]ie staat wou almal wat teen apartheid gekant was as verdorwe en immoreel uitbeeld. En hulle wou die beeld bevorder van die veiligheidspolisie as meedoënloos doeltreffend, wat orals besig was om die "Rooi gevaar" te beveg. ’n Stortvloed propaganda is geloods, georkestreer deur die hoof van die veiligheidspolisie, Hendrik van den Bergh. Dit was hierdie web van leuens, halwe waarhede en verdraaiings waarin John Harris verstrik geraak het. (Bell 2005:21; my vertaling)

Beresford (2010:334) se bewering dat die apartheidsleiers die stasiebom agterna vir die "propaganda-effek" benut het, en Sanders (2006:23) se bewering dat die stasiebom aangewend is "om die drakoniese en onderdrukkende wetgewing wat voorheen deur die apartheidstaat ingestel is te regverdig", kan as geregverdig beskou word.

Dit is natuurlik ’n feit dat Harris met sy onbesonne daad hierdie propagandawapen op ’n skinkbord aan die apartheidsleiers oorhandig het (Dick 2010). Lewin (2011:116) glo die stasiebom het ingedruis teen alles waarvoor die ARM gestaan het en verklaar:

Afgesien van die verskriklike lewensverlies en beserings wat dit veroorsaak het, het die bom ’n verwoestende politieke uitwerking gehad: dit het wit opinie gekonsolideer, direk tot die ondergang van die Liberale Party gelei, en die hand van die wit regering vir meer as ’n dekade gesterk tot met Soweto in 1976. Op elke vlak was die stasiebom ’n ramp. (My vertaling)

Vir John Vorster was die stasiebom soos manna uit die hemel en hy het die propagandawaarde daarvan ten volle benut om sy siening te ondersteun dat daar ’n duidelik onderskeibare kommunisties-geïnspireerde revolusionêre aanslag teen die Suid-Afrikaanse staat was.

Daar is ook ’n ander kant van die munt.

Hierdie artikel het gewys op hoe ongeverifieerde en ongetoetste getuienis oor die stasiebominsident baie jare gelede oor ’n lang tydperk en tot vandag toe in anti-apartheidskringe verwring word of as historiese feite aangebied word. Dit vorm deel van ’n populêre herskepping van die geskiedenis ter ondersteuning van die anti-apartheidstandpunt. Deur die aanwending van historiese kritiek het ek bewys dat die aantyging wat so dikwels in anti-apartheidspublikasies herhaal is dat apartheidsleiers van die bom geweet het voordat dit ontplof het, maar niks gedoen het om die ontploffing te verhoed nie, op twyfelagtige bronne gebaseer is en vals is.

Bell se paragraaf wat hier bo aangehaal is, kan omgekeer word:

Die omstandighede van die gebeurtenis is oor die jare versluier deur soms bisarre anti-apartheidsaantygings wat daarop gemik was om Hendrik van den Bergh en John Vorster en almal wat dit durf waag het om die apartheidstaat te ondersteun te demoniseer [...] Hendrik van den Bergh en John Vorster is as argetipes voorgehou: gewetenlose moordenaars [...] [A]nti-apartheidspropagandiste wou almal wat apartheid ondersteun het, as verdorwe en immoreel uitbeeld. En hulle wou die beeld bevorder van die veiligheidspolisie as meedoënloos doeltreffend, wat orals besig was om die bevrydingstryd teen onderdrukking te beveg. ’n Stortvloed propaganda is geloods, georkestreer deur anti-apartheidskrywers. Dit was hierdie web van leuens, halwe waarhede en verdraaiings waarin Hendrik van den Bergh en John Vorster verstrik geraak het.

Behalwe die drie tendense van toepassing op die valse bewerings oor die stasiebom, wat in die vorige afdeling geïdentifiseer is, is daar nog ’n vierde merkbare tendens: die stasiebominsident is nog nie deeglik deur ’n professionele historikus ontleed nie. Nie een van die skrywers van die verskillende bronne wat in hierdie artikel onder die soeklig geplaas is, kan as ’n akademiese navorser beskou word wat die oogmerk het om die objektiewe waarheid bloot te lê nie. Hulle verteenwoordig almal standpunte wat sterk vir of teen apartheid is en maak almal propaganda vir hul eie politieke oortuigings. Die feit dat geen professionele historikus die stasiebominsident indringend ontleed het nie, kan moontlik onder meer daarop dui dat die sensasionele bewerings hieroor deur joernaliste, wat in hierdie artikel ondersoek is, moontlik nie werklik ernstig deur historici opgeneem is nie. Vir die leek is Winter, Hain, Bell en Beresford se bevooroordeelde standpunte egter dalk nie so ooglopend as vir die opgeleide historikus nie. Dit maak die mites wat geskep word, juis gevaarlik, omdat dit deur ’n bepaalde groep polities misbruik kan word. Hieroor skryf Cohen (aangehaal in Collins 2003:345):

Wanneer bewerings oor die verlede eers diep in mense se verstand (en hart) posvat, kan geargumenteer word dat hulle ’n waarheid van hul eie verwerf, selfs al stem hierdie waarheid hoegenaamd nie ooreen met wat werklik op ’n bepaalde tydstip in die verlede gebeur het nie. (My vertaling)

Die meeste van die skrywers wie se tekste hier ondersoek is, is óf joernaliste óf politici. Politici en joernaliste kan maklik praat en skryf, want hulle het nie, soos historici, nodig om seker te maak dat wat hulle sê of skryf, waar is nie, bevestig deur bewese feite. Hulle het nie nodig om lank in argiewe te spandeer op soek na die gedokumenteerde feite nie. Hulle taak is om kiesers te oorreed om vir hulle te stem of om lesers so ver te kry om hul koerante te lees. Vir hierdie doel kan hulle spekuleer of sensasionalisme inspan. Dit is dus nie verbasend nie dat die rak vir "Suid-Afrikaanse geskiedenis" in die boekwinkel gevul is met boeke wat deur joernaliste en politici, eerder as historici, geskryf is.

Die historikus se taak behels ’n verbintenis tot die nastrewing van die waarheid. Hy of sy moet stadig en noukeurig, deur middel van ’n tydsame proses van bronnekritiek, die mynveld van verdraaiings, halwe waarhede en leuens opruim wat dikwels agtergelaat word deur ’n stortvloed van propaganda, om geleidelik nader aan die waarheid te beweeg. Die les wat hieruit te leer is, is dat historici waaksaam moet wees om nie die skep van persepsies oor die verlede aan politici en joernaliste, wat altyd sterk politieke vooroordele het, oor te laat nie. Dit is ’n opdraande stryd, omdat die deeglik nagevorste artikel van die historikus iewers in ’n akademiese joernaal gepubliseer word wat net deur vakgenote gelees word. Wat die vorming van die openbare mening betref, kan so ’n publikasie nie meeding met die publisiteit wat verleen word aan die emotiewe retoriek van die politikus vanaf ’n politieke platform of die groot opskrifte deur die "ondersoekende" joernalis op die koerantvoorblaaie nie. Nogtans bly die soeke na die waarheid oor die verlede die historikus se verantwoordelikheid en is dit uiteindelik akademies bevredigend om ’n oorspronklike bydrae tot die wetenskap van die geskiedenis te lewer.


Bibliografie

Gepubliseerde bronne

Anon. 1976. The curious career of reporter Winter. Glasgow Herald, 11 Maart, bl. 7.

Bell, T. (in medewerking met D.B. Ntsebeza). 2003. Unfinished business: South Africa, apartheid and truth. Londen: Verso.

Bell, T. 2005. On his grave it now reads: "a true patriot". City Press, 3 April, bl. 21.

Beresford, D. 2010. Truth is a strange fruit: A personal journey through the apartheid war. Aucklandpark: Jacana Media.

Boldt, A. 2014. Ranke: Objectivity and history. Rethinking History, 18(4):457–74.

Braude, C.B. 2011. Hugh Lewin: Stones against the mirror. Resensie. Focus (Tydskrif van die Helen Suzmanstigting), 62:60–9.

Brokensha, M. en R. Knowles. 1965. The Fourth of July raids. Kaapstad: Simondium Uitgewers.

Claire, H. 2006. The song remembers when. Kaapstad: Double Storey Books.

Clark, G.K. 1967. The critical historian. Londen: Heinemann.

Collins, R. 2003. Concealing the poverty of traditional historiography: myth as mystification in historical discourse. Rethinking History, 7(3):341–65.

Dick, G. 2010. John Harris: hardly a martyr. The Witness, 15 April. http://www.news24.com/Archives/Witness/John-Harris-Hardly-a-martyr-20150430 (12 Oktober 2013 geraadpleeg).

D'Oliveira, J. 1977. Vorster – the man. Johannesburg: Ernest Stanton Publishers.

Elsdon, A.D. 2009. Die lang generaal: Die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika. Kaapstad: Umuzi.

Garraghan, G.J. 1946. A guide to historical method. New York: Fordham University Press.

Gorman, J. 2004. Historians and their duties. History and Theory, 43:103.

Gottschalk, L. 1950. Understanding history: A primer of historical method. New York: Alfred A. Knopf.

Guardian. 2007. Profile of David Beresford. http://www.theguardian.com/global/2007/jun/02/david.beresford (12 Oktober 2013 geraadpleeg).

Gunther, M. 2004. The National Committee of Liberation (NCL)/African Resistance Movement (ARM). In South African Democracy Education Trust 2004.

Harris, D.W., L. Harris en B. Harris. 2005. On the occasion of a memorial for John Harris (1937–1965), Freedom Park, Pretoria, 2 April. http://www.sahistory.org.za (11 Desember 2011 geraadpleeg).

Helen Suzman Foundation. s.j. Profile of Claudia Braude. http://hsf.org.za/about-us/our-people/research-fellows (15 Oktober 2013 geraadpleeg).

Kevin Harris Productions. 2012. A True Patriot? A 60 minute documentary. http://www.kevinharris.co.za/2012/06/a-true-patriot (20 Oktober 2013 geraadpleeg).

Leftwich, A. 2002. I gave the names. Granta, 78:12–7.

Lewin, H. 1974. Bandiet: Seven years in a South African prison. Londen: Barrie & Jenkins.

—. 1981. Bandiet: Seven years in a South African prison. Londen: Heinemann.

—. 2002. Bandiet out of jail. Johannesburg: Random House.

—. 2011. Stones against the mirror; friendship in the time of the South African struggle. Kaapstad: Umuzi.

Louis, W.R. 1986. The British empire in the Middle East, 1945–1951: Arab nationalism, the United States, and postwar imperialism. Oxford: Oxford University Press.

Lowenthal, D. 2013. The frailty of historical truth: learning why historians inevitably err. American Historical Association, Maart. http://www.historians.org/publications-and-directories/perspectives-on-history/march-2013/the-frailty-of-historical-truth (20 Oktober 2013 geraadpleeg).

Marof, M.A. 1965. Gepubliseerde verklaring. New African, 1 Mei.

Marwick, A. 2001. The new nature of history: Knowledge, evidence, language. Houndmills: Palgrave.

Naidoo, P. 2010. Hamba kahle John. The Witness, 1 April. http://www.news24.com/Archives/Witness/Hamba-kahle-John-20150430 (12 Oktober 2013 geraadpleeg).

Routledge, P. en I. MacKinnon. 1995. Bombs and betrayal haunt would-be MP. The Independent, 29 Oktober. http://www.independent.co.uk/news/uk/home-news/bombs-and-betrayal-haunt-wouldbe-mp-1579969.html (12 Oktober 2013 geraadpleeg).

Saari, H. 2005. On Frank Ankersmit’s postmodernist theory of historical narrativity. Rethinking History, 9(1):5–21.

Sanders, J. 2006. Apartheid's friends: The rise and fall of South Africa's secret service. Londen: John Murray.

Shafer, R.J. (red.). 1980. A guide to historical method. 3de uitgawe. Belmont: Wadsworth Publishing Company.

Shope, G. 2005. Toespraak deur die voorsitter van die Raad van Trustees van Vryheidspark by die simboliese reinigings- en kransleggingseremonie ter ere van John Frederick Harris by Isivivane, 2 April. http://www.freedompark.co.za (20 Oktober 2013 geraadpleeg).

Sondagstem. 1964. Verskeie berigte. 26 Junie. (Tini Vorster-plakboeke, AREA, Bloemfontein.)

South African Democracy Education Trust. 2004. The road to democracy in South Africa, Volume 1, 1960–1970. Kaapstad: Zebra Press.

Spiegel, G.M. 2013. Above, about and beyond the writing of history: a retrospective view of Hayden White’s Metahistory on the 40th anniversary of its publication. Rethinking History, 17(4):492–508.

Swanepoel, P. 2012. John Harris, Gordon Winter and the station bomb. Politicsweb, 9 Julie. Oorgeneem uit The Police Gazette, 1(14), 5 September 2010. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=197475&sn=Detail&pid=71619 (17 Oktober 2013 geraadpleeg).

Swanepoel, P.C. 2007. Really inside BOSS: A tale of South Africa's late Intelligence Service (and something about the CIA). Pretoria: Piet Swanepoel.

Thomas, K. 2011. A life of constant reckoning. Resensie van Stones against the mirror: Friendship in the time of the South African struggle deur Hugh Lewin. Mail & Guardian, 28 Junie. http://mg.co.za/article/2011-06-28-a-life-of-constant-reckoning (12 Oktober 2013 geraadpleeg).

Thompson, W. 2004. Postmodernism and history. Houndmills: Palgrave Macmillan.

Thurén, T. 1997. Källkritik. Stockholm: Almqvist & Wiksell.

Trewhela, P. 2013. The Johannesburg station bomb and a BBC TV programme. Politicsweb, 3 Mei. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71619?oid=374118&sn=Detail (20 Oktober 2013 geraadpleeg).

Umuzi. 2011. Uitgewersnotas oor Hugh Lewin se Stones against the mirror. http://www.randomstruik.co.za/title-page.php?titleID=4189&imprintID=0 (16 Oktober 2013 geraadpleeg).

Van den Berg, S. 2010. All you need to know about Peter Hain. Politicsweb, 5 Desember. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71639?oid=214027&sn=Detail&pid=71639 (20 Oktober 2013 geraadpleeg).

White, H. 2005. Introduction: Historical Fiction, Fictional History, and Historical Reality. Rethinking History, 9(2/3), June/September: 147–157.

White, H.V. 1973. Metahistory: the historical imagination in nineteenth-century Europe. Baltimore, Md.: John Hopkins University Press.

Winter, G. 1981. Inside BOSS: South Africa’s Secret Police. Londen: Allen Lane.

—. 1997. Memorandum voorgelê aan die Britse Parlement se Gekose Komitee oor Kultuur, Media en Sport om beswaar te maak teen ’n artikel oor hom deur Barrie Penrose, getitel "The agent who framed Hain", wat op 27 April 1997 in die Sunday Times verskyn het. http://www.publications.parliament.uk/pa/cm200203/cmselect/cmcumeds/458/458w116.htm (13 Oktober 2013 geraadpleeg).

Argivale bronne

Harris, A. 1964. Ann Harris se verbatimgetuienis in haar man se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 2, lêer B3, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. III.

Harris, F.J. 1964a. John Harris se verklaring aan adjudant-offisier G.N. Erasmus, The Grays, 25 Julie 1964, dokument A1.10 opgeneem in die polisiedossier oor die Harris-saak in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer A.

—. 1964b. John Harris se verklaring aan majoor W.H. Brits, 14 Augustus 1964, opgeneem in die polisiedossier oor die Harris-saak in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer A.

—. 1964c. John Harris se verbatimgetuienis in sy verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 2, lêer B2, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. II.

—. 1964d. John Harris se verbatimgetuienis in sy verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 2, lêer B3, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. III.

Helmstead, J.M. 1964. Janet Helmstead se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 2, lêer B2, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. II.

Klagstaat. 1964. Klagtes waaraan F.J. Harris skuldig bevind is. Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer A, Polisiedossier, dokument A1.6.

Lloyd, J. 1964. John Lloyd se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 2, lêer B2, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. II.

Ludorf, J. 1964. Uitspraak deur regter Ludorf in die staat se saak teen John Harris in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 3, lêer B5, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. V.

Moodie, K.D.M. 1964. Die staatsadvokaat in die Harris-saak se verslag aan die kantoor van die Prokureur-Generaal, Pretoria, 6 November. Nasionale Argief van Suid-Afrika (NASA), Pretoria, Transvaalse Argiefbewaarplek (TAB), TPD 453/64, Kriminele saak: Die Staat teen Frederick John Harris.

Muller, H.C. 1964. Muller (luitenant in die S.A.P.) se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer B1, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. I.

Openshaw, J.H. 1964. Openshaw (assistentnuusredakteur van die Rand Daily Mail) se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer B1, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. I.

Van Rensburg, J.F.M. 1964. Van Rensburg (hoofkonstabel in die S.A. Spoorwegpolisie) se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer B1, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. I.

Van Rooyen, J.J. 1964. Van Rooyen (medehoofredakteur van Die Transvaler) se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer B1, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. I.

Vermeulen, G.T.J. 1964. Vermeulen (kaptein in die S.A. Spoorwegpolisie) se verbatimgetuienis in John Harris se verhoor in die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (SAHA), William Cullenbiblioteek, Witwatersrandse Universiteit, Johannesburg, AL3273 John Harrisversameling, band 1, lêer B1, Hooggeregshof van Suid-Afrika, Transvaalse Provinsiale Afdeling, Staat teen Frederick John Harris, verslag van verrigtinge, vol. I.

 

Eindnotas

1 “Sluipmoordenaar” verwys na die titel van Elsdon se boek oor Hendrik van den Bergh.

2 Die bekendste voorval waar die Irgun, ’n militante Sionistiese ondergrondse organisasie, ’n bom gestel en ’n waarskuwing voor die ontploffing deurgebel het, het op 22 Julie 1946 by ’n deel van die Britse hoofkwartier in die King David Hotel in Jerusalem plaasgevind. Die waarskuwing is geïgnoreer, omdat dit as ’n vals alarm beskou is. Die gevolg was dat 91 mense gedood en 46 beseer is. Die voorval is in The Times, 23 Julie 1946 gerapporteer en word in Louis (1986:430) beskryf.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top