Die skrywer, die beeldhouer en die aspirantdigter oor Haute Cuisine

Die skrywer, die beeldhouer en die aspirantdigter sit en kuier by ’n restaurant in die Brooklyn Mall. Hulle het so pas die film Haute Cuisine in die Cinema Nouveau-teater gesien. Die aspirantdigter dink die Choux farci au Saumon de Tasmanie wat die kok Hortense in die film aan die Franse president François Mitterrand in die Paleis van Elysée voorsit, is soos die betekenislae van ’n gedig, ’n sangerige villanelle wat haar half weemoedig stem. Sy wonder wat dink die skrywer en die beeldhouer van die film wat hulle so pas gesien het.

Die Franse kok, Hortense, blansjeer die Savoy-kool van die Choux farci au Saumon de Tasmanie twee maal voor sy dit afwater. Daarna verdeel sy die koolblare – die teer‑groen spinnewebbe so verwikkeld soos die geslagsregister van die Savoyse koningshuis – en pak hulle in ’n koepelvormige glasbak wat sy met moeseliendoek uitgevoer het.

In die beeldbenewelde brein van die aspirantdigter ontvang die moeseliendoek die afwisselende lae kool en salm soos ’n moederskoot. Asof gemesmeriseer deur dié taak val Hortense in ’n soort rêverie. Sy spreek die resep hardop in ’n Zen-gebedsmonoloog oor die met koolblare-en-salmgestopte koepel uit, waarna sy dit behendig in ’n moeseliendoek toeknoop. Daarna prut sy dit vyftien minute lank in salmaftreksel.

Terwyl die koepel prut, dreunsing Hortense die aanwysings vir die sjampanjesous en die in gansvetgebraaide jongwortels aan die Sous-Chef de Cuisine. Op presies die aangewese moment haal Hortense ’n wit opdienbord uit die huishouding van Louis XV te voorskyn en vryf dit op gereed vir die ontvangs van die sny salmgestopte kool. In die toneel waar Mitterrand se persoonlike kok terugstaan om haar kunswerk te betrag, wou die aspirantdigter regop spring en met handegeklap applous lewer. Eintlik wou die aspirantdigter ululeer soos ’n eertydse Zoeloe-kollega haar leer ululeer het spesiaal vir geleenthede wanneer jy iets groters as jouself erken.

Die skrywer sit en speel met haar bankkaart, onbewus van die aspirantdigter se monologue intérieur. Op die skrywerskop wat ná die chemo- en herceptinbehandeling ’n paar klossies hare oorgehou het, rus ’n grys wolmus. Die skrywer se wenkbroue en ooglede is kaal. Haar oë laat die aspirantdigter aan die water van die Middellandse See dink: deurskynend en blougroen. Tussen die haarlose wenkbroue sit daar ’n druppel gestolde onderlaag wat sy skynbaar in swak lig en in die haas vergeet het om eweredig oor haar voorkop te versprei. Die aspirantdigter se hand jeuk om die skrywer se voorkop aan te raak.

Die kelnerin bring die aspirantdigter tot verhaal. “My shift is nearly over. Do you want to wait for another waiter?”

“Nee, ons is haastig vanmiddag,” antwoord die beeldhouer. “Ek moet nog my artist book by die galery gaan ingee.” Sy blaai die sketsboek oop sodat die skrywer en die aspirantdigter na die sketse kan kyk. Die aspirantdigter is verstom deur die potloodskets van Bettysbaai se rotse. Sy verloor terstond belangstelling in die koolblare.

“Cappuccino, met skuim,” mompel die skrywer onderlangs soos John Wayne in ’n ou cowboyfliek.

“Make that three,” sê die aspirantdigter, “and please be quick. We don’t have much time.” Sy waag dit om vir die beeldhouer te vra: “Wat betaal mens vir so ’n boek?”

“Ek weet nie,” antwoord die beeldhouer.

Die boek self is ’n versamelaarsitem. Die beeldhouer het stukke bas van ’n papierbasvalsdoringboom op die voor- en agterblad van die artist book aangebring sodat dit lyk of die boek en die versameling sketse ineenvloei en met tyd na die boombestaan waaruit dit eens gekom het, sal kan terugtransformeer.

“Enigiets sal te min wees,” sê die skrywer.

Die beeldhouer glimlag. “Dankie. Wil julle iets eet?”

“Ek het goed geëet voor die fliek, anders sou my maag heeltyd gegrom het,” antwoord die skrywer.

In haar enigheid voel die aspirantdigter te nagekom. Vroeër die week toe die skrywer, die beeldhouer en die aspirantdigter besluit het om saam te gaan fliek, het die aspirantdigter vir die skrywer ʼn foto van ʼn fluitekruid ge-e-pos. Die aspirantdigter het die fluitekruid raakgelees in die gedig “Mei” van Marlene van Niekerk uit die bundel Kaar waarvoor Van Niekerk die Hertzogprys ontvang het.

Die skrywer het nie juis die gebaar van die foto waardeer nie, ofskoon Van Niekerk al die pad uit Nederland haar dank teenoor die aspirantdigter betuig het vir dieselfde foto wat die aspirantdigter aan Van Niekerk gestuur het uit erkenning vir haar enorme talent. Die aspirantdigter is erg gegrief deur die feit dat sportsterre internasionaal eer en erkenning ontvang vir die manier waarop hulle agter ’n bal aanhol, terwyl skrywers en kunstenaars broodgebrek ly.

“Ek wou nog sê,” beduie die aspirantdigter aan die skrywer. “In Van Niekerk se gedig 'Mei' besin die spreker daaroor of ’n mens die dood deur ’n verkyker kan afloer soos mens ’n fluitekruid kan afloer.”

“Wil jy my vrek hê?” vra die skrywer.

“Waarom sou ek jou vrek wou hê?” vra die aspirantdigter verbaas. Sy voel haar al hoe meer onwennig in die skrywer en die beeldhouer se geselskap. “Ek het vir jou die foto van die fluitekruid gestuur sodat jy die digter se woordspeling van die kantagtige blomme van die fluitekruid en die ander kant – jy weet die ander kant van die Styx – behoorlik kan waardeer. Jy is regtig fokken mal as jy dink ek wil jou dood hê.”

“Jy weet mos ek is banaal,” sê die skrywer. “Ek is besig om my boek in Afrikaans te vertaal, ek raak vinnig moeg.”

“O.” Die aspirantdigter weet nie wat om te antwoord op die nuus van die skrywer se vertaalde boek nie. Die aspirantdigter wag nog op ’n deurbraak wat haar digwerk betref. In die afgelope week het sy gehoor haar gedig “Autshumato” is op die langlys van die Babishai Niwe Poetry Award‑gedigtekompetisie in Afrika. Sy weet egter haar gedig het nie ’n kans nie, want die organiseerders het die verklaring vir dele van die gedig (wat sy sorgvuldig met verwysings aangedui het) uit die gedig gelaat wat op die webblad geplaas is. Almal sal dink sy is getik. Dit sal niks beteken om vir die ander twee te vertel dat sy amper iets met haar digwerk bereik het nie.

Die beeldhouer lyk gekwel. Die dae raak te kort vir haar, het sy teenoor die aspirantdigter bely toe sy die aspirantdigter vroeër die middag in haar afgeleefde dieselbakkie vir die fliekafspraak opgelaai het. “Ek sukkel my moeg met die bloudraadstoel wat ek vir die uitstalling maak.” Die beeldhouer wys haar duim wat met ’n plastiekdoppie bedek is vir die skrywer en die aspirantdigter.

“Wat is dit?” wil die skrywer weet.

“Dis haar kondoom,” beduie die aspirantdigter. Die beeldhouer ignoreer die aspirantdigter se opmerking en gee die skrywer en die aspirantdigter kans om oor die banale grappie te giggel.

“Ek gebruik die doppie van ’n botteltjie muskietweermiddel, dit het gaatjies in vir lugsirkulasie. Dit pas mooi bo-op my stukkende duim. Dan draai ek dit met pleister toe,” beduie die beeldhouer wat swaar ly onder die gevolge van haar kuns.

“My hande lyk nou beter,” merk die skrywer op. “Die chemo het die naelvliesies laat afdop, dit was nogal pynlik.”

Die aspirantdigter sê sy wonder waar die kelnerin met die koffie bly. Haar droë mond raak hinderlik. ’n Beeld van Hortense en haar kookkuns wat swaar op foie gras en truffels steun, skiet die aspirantdigter te binne. Sy wens die fliek het langer geduur. Die draaiboekskrywer kon gerus ’n toneel ingesit het waar Hortense en haar hond truffels jag in ’n woud. Die peperduur knolswam waarvoor die Franse so lief is, sal sy in haar hele lewe nooit proe nie, dink die aspirantdigter.

Al kan sy dit helder voor haar geestesoog roep, voel die aspirantdigter nietemin ontneem van ’n filmvoorstelling van Hortense en haar truffelhond in ’n woud. Dalk sal die filmteaterervaring van die toekoms nog ’n olfaktoriese dimensie insluit, bespiegel die aspirantdigter by haarself. Sy skrik toe die kelnerin die koffie voor haar neersit. “Ek wens hulle het ’n toneel gewys waar Hortense en haar hond saam truffels in die woud jag,” terwyl sy die suikerpot vir die skrywer aangee.

“Ek dag hulle gebruik varke om truffels uit te snuffel,” antwoord die skrywer.

Die aspirantdigter dink na. Sy verbeel haar sy het ’n program op TV gesien waarin honde gebruik word om truffels te jag. Dit is van die kunsmatige versoeter wat haar geheue toenemend te kort skiet, dink die aspirantdigter. “Nee, dis nie net varke nie, party mense gebruik honde. In Amerika gebruik hulle tot Franse poedels om truffels uit te snuif,” toe sy opeens onthou.

“My eks sê dis varke,” antwoord die skrywer, “en hy sal weet, want hy is self ’n vark.”

’n Hond lyk darem beter aan ’n leiband as ’n vark, dink die aspirantdigter.

Die skrywer knipoog vir die beeldhouer. “Ek is ook nie die enigste een wat met ’n vark getroud was nie.”

Die aspirantdigter voel gebelg. Sy kon sweer sy het vir die skrywer gesê sy moenie uitpraat oor die kortstondige huwelik met die Duitse slagter nie. Van varke kan jy die aspirantdigter niks vertel nie. Vir die beeldhouer seker ook nie.

Die beeldhouer soek uit gewoonte na ’n sigaret al is dit ’n “rook verbode”-area. Sy het niks te sê oor varke nie. “Onthou dat ek sigarette koop voor ons terugry,” sê sy vir die aspirantdigter.

Die aspirantdigter knik. Sy vertel vir die skrywer van haar digtersvriendin wat met die ebola-virus besmet is en toe binne drie weke oorlede is. Die vriendin was ’n haikoe-digter en ’n noodwerker in Sierra Leone. Sy was op pad om haar gedigte aan ’n groep Afrikadigters op ’n berg te gaan voorlees, toe sy deur die virus neergetrek is. Aan die einde het al haar organe opgepak.

“Sierra Leone is daai plek waar kinders se arms en bene met pangas afgekap is laat in die vorige eeu. Nou is daar nog sulke mense wat in lang toue op een been moet staan. Ek weet nie van julle nie, maar ek kan om die dood nie gewoond raak aan Afrika nie. Gee my eerder ’n blok ys om op rond te val en ’n kraai wat van ’n lamppaal af teen my kop vas waai,” sê die skrywer oor haar besluit om ná die kankerbehandeling op dieselfde kontinent te gaan werk as die een waarop haar kanker ontdek is.

“Ek sal seker ook moet begin werk soek,” sê die aspirantdigter. “Ek kan nie survive van koekbak vir kinderpartytjies of van gedigte skryf nie. Niemand stel belang om my werk te publiseer nie. Ek wil nou nie soos ’n navel-gazer klink nie, maar ...”

“Jy’s ’n poet,” onderbreek die skrywer halfomgeëllie. “As jy hoegenaamd ’n probleem het, is dit dat jy te veel van ’n poet is.”

Daaruit kan die aspirantdigter aflei dat sy gerus maar die pen kan neerlê. Haar gedigte sal nooit die paal haal in enige gedigtekompetisie nie. Wat nog te sê haar hoop op ’n digbundel by ’n ontduikende uitgewer. Dit kan sy net so wel op haar maag skryf.

“Kom, ons moet ry,” sê die beeldhouer vir die aspirantdigter. “Ek moet die artist book gaan aflaai en dan moet ek terug ateljee toe.”

“Ja, wat,” antwoord die skrywer, “en ek moet gaan geld oorplaas vir my vliegtuigkaartjie.”

Met die opstaan stamp die aspirantdigter haar stoel onder die tafel in. Die skrywer en die beeldhouer het nog nie gesê wat hulle van die film Haute Cuisine dink nie. Sy wonder wanneer en of hulle ooit weer saam sal gaan fliek. Die aspirantdigter sit nie haar hoop op die skrywer se retoerkaartjie nie, want agter die hoop lê daar klaar ’n skaap dood. Niemand weet hoe lank die skrywer dié keer gaan wegbly nie.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top