Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys en hoe om nuwe denke rondom skole te bou

  • 3

Konsepwysigingswet: Word magte weggeneem of bygevoeg?

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het onlangs aangekondig dat die regering moontlike wysigings aan die Suid-Afrikaanse Skolewet wil aanbring. Die konsepwetgewing, wat na verwagting teen die einde van volgende jaar gefinaliseer sal word, stel onder meer voor:

  • dat skoolbeheerliggame se magte rakende die aanstelling van senior personeellede ingeperk word
  • dat onderwyshoofde die finale sê het oor toelatings
  • dat die onderwyshoof skole mag opdrag gee om meer as een taal van onderrig en leer te hê
  • dat ’n boete van ses maande gevangenisstraf opgelê word vir enigeen wat ’n kind verhinder om ’n skool by te woon
  • kwytskeldingsklousules vir skole se gedragskodes
  • dat skoolbeheerliggaamslede moet verklaar of hulle of hul familielede baat sal vind in die werwing van goedere en dienste aan die skool
  • dat die voorsitter van die finansieskomitee van die beheerliggaam ’n ouer moet wees
  • dat beheerliggame kwartaallikse verslae van alle inkomste en uitgawes aan die provinsiale hoofde van onderwys moet verskaf
  • dat dit ’n kriminele oortreding behoort te wees om aansoek te doen vir ’n publieke skool of vir ’n fooikwytskelding deur gebruik te maak van vervalste dokumente.
  1. Uiteenlopende reaksie

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het onlangs tydens ’n radio-onderhoud op 702 gesê dat mense moet onthou dat die huidige opvoedingstelsel ’n “kompromie” [van die onderhandelde magsoorgang van die land] is; dat dit belangrik is dat “die opvoeding van alle leerders in die land gerespekteer moet word”; dat dit “onaanvaarbaar” is dat “dinge in die opvoedingstelsel na 23 jaar van demokrasie steeds oorwegend onveranderd gebly het, veral in agtergeblewe gemeenskappe”, dat “een sektor van die samelewing bevoordeel word deur demokrasie terwyl ’n ander sektor voortdurende pyn moet ervaar” agv die geskiedenis wat hulle in die land beleef het nie. Hy het die polariteit in die stelsel aangespreek deur aan te voer dat dit duidelik is dat ’n sekere sektor van die samelewing nooit sal aansoek doen vir poste [in ander gemeenskappe] nie, en dat “dieselfde geld vir wanneer sekere gedeeltes van sekere [generies swart en Engelse] gemeenskappe hulle kinders in sekere skole probeer inskryf, hulle toegang geweier word op grond van koverte uitsluitingsmeganismes (verkeerde kleur en taal)”; waar die personeelpopulasie “homogeen bly”. Hy het ook verwys na finansiële wanpraktyke “om ander gemeenskappe uit te sluit terwyl die gemeenskappe rondom hierdie skole verander het”. Volgens hom is dit die rasionaal agter die regering se herbesoek, debattering en moontlike hersiening van die bestaande ooreenkomste. Uit sy argument skyn dit daarop te dui dat die regering nie tevrede is met tradisioneel wit skole se skynbaar trae tempo van – en selfs weerstand teen – transformasie ten spyte van ’n gedesegregeerde leerderpopulasie nie. Die wetsontwerp blyk ’n poging te wees om die kwessie deur middel van wetgewing te forseer. Hierdie skuif het wye reaksie ontlok.

In reaksie hierop sê Debbie Schäfer (LUR vir onderwys in die Wes-Kaap) egter dat daar geen dispuut is oor wat mnr Lesufi sê nie, want almal wil hê dat skole mense regverdig behandel en dat alle kinders toegang tot gehalte-opvoeding moet hê, maar dat sy nie oortuig is dat daar ’n korrelasie is tussen “die vermelde intensie van die wet en die (46) voorstelle wat gemaak word in die wet nie”. Sy stem saam dat daar wel skole is wat onderduimse uitsluitingsmeganismes (soos taal en kriteria in posadvertensies) gebruik om bepaalde bevolkingsgroepe uit te sluit en skoolpopulasies homogeen te hou. Maar volgens haar maak huidige wetgewing wel voorsiening daarvoor om hierdie praktyke aan te spreek. Schäfer sê dat sy ten gunste daarvan is dat die hoof van onderwys in ’n provinsie die prerogatief moet hê om skole te kan beveel om hul taalbeleid aan te pas gegewe dat die departement die nodige bronne aan daardie skool beskikbaar stel om hieraan uitvoering te gee. Daar kan byvoorbeeld nie van skole verwag word om onderrig in ’n taal aan te bied as die skool nie oor die personeel daarvoor beskik nie.

Nog ’n beswaar wat Schäfer maak, is dat die wysigingsvoorstelle aanneem dat regeringsamptenare minder korrup en meer effektief as skoolbeheerliggaamslede is, terwyl die teendeel tans sigbaar is. Sy noem ook dat daar appèlgeleenthede is vir leerders wat toegang geweier word tot ’n skool en dat dit dus nie nodig is vir veranderinge op daardie gebiede nie. Haar departement se voorstel is dat die departement inspraak moet hê in die onderhoud- en benoemingsprosedures via kringspanbestuurders of meer senior personeel en dan aanbevelings na die hoof van onderwys in die provinsie stuur. Die kritiek teen hierdie voorstel is egter dat daar vrese bestaan dat dit ’n ekstra administratiewe werkslas vir provinsiale departemente sal meebring wat dalk nie oor die kapasiteit beskik om duisende aansoeke te kan administreer nie.

Daar heers ontnugtering, vrees en agterdog vanuit verskillende oorde. Besorgde ouers van Assegai Primêr in Wentworth het byvoorbeeld in weerstand teen die aanstellingsprosedures wat in die aanstelling van ’n nuwe prinsipaal gevolg was, hul skool beset. In reaksie hierop het die KwaZulu-Natalse Onderwysdepartement die voorsitter en ondervoorsitter van ’n skool hof toe gevat en in hul persoonlike hoedanighede aangekla.

Tim Gordon, hoof van die Governing Body Foundation, is van mening dat dit nie ongewoon of sinister is vir die Suid-Afrikaanse Skolewet om gewysig te word nie, maar dat daar wel “kommerwekkende tekens” is. Basil Manuel, hoof van die National Professional Teachers’ Organisation of South Africa (Naptosa), is weer bekommerd oor “die aantal senior beamptes wat hul posisies op oneerlike wyses bekom het en oor wat sou gebeur as hierdie mense verantwoordelik is vir die aanstelling van prinsipale”.

Maar dit is veral mense uit “wit” Suid-Afrika wat die verbaalste is in hul kritiek teen die regering se planne.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie vir Skoolbeheerliggame in Suid-Afrika (Fedsas), maak die bewerings van koverte uitbuitingspraktyke deur middel van taal as “absolute onsin” af en voer aan dat die regering nou probeer om openbare skole terug te verander na staatskole deur “skoolkaping” (gesprek op die geselsprogram Monitor op RSG, 23 Oktober 2017). Ter verdediging noem hy dat daar “baie omstandighede en praktiese oorwegings” is wat wel uitsluiting regverdig, byvoorbeeld wanneer skole net eenvoudig oorvol is en nie die kapasiteit het om massas kinders in “goeie skole” te akkommodeer wat na daardie skole toe stroom nie. Hy erken dat alle magte van skoolbeheerliggame nie gestroop sal word nie, maar is bekommerd oor “dit wat gaan oorbly as hierdie wetgewing sou deurgaan” en dat dit skoolbeheerliggame uiteindelik sal reduseer tot “fondsinsamelingskomitees” waar ouers weinig inspraak sal hê in die opvoeding van hul kinders.

Sy adjunk, Jaco Deacon (in ’n ope brief aan Panyaza Lesufi, 14 November 2017), spreek hom ook sterk uit teen die voorgestelde wysigingswetsontwerp. In sy kritiek beskuldig hy Lesufi daarvan dat “die onderliggende doel van die wysigingswet niks te doen het met gehalte-onderwys nie, maar eerder daarop gemik is om ’n bepaalde ideologiese beleid af te dwing … [en] dat die staat ’n outokratiese stelsel wil voorskryf waarin magte na die staat gaan” (Facebook, 14 November 2017).

Hy gaan verder deur te beweer dat Afrikaans-enkelmediumskole spesifiek geteiken word, terwyl 95% van die land se skole Engels-enkelmediumskole is en bevraagteken hoe dit diversiteit in die land bevorder. Deacon maak voorts die argument dat “swak onderwysers” en “’n gebrek aan ’n bevredigende befondsings- of personeelvoorsieningsmodel vir parallelmediumskole” die oorsaak is vir die benarde posisie waarin onderwys in veral Gauteng verkeer, terwyl die sukses van “sommige Afrikaanse skole” te danke is aan ’n internasionaal bewese praktyk, genaamd moedertaalonderrig. Op ’n ander plek beroep hy hom op ’n uitspraak in die Konstitusionele Hof om sy bekommernis oor die aftakeling van skoolbeheerliggame se status as “bakens van hoop” uit te spreek.

Elda de Waal (in gesprek met Naomi Meyer op LitNet) interpreteer dit eenvoudig as “afguns”. Vir haar is dit ’n geval dat die Departement Basiese Onderwys eenvoudig moedeloos is met die groot persentasie skole wat swak funksioneer, waar die beheerliggame wanfunksioneer of hulle funksies onvoldoende uitvoer en wat derderangse prestasies oplewer en nou klaarblyklik “skuiwergate [sien] om sogenaamde aanpassings en voorstelle in artikels van die Skolewet te maak wat hulle dilemma minder ernstig sal laat lyk”.

Die Monitor en Spektrum op RSG-inskrywings op Facebook van 24 Oktober 2017 wemel van galbrake wat wissel van “standaarde en kwaliteit van opvoeding” en die regering se skynbare “sosialistiese agenda” tot vrees dat die regering eenvoudig verval in ’n “duiwelstaat”. Algemene sienings word gehuldig dat sekere openbare skole wat op ’n hoër standaard as ander was, nou probeer afgetrek word na die standaard van staatskole. Dan volg die gebruiklike antwoord wat eintlik meer verklap as wat voorgegee word: “Niemand het ’n probleem met ras nie” en die regverdiging dat “swart ouers oor hul voete val om hul kinders in te kry by goeie skole ten einde ’n goeie matriek te kry”. In reaksie ná ’n paar vrae wat ek vra in die groep, kom een skrywer tot die slotsom dat dit eenvoudig vir hom gaan oor “Afrikanernasionalisme en die feit dat Afrikaners nie bereid is om afstand te doen van dit wat hulle opgebou het nie”. Hy sluit af deur dieselfde stelling te huldig as dié van die hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), Chris Klopper, dat “Suid-Afrikaanse onderwysowerhede moet besef dat ouers nie daarvan hou om voorgeskryf te word deur politici nie”.

Hierdie uitlatings laat ’n paar vrae ontstaan.

  1. Wat word bedoel met “goeie skole” en “kwaliteitonderrig”?

Vir Colditz is dit

’n sisteem waar skole goed beheer en bestuur word; waar daar toegewyde opvoeders en goeie leierskap is; ’n gedissiplineerde werksomgewing waar daar ’n ritme is waarin aktiwiteite plaasvind deur die loop van die dag; waar almal weet wat van hulle verwag word, wat hulle moet doen, wanneer hulle dit moet doen en hoe hulle dit moet doen; waar daar ’n betrokke ouergemeenskap is en waar baie sterk leierskap in terme van bestuur en beheer bestaan. (In ’n RSG-radio-onderhoud op 30 Augustus 2017)

Wat dan van ander skole wat nie aan al hierdie vereistes voldoen nie, maar waar mense elke dag skool toe gaan om ’n eerlike dag se werk te doen, meer as wat verwag word doen vir kinders en gemeenskappe, maar wie se pedagogieë ingegee word deur die responsiwiteit teenoor die nood van kinders uit benadeelde gemeenskappe wat hul uitdagings saam met hulle in die klaskamer bring? Byvoorbeeld om eers te sorg dat ’n kind gevoed is voordat hy begin met werk. Om ’n ouer aan die hand te vat wat self ’n slagoffer is van generasies van sosiaal-maatskaplike kwelpunte?

  1. Hoekom bestaan daar die persepsie dat sommige skole se standaarde beter as ander s’n is, veral toe swart ouers skole buite die township verkies in die soeke na beter geleenthede vir hul kinders?

Dit lyk asof daar vergeet word van die historiese erfenis van verskillende groepe mense in die land wat die klimaat vir hierdie verskynsel geskep het. Armoede gedurende apartheid was byvoorbeeld die resultaat van stadige ekonomiese groei wat gekulmineer het in ekonomiese stagnasie in die 1980’s. Die apartheidstaat het egter gesorg dat die bietjie ekonomiese groei wat daar wel bestaan het, “gekaap” was deur ’n klein groepie binnekringmense (Seekings en Nattrass 2015:28). Veertig jaar van apartheid het tot baie diep ongelykhede in skole gelei waarvan rasongelykhede die mees opvallende was. Dink terug aan die grootskaalse besetting van grond en die gevolglike 1913 Native Land Act. Dink aan die verwoestende gevolge vir die families en gemeenskappe wat deur die trekarbeidstelsel veroorsaak is. Dink aan die trauma van gedwonge verskuiwings; die vernedering van die paswette; die psigologiese skade wat aangerig was aan niewit Suid-Arikaners in terme van menswaardigheid en vaardighede. Bantoe-onderwys, die “slegs blankes”-tekens in publieke plekke; die brutaliteit van die polisie en veiligheidsmagte; die martelings en uitwissing van anti-apartheidsaktiviste en die plafon wat gestel is op swart ontwikkeling deur die reservering van werk vir wit mense, asook die onbehoorlike sosiale, mediese en opvoedingsdienste (Du Preez 2013:13–7).

Vanweë die onderdrukking van mense van kleur moes ouers, opvoeders en leerders uit daardie gemeenskappe mobiliseer en baklei teen ’n regering wat nie vreedsame gesprekke aanvaar het nie. Skole in swart gemeenskappe (dikwels gesien as simbole van apartheidonderdrukking) het dikwels die teikens geword van mense se frustrasie. Maar toe die stof van die bevrydingstryd gaan lê en die meeste mense terugkeer na hul lewens, was die meeste swart Suid-Afrikaners steeds in townships, plakkerskampe of verlate landelike gebiede. Baie min het vooruitsigte van werk en ’n goeie lewe gehad. Hul skole was aan flarde en hul bestuurs- en dissiplinêre stelsels traumaties geaffekteer vanweë die kameraadskap wat tydens die bevrydingstryd gegeld het.

Die Kodesa-ooreenkoms tydens die laat 1990’s was (soos Lesufi tereg noem) ’n onderhandelde ooreenkoms tussen swart en wit Suid-Afrika. As deel van hierdie ooreenkoms gedurende 1992 sou voormalige wit skole en die bevoorregting wat hulle van die apartheidsregering ontvang het, onaangeraak bly in ruil daarvoor dat hulle transformatories sal word en hulself sal oopstel vir die res van die Suid-Afrikaanse bevolking. Hulle is die opsie gegee om groter outonomiteit van die regering te verkry en staatsgesubsidieerde skole te word (Deacon 2015:22). Met die aanvang van die SASA (South African Schools Act) op 1 Januarie 1997 is al hierdie skole as publieke skole verklaar.

Suid-Afrika het ongetwyfeld baat gevind by mense van Europese oorsprong. Hulle het tegnologie saam met hulle na Afrika gebring wat nie hier bestaan het nie. Baie van hulle was ongelooflik hardwerkend en vernuwend. Hulle het beslis gehelp om te bou aan die infrastruktuur in Suid-Afrika. Niemand ontken die rol van Paul Kruger, die destydse president van die Transvaalse Boererepubliek, en dat ander, soos Koos de la Rey en Christiaan de Wet, helde vir hul gemeenskappe was in hul stryd teen die onderdrukking van die Britte tussen 1899 en 1902 nie. Ook nie dat Afrikaners baie gedoen het vir die opheffing van hul gemeenskappe deur opvoeding nie. Dit is ongetwyfeld so dat hulle ’n hoë standaard gestel het in hul skole in terme van onderrig, opleiding, bestuur en dissipline in gemeenskappe wat hulle goed ondersteun het. Hierdie skole staan vandag nog in tradisioneel wit gemeenskappe (wat natuurlik nie meer so homogeen is nie).

Volgens Statistiek Suid-Afrika het 76% wit mense van die ouderdom van 20 jaar en ouer teen 2011 ’n graad 12-kwalifikasie gehad in vergelyking met 64% Indiër-, 35% bruin en 31% swart Suid-Afrikaners. Feitlik alle wit jongmense het by ’n voormalige Model C-skool of privaatskool skoolgegaan. Feitlik almal van hierdie skole funksioneer goed en het standaarde wat met die beste in die wêreld vergelyk. Hierdie skole produseer sowat die helfte van alle gegradueerdes terwyl die oorgrote meerderheid van die swart bevolking steeds vasgevang is in township- en disfunksionele skole. Daardie jong swart mense wat wel universiteitsvlak haal, is dikwels swak voorbereid. Vandag het 20,8% van wit mense ’n tersiêre kwalifikasie in vergelyking met 11,8% Indiërs, 4% bruin en 2,9% swart mense (Du Preez 2013:135). Nicholas Spaull se veelgepubliseerde navorsing oor tendense in die onderwys toon dat feitlik alle wit kinders eers ’n jaar in kleuterskole was voor graad 1. Die wit bevolking kan dus met reg roem op ’n standaard van opvoeding. Maar om dit te gebruik as basis om ’n meerderwaardigheid te regverdig is problematies en eng.

  1. Probleem

Die traagheid onder regeringslui om meer skole te bou, infrastruktuur te skep vir skole en hoë standaarde te handhaaf, is beslis gegrond. Ten spyte van groot geldelike besteding in die onderwyssektor, lyk dit nog nie asof alle skole daarin slaag om jongmense te sosialiseer as produktiewe burgers in ’n demokratiese land nie. Die gebruik van skole vir politieke gewin, asook die blatante korrupsie wat plaasvind in die skoolstelsel asook in die breë Suid-Afrikaanse samelewing, laat mense tereg moedeloos en agterdogtig teenoor die regering. Die tragedie van ’n onverantwoordbare president, sê Judith Februarie (14 November 2017), is dat hy die hele land saam met hom aftrek en ’n vrybrief bied aan diegene, hetsy binne of buite die regering, wat nie vir hul dade verantwoordbaar gehou wil word nie.

Maar om die indruk te skep dat kwaliteit en standaarde net in bepaalde mense, gemeenskappe of skole ressorteer, is naïef en arrogant en gee eintlik die regering net ammunisie om die “ons en hulle”-kaart te speel. Om apaties te staan teenoor die vergrype van die verlede in die land en om aan te neem dat almal na 1994 op gelyke voet geplaas was, wek ewe veel agterdog en opstand by mense wat anders as ander lyk. Om die indruk van ’n parallelle bestaan (“ons is Suid-Afrikaners solank julle net nie aan ons skole, kerke, besittings raak nie”) te skep, polariseer mense ook verder. Dit help beslis nie met sosiale kohesie en versoening in die land nie.

Korrupsie kan ongelukkig nie net gesien word in die regering van die land of in Jacob Zuma nie. Dit is iets wat aanwesig is aan albei kante van die parlementsvloer, onder alle rasse en in alle gemeenskappe. Om die kwessie van skole te reduseer tot afguns, afbring van standaarde en wegneem van regte is ’n oorvereenvoudiging van ’n baie komplekse probleem wat mense in die land op verskeie vlakke raak. Daar kan dus nie ’n kitsoplossing wees wat net ’n bepaalde groep se belange bevorder nie.

  1. Moontlike oplossings
  • Wat ons nodig het op ’n nasionale vlak, is ’n multidimensionele opvoedkundige benadering – ’n opvoedkundige Kodesa as jy wil – waar mense uit al die sektore van die samelewing ’n rondetafel- en oop bespreking gaan hê oor onderwys in die land vir die ontwikkeling van al sy inwoners. Maar belangrik hier is dat alle betrokkenes die nasionale belang bo dié van groepe of individue plaas.
  • Dit gaan van ons almal in elke gemeenskap verg om eerstens te erken dat ons steeds bevooroordelend is en mekaar met agterdog bejeën en dat enkele korruptes onder ons (hetsy in die vorm van koverte uitsluitingspraktyke of ’n bevordering van ’n nuwe swart elitistiese agenda) ons nasionale poging van sosiale kohesie kaap.
  • Ek steun nie die retoriek van ’n swart regering wat lui dat wittes eerste gesteel het en daarom kan ons tweede steel nie.
  • Ons het ’n land om te red en het dus ’n Madiba-De Klerk-perspektief nodig, tesame met ’n verenigde front van die burgerlike gemeenskap wat nie enge politieke belange nastreef nie, maar nasionale belang eerste stel.
  • Daar is baie inisiatiewe wat ons op grondvlak kan implementeer, maak nie saak hoe klein of hoe groot nie, byvoorbeeld die “’n besigheid neem ’n skool aan”-inisiatief Partners for Possibility (Louis Van Rhyn), waar maatskappye met skoolhoofde verbind. Tydens hierdie samewerking, ontmoet mense vanuit verskillende rassegroepe mekaar gereeld, werk saam aan kollektiewe projekte – nie net finansieel nie – en bied ondersteuning aan mekaar oor bedryfstrategieë, bestuur- en beheerstyle en ander vaardighede.
  • Maar ons inisiatiewe hoef nie groot en sigbaar te wees vir almal nie. Die kernpunt is dat ons almal by die mikrovlak van die samelewing (die ouerhuis) begin om ons kinders toe te rus met ’n taal van hoe om ’n diverse samelewing te navigeer, ’n doelbewuste alternatiewe narratief as die een wat sentreer rondom ras, en op so ’n wyse ’n ander diskoers in die land meebring.

Lees ook:

#StopSkoleKaping: ’n Lelike dag wanneer openbare skole weer staatskole word

Jaco Deacon
SA Skoleseminaar | Schools Seminar

"Gedink jy as ouer het die reg om te besluit oor jou kind se onderrig? Nie as die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ’n werklikheid word nie. Jaco Deacon, onderwysregspesialis en adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê as gewone Suid-Afrikaners nou hul demokratiese plig versuim, pak donker wolke saam op die horison."


Wat beteken die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys?

Elda de Waal, Naomi Meyer
SA Skoleseminaar | Schools Seminar

"Die wetsontwerp misken die gebrek aan genoeg skoolgeboue, genoeg leermateriaal, relevante en gehalte-opleiding van beheerliggame en die rol wat ouers móét speel by die skool waar hulle kind in die klaskamer sit."


  • 3

Kommentaar

  • Die terugverwysing na die onderwys voor 1994 is reg. Bring die agtergeblewenes op na die nodige en gewenste standaarde sonder om die hoë standaarde wat wel bestaan af te takel. Die leerlinge, wit en swart, verdien hoë standaarde. Bestaandes en nuut verwerfdes. Hulle mag nie die politieke speelbal wees van ideologieë of politieke sieninge soos die van die uitgesproke LUR in Gauteng nie. Nie een van die kinders verdien dit nie. Die sukses van onderwys word bepaal deur wat tussen die vier mure van 'n klaskamer gebeur. Kry SADTU-lede se luiheid en politiek uit skole. Hou onderwysers verantwoordelik vir swak professionele gedrag. Lei meer onderwysers op. (Graad en diploma - nie BEd nie) Verbeter onderwysergetalle tot leerlinggetalle. Verhoog onderwysertoekennings aan skole. Motiveer ouers om kinders se primêre opvoeding soos maniere leer, respek ens self te doen. Onderwysers kan dan in vrede onderrig en kinders kan leer sonder die swak gedrag van leerlinge in skole.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top