Die Sê se eie drie-eenheid

  • 13

Ons word daagliks hier op die Sê vermaak deur die spiritueel intelligente uitsprake van ons eie drie-eenheid: Kobus, Dolf en Trienie. My vermoede is dat Kobus die vader is want Dolf en Trienie toon alte veel respek en onderdanigheid teenoor Kobus, die beskikker van alle insig en intelligensie, om self vaders te wees - Trienie wil sommer die spiritueel intelligente ene se wyshede laat boekstaaf! (persoonlik dink ek ook nie Kobus sal met iets minder as die hoofpos tevrede wees nie). Dolfie moet die seun wees want lanklaas het ons soveel onderdanigheid en eerbied teenoor 'n vaderfiguur ervaar as wat Dolfie teenoor sy abba, vader openbaar. Hy eggo so gedienstig die spiritueel intelligente juweeltjies van pappa dat hy die mantel van seun moet kry. Trienie moet die heilige gees wees want haar optrede en onderskraging getuig van die ene heiligheid. Amper soos 'n gees is sy - vêr bo korale.

As die vader die mane nie sien is dit ook vir die seun en die heilige gees verborge. Hoe wonderbaarlik en ondeurgrondelik is die weë van die spirituele intelligensie darem nie!!!

Groetnis
Thomas

  • 13

Kommentaar

  • Thomas, ja, gaan kyk maar na die nuutste plasing daar op die Jupiter-debat (my repliek is op die oomblik nog nie geplaas nie, maar ek dink jy sal self sien wat se twak hy praat, want hy plaas nogal ewe self die skakel wat sy eie bewerings weerlê!). Ek kan nog steeds nie heeltemal agterkom of die Vader 'n absoluut patologiese leuenaar is, en of hy bloot net nie verstaan wat hy lees nie, en dus nie eers agterkom watter gek hy van homself daar maak nie. 

     
    Reken nou net: sy sig is skerp genoeg dat hy voorwerpe van 'n paar meter in deursnee oor 'n afstand van meer as 400 000 km kan onderskei, maar hy kan die mane nie eers met 'n teleskoop sien nie. 
     
    Maar nou ja, miskien is jy reg, en is dit maar ons eie gebrek aan spirituele intelligense wat maak dat ons nie die Waarheid kan sien nie. Wonderbaarlik en ondeurgrondelik inderdaad! Maar ek dink nie ons hardkoppigheid pla hom nie. Hy skryf nie vir ons nie, maar vir sy eie sikofante, en hulle het nou al gewys dat hulle enigiets glo wat hy skryf (hoewel hulle afwesigheid in daai Jupiter-debat nogal opmerklik is).
     
     
     
  • Thomas — Hierdie wonderlike stukkie insig verdien voorwaar die toekenning vir 2012?
    Groete
    Panda

  • Kobus de Klerk

    Jy demonstreer maar net weereens die tipiese agnostiese insigloosheid en onvolwassenheid, Thomas.

    En ons ken jou as opgeblase grootprater wat nooit 'n bydrae kan lewer tot 'n gesprek nie en as jy wel toetree, dan is dit in jou hoedanigheid as 'n sieklike kwaadstoker - so 'n ou viswyf soort by 'n skinder teeparty. Nie dat jy ooit slaag nie.

    Geen ware gelowige is aan mekaar onderdanig nie, maar algar van hulle, aan die HERE en betoon ook aan mekaar respek en eensgesindheid. Ons is egter algar onderdanig aan die Waarheid wat die HERE deur ons algar met ander deel, want die HERE Self is daardie Waarheid.

    As ons sou leuens verkondig, of dit nou oor Jupiter is of oor sake Gods, sal ons mekaar onderling daaroor in liefde teregwys, want ons algar dien die Waarheid en nie die leuen, nie. Dit is juis wat ons van julle onderskei. Maar hulle het ook insig in wat ek oor Jupiter en die ander kwessies weergee, iets wat jy nie oor beskik nie - insig - en hulle weet ook dat ek besig is om julle leuens en wanvoorstellings daaromtrent oop te vlek deur indringende vrae te vra en julle met die konsekwensies van  jul eie stellings te konfronteer. Vandaar julle woede en intense antagonisme.

    Ek sal elders meer hieroor sê.

    Kobus de Klerk

  • Beste Thomas,

     
    Fiksie werk mos in drieë. Alles wat snaaks is, kom in drieë: die drie varkies, die drie-enige god, Goue Lokkies en die drie bere, three blind mice, thee Billy goats Gruff; grappe soos die Engelsman, die Ier en die Skot;  die blondine, die brunette en die rooikop. Dan is daar  die Latynse spreekwoord:  "omne trium perfectum".
     
    Maar ek dink jy verwys na die "three stooges."
     
    Groete
    Angus
  • Kobus

     
    Nou hoe verdien ek nou die titel van opgeblase grootprater? Ek erken dat ek nou en dan vir myself opgeblase in die spieël voorkom, maar grootprater - wees bietjie meer spesifiek? 
     
    Thomas
  • Brianvds

     
    Dankie dat jy my weer aan die Jupiter-mane-debat herinner het. Dis Sondagmiddag en ek besluit toe om die korrespondensie (wat nou al by 66 plasings trek!) almal te lees terwyl ek nou lê en niks doen hier in Ballito. Dis 'n heerlike dag hier maar my 60 jarige lyf kan nie meer die son en die see soos in my jong dae verwerk nie. 
     
    Ek moet sê ek het nou 'n hoogs vermaaklike tydjie deurgebring en moet jou komplimenteer met jou geduld. KdK het duidelik nie 'n benul van wiskunde of fisika nie en probeer 'n argument voer op grond van Google brokkies wat vir hom gepas voorkom. Die probleem is dat hy nie weet dat hy nie weet nie. Ek het self wiskunde en fisika tot op derdejaarsvlak op universiteit geneem en dit is vir my duidelik dat hy geen idee het van die beginsels van gravitasie, Kepler of Newton se wette nie. Sy argumente maak gewoon nie wetenskaplike sin nie - vandaar my stelling dat sinvolle gesprek met hom nie moontlik is oor 'n onderwerp waarvan hy nie die teoretiese onderbou het nie.
     
    Jy verdien werklik 'n medalje vir jou poging. Ek sien egter Kobus verklaar jou tot verloorder in een van sy laaste skrywes wat maar weer bewys jy kan nie teen 'n duif skaak speel nie!
     
    Groetnis
    Thomas
  • Thomas: Jy is reg: die probleem met Kobus is dat hy so onkundig is oor die onderwerp dat hy nie eers besef watter volslae gek hy van homself maak nie. Gaan kyk maar na die nuutste plasings daar, en sy interpretasie van die Wikipedia-artikel oor magnitude. Hy verstaan glad nie wat hy lees nie, maar beur moedig voort. 

    Ek dink die probleem is dat hy homself absoluut genoop voel om te verskil van enigiets wat ’n "agnost" sê. Ek moet miskien met groot fanfare aankondig dat die aarde min of meer sferies is, en dan kyk ons hoe hy deur vurige hoepels spring om my verkeerd te bewys. 

  • George Claassen

    Mense, julle mors jul tyd om met Kobus de Klerk te argumenteer. Hy moet asb. die volgende aan LitNet se lesers bevestig: waar hy deesdae woon? Wat het hy met die trustfondsgeld gemaak wat hy gesteel het en wat gelei het tot sy skrapping deur ’n regter van die prokureursrol? Gaan lees gerus die volledige teks van die Carte Blanche-program by http://beta.mnet.co.za/carteblanche/Article.aspx?Id=1921. Die man is niks anders as ’n swendelaar nie en nou hou hy hom heilig oor sy God en sy geloof. Ag asseblief, mnr De Klerk, het jy geen skaamte nie? Ons weet reeds jy het geen wetenskaplike waarnemingsvaardighede nie, maar skaamte? Laat ek maar weer Johannes Kepler aanhaal want sy woorde het deeglik betrekking op De Klerk: "Solank as die moeder, Onkunde, leef, is dit nie veilig vir Wetenskap, die kind, om die bedekte oorsake van dinge bekend te maak nie."

  • George: Ek weet nie of ons seker kan wees dit is dieselfde Kobus de Klerk nie?

    In ieder geval, argumentering met hom sou nutteloos gewees het as die doel was om hom van enigiets te oortuig. Maar dit is nie my doel nie. Ek hou daarvan om hom aan die praat te hou: hy skiet homself oor en oor in die voet en is sy eie (en fundamentalisme se) grootste vyand. 

    Soos alle fundamentaliste kan hy homself nie help nie: hy MOET eenvoudig vir almal preek, en hoe meer hy dit doen hoe minder geloofwaardig raak hy. 

    Ek sou saamstem dat dit nogal frustrerend kan wees. Ek het immers nou al meer as tien jaar te doen met internet-fundamnetaliste, en mens raak na ’n tyd nogal moeg daarvan. 🙂

  • George

    Kobus het vir hom ’n paar ondeurdringbare oogklappe aangeskaf met daardie trustgeld. Die res spandeer hy seker aan Google-toegang om die twee goue plate waarop god sy woord aan onse Kosie geopenbaar het, te probeer ontrafel. 

    Thomas

  • George – Kobus skryf: “Maar in realiteit is dit die hoë bome wat die meeste wind vang en só is dit met regslui wat hoë profiel praktyke het. Ek het ’n oordeelsfout begaan, ja, maar ek het dit juis nie uit selfsug gedoen nie en dit is die onderskeiding.”
    Het jy nou al so iets in jou lewe gehoor? Die die trustfonds wat pennieloos deur sy toedoen gelaat is, was maar net ’n onselfsugtige oordeelsfout. En hy is wragtig so arrogant dat hy homself steeds klassifiseer onder hoë bome en sy gewese praktyk beskryf as ’n hoë profiel praktyk. Jy’s reg – absoluut skaamteloos!
    Die skakel is: http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=61202&cat_id=160
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top