Die SAKP en Blade Nzimande

  • 0

Blade Nzimande

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) van Blade Nzimande het reeds voor die verkiesingsveldtog vir die 2019-verkiesing uitgesak as ’n flouerige perd wat na die verkiesing op die politieke rommelhoop sal beland.

Die SAKP, wat soos ’n parasiet op die rug van die ANC ry, het onlangs uiteindelik hul dreigement uitgevoer dat hulle in die toekoms op hul eie aan verkiesings gaan deelneem.

Dié lafhartige dreigement was voorheen egter nooit ’n ware dreigement nie, omdat hulle altyd net die waters getoets het om groter invloed op die ANC uit te oefen.

Toe misgis Nzimande hom heeltemal deur Jacob Zuma in die openbaar aan te val. Dit nadat die skynheilige Nzimande instrumenteel was in die verkiesing van Zuma as ANC-president op die ANC se nasionale konferensie in Polokwane in 2007.

Nou is Nzimande voor in die koor deur Zuma van korrupsie en staatskaping te verwyt. Hy vergeet gerieflik dat hy destyds saamgesweer het om Thabo Mbeki as staatshoof te verwyder.

Nzimande het onlangs so gemaklik geword dat hy Zuma by elke openbare geleentheid met kaal vuiste gepak het. Zuma het keelvol geword en Nzimande as minister van hoëronderwys afgedank.  

Die vet was in die vuur en gevolglik het Nzimande en sy makkers, soos adjunkminister Jeremy Cronin, hul jare lange dreigement uitgevoer deur die ANC in die onlangse raadsverkiesing van die Metsimaholo-munisipaliteit in die Noord-Vrystaat teen te staan. Dié munisipaliteit bestaan uit dorpe soos Sasolburg, Oranjeville en Deneysville.

Dit was die eerste keer sedert 1994 dat die SAKP op sy eie aan ’n verkiesing deelgeneem en drie setels gewen het. Die ANC het 16 gewen, die DA 11 en die EFF 8. Die raad gaan na alle waarskynlikheid deur ’n koalisieregering regeer word omdat geen party ’n volstrekte meerderheid het nie.  

Die Sasolburg-verkiesing dui op drie werklikhede. Eerstens dat die alliansie tussen die ANC en die SAKP ’n seremoniële alliansie is wat glad nie werk nie. Trouens daar bestaan nie eens meer ’n werksverhouding tussen hulle nie.

Tweedens dui dit op die irrelevansie van die SAKP en dat Nzimande – soos Tim du Plessis dit gestel het – “’n verstreke entiteit is”. Die steun wat die SAKP in die verkiesing gekry het, is hoofsaaklik van ontevrede ANC-lede in Sasolburg wat teen die ANC se provinsiale voorsitter, Ace Magashule en Zuma-makker gekant is.

So kiesers het nie noodwendig teen die ANC gestem nie, maar teen Magashule en Zuma.

Derdens is die SAKP en die ANC oor die jare deur hul gemene deler, naamlik om apartheid te beveg, bymekaar gehou. Apartheid bestaan nie meer op die wetboeke nie. Hul saambestaan bestaan dus nie meer nie.

Die SAKP het ook sy oorspronklike idee – om vir die belange van werkers te veg – verloor. Dit is strydig met die doel waarom dié party in 1921 as die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) gestig is.

Die georganiseerde werkersbeweging het tot in 1921 net uit wit werkers bestaan. Die KPSA is dus in 1921 gestig om swart werkers te verteenwoordig. Dié stigting het die politieke landskap verander en in 1953 is die party se naam na die SAKP verander.

Die SAKP van vandag is ’n heel ander party as in 1921, 1953 en 1994. Hul leiers dra Gucci suits en is boonop closet-kapitaliste. Daar is eintlik nie kommuniste oor in die SAKP nie.

Trouens, kommunisme bestaan nie eens as ’n staatsbestel in Suid-Afrika nie, want ons het ’n grondwetlike demokrasie wat opposisiepartye toelaat.

My advies aan die SAKP is om aan die verkiesing in 2019 deel te neem om kiesers ’n kans te gee om met opportuniste soos hulle finaal af te reken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top