Hy steek sy hand uit,
hy vat, en dis mis,
vat weer, weer mis.
Die windturbulensie laat fladder die posseël lug in.
Hy steek sy hand op, gryp agterna,
en onthou – onthou sy graad een klas,
sy handjie in die lug:
‘Jefrou, ek wil gaan kamervelaat’
Sy hande nou droë blare
waar die jare in meanderare manifesteer.
Sy kamerverlaat nou inperkings van inkontinensie,
die **sypelkan in ’n oumensdoek
by die koffiekroeg van geriatrie.
Sy dowwe gees volg die vliedende posseël lug in,
opwaarts, verbeel hom self oor horisonte
vliedend agterna,
ewenaar verby, die ander halfrond in.
Sonder brief, egter, soos’n SMS per ongeluk gestuur
voor dit voltooi is.
En hy wag … wag, tevergeefs.
Die koevert, reeds toegeplak,
‘Return to sender’ agterop, lê langs die Bybel
met ’n vorige brief, soos ’n geaborteerde fetus
aan hom teruggestuur,
‘Address unknown’ in rooi
bo oor sy bewende handskrif.
Hy steek sy hand uit, vat, vat mis,
en stamp die pilleflessie van die tafeltjie af.
'Tafeltjies', 'flessies', 'oumensies';
alles word kleiner, dink hy, behalwe die verlange.
Die sakdoek vat hy raak.
Sakdoeke dep dinge soos kwyl en trane.
Dankie vir sakdoeke en U genade, Heer, prewel hy, moeg,
en onthou – ook uit sy kinderjare:
*Repos ailleurs.
Johann de Jager Sondag 26/6/2016 Onrus
*Repos ailleurs. Die rus is elders (Totius)
**Sypelkan. Perculator
Kommentaar
Ja Johann, so uit die hart uit. Sterkte
Ek het vandag iemand ontmoet op wie dié gedig geskoei kon wees.
Dis ontroerend .... so fyn geskryf.
Dit wek soveel deernis. Hoeveel oumense is daar net nie wat so eensaam, alleen hierdie pad moet stap.