Die robot

  • 1

Oskar Krowalski was in my klas. Op die eerste dag al, dit weet ek nou, was hy geskool in meer as die res van ons. Sy land was iewers onvoorstelbaar ver, waar ’n “a” wat vir ons laat “amper” sê het, hom dadelik aan “armoede” laat dink het en ’n “g” aan “gewere”. Lesse van die geskiedenis kón ek nie toe al geleer het nie, geeneen van ons kon nie. Ons kon net die onderwysers napraat.

Die eerste keer wat ek by Oskar gaan speel het, het sy ma se klere en syne ’n dubbele indruk op my gemaak. Dun gedra maar goed versorg; verslete en gestryk. Asof hulle dié kledingstukke lank gelede geskenk gekry het.

Meneer Krowalski was nog in Johannesburg waar hy gewerk het. Saterdae is die tiekieboks daar naby hul huisie vol lag en huil gebel soos wat hulle mekaar op die hoogte van sake gebring het. Oskar het vertel dat ’n geleentheid Kaap toe al twee keer deur die mat geval het en hoe sy pa se skofte hul planne in die wiele gery het.

Mevrou Krowalski kon Afrikaans al effens verstaan, maar sy het haar op ’n karige bietjie Engels verlaat. Haar manier van gesels en haar voorkoms het op mekaar gelyk: effens stram, maar sag en opreg. 

Ek het ja gesê vir nog limonade en toe wys Oskar vir my die storierobot van Meccano. Ek vra watse ding is ’n storierobot? Oskar sê dis ’n robot wat stip luister na alles wat jy sê. “As dit nie hou van wat jy sê nie, verdwýn jy,” fluister hy haastig. Niemand weet wat die storierobot goed- of afkeur nie.

“Nou hoekom het jy dit dan nog?” vra ek saggies. Hy moes die robot uitmekaar haal vir die vlug hiernatoe, maar met sy goeie geheue het hy dit in ’n japtrap herbou. Sewentien van sy skoolmaats het elkeen ’n stukkie bygedra van die robot. Sy ma wou vir eers niks van die robot weet nie, maar toe besef dis al wat hy van sy maats van daar oor gehad het.

Die robot had in sy een ysterklou ’n blikkie koeldrank waarvan ek die logo ken, maar die res van die skrif was in hul taal.

Ek het gesien die blikkie is vol roesmerke, maar nog nie oopgemaak nie. Asof Oskar die blikkie behou het om iets te onthou. Dit was die eerste keer dat ek ’n storierobot gesien het en ek wis toe glad nie waartoe so ’n kontrepsie in staat is nie.

Mevrou Krowalski was besig om hul klein, netjiese woning skoner te vee en te dweil. Sy het vir ons weer limonade geskink, flouer as die eerste glas. Oskar het net begin vertel van die eerste week toe hulle hier was en hulle ’n ruk lank in ’n huisie in iemand se tuin gewoon het.

Toe gaan sit hy langs die robot en knik asof hy by die robot toestemming kry om verder te praat.

“Hoe amper het jy al ’n beskermengel gesien?” vra hy.

Ek was uit die veld geslaan. Ek sê: “Nie eens naby amper nie.”

"Wel, die enigste rede hoekom ek amper een gesien het, is omdat hy die vergeetagtige een van die hele klomp was.”

Mevrou Krowalski het in die deur kom staan. Toe Oskar begin vertel, het mevrou Krowalski se oë waterig geword. Seker omdat hy lanklaas gelukkig genoeg was om vir iemand ’n storie te vertel. Vir Oskar, blyk dit toe, was die gedagte aan beskermengele iets wat eers ná hul reis vir hom begin bestaan het.

Tuis in die die skool daar ver was die storierobot in elke klas stil-stil op die uitkyk vir enigeen wat verwys het na enigiets wat met godsdiens te make het. Selfs waar hulle vandaan kom, kon niemand eens raai nie, wat nog te sê práát van beskermengele. Dit is eers hier, vér van die huis, dat hy kon lees en glo wat hy wil.

Hy begin vertel met die rustige gebare en aanloop van ’n opperste storieverteller. Hy skuif ingedagte rond, vra of ek nog iets wil drink, gaan toe stadig voort: “Ek het die engel aan sy skoene herken. Albei was ’n hele paar meter bokant my in die lug.”

Ek het my skoon uit my lus vir limonade verbaas.

“Mens kon duidelik sien ’n engel het die skoene aan. Volgens die skoene moes die engel in die pad af gekyk het. Ek wou eers roep, maar toe dink ek, wag ’n bietjie en toe praat ek maar op die amptelike manier, met ’n skietgebedjie. Ek het hom bedank vir sy goeie werk en gesê ek weet hy moet seker moeg gewees het. Toe laat ’n bries die skoene kantel, maar nie soos wanneer jy stap of ’n klippie uitskud nie.”

Ek fluit sag tussen my tande soos ek my pa al hoor fluit het as hy iets amper nie kan glo nie, maar dit baie geniet.

Verlig en gelukkig het Oskar na die robot geknik. Wat die robot so ver in die wêreld moes goedkeur of doen, kon ek glad nie snap nie. Skielik het daar glase in die kombuis se opwasbak gerinkel. Ek weet nie wanneer mevrou Krowalski weggedraai het na die kombuisie toe nie. Sy het seker maar ingedagte gestaar na hoe druppels in die lou water val of na die foto'tjie van haar man op die kombuistafel of die eenvoudige houtkruis aan die muur.

Ek vertel hom toe van tannie Truda wat met haar foto's in die voorhuis gesels het. Uit die hoek van my oog sien ek mevrou Krowalski kom weer in die deur staan. Ek sê toe tannie Truda is ’n niggie van Pa.

“Ek dink jy sou iemand soos my tannie Truda baie geniet het. Sy was jolig en kon effens skree as sy begin lag. Sy het saans voor ete gou ’n paar woorde met die portrette in die voorhuis gesels, kuiermense of te not. Haar portretpratery was nie vreemd as jy haar leer ken het nie. Sy het gewéét sy praat met foto's. Dit het haar gehelp om stukke van haarself in elkeen van daardie foto's te onthou, al was hulle almal so lank uit die verlede.”

Oskar het teruggesit en geglimlag, want ons het albei geweet die storierobot het nog nie ’n skwiek gemaak of ’n rat laat klak nie. Dalk werk die robot nie in Suid-Afrika nie. Is dit nie maar iets soos tannie Truda en die portrette nie? Dalk kan Oskar dit maar wegpak en hoef hy nooit meer daaraan te dink nie. Die koeldrank sal darem seker nog orraait wees. Ek was al ’n bietjie moeg van die al hoe flouer limonades.

Daardie middag het ek hul land leer ken as ’n plek waar stories vertel word in die skaduwees van ’n groot, streng Meccano-robot waarvan die kleure al amper af is. Die wasige lug bo die ou stede was seker so dun en uitgewas soos die Krowalskis se vaal gordyne. Buite was glo ’n ou watertenk, ook so ’n Russiese rooi soos die blikkie. Dit was aan die kant van die huis en het ’n lang skaduwee teen die huismuur en oor ’n bedding met yl saailinge gegooi. Voor die kuier het ek niks van hul land geweet nie en daarna het ek ook nie veel onthou van die plek nie. Die naam van die stad waar hulle vandaan is, het hy amper onherkenbaar uitgespreek en so binnensmonds, dis asof die plek se naam agter in hul keel bly woon het.

Oskar het vertel en vertel. Van snerpende winters, maar ook van ’n stofie wat altyd gebrand het soos in ’n sprokie. In die groot woonkamer het gordyne gesinne afgeskort sodat die mense hul eie wonings kon hê.

Teen vroegskemer het mevrou Krowalski en Oskar saam tot by ons hekkie geloop en ons het almal mekaar vrolik gegroet.

Later dié week het ek mevrou Krowalski gesien in ’n hokkie by ’n parkeergebied waar sy ’n toesighouer was, ’n karwag. Sy was kalm, toegedraai in gestrykte, uitgebleikte lap. Sy het muntstukke met albei hande ontvang van die motoriste. 

Toe ek hulle daarna eendag weer sien, was Oskar woedend. Ek was op pad huis toe ná ’n tuiswedstryd. Oskar en sy ma het om ’n draai aangeloop gekom. Hy het haar gehelp om regop te loop. Haar oë was glasig. Toe sien ek die kneusplekke en besef iemand het haar seergemaak. Oskar het sisgeluide gemaak terwyl hy aanhoudend bewe. Hy het ’n paar sinne in hul taal uitgestotter. Hy was kwaad omdat hulle sy ma se werkgeld gevat het en woedend omdat sy een van haar enigste twee rokke moes skeur om ’n verband te maak. Dit was om haar kop gedraai.

Woorde het amper té groot inspanning van hom geverg toe hy sê: “Hoekom hier óók? Hoekom! Hoekom!”

Hulle is by my verby nog voordat ek iets kon sê.

Vandag nog weet ek nie wat ek kon gesê het nie. Dit was net voor die vakansie.

Die kwartaal het daarna jillend begin. Ná die eerste warrelwind van nuwe KPA-liniale, boekies met blou lyne, ongekoude potlode en spierwit uitveërs, het ons by mevrou Krowalski se werkplek verbygery.

Die geboutjie was weg. In die plek daarvan is ’n slagboom wat rus op ’n mik. ’n Metaalboks steek vir die motoriste ’n papiertong uit. Dan lig die slagboom op.

Later die dag loop ek na die plek waar hulle woon. In die plek daarvan staan net ’n houerkrat met ’n boufirma se naam en kenteken daarop. Die netjiese erfie van mevrou Krowalski is met bogrond en al weg gegrou. Aan swygsame masjiene sit spatsels wat donkerbruin verdroog het.

Die volgende dag kom ek agter Oskar is nie in die skool nie. Ek vra of iemand enigiets weet, maar nie eens my nuwe juffrou antwoord nie.

Ná die geweld van die dag het ek sleg geslaap. Maar toe was my ouers langs my bed en vra wat ek makeer. Ek het vir hulle vertel wat ek so helder in ’n droom gesien het: ’n Robot so groot soos ’n reus en nuut geverf waggel verby die hoek waar ek die Krowalskis laas gesien het. Die masjien krys, skwiek en klak. Dit trap tuinbeddings weg, laat slaggate in die pad, trap motors plat en smyt muurtjies om.

In die een ontsaglike klou is die koeldrankblikkie nou so groot soos ’n watertenk. Dit het al op plekke heeltemal deurgeroes. Toe die robot om ’n draai beweeg, sien ek bewegings in die blik. Ek hoor gille. Dit klink so bekend. Wat het hulle dan verkeerd gesê of gedoen?

Hoe ek weer aan die slaap geraak het, weet ek nie, maar ek het.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top