Die reuk van appels by KKNK 2017: ’n onderhoud

  • 1

Johan van der Merwe gesels met Steyn du Toit oor Die reuk van appels, wat by die KKNK 2017 speel.

Kan jy my bietjie meer van Theatrerocket vertel, asook watter produksies julle al saam gedoen het?

Theatrerocket is ’n nuwe produksiemaatskappy wat ek en Rudie Sadler einde laasjaar gestig het. Ons eerste produksie was vier produksies vir DEURnis: Koud, Nat, Swem en Bloos. Ons het dit verlede jaar by die HAP (Huis van Afrikaanse Poësie) gedoen. Dit was so suksesvol dat ons dit opgevolg het in Februarie met 12 stukke (waarvan 10 splinternuut was). Die reaksie was oorweldigend en ons is besig om nou 12 nuwe stukke te ontwikkel wat hopelik later vanjaar by ’n fees gaan debuteer voor ons ’n speelvak in Pretoria gaan hê. Ons eerste stuk vir die feeste wat ook uitgebreide teaterspeelvakke gaan hê, is Die reuk van appels, waaroor ons baie opgewonde is.

Gideon Lombard

Hoekom Die reuk van appels as julle eerste kunstefeesproduksie? Wat was dit omtrent die boek wat jou aangeraak het toe jy dit die eerste keer gelees het?

Ek het die boek by 1995 se KKNK by die boekeparadys gekoop, en dit amper elke jaar van toe oorgelees. Vandat ek dit die eerste keer gelees het, het ek geweet dat dit die perfekte eenpersoon-opvoering kan wees. Dit het voor my afgespeel terwyl ek dit lees en ek kon nie verstaan dat teatermakers dit nie dadelik opgeraap het vir die verhoog nie. Toe ek en Rudi besluit het ons wil self stukke begin vervaardig, het ons ’n kortlys saamgestel van stukke wat ons graag sal wil doen. Die reuk van appels het dadelik by my opgekom en ons kon ons geluk nie glo toe ons die regte kry om dit vir die verhoog te verwerk nie. Die boek het dadelik tot my gespreek en ek kon op baie vlakke met die boek identifiseer terwyl dit ’n ongelooflike storie oor ’n spesifieke tyd in die Afrikaner se geskiedenis vertel wat my tot op die laaste bladsy geboei en verras het.

Hoe het die proses rakende die boekregte gewerk? Het julle met Behr se familie te doen gekry, en indien wel, wat was hulle reaksie toe hulle hoor julle wil die boek vir die verhoog verwerk?

Ons het die uitgewers gekontak en nie vir ’n oomblik gedink dat ons as nuwe vervaardigers die regte sou kry nie. Mark Behr is minder as ses maande tevore oorlede. Ons was verheug toe ons die eksklusiewe regte vir twee jaar kry en het dadelik die wiel aan die rol gesit om te verseker dat Die reuk van appels verhoog toe gaan. Met die programbekendstellingsfunksie van KKNK was Behr presies ’n jaar oorlede, en sy ma en suster het daarvan te hore gekom. Dit was vir hulle ’n baie emosionele bittersoet ervaring. Hulle was bly dit gaan verhoog toe, maar sou dit graag met Mark wou gedeel het. Ons het hulle genader en het vir ’n dag vir hulle gaan kuier in Potchefstroom. Dit was ’n baie spesiale ontmoeting. Elize, sy suster, kom spesiaal KKNK toe om die stuk te kom kyk. Ek hoop uit my hart uit dat ons haar nie teleurstel nie.

Hoe het julle met die teksaanpasser, Johann Smit, te werk gegaan om die boek in ’n teaterstuk te verwerk? Wat was van die belangrike elemente van die boek wat julle wou oordra?

Dit was ’n boek van 200 bladsye wat verwerk moes word vir die verhoog. Dit was van die begin af vir ons belangrik dat dit Die reuk van appels op die verhoog moes wees, en nie bloot ’n toneelstuk wat daarop gegrond is nie. Ons wou 100% by Behr se storie bly, maar moes noodwendig sekere aanpassings maak vir die verhoog, anders sou dit báie lank gewees het. Johann het die hele boek in tonele opgesom en dit op papiertjies geskryf. Ons het die dag voor Kersfees saam met hom om ’n tafel gesit en oor elke toneel besin. Ons moes ’n paar tonele rondskuif en ander saamvoeg. Ons moes ook ongelukkig ’n paar karakters in die boek groet. Johann het toe begin skryf en afgevlieg om saam met Lara Bye en Gideon Lombard verder te skaaf aan die teks. Ek kan net sê dat ons baie gelukkig is oor die finale teks en voel dat dit met integriteit gedoen is.

Hoe was die reis om die ideale Marnus Erasmus te vind? Waarna het julle gesoek en hoekom Gideon?

Omdat dit ’n eenpersoonstuk is, was dit van kardinale belang om die regte persoon vir die rol van Marnus te kry. Ek is ’n groot bewonderaar van Gideon vandat ek hom die eerste keer in ... miskien gesien het. Ek het hom ook in verskeie rolle daarna by veral by die Grahamstadse kunstefees gesien. Die beskikbaarheid van akteurs kan ’n groot probleem wees en ons was verheug toe Gideon, nadat ons hom genader het, beskikbaar was en graag die rol van Marnus wou speel.

Lara voel soos die ideale regisseur. Ons het natuurlik reeds gesien hoe goed sy met ’n Afrikaanse eenpersoonbedryf kan werk (Oscar en die pienk tannie), maar hoekom het julle spesifiek gevoel sy gaan hier werk?

London Road en Yellowman is van die stukke wat regtig vir my uitstaan uit duisende stukke wat ek deur die jare gesien het. Ek en Rudi het vir Lara laasjaar by Grahamstad ontmoet. Oscar het haar ook onder gehore by die Afrikaanse kunstefeeste gevestig as ’n regisseur met ’n oog vir besonderhede. Sy was ons eerste keuse vir regisseur en nadat ons haar gekontak het, en sy die boek gelees het, was sy dadelik passievol oor die projek en was ons span voltallig!

By watter feeste sal mens oral die stuk kan sien?

Na KKNK gaan Die reuk van appels ook na die Vrystaat-kunstefees toe. Ons wag nog om van Aardklop te hoor. Twee teaterspeelvakke is ook bevestig: drie weke in September by die Staatsteater in Pretoria, en drie weke in Oktober by die Fugard in Kaapstad.

Ek verstaan die boek word heruitgereik saam met die toneelstuk? Hoe het dit gebeur?

Die boek is op die oomblik heeltemal uit druk uit. Toe die teaterproduksie bevestig is, het die uitgewers ons meegedeel dat die boek as gevolg daarvan herdruk gaan word.

Laastens, wat kan ons andersins van Theatrerocket verwag in die nabye toekoms?

Ons het ’n nuwe produksie vir feeste in gedagte vir volgende jaar, maar vir eers gaan Appels en DEURnis ons besig hou. Ons wil baie graag ook DEURnis Kaap en Johannesburg toe neem, maar as gevolg van die aard van die produksies (waar een akteur vir een gehoorlid op ’n slag speel) sal ons ’n borg moet kry om dit moontlik te maak.

Die reuk van appels word van 10 tot 15 April opgevoer. Alle vertonings vind by die Griesselsaal plaas, en kaartjies kos R110. Vir elke dag se vertoningstyd, sien www.kknk.co.za.

Foto's: verskaf

  • 1

Kommentaar

  • Rika de Bruyn

    Julle se niks van die penis en testikel episode nie! Dit was nou interessant! Sou seker vir menige mense skokkend of selfs onaanvaarbaar wees. Vir my was dit verrassend, maar ek kan nie sê heeltemal funksioneel nie, of hoe?

  • Leave a Reply to Rika de Bruyn Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top