Die reuk van appels by die Fugard-teater: ’n teaterresensie

  • 0

Gideon Lombard (... miskien, The view, Special thanks to guests from afar, Orpheus in Africa en Suidooster) maak sy solodebuut in die verhoogverwerking van Mark Behr se opspraakwekkende roman Die reuk van appels. In die regisseurstoel is Lara Bye (Yellowman, London Road, Oscar en die pienk tannie en Vaslav).

Behr se debuutroman is in 1993 in Afrikaans gepubliseer en later in Engels vertaal. Dit speel in 1974 af en vertel die storie van die 11-jarige Marnus Erasmus, wie se pa ’n jong generaal-majoor in die weermag is, en sy beste vriend, Frikkie, wat allerhande avonture saam met hom beleef. Hy het ’n “irriterende sussie” en sy ma is vir hom “die mooiste vrou op aarde” en boonop nog musikaal ook.

Die kaal verhoog met ’n stoel en weermaguniform laat Gideon toe om sy magiese toormantel oor die gehoor te laat neerdaal. Gideon word Marnus. Dis asof hy elke oggend daardie uniform aantrek, sy kouse regtrek en skool toe gaan; die vreugde oor sy lewe duidelik – selfs in die oorgawe waarmee hy sy geliefde tol gooi. Hy is die onskuldige jong seun met die heldeverering in sy oë as hy na sy pa kyk.

Maar hy swaai net so vinnig om na die ontnugterde jong soldaat wat op brutale manier van sy onskuld beroof is.

Gideon het na afloop van die speelvak by die KKNK vertel: “Op die oppervlak lei die jong Marnus ’n baie ‘normale’ lewe, maar die onderliggende tema is dat dit die middel van die Grensoorlog is, die land is verstrengel in rassisme en ’n kind word groot met onderdrukking en indoktrinasie, want hy glo alles wat sy pa vir hom sê. Op die ou einde gaan dit oor verraad van hierdie klein seun deur die mense naaste aan hom en dit word ’n metafoor vir die land om hom.”

By vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), waar die stuk gedebuteer het, wen Gideon die Kanna-toekenning vir beste akteur. By Aardklop word hy benoem as beste akteur en Lara as beste regisseur.

Dis nie verbasend dat die stuk by die Fugardteater weens publieke belangstelling verleng is nie: dis wêreldklas toneelspel en regie hierdie. En vir twee ure is jy weer terug in die onderdrukkende greep van apartheid en die indoktrinasie waarmee ons as middeljarige Suid-Afrikaners grootgeword het.

Die stuk is tersaaklik vandag; dalk nog meer as 40 jaar gelede. Ons gaan weer onder onderdrukking en indoktrinasie gebuk – dalk onder ’n nuwe bestel, maar die euwel is dieselfde een.

Ouderdomsbeperking: 16 (seks, naaktheid, sterk taal, geweld en vooroordeel)

Die reuk van appels

Met: Gideon Lombard

Deur: Mark Behr

Regie: Lara Bye

Vir die teater aangepas deur: Johann Smith

Die Fugardteater, Harringstraat, Kaapstad.

Verleng tot 11 November 2016

Kaartjies deur Computicket by 0861 915 8000, www.computicket.com of enige Shoprite Checkers-tak of by die Fugardteater se kaartjieskantoor by 021 461 4554.

Foto's: Daniel Rutland Manners

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top