Die restaurant

  • 1

Die restaurant

Die stad is ’n dier met buie. ’n Oerdier wat ’n mens verswelg en jou deel maak van hom sodat die definitiewe lyn waar jý ophou en die stad begin, vervaag. Hier word jy deel van ’n groter geheel, ’n chromosoom wat saam met derduisende ander die DNA dra deur sy betonskelet. Die kollektiewe effek van elke individu se daaglikse bestaan skep ’n enkele groot wese, ’n saamgestelde bewustheid wat groter is as die somtotaal van al die individue saam.

In die strate van Johannesburg word jy onwillekeurig bewus van hierdie intieme verhouding tussen jou en die skynbare chaos van jou omgewing. Soos ’n geliefde kom lê hy hier teen jou lyf en jy voel sy asemhaal, jy hoor sy hartklop en die gerammel in sy maag kreun diep vanuit die strate. Jy beleef sy armoede in die vullis bestrooide steë en voel sy geel oë in jou nek in die skemer beligte arkades wat ruik na dagga, urine en ou sweet. Jy voel sy geweld in jou maag en sy angs klop benoud in jou bors. Jy hoor sy kreet in die toeter van karre en geloei van sirenes. Jy verlang saam met hom as die trein by Parkstasie soos ’n hond vir die maan huil na ver plekke.

Vandag is die stad egter uitbundig. Die winter lê reeds oud in die stowwerige sypaadjies en die kaal wit takke van die groot ou bome wat smekende uitreik na die hemel. So anders as daardie reëndae wanneer donker grys oor die stad sak en die stad se geboue laag-vir-laag onheilspellend voor jou uittroon – die naaste geboue blou-donker en soos jou oë die vertikale lyne op navigeer, die hoër grys geboue agter en dan op-op nog hoër die reuse-, spookagtige torings wat dynserig oprys die wolke in met net hier en daar die helderste ligte in die geboue sigbaar. Dan die illusie dat daar selfs hoër onsigbare geboue agter die hoogstes staan. Hoër en hoër in skets jou verbeelding hierdie onsigbare strukture in jou gedagtes.

Vandag bring die vars van vroeë lente ’n sagte mistigheid wat hierdie rye en rye betonmure toewasem.  Die oggendbries vroetel deur die boomtakke. Voetgangers stap haastig (soos altyd) in alle rigtings.  Studente loop uitbundig, uitspattig geklee en gesels en lag.  ’n Skaatsplankryer gly onverskillig in die besige straat voor ’n taxi in. Die taxibestuurder skel iets onhoorbaar na die skaatsplankryer wat ongeërg voortgly in die straat af.

Teen die swartgeverfde muur oorkant die restaurant poseer modelle vir ’n kameraman en sy regisseur. Ongeduldig skreeu hy sy instruksie bo die gedruis van die straat uit en met komieklike gebare vir die modelle (klaarblyklik amateurs) probeer hy verduidelik wat om te doen. As dié nie werk nie, hardloop hy onverskillig deur die besige verkeer oor die straat om binne hoorafstand te kom. Daar gee hy ’n reeks instruksies aan die assistente met die silwer weerkaatsende borde – ongeduldig – en skuif dan een of twee modelle dié kant toe en dan dáárdie kant toe en hol dan weer terug voor toetende karre verby.  Verfilming, lyk dit vir my, is ure se rondstaan en instruksies gee en ’n paar minute se shooting.

***

Die stad se uitbundigheid dring die restaurant binne. Die plekkie is stampvol. Studente en kantoorpersoneel druis met dieselfde uitbundigheid bo die musiek uit. Langs die toonbank staan ’n rak met ou viniel-langspeelplate en ’n platespeler met ’n kopie van Creedence Clearwater Revival wat lui-lui draai. Teen die mure is ’n reuse--swart-en-wit-foto met ’n toneel van ’n Italiaanse restaurant met ’n dikwielfiets teen ’n boom, lendelam houttafeltjies met laggende vrouens, ’n verliefde paartjie wat sy aan sy sit, kelners met stapels borde, ’n seun – bottel bruiskoeldrank in die hand  ̶  wat ’n bal loop en skop en ’n statige man in ’n grys oorjas wat staan en koffie drink by die toonbank. Dit is asof die uitbundigheid van die mense op die foto oordra na die mense om my in die restaurant. Of is dit net andersom? Is dit die ekstase van die stad wat weerspieël in die indruk wat die foto maak?

Om my is elke tafeltjie beset met klante. Daar is kantoorpersoneel met hulle koppies koffie en notaboeke wat probeer om in die geraas ’n vergadering te hou, hul stemme wat só moet rys bo die gedruis dat ek onwillekeurig die gesprek kan afluister: ’n Bemarkingstrategie; die mees onlangse syfers van een of ander promosie; besigheid en nog besigheid ...

In die hoek teen die vertoonvenster sit ’n student met haar stapels notapapier, ’n bordjie met toebroodjies, ’n glas koeldrank en ’n skootrekenaar waarop sy aandagtig doenig is en dan af en toe sal opkyk en sonder om werklik te kyk, te staar na die gebeure op die sypaadjie. Dit is asof die speling van lig en skadu haar hipnotiserend meesleur.

In die kombuis word luidrugtig gewerskaf. Daar is ’n geklingel van potte en panne wat dan en wan onderbreek word deur die sjef wat sy instruksies uitbulder vir wie ook al moet luister. As die groot houtswaaideur oopswaai sal die reuke van varsgebak (brood?) en gebraaide spek en ’n mengelmoes van soet reuke soos die van konfyt wat gekook word, uitpeul en die chaos in die restaurant omspoel. Met elke oopswaai van die deur sal ’n kelner verskyn met die produk van die skynbare wanorde in die kombuis, of ’n kelner sal verdwyn met die oorskot van die feestelikheid net om oomblikke later weer te verskyn met ’n vol skinkbord belaai met die volgende bestelling. In en uit soos miere van die stad voorsien die kelners aan die stad se bui, binne die kleine van die restaurant.

Meteens staan die kelner hier langs my, amper teenaan, binne hoorafstand en met ’n strak gesig vra hy: "Kan ek vir u nog iets bring, meneer?"

Afrikaans? In hierdie plek? Die man sien die verbasing op my gesig en wys met sy oë na die boek wat op my tafel lê.

Dis ’n groot man met ’n welige bos baard. Beide arms is oordadig getatoeëer en hy dra ’n swart T-hemp met die gotiese logo van ’n rock band half weggesteek agter wit stof van wat lyk soos broodmeel. Ek skat sy ouderdom laat twintigs, vroeë dertigs. Dit is nooit maklik om ’n man met ’n baard se ouderdom te skat nie.

"Brink," sê hy en wys met sy oë, nog steeds ’n strak gesig, na die boek voor my op die tafel. "Nie aldag dat ’n ou so iets hier rond sien nie!"

"Latynse reise," lees hy die titel hardop. Voordat ons die boek verder kon bespreek word ons albei se aandag getrek na ’n vrou buite die winkel.

Sy kyk reguit na ons deur die restaurant se vertoonvenster. Gou besef ons albei egter dat sy nie na óns kyk nie, maar na haar eie weerkaatsing in die venster. Sy vroetel haar hare reg met haar vingers en vee een van die laaste blare van die winter van haar skouer af. Sy loop in en met die oopmaak van die deur waai ’n koel lentebries verfrissend saam met haar by die restaurant in. Sy is formeel geklee. Kantoordrag. Haar ligte bruin hare omvou haar ronde gesig liefderyk tot onder haar ore en haar bruin oë glinster vriendelik om die ligte blos op haar wange te komplimenteer. Haar gelaat is sag. Sy's nie baie lank nie en het ’n ietwat voller figuur wat haar vroulikheid meer beklemtoon.

Sy stap, amper skamerig, na die toonbank en groet die man agter die toonbank vriendelik. Sy word meteens onderbreek.

"Sylvia!" roep ’n manstem van die oorkant van die restaurant en waai na haar.

Sy draai vinnig in sy rigting en toe sy die man met die waaiende arm gewaar waai sy opgewonde terug en haar gesig maak oop met ’n glimlag. Sy stap vinnig na die man en groet hom met ’n ligte omhelsing voordat sy oorkant hom gaan sit by die klein wit tafeltjie. Beide se lyftaal is versigtig toenaderend. Tipies dié van ’n nuutgevormde vriendskap.

***

My cappuccino is klaar, my etensuur op ’n einde, my paar minute se rus-en-vrede en leestyd is daarmee heen. Ek neem my Brink-boek, betaal my rekening en begin stelselmatig my gedagtes terugforseer in die modus van kantoorwerk en lessenaars en rekenaarskerms en fone wat lui.

Die stemming in die restaurant het bedaar want meeste kliënte, veral kantoorpersoneel het reeds verkas. Buite kan ek sien hoe die stad in een van sy twee daaglikse woedebuie uitbars. Karre tou by verkeersligte en die getoeter neem toe in intensiteit. Die wind is nou meer as net ’n bries en die laaste paar herfsblare word wild in die straat rond gefladder.

Sylvia sit met haar hande saamgevou op haar knieë en gesels aandagtig met haar vriend terwyl dié af en toe ’n sluk koffie vat, instemmend knik en vriendelik terugvoer gee. Meteens sit hy sy koppie neer en vroetel nog ’n herfsblaartjie los uit haar hare. Sy ruk ietwat senuagtig, dog vriendelik, terug vir hierdie skielike gebaar en lag dan verleë as hy haar die blaartjie wys.

Vir oomblikke kyk hulle mekaar net woordeloos aan. Dit is asof die stad en die wêreld om hulle meteens uitgesluit word deur ’n onsigbare kapsule. Hierdie stadsdier met sy hartseer en blydskap en haat en liefde verskuif en verdoof weg van hulle. Die blos op haar wange word ’n dieper roospienk. Die gevroetel met die blaartjie het ’n toutjie hare wanordelik oor haar voorkop laat hang. Nóg ’n paar oomblikke skuif stil verby voordat hy weer sy hand na haar uitsteek. Dié keer ruk sy nie weg nie. Sy glimlag net. Weer die plooitjies in die hoeke van haar oë wat sy knip-knip as hy sorgvuldig en delikaat met sy vingerpunte die toutjie hare weer terug rangskik op hulle plek. En toe, asof iets afgehandel is, asof wat gesê moet wees nie meer nodig was nie, sit hulle bloot in stilte en vrede en drink hulle koffie verder.

***

By die restaurant se deur uit word ek onvriendelik begroet deur die, nou kouer, lentewind. Ek trek my nek dieper in my baadjie se kraag en met my hande in my baadjiesakke, boek onder die arm vasgeknyp, val ek in gelid met die res van die skarrelende miere op die sypaadjie. Ek word weer ingetrek in die stad se golwe van menslike stroomversnellings. Die bewuste van die stad kom sit weer in my onderbewussyn. Ek merk op dat die filmspan en modelle ook weg is, dat die straatveërs weer op hulle poste is, krom gebuig oor hulle besemstokke en, net vir ’n oomblik, soos ’n fladdering, spring my gedagtes terug na Sylvia en haar vriend en die verliefde paartjie op die groot foto teen die muur. En toe waai dit ook uit my gedagtes.

  • 1

Kommentaar

  • Ek kyk hier saam met die skrywer na alles wat hy waarneem in die korte middaguurtjie - die gewone en die chaos wat waargeneem word, ek word beskou as deel van dit alles, maar waarvan ek tog nie deel voel nie. Ek bly die vreemdeling. Hou daarvan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top