Die religieusiteit van J.C. Smuts met verwysing na Holism and evolution

Die religieusiteit van J.C. Smuts met verwysing na Holism and evolution

Callie W.T. Joubert, South African Theological Seminary

LitNet Akademies Jaargang 13(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Generaal Jan Christiaan Smuts was ’n veelsydige persoon, soos byvoorbeeld duidelik blyk uit sy boek Holism and evolution. Tog was nie net sy veelsydigheid nie, maar ook die boek en Smuts se begrip van holisme vir baie mense onverstaanbaar. Smuts het sy lesers versoek om die boek te beskou as ’n oplossing vir ’n aantal probleme in die natuurwetenskap, filosofie, etiek, die kunste en ander vakgebiede. In die artikel word aandag gegee aan Smuts se Holism and evolution en die wyse waarop Smuts Bybeltekste inspan om sy begrip van holisme en die evolusie van die heelal toe te lig. Daarmee word insig in Smuts se religieusiteit gebied. ’n Ondersoek van dié Bybeltekste, soos veral opvallend vanaf die vyfde hoofstuk van Holism and evolution, kan tot nuwe insigte lei en is iets wat tot nog toe nie deur studente of kritici van Smuts gepeil is nie.

Die ondersoek begin met ’n kort oorsig van Smuts se skool- en studentejare en hoe hy sy religieusiteit en holisme in homself en sy belewing van die natuur ontdek het. Dit gee aandag aan drie ervarings wat tydens sy studiejare in Cambridge sy lewe ingrypend verander het. Die ondersoek fokus dan op ’n kort ontleding van die Bybeltekste in Holism and evolution ten einde aan te toon dat Smuts sy holisme beskou het as die sleutel tot die verstaan van die heelal, en as die oplossing vir byna elke menslike probleem. Die artikel bespreek hoe Smuts die Bybel gebruik om die belangrikheid van die holisme te onderstreep. Terselfdertyd wys dit op die besondere gesag wat Smuts aan homself en aan sy holisme toegeskryf het.

Trefwoorde: Holisme; religieusiteit; Smuts; spiritualiteit

 

Abstract

The religiosity of J.C. Smuts with reference to Holism and evolution

General Jan Christiaan Smuts was a complex person who was never completely understood during his lifetime. Neither was his book, Holism and evolution, nor his concept of holism. This is in part because Smuts saw his book as neither a work of science nor a work of philosophy, but as a point of contact between the two. He regarded his holism as a solution to some problems in science, philosophy, ethics, art, and related subjects. Smuts also indicated in his book that his holism would affect the spiritual interests of humanity, a subject he hoped to pursue elsewhere but which, unfortunately, he never did. Smuts thus drew solely on insights from science and philosophy to explicate his understanding of holism and evolution.

However, an interesting, but unexplored, aspect of Holism and evolution is the Bible texts that Smuts alludes to, especially from the fifth chapter onwards, to describe and explain his philosophy of holism. His use of the Bible reveals more about himself, his holism and religiosity. It is something that has not yet been explored by either students or critics of Smuts.

Piet Beukes attempted to make the mostly unknown spiritual life of Smuts more understandable to the general public. In his book The holistic Smuts: A study in personality Beukes argued that Smuts was actually deeply religious as a result of insights he had discovered during his youth. In his second book, The religious Smuts, Beukes tries to defend Smuts against those who thought of him as irreligious or an atheist. Beukes represents Smuts as a deeply religious man, a devoted Christian, and an admirer and follower of Jesus. A closer analysis will, however, reveal that Smuts was not in every respect the kind of person Beukes portrayed him to be. Beukes does not seem to fully grasp Smuts’ understanding of Christ, his use of and approach to the Bible and his religiosity as expressed in Holism and evolution. The analysis of his use of Bible texts, as well as other evidence, suggests that Beukes was right to conclude that Smuts saw himself as a powerful figure with a decisive message that determines the well-being of all.

The first section of the article focuses briefly on the religiosity and mysticism of Smuts’s preschool days and the period in which he was a student, first at Victoria College and later at Cambridge University. Prominent during his preschool years was the religious education he received from his deeply pious mother, and his mystical experiences of oneness with nature expressed as, among other things, “the religion of the mountain”. However, a change occurred in his religious views during the years he was at Cambridge. The reasons are threefold. The first two are inextricably connected: they are his study of Darwin’s Origin of species and his subsequent formulation of creative evolution, as well as his experience of studying the poetry and prose of Walt Whitman. Smuts used Whitman to illustrate that personality is the highest phase in the process of creative evolution. The third cause of the change in Smuts was a meeting of Quakers, now the Religious Society of Friends, which he attended in 1906. From the Friends he learned not only that the worship of God was not restricted to churches and cathedrals, but also about an inner presence known by them as the “Inner Light”. These three experiences meant the end of his naive puritanical beliefs and the orthodox views of the religion of his youth.

The focus in the second section of the article shifts to Holism and evolution, with the aim of highlighting Smuts’s use of scriptures. This analysis elucidates his philosophy of holism, and most importantly, his religiosity. Holism permeated his beliefs, his ideology, and offered the solution for problems he saw in philosophy, science, ethics, art and other relevant subjects, as well as the sole solution for almost every kind of human problem on a personal, national and international level. He stated this in 1895, in his book when it was published in 1926, and again in 1948, two years before he died. In fact, after the Second World War, thoughts about how he could recruit spiritual leaders to spread his theory of holism to the nations of the world continually occupied his thoughts. He even entertained the idea that the New Testament could be rewritten by using the terminology of holism.

Taken together, the information suggests that he saw his holism as the key to understanding the Bible, the problems of the world he lived in, and the universe. Not only did he believe his holism should be laid on the foundation of Plato and the Apostle Paul, he also saw South Africa and other nations of the world as a building of which he was the chief cornerstone.

Keywords: Holism; religiosity; Smuts, spirituality

 

1. Inleiding

Daar is toenemende belangstelling in die holisme van Jan Christiaan Smuts onder akademici, veral in die politieke filosofie, sielkunde en mediese hulpdienste soos verpleegkunde (Du Plessis 2015; Erickson 2007; Garson 2007; Kochanek 2013; Nicholas 2014). Hierdie belangstelling hou verband met byvoorbeeld Smuts se rassebeleid tydens die jare waarin hy premier van Suid-Afrika was, sy raaiselagtige en veelsydige persoonlikheid, sy diepste oortuigings en die waarde van sy holistiese filosofie. Ten spyte van hierdie toenemende belangstelling in en waardering vir Smuts (1987) se Holism and evolution in bogenoemde vakgebiede is nog geen werklik diepgaande ondersoek gedoen oor die religieusiteit daarvan nie.

Daar is verskeie redes vir hierdie stand van sake. In die eerste plek kan dit toegeskryf word aan Smuts se opmerking in die voorwoord van Holism and evolution dat sy boek nie as ’n suiwer wetenskaplike of filosofiese werk beskou moet word nie, maar eerder as ’n werk wat ’n oplossing bied vir ’n aantal probleme in die wetenskap, filosofie, etiek, die kunste en ander vakgebiede (Smuts 1987:vi). Hoewel hierdie opmerking kan beteken dat Smuts nie oor godsdiens wou skryf nie, weerspieël die boek tog indirek wel sy religieusiteit, en openbaar dit iets oor hom as mens. Dit bied dus wel insigte in sy siening van godsdiens en die Bybel. Die filosoof F.C. Kolbe het immers as volg oor die boek geskryf: “On first reading the book I said to a friend, ‘This is a deeply religious book’” (Hancock 1968:195). Dít lyk asof ook Smuts sy boek se geestelike waarde ingesien het. In een van sy private briewe wat hy op 2 Oktober 1925 aan ’n vriendin gerig het, ’n paar maande voor die publikasie van die boek, beskryf hy dit as “the key which unlocks the entrance to the innermost recesses of the spirit” (Beukes 1994:15).

’n Tweede rede wat kan verklaar waarom Smuts se religieusiteit in Holism and evolution nog nie genoegsaam ondersoek is nie, hou nou verband met die Bybeltekste waarop Smuts moontlik sinspeel om sy holisme toe te lig. Smuts het geen eksplisiete verwysings na die Bybeltekste gemaak nie. Dit kan wees dat hy doelbewus teksverwysings uitgelaat het omdat dit belangstelling in sy boek kon ontmoedig. Die Bybeltekste waarop hy wel sinspeel, weerspieël een oorhoofse tema: elke geheel (byvoorbeeld die heelal of die kerk as die liggaam van Christus) word besiel, verklaar en onderhou deur ’n enkele oorsaak of krag wat werksaam is in en deur die dele. Smuts neem dus frases en gedagtes uit die Bybel oor om sy eiesoortige ideologie van holisme te beskryf.

’n Derde moontlike rede was die gebrek aan ’n behoorlike verstaan van Smuts se holisme-begrip. Om maar net ’n enkele voorbeeld te noem: selfs een van die vernaamste filosofieprofessore verbonde aan Oxford Universiteit, R.G. Collingwood, het in 1936 (tien jaar na die verskyning van Smuts se boek) aan Beukes (1994:63) gesê: “There was something worthwhile in his theory, but ... we don’t know exactly what it is, and we need someone to research it and explain it.”

Beukes is waarskynlik die enigste skrywer wat tot dusver probeer het om iets oor die grootliks onbekende godsdienstige insigte van Smuts verstaanbaar te maak. In The holistic Smuts: a study in personality het hy gewys dat Smuts se religieusiteit en mistiek reeds van kindsbeen af kenmerkend van hom was. In sy tweede werk, The religious Smuts, het Beukes (1994) probeer bewys dat Smuts ’n diep gelowige mens, ’n toegewyde Christen en ’n bewonderaar en volgeling van Jesus was. Hierdie beeld van Smuts is deur Beukes gebruik teen kritici wat Smuts as ’n ongelowige beskou het.

Ofskoon The religious Smuts vele aanhalings uit Smuts se briewe en verskeie sekondêre bronne bied om sy siening van Smuts te verdedig, is dit moeilik om Beukes se definisie van geloof en Christenskap te verstaan. Beukes (1994:23) interpreteer Smuts se religieusiteit vanuit die volgende uitgangspunte: Daar is geen reg of verkeerde kosmologiese siening tussen Oosterlinge en Christen Westerlinge nie. Beide kosmologieë lei hul onderskeie aanhangers na dieselfde Skepper-God, ongeag wat Hy genoem word. Hulle vorm en dogma is minder belangrik as die gees waarin aanbidding plaasvind, die ervarings waartoe dit lei en die wense en begeertes van die individue.

Die hart van die problematiek kan egter met ’n voorbeeld geïllustreer word. Beukes (1994:9) begin The religious Smuts met ’n aanhaling van Smuts: “My own belief is that we have in the Bible insights into truth, beauty and goodness, and into the ultimate human ideal.” In stede daarvan om te verduidelik wat daardie woorde vir Smuts beteken het, gaan Beukes onmiddellik voort om te sê dat hy vir 12 jaar saam met Smuts gewerk het en dat laasgenoemde se Griekse Nuwe Testament tot sy afsterwe op die lamptafeltjie langs sy bed gelê het. In die lig van hierdie gegewens lei hy af dat Smuts “deeply religious” (1994:9) was.

Hierdie ontleding beantwoord egter nie vrae oor die aard van Smuts se religieusiteit, (veral soos dit in Holism and evolution na vore kom) of wat hy oor homself en sy holisme dink nie. Ten einde antwoorde op hierdie vrae te bekom, sal daar eers ’n kort oorsig van Smuts se geestelike ontwikkeling en lewe gegee word. Teen dié agtergrond sal gewys word op die Bybeltekste waarop hy in sy bespreking van sy holisme sinspeel om die bydrae van die Bybel tot sy denke, religieusiteit en beskouing van Christus te verstaan.

 

2. Die religieusiteit van Smuts

Smuts is op 24 Mei 1870 gebore. Hy het sy eerste 11 jaar op die plase Boplaas en Klipfontein saam met sy familie deurgebring en was 12 jaar oud toe hy die eerste keer skool toe gestuur is in Riebeek-Wes. Op die ouderdom van 16 het hy vir sy matrikulasie-eindeksamens by Victoria College, nou die Universiteit Stellenbosch, geregistreer. Hy was 19 toe hy ’n BA in beide natuurwetenskap en klassieke literatuur verwerf het. Hy het daarna by die Universiteit van Cambridge in Engeland sy studies in die regte voortgesit, en op 21-jarige leeftyd die graad LLB met die hoogste lof geslaag. Smuts was dus duidelik ’n begaafde student (Hancock 1962:3–45).

Sy aktiewe geestelike lewe kan aan die hand van veral drie punte beskryf word. Eerstens is sy latere geestelike ervaringe gevorm deur sy vroeë godsdiensonderrig van sy diep gelowige en vrome moeder af. Wat Smuts nie Sondae by sy ietwat liberale oom, ds Boudenwyn, van die kansel af geleer het nie, het sy moeder hom vanaf Genesis tot Openbaring geleer oor God, die natuur en die mens (Hancock 1962:10). Tweedens het hy gedurende die vroeë 1870’s, iewers in sy eerste ses jaar, tydens ’n opwekkingsdiens van Andrew Murray op Riebeek-Wes saam met ander kindertjies bely dat hulle vir Jesus as hul persoonlike Saligmaker aangeneem het. Volgens Hancock (1962:11) het Smuts by daardie geleentheid ook gebid, maar sy gebed was anders – waarskynlik omdat hy oor ’n groter woordeskat beskik het. Murray se belangstelling in die Heilige Gees kon sy benadering tot godsdiens, en later by sy idee van ’n soort kosmiese wêreldsiel, beïnvloed het. Die derde punt hou verband met sy eenheidsgevoel met die natuur wat sy lewe lank vir hom veel vreugde verskaf het. Op Klipfontein ontdek hy ’n verwantskap met die natuur, asof hy en die natuur in een en dieselfde familie verbonde is. Hancock (1962:10) skryf hieroor:

Had he been left without teaching, he might well have become an animist, discovering in every rock and tree a spirit akin to his own; or a pantheist, believing that God is everything and everything is God: indeed he was prone throughout his life to lapse into the pantheistic heresy.

Dit is dus hoogs waarskynlik dat Smuts se filosofie van eenheid en dinamiese totaliteit met sy proses van voortdurende emanasies wat telkens op iets nuut, iets hoër, uitgeloop het, reeds toe by hom begin ontkiem het. Dit sou in elk geval sy hele lewe lank in hom bly groei. In een van die laaste briewe wat Smuts kort voor sy dood geskryf het, sê hy: “One becomes aware of the Divine, not as something beyond, but as the soul and essence of nature and oneself ... The mystic whole is all the time with us and in us, but we understand it only in flashes of high experience” (Beukes 1989:55). Die goddelike was vir hom die dryfkrag agter die proses van ’n hoër ontwikkeling wat moes plaasvind.

Die rol van die natuur in sy geestelike lewe kan deur ’n opvallende voorbeeld geïllustreer word. Tydens die periode wat hy op Boplaas en Klipfontein deurgebring het het hy ’n passie vir berge ontwikkel. Hy het tot diep in sy sewentigerjare elke moontlike geleentheid aangegryp om ’n berg uit te klim. Jare later, in ’n brief aan Emily Hobhouse, het hy dit so gestel: “Place me in old age among the hills and kopjes where as a little kid I looked after the sheep and the cattle and let me lie where I was raised from Mother Nature” (Hancock 1962:197).

Hy verwys dikwels na die begrippe Moeder Natuur en Moeder Siel. In ’n brief wat hy op 65-jarige ouderdom aan F.C. Kolbe geskryf het, verduidelik hy sy begrip van gebed soos volg:

I agree with you as to the significance of prayer. In many ways it is the most intimate and unique expression of personality. Things we dare not say to our friends, not even to ourselves, we pour out in prayer to the Mother Soul of our soul (Beukes 1994:39).

Mother Nature en Mother Soul kan by geleentheid as sinonieme terme/begrippe funksioneer. Die twee kan dui op wat ’n panteïstiese deïfikasie van die natuur behels.

Die natuurgebonde en mistieke aard van Smuts se religieusiteit kom op ’n unieke wyse na vore in die toespraak wat hy gedurende Mei 1923 op die kruin van Tafelberg gelewer het. Sy gehoor was meestal bergklimmers wie se familielede tydens die oorlog omgekom het. Hy het spesiale geestelike betekenis aan die berg geheg:

The Mountain has great historic and spiritual meaning for us. It stands for us as the ladder of life. Nay, more, it is the great ladder of the soul, and in a curious way the source of religion. From it came the Law, from it came the Gospel in the Sermon on the Mount. We may truly say that the highest religion is the Religion of the Mountain. What is that religion? ... The religion of the Mountain is in reality the religion of joy, of the release of the soul from the things that weigh it down and fill it with a sense of weariness, sorrow and defeat. The religion of joy realises the freedom of the soul, the soul’s kinship to the great creative spirit and its dominance over all the things of sense ... And if we consistently practise the religion of the mountain ... [n]ature will co-operate with the soul (Smuts 1940:31-5).

Die erns wat Smuts met sy geestelike lewe gemaak het, kan duidelik bespeur word in ’n brief wat hy op 16-jarige ouderdom aan C. Murray van Victoria College gerig het ter ondersteuning van sy toelatingsaansoek. Hierin versoek hy ook vir Murray om ’n spesiale ogie oor hom te hou:

Moreover, as I shall be a perfect stranger there, and, as you know, such a place, where a large puerile element exists, affords fair scope for moral, and, what is more important, religious temptation, which, if yielded to, will eclipse alike the expectations of my parents and the intentions of myself, a real friend will prove a lasting blessing for me. For what use will a mind, enlarged and refined in all possible ways, be to me, if my religion be a deserted pilot, and morality a wreck? (Hancock 1962:14).1

Tydens sy studentejare aan Victoria College het hy verskeie werke geskryf wat getuig van sy diepe geestelike ingesteldheid. Hy het onder andere Jesaja 25 geparafraseer, en ’n opstel oor geestelike, verstandelike en liggaamlike slawerny geskryf. Laasgenoemde het hy, nieteenstaande die werk se panteïstiese inslag, Homo sum genoem. Hiermee saam gaan sy gedigte oor “Love, the Immortal Mind of Man and the Love of God, the ‘Steersman Great of Nature’s Ways’, as he described the Almighty” (Beukes 1989:45), asook die vele lang gedigte wat hy aan Isie Krige, sy toekomstige eggenote, gerig en opgedra het.

Nie net wetenskaplike en filosofiese werke het ’n beduidende invloed op Smuts gehad het nie, maar ook groot digters, veral Shelley, Shakespeare, Goethe, Whitman, Milton, Schiller, Keats en Emily Brontë. Brontë (wat as ’n diep geestelike persoon met mistieke trekke beskryf is) se gedigte en Smuts se Griekse Nuwe Testament het tydens sy latere jare hul plek op die lamptafel langs sy bed gehad (Hancock 1968:494).

In Cambridge was Smuts aanvanklik ’n getroue bywoner van kerkdienste by ’n Presbiteriaanse kerk. Hy het hom daar verdiep in ’n studie van Paulus en sy sendbriewe en verskeie opstelle oor onder andere die “Christ of history” en “The cosmic religion” geskryf. As teks vir laasgenoemde werk het hy die tema “I come to fulfil, not to destroy”, soos in Mattheus 5:17 geformuleer, gekies. Daarin het hy die agteruitgang van godsdiens as rampspoedig vir die mensdom beskryf (Hancock 1962:40–1).

Daar is veral drie gebeure tydens sy jare in Cambridge wat ongetwyfeld ’n lewenslange en ingrypende invloed op Smuts gehad het. Die eerste twee hang ten nouste saam: sy studie van Darwin se Origin of species en Whitman se poësie en prosa. Sy studie van Whitman het later tot ’n boek gelei waarin hy die wordingsproses van die menslike persoonlikheid verduidelik het. Hancock (1962:45) se opmerking toon hoe hoog Smuts persoonlikheid aangeskryf het: “Nothing would ever shake his acceptance of evolution: nothing would ever shake his experience of personality.” Ook in Darwin se teorie was daar iets wat sy lewe verander het. Smuts (1987:187) haal die laaste paar woorde van ’n gedeelte wat Darwin geskryf het, in Holism en evolution aan:

There is grandeur in this view of life, with its several powers, having been originally breathed by the Creator into a few forms or into one; and that, whilst this planet has gone cycling on according to the fixed law of gravity, from so simple a beginning endless forms most beautiful and most wonderful have been and are being evolved.

Hy volg dit op met die volgende woorde: “I am free to confess that there are few passages in the great literature of the world which affect me more deeply than these concluding words of Darwin’s great book.”

Volgens Smuts (1987:188–9) het Darwin met twee faktore die evolusie van lewende organismes verklaar: ’n eksterne faktor (natuurlike seleksie) en ’n interne faktor (variasie). Aan die een kant het Darwin die innerlike, kreatiewe bron as ’n misterie beskryf. Aan die ander kant het Darwin die eksterne bron as ’n krag beskou wat van buite af op organismes inwerk, maar in wese eintlik negatief en verwoestend is. Darwin se sterk beklemtoning van natuurlike seleksie het daartoe gelei dat die heersende meganistiese beskouing van die heelal verdere steun verkry. Met ander woorde, Darwin se klem op die eksterne faktor het gelei tot ’n meganistiese beskouing van organismes. Ontwikkeling en vooruitgang is gevolglik beskou as iets wat slegs deur stryd en onder druk van uiterlike invloede kon plaasvind. Dit is hierdie meganistiese beskouing waarteen Smuts hom verset het (Smuts 1987:1–21).

Hancock (1962:289) wys verder daarop dat die oorsprong van die voorgenoemde gebeure in Smuts se kinderjare lê, toe hy sy eie dualiteit ontdek het – eweneens as ’n fragment van die natuurwêreld waarmee hy hom een gevoel het, en die krag en vryheid waaroor hy beskik het om ’n afstand tussen homself en die wêreld te kon skep en handhaaf. Smuts se innerlike ervarings tydens sy studie van Darwin en Whitman het gelei tot “Walt Whitman: A study in the evolution of personality”, later tot “Inquiry into the whole”, en uiteindelik tot Holism and evolution, wat 1926 gepubliseer is.2

By die manuskrip oor Whitman wat hy op 11 September 1895 aan ’n uitgewer gestuur het, het Smuts ’n brief ingesluit waarin hy duidelik aandui wat sy holistiese idees behels:

It has been my idea for some years that philosophy, ethics and theology sadly require a new foundation … Such an investigation would supply that basis for our higher intellectual and spiritual life ... I discuss from my standpoint of personality ... many of the most perplexing problems and ideas of modern life and thought. The “idea of the whole” which you will notice I use as a key ... [is] the nucleus round which the spiritual thought of the immediate future will probably crystallize (Hancock en Van der Poel 1966:55).

Die derde groot gebeurtenis in Smuts se lewe in Cambridge het in 1906 plaasgevind, tydens ’n diens van die Kwakers (Religious Society of Friends) wat hy bygewoon het. Beukes (1989:73) is van mening dat Smuts se ondervinding tydens hierdie byeenkoms die grootste draaipunt in sy lewe was. Van die Vriende het hy geleer dat aanbidding van God nie beperk is tot plekke soos kerkgeboue en katedrale nie. By hulle het hy ook geleer van die innerlike teenwoordigheid van die Innerlike Lig. Smuts het homself met hulle stil aanbidding (“silent worship”) vereenselwig en het dikwels gesê dat hy maklik deel van die Vriende sou kon word as hy nie in oorloë moes veg nie (Hancock 1962:489).

Al drie ervarings het, direk of indirek, daartoe gelei dat Smuts afskeid van ’n bepaalde vorm van Christelikheid geneem het. In ’n brief wat hy op 3 April 1937 aan ’n Kwaker gerig het, meld hy dat hy na die Nuwe Testament “teruggekeer” het:

I have recently taken to reading the New Testament again in Greek ... especially to see whether I can now get some fresh light on the Gospel story ... We have put such a thick varnish of glosses and interpretations on the original account that a specific effort has to be made to get back the simple intention of the original authors ... When last I read the Greek Testament it was with very orthodox eyes, which I have no longer. And yet I am probably today more deeply interested to get at its meaning than I was in my orthodox youth. (Hancock 1968:305)

Smuts skryf hiermee in sy 67ste jaar dat hy steeds worstel om die betekenis van die evangelie te snap.

Sy veranderende geestelike lewe blyk ook uit ’n brief wat hy in 1942 aan koningin Frederika van Griekeland gerig het:

Whitman did a great service to me in making me appreciate the Natural Man and freeing me from many theological or conventional preconceptions due to my early pious upbringing. It was a sort of liberation ... Sin ceased to dominate my view of life, and this was a great release as I was inclined to be severely puritanical in all things. A great release and a useful service. (Hancock 1962:48)

Smuts het dus duidelik wegbeweeg van ’n ortodokse verstaan van die evangelie van sy "vroom" jeug en Christus eerder as ’n bewonderenswaardige persoonlikheid bewonder.

 

3. Smuts en Holism and evolution

Hier word net op daardie Bybeltekste gefokus waarop Smuts veral vanaf die vyfde hoofstuk van Holism and evolution gesinspeel het.3 Dit is nuttig om kortliks weer die betekenis van holisme weer te gee. HAT beskryf dit as

[f]ilosofiese standpunt wat berus op die beginsel dat die geheel meer as4 die som van die totale dele is en die heelal sien as ’n geheelheid wat uit ’n groot aantal geheelhede bestaan waaronder verskeie trappe te onderskei is, bv. atome, lewende organismes, persoonlikhede, gemeenskappe – ’n teorie wat uitgewerk is deur J.C. Smuts en waarin veral klem gelê word op sintese en skeppende invloede binne die geheel. (Odendaal e.a. 1983:401)

Smuts maak nege opmerkings oor holisme in sy boek, waarvan sewe in die vyfde hoofstuk voorkom. Hy verwoord hulle as volg:

Ble. 97–8: Holism is the term here coined (from őλος = whole) to designate this fundamental factor.

Bl. 98: Holism, as the operative factor ... is the ultimate principle of the universe.

Bl. 99: Holism, operating in and through particular wholes is seen at all stages of existence.

Bl. 99: Wholeness ... Holism is the inner driving force behind that progress.

Bl. 99: Wholes ... Holism as the creative principle behind them is a real vera causa.

Bl. 99: Holism is a specific tendency, with a definite character, and creative of all characters in the universe.

Bl. 107: We find thus a great unifying creative tendency ... This creative tendency or principle we call Holism.

Eerstens was dinamiese evolusie vir Smuts ’n teleologiese holisme waarvolgens meer verwikkelde of komplekse gehele in al hoër kategorieë saamgestel word. Na dié proses verwys Smuts as kreatiewe sintese (“creative synthesis”; vgl. Smuts 1987:104; Venter 1991:1089–92). Tweedens verwys hy na ’n universele agent (vera causa), ’n bewerker of dryfkrag wat oor kreatiewe en oorsaaklike kragte beskik om in en deur spesifieke, konkrete individuele dinge te werk en invloed op hulle uit te oefen. Hiervolgens is die vera causa die hoogste, finale grondslag of beginsel van die heelal. Daar sal straks aangedui word dat juis hierdie gedagte kenmerkend is van die Bybeltekste wat Smuts gebruik, ten spyte daarvan dat hy geen direkte aanhalings gebruik of teksverwysings voorsien nie.

Smuts het nie die vera causa se eienskappe vanuit die natuur afgelei nie. Hy merk op (1987:342): “There is universal agreement with the well-known argument of Kant, that from the facts of Nature no inference of God is justified. The belief in the Divine Being rests, and must necessarily rest, on quite different grounds.” Alhoewel Smuts se ontkenning in stryd is met bestaande teologiese uitlegte van Psalm 19:1 en Romeine 1:20 en by sy verwerping van die skeppingsverhaal van Genesis 1 pas, is daar vele gegewens in sy boek wat daarop dui dat hy óf homself weerspreek óf God genaturaliseer en as “holism” beskou het. Dit is hierdie gegewens wat vervolgens ondersoek sal word.

3.1 Smuts se “alles in almal”

Smuts (1987:87) identifiseer vier kategorieë van die heelal waarvan hy eers verwys na materie, lewe en die verstand of gees. Hy volg hierdie uiteensetting op met: “The question now arises whether there is not something still more fundamental in the universe, something of which they are but the developing forms and phases, something out of which they crystallise at the various onward stages of its progress?”

Hy antwoord positief op die vraag met die opmerking dat “[t]he universal realises itself … in and through individual bodies, in particular things and facts”, en stel dit dan dat “[t]he temple of the Spirit is the structure of matter; the universal dwells in the concrete particular; neither is real nor true apart from the other” (1987:91). Die universele en die konkrete dinge is volgens Smuts ’n eenheid of totaliteit; die universele woon in die konkrete. Die een is nie ’n werklikheid sonder die ander nie en kan dus nie afsonderlik van mekaar bestaan nie.

Die woorde “The temple of the Spirit” het ’n Bybelse konnotasie. Paulus skryf aan die gemeente van Korinthe: “Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle en dat julle nie aan julleself behoort nie?” (1 Kor. 6:19; vgl. 3:16). Smuts se universele agent herinner dus aan Bybelse taal oor die Heilige Gees wat in en deur konkrete individue werk (1 Kor. 12:4–6, 11–27). Dit sal weldra duideliker word dat die genoemde teks die eerste is in ’n reeks van tekste wat Smuts verduidelik.

As in gedagte gehou word dat Smuts oor ’n indrukwekkende geheue beskik het, dan kan sy Skrifgebruik en woordkeuse nie aan blote toeval toegeskryf word nie. Smuts gebruik hier Skriftaal ter ondersteuning van sy filosofiese argumente in Holism and evolution. In die proses word egter nie net die oorspronklike bedoeling van die tekste verander nie, maar word ook die literêre of historiese konteks waarin elk voorkom, buite rekening gelaat.

Smuts (1987:100) verwys na “the whole [as] a useful and powerful concept”, en vervolg dat “[t]he whole as a real character is writ large on the face of Nature … it is everywhere noticeable”, insluitende in biologiese, verstandelike en geestelike ontwikkeling. Vir Smuts is dit ’n probleem dat die geheel later in die meganistiese beskouings van filosowe en wetenskaplikes geïgnoreer is. Daar is egter wel nog hoop: “[T]he stone rejected by the builders may become the corner-stone of the building.” Die teks waarop hy moontlik hier sinspeel kom uit Psalms, ’n boek waarmee Smuts goed bekend was (vgl. Beukes 1994:39). Dit is ’n teks wat spreek van hoop op ’n nuwe toekoms in die lig van die verwerping van Jesus deur sy eie mense: “Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword” (Ps. 118:22; vgl. Matt. 21:42−43). Paulus verduidelik die betekenis van die hoeksteen só aan die gemeente in Efese: “Julle is gebou op die fondament van die apostels en profete met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ’n heilige tempel in die Here” (Ef. 2:19–20). Van belang is dat Smuts weer hier sinspeel op die Gees en tempel. Op dié manier beklemtoon hy ook die belangrikheid van sy eie sieninge, sodat dit vir hom die gesag kry wat ’n mens met Bybelse inhoude verbind.

Dit is insiggewend dat Smuts die woorde, “Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword” geskryf het in die eerste jaar nadat hy sy premierskap van Suid-Afrika vir die eerste keer in die nasionale verkiesing van 1924 verloor het (Smuts 1987:vi). Soos ook vroeër gewys is, het hy in ’n brief wat hy op 2 Oktober 1925 aan ’n vriendin gerig het, gesê sy boek is “the key which unlocks the entrance to the innermost recesses of the spirit”.

Dit lei tot ’n aantal vrae. Waarom sou Smuts woorde uit die Bybel aanhaal sonder om enige teksverwysyings te gee? Waarom skryf hy op bl. 226 van sy boek dat godsdiens “fall[s] outside the scope of this work” en op bl. 262 dat personologie as die wetenskap vir die studie van persoonlikheid die basis is van ’n “truer spiritual outlook”? Het Smuts dalk die indruk dat sy boek met godsdiens verbind kan word, in die kiem probeer smoor het, en eerder sy boek met ’n bepaalde soort geestelikheid wou verbind? Is dit wat Smuts in gedagte gehad het toe hy gesê het dat sy boek die sleutel tot die ontsluiting van die diepste kamers van die menslike gees bevat? As Smuts ’n eie geestelike insig wou ontwikkel, weerspieël dit ’n manier van denke oor Suid-Afrika en wêreldnasies.

Smuts skryf: “Holism … points to the future, and shows that in wholeness, in the creation of ever more perfect wholes, lies the inner meaning and trends of the universe”, en dan: “It is as if the Great Spirit hath said: ‘Behold, I make all things new’” (1987:106).

Die woorde stem ooreen met Openbaring 21:5. As ’n banneling op die eiland Patmos skryf Johannes in vers 1 oor ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel, en in vers 5 oor Een wat op sy troon sit en sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Dit mag wees dat Smuts sy woordkeuse gebaseer het op gedeeltes in Jesaja (waarmee hy bekend was), wat ook handel oor ’n nuwe aarde en hemel (bv. Jes. 42:9, 43:19, 48:6, 65:17, 66:22). Met hierdie Bybelse taal gee Smuts aan sy holisme besondere status: Nie net maak hy die aanspraak dat hy hoop op ’n nuwe toekoms wat sy boek oor holisme bied nie, maar hy het ook onwrikbaar geglo dat sy boodskap van holisme die oplossing was vir byna elke denkbare probleem van die mens. Hy skryf:

Holism in all its endless forms is the principle which works up the raw material ... [and] utilises, assimilates and organises them, endows them with a specific structure and character and individuality, and finally with personality, and creates beauty and truth and value for them. (1987:107)

Die tiende hoofstuk van Smuts se boek handel oor sy opvatting van persoonlikheid as die vierde kategorie in sy holistiese verstaan van die heelal. Hy was van mening dat naas materie, lewe en die verstand, persoonlikheid die hoogste trap of fase in die proses van kreatiewe evolusie is. Enige bespreking van die eerste drie sonder om ook persoonlikheid in berekening te bring, sou vir hom ’n mistasting wees. Vir hom was persoonlikheid nie net ’n groter geheel as die liggaam en die verstand nie. Hy skryf dat persoonlikheid inderwaarheid die holisme is waarin beide die liggaam en die verstand “live, move and have their being” (1987:271). Die woorde is ’n aanduiding dat hy Handelinge 17:28 aanhaal. Dié teks is ’n direkte verwysing na die alomteenwoordige God: “Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons.” Dit lyk dus of Smuts deur dié aanhaling ’n analogie tussen God en holisme aangedui het: soos die mens staan tot sy skepper (God), so staan die liggaam en verstand tot hulle skepper (holisme) in kreatiewe evolusie. “Holism is the presiding genius of this advance” (Smuts 1989:332).

Hierdie insigte oor Smuts se gebruik van bybelse tekste toon watter groot waarde Smuts aan sy holisme toeken. Dit is selfs moontlik dat Smuts homself beskou het as die skepper en onderhouer van ’n nuwe wêreldorde. Hy het holisme as sy persoonlike kredo of geloofsbelydenis in persoonlike briewe aan ’n Kwaker beskryf as iets waarsonder hy nooit sou kon bestaan het nie (Hancock 1968:197). Hy noem dit die basis vir ’n nuwe wêreldbeeld (324) wat die oplossing van alle probleme in die heelal bied. Hy stel dit so:

All the problems of the universe, not only those of matter and life, but also and especially those of mind and personality, which determine human nature and destiny, can in the last resort only be resolved – in so far as they are at all humanly soluble – by reference to the fundamental concept of Holism. (1987:320–1)

Smuts (1987:335) skryf naamlik oor holisme as ’n sleutelbegrip: “Holism is the key to the interpretation of the universe” en “Holism is everywhere and all in all” (my kursivering). Hy sinspeel hier op 1 Korinthiërs 15:28 wat te doen het met mag en gesag, net soos Openbaring 21:5. Die voorgenoemde teks lui: “Wanneer alles aan Hom [d.i. Christus] onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees.” Dié teks kan as die hoogtepunt geneem word van al die tekste waarop Smuts in sy boek gesinspeel het. Dit is as’t ware die spil waarom die ander draai.

As 1 Korinthiërs 15:28 vergelyk word met ander tekste waarin die woorde “alles in almal” voorkom, dan kan gesien word dat dit aansluit by die tekste waarin melding gemaak word van die Heilige Gees en tempel. Die klem het egter in 1 Korintiërs 15 na Christus se krag en mag verskuif. Om net op twee tekste te wys: “Hy het alles onder sy voete gestel, en Hy het Hom [Christus] as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:22–3); en “By die nuwe mens … Christus is alles in almal” (Kol. 3:11). Dit is treffend dat die teksgedeelte oor “alles in almal” in Efesiërs gaan oor die verhouding tussen Christus en die kerk wat as ’n geheimenis of misterie beskryf word (Ef. 3:9–10). Hierdie geheimenis word in Kolossense 1 deur die kerk aan “alle nasies” geopenbaar en verkondig, en die sentrale boodskap is “Christus is in julle” (v. 27). Die gebruik van die tekste kan suggereer dat Smuts Holism and evolution as sy "evangelie" verkondig het: die sleutel tot die verstaan van die heelal is holisme; holisme bied nuwe hoop en ’n beter toekoms; dit is die oplossing van alle probleme; en holisme is alomteenwoordig.

Die opmerkings hier bo wys die besondere waarde wat Smuts aan sy leer oor die holisme geheg het. Vir hom word dit van deurslaggewende belang vir die samelewing. Die sleutelrol wat hy aan sy leer oor die holisme toeskryf, onthul sy hoë dunk van sy eie insigte. So sterk voel hy daaroor dat dit herinner aan die besondere aansprake wat Jesus oor sy evangelie gemaak het. Smuts het hierdie bybelse taal oorgeneem om die belangrikheid daarvan te onderstreep op so ’n wyse dat dit deurslaggewende eksistensiële betekenis vir homself en, na sy mening, vir ander verkry. In die proses het hy ’n heel ander interpretasie aan die tekste gegee.

Soos reeds aangedui, het hy sy filosofie as ’n oplossing vir elke moontlike menslike probleem aangebied, insluitend vir probleme in die wetenskap, filosofie en etiek. Smuts bied sy holisme ook aan as ’n “cure and remedy” (1987:266) vir die misbruik van die liggaam en die verdorwenheid van die menslike gees. Kortom, sy "evangelie" was omvattend, maar ook van voortdurende belang. Die sterk bewussyn van die belang van sy insigte kom na vore wanneer Smuts gedurig besig is om deur briewe of persoonlike kontak aan wêreldleiers raad te gee en hul besluite te beïnvloed (Ingham 1986:89–117). Sy lewensverhaal sou selfs kon suggereer dat hy Suid-Afrika en die wêreld as sy geestelike gebou of tempel beskou het. met homself as die hoeksteen daarvan.

3.2 Smuts en die Bybel

Die unieke en eie interpretasie van die Bybel en godsdiens in Smuts se werk kan op ’n ander manier beskryf word. Daar is reeds opgemerk hoe Smuts reeds vanaf sy studentedae – veral vanaf sy dae by Cambridge – afgesien het van ’n ortodokse verstaan en vertolking van die Bybel. Smuts was van mening dat die Bybel die geskiedenis van die ganse mensdom omvat, maar ook dat die profete slegs verteenwoordigend van hoë ideale was, dat hulle ’n bepaalde interpretasie van lewensin gehuldig het, en dat hulle eintlik maar net voltooi het wat deur die Grieke gesien was as die enigste weg tot die waarheid, naamlik die weg van die verstand.

Smuts se beskouing het egter ook die volgende ingesluit:

The Bible does not look upon the Universe as a world of reason, but more as a world of mystery, a divine world. On the one hand, the Greek ideal of being faithful to the light of the mind, and on the other hand the Biblical conception of faith. Indeed it seems to me that the Jew probably read deeper and saw deeper into the meaning of life than the Greek. (Beukes 1994:8).

Die antwoord op die vraag na die sin van die lewe is daarom vir hom te vinde in ’n kombinasie van Plato (die intellek) en Paulus (geloof/religieusiteit).

Wat hierdie kombinasie behels, kan afgelei word uit Smuts se siening oor ’n herformulering van die Nuwe Testament. Vir Smuts was godsdiens belangrik, maar hy het dit nie sonder meer in die Nuwe Testament teruggevind nie. Godsdiens moes agter en deur die Nuwe Testament gesoek word.

Hy merk op: “The last and final phase of holism is religion and the subject is often in my mind. But it is a conception of religion which is very unorthodox – almost a religion without God, I fear” (Beukes 1994:36–7). Die Nuwe Testament was vir hom gekenmerk deur te veel uitgediende feite wat weinig met die moderne wetenskap te make gehad het. Dit moes gevolglik op ’n nuwe wyse geformuleer word wat die geestelike ervarings en religieusiteit van mense behoorlik kon weerspieël. Dit het vir hom niks anders as menslike religieusiteit beteken nie. Oor die Nuwe Testament het hy soos volg gedink: “I think the New Testament can be modernised in holistic language and thus rid it of all antiquarianism which now sounds so strange and far off to us, trained as we are in a modern outlook” (Beukes 1994:37).

Hieruit blyk dat Smuts die Bybel gelees en benader het soos hy byvoorbeeld ’n gedig of ’n geskiedkundige boek sou ontleed. Vir hom was dit ’n boek met foute in, maar terselfdertyd het hy dit gebruik om sy insigte oor holisme te bevorder.

Soos Smuts se seun, Japie Smuts, tereg in die biografie oor sy pa skryf, het Smuts nie soseer die Bybel bestudeer omdat hy vroom was nie:

But that would be an over-simplification, for he read the Bible as a gem of literature and wisdom and as a saga of family life of a distant age ... He certainly did not believe in a supernatural being in the form of a man, or the narrow definition of the Jehovah of the Israelites. But he did believe in some deity, some overall holistic personality, some supreme law ... The New Testament he preferred to read in Greek, again as a classic of language and a study of people. That Christ had actually lived he had no doubt, but he thought of him as a very remarkably gifted young man, rather than as the Immaculate Son of God ... He was always thinking of the problem of Personality and of Christ as the Greatest Personality (Smuts 1952:292).

 

4. Slot

Beukes (1989:11) het tereg opgemerk dat Smuts se filosofie van holisme nie deur Suid-Afrikaners en buitelanders in die eerste helfte van die 20ste eeu verstaan is nie. Modernisme moes eers uitgewoed raak en die tyd van interrelasionaliteit aanbreek alvorens hy vir die gemiddelde leser begin sin maak het. Dit geld ook vir die religieusiteit wat Holism and evolution duidelik onderlê.

Sy holisme was sy geloof. Dit was inderwaarheid ’n religieuse ideologie wat hy verkondig en voorgestaan het. Dit was vir hom ’n teorie wat alles in een groter totaliteit saamgevat het, asook sy resep om probleme op persoonlike, nasionale en internasionale vlak op te los. Daarvoor het hy gebruik gemaak van inligting uit die filosofie, die wetenskap, die etiek, die kunste, verwante vakgebiede en ook die Bybel. Dit het hy in 1895 in sy brief oor Whitman, in sy boek in 1926, en weer in ’n brief in 1948 aan ’n filosoof in Duitsland geskryf:

I feel more and more that in the concept of Holism we have a key to many a door, and the way to ultimate solutions ... This being my conviction, you will realise how much importance I attach to Holism, and how anxious I am to give the concept a further push forward. (Smuts 1952:291)

Die ondersoek en ontleding in hierdie artikel wys dat Smuts ’n bepaalde soort religieusiteit gehad het. Dit word in Holism and evolution weerspieël. In Friedman (1975:85) se woorde: “Holism and evolution tells us more about Smuts than about the Universe. It partakes, therefore, more of revelation than of philosophy. In brief, it tells us what system Smuts would follow if he, Smuts, were the cosmic driving force.”

Smuts was dus nie die soort godsdienstige persoon wat Beukes gedink het hy was nie. Sy religieusiteit was meer as die som van die afsonderlike dele daarvan. Hy het sy holisme gevoer tot op die punt waar hy eie bevryding en verligting in homself gevind het as die toppunt van sy eie kreatiewe evolusie. Holisme was vir hom die sleutel tot die verstaan van die heelal, die wêreld waarin hy geleef het, persoonlikhede en die Bybel. Sy gebou was Suid-Afrika en die wyer wêreld, gebou op die fondament van denkers en geestesmense, met homself as die hoeksteen daarvan.5

 

Bibliografie

Beukes, P. 1989. The holistic Smuts: a study in personality. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1994. The religious Smuts. Kaapstad: Human & Rousseau.

Du Plessis, G. 2015. The integral Jan Smuts. California Southern University. https://www.researchgate.net/publication/286392418 (13 Julie 2016 geraadpleeg).

Erickson, H.L. 2007. Philosophy and theory of Holism. Nursing Clinics of Northern America, 42:139–163.

Friedman, B. 1975. Smuts: a reappraisal. Johannesburg: Hugh Keartland.

Garson, N. 2007. Smuts and the idea of race. South African History Journal, 57:153-178.

Hancock, W.K. 1962. Smuts: the sanguine years, 1870−1919. Vol. 1. Londen: Cambridge University Press.

—. 1968. Smuts: the field of force, 1919−1950. Vol. 2. Londen: Cambridge University Press.

Hancock, W.K. en J. van der Poel (reds.). 1966. Selections from the Smuts papers: volume 1, June 1886−May 1902. Londen: Cambridge University Press.

Ingham, K. 1986. Jan Christiaan Smuts: the conscience of a South African. Londen: Weidenfeld and Nicolson.

Kochanek, D. 2013. Metaphysics and the League of Nations. History of European Ideas, 39(2):267−86.

Nicholas, L.J. 2014. A history of South African (SA) psychology. Universitus Psychologica, 13(5):1983−91.

Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte Vertaling. 2014. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Odendaal, F.F. e.a. 1983. HAT: Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal 2. Johannesburg: Perskor Uitgewery.

Smuts, J.C. 1940. Greater South Africa: Plans for a Better World. Johannesburg: Truth Legion.

—. 1952. Jan Christiaan Smuts. Kaapstad: Cassell & Company Ltd.

—. 1987. Holism and evolution. Kaapstad: N & S Press.

Venter, P.M. 1991. Holisme en totaliteit. HTS, 47(4):1088−98.

 

Eindnotas

1 Dit moes vir die jong Smuts ’n verrassing gewees het toe hy ingelig is dat Grieks ’n voorvereiste was vir die BA-graad waarvoor hy wou registreer. Volgens oorlewering – wat nie sonder meer as die waarheid beskou hoef te word nie – het Smuts homself vir ses dae afgesonder, die taal alleen bemeester, eksamen gaan skryf en die hoogste punt behaal (vir teenstrydige gegewens vgl. Hancock 1962:12, 32). Hierna het hy nooit weer die Nuwe Testament in enige ander taal as Grieks gelees nie. Dit word in hierdie artikel aangedui dat Smuts die Nuwe Testament soos enige ander boek gelees en benader het.

2 Smuts kon geen bereidwillige uitgewer vir die eerste twee manuskripte vind nie.

3 Die Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte vertaling (2014) word as vertaling van die tekste gebruik.

4 Op bl. 273 van Holism and evolution identifiseer Smuts holisme met die idee van “meer as” waarop die geheel dui.

5 My hartlike dank aan Philip du Toit vir sy lees van die eerste ontwerp van die artikel. Waardering word ook uitgespreek teenoor Gerdus Senekal, Pieter de Villiers en die twee anonieme keurders wie se insette nie net my eie verstaan van Smuts verdiep het nie, maar ook tot verbetering van die artikel bygedra het.

Kommentaar

  • Uiters interssante artikel. Sou graag 'n opinie bekom wat betref Eugene N Marais se sienswyse wat betref Smuts se 'Holism and evolution'.

    • Callie Joubert
      Callie Joubert

      Marais het oa gehoop dat die British Royal Society Smuts se Holism nie sal beskou as le dernier cri (die laaste kreet of modegier) van Suid-Afrikaanse wetenskap nie. Na sy mening was Smuts se bewerings en gevolgtrekkings van grondslae absoluut verkeerd; dit het getuig van onkunde en was onsin - sien Leipoldt en Marais: Onwaarskynlike vriende (Mieny 1988:64).

  • In die inleiding van die artikel verwys die skrywer na Smuts se holisme-teorie wat nie behoorlik verstaan is nie: "....die gebrek aan ’n behoorlike verstaan van Smuts se holisme-begrip. Om maar net ’n enkele voorbeeld te noem: selfs een van die vernaamste filosofieprofessore verbonde aan Oxford Universiteit, RG Collingwood, het in 1936 (tien jaar na die verskyning van Smuts se boek) aan Beukes (1994:63) gesê: “There was something worthwhile in his theory, but ... we don’t know exactly what it is, and we need someone to research it and explain it.”
    Steyn (2015: 112-113) wys egter daarop dat bekende akademici soos Gilbert Murray, JBS Haldane en selfs Albert Einstein besondere positiewe kommentaar oor Smuts se teorie gelewer het. Dit sou dus meer korrek wees om te beweer dat Smuts se holisme-teorie in sommige kringe goed verstaan en vertolk is, maar in ander omgewings minder goed [Steyn, R (2015). Jan Smuts: Unafraid of greatness. Johannesburg: Jonathan Ball].

  • Hendrik Nolte

    Insiggewende artikel wat definitief meer lig werp op Jan Christian Smuts, die geniale Staatsman en Wetenskaplike.

  • Wonder nog steeds oor wie die vriendin was ... My oupa het my vertel dat Jan Smuts 'n geheime 'affair' met die koningin gehad het ... of dit so was is nie van belang nie, maar dat Issie (sy vrou) so jaloers was oor sy kuiertjies oorsee dat sy alle posseëls met die koninginpaar se koppe op onderstebo op briewe geplak het ...

    • Interessant, maar kan jy enige betroubare bron verstrek anders as jou oupa, wat miskien 'n bloed-Nat was en dalk maar die slegste van die man kon gedink het?

  • Margot Huysamer

    Ek dink Jan Smuts was maar 'n produk van sy tyd net soos ons almal is. Hy moes maar bly by die "consciousness of the time", al het hy 'n bietjie anders oor dinge gedink en wyer ervarings gehad. Hy moes sy andersdenkendheid omhul in watter "geloof" geheers het, anders sou niemand hom aanvaar het nie. Dit is miskien hoekom hy klink asof hy op twee stoele sit. Dit bly maar die dilemma van die mens. Ons sal nooit werklik onsself kan bevry of openbaar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top