Die reis gaan inwaarts: die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman deur Cas Wepener: ’n resensie

  • 1

Die reis gaan inwaarts: die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017) African Sun Media ISBN 978-1-928355-14-4 (233 bladsye)

In die Exordium waarmee Jacques Derrida sy Specters of Marx (1994) open, staan die volgende geskryf (xvii): “But to learn to live, to learn it from oneself and by oneself, all alone, to teach oneself to live [...] is that not impossible for a living being? Is it not what logic itself forbids? To live, by definition, is not something one learns. Not from oneself, it is not learned from life, taught by life. Only from the other and by death. In any case from the other at the edge of life.”

In ’n sekere sin kan Derrida se woorde gelees word as ’n bondige, dog voldoende komplekse, samevatting van Cas Wepener se uitgebreide akademiese studie oor die werk van Karel Schoeman. Wepener fokus grotendeels op drie van Schoeman se werke, te wete ’n Lug vol helder wolke (1967), ’n Ander Land (1984) en Die uur van die engel – Stemme 3 (1995). Ander tekste in die Schoeman oeuvre, veral Die laaste Afrikaanse boek (2002), kom egter ook deurlopend aan bod om enersyds die interpretasie van die werk waarop gefokus word te ondersteun en om andersyds by te dra tot die oorkoepelende betoog van die studie, naamlik dat die beoefening van die sterwenskuns ten nouste saamhang met, en beoordeel moet word met verwysing na, die sogenaamde inwaartse reis. Die boek het sy oorsprong in die akademiese gedeelte van Wepener se meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Pretoria.

“Die reis gaan inwaarts” kom uit die slot van Die uur van die engel. In die inleidende hoofstuk voer Wepener aan dat die sterwenskuns (ars moriendi) in “Schoeman se romans in diens staan” (8) van die inwaartse reis en dat die ars moriendi ’n kuns is wat deur sowel diegene wat sterf as deur hul versorgers beoefen word. Ongelukkig verneem die leser nie veel meer in hierdie hoofstuk wat betref die spesifieke aard van die inwaartse reis wat Wepener in gedagte het nie, maar Willie Burger bring dit in die voorwoord reeds in verband met die Jungiaanse individuasieproses (vii) wat volgens hom in Schoeman se romans stimuleer tot “kreatiewe ondersoek van die onbewuste” (viii) eerder as wat dit op ’n “selfsugtige inkeer na binne” dui. Wepener hou sy eie uitdruklike verduideliking van die inwaartse reis vir die laaste hoofstukke van die boek, en hoewel hierdie keuse ongetwyfeld ’n soort funksionele spanning skep deur die leser se afwagting op te bou, kan dit ’n mate van frustrasie (dalk ook verveling) ontlok by die deursnee hedendaagse leser wat so gesteld is op vinnige antwoorde. In hierdie verband is (Wepener se verwysing na) die vermaning van Tannie Duifie in Die uur van die engel, naamlik om nie te gou verveeld te raak nie, om enduit te konsentreer en onder die oppervlak van die teks te soek (162), ook van toepassing op lesers van Wepener se teks.

Een van die kompleksiteite wat ontstaan wanneer mens Tannie Duifie se raad volg by die lees van Wepener se teks, is dat dit weldra duidelik word dat die ars moriendi nie net in diens staan van die inwaartse reis nie, maar dat die stelling ook andersom geld: die inwaartse reis staan op bepalende wyse in diens van die beoefening van die sterwenskuns. Oor en oor wys Wepener hoe die karakters wat in Schoeman se verhale uitgebeeld word as “beter” beoefenaars van die sterwenskuns, reeds besig is met ’n inwaartse reis. So byvoorbeeld word die feit dat Meester in ’n Lug vol helder wolke “self al begin het, of selfs al ver gevorder het, op die inwaartse reis van die lewe” (95), bepalend wat betref Schoeman se positiewe uitbeelding van Meester as liturg (95). Opsommenderwys kan die argument van Wepener se studie in hierdie verband dus as volg gestel word: die ars moriendi staan in diens van die inwaartse reis, maar terselfdertyd hang die suksesvolle beoefening van die sterwenskuns self af van die mate waartoe die beoefenaar inwaarts gereis het. Ons het dus hier te make met ’n interafhanklike, wederkerige verhouding tussen die inwaartse reis aan die een kant en die sterwenskuns aan die ander kant; of, anders gestel, die een is ’n moontlikheidsvoorwaarde van die ander.

’n Verdere kompleksiteit wat egter nie uitdruklik deur Wepener betrek word nie, het te make met die manier waarop Schoeman die inwaarts/uitwaarts-onderskeid in sy werk dekonstrueer. Is die visioen – as die spil waarom Die uur van die engel draai – nie immers die toonbeeld van so ’n ontwrigting van die inwaarts/uitwaarts-onderskeid nie? Want wie kan eindelik met sekerheid sê of die visioen ’n uiterlike of innerlike verskynsel is? Wepener wys wel duidelik hoe die karakters wat inwaarts reis, letterlik uitwaartse geografiese reise onderneem (Versluis in ’n Ander land, byvoorbeeld, wat sy vaderland (trouens, sy vasteland) verlaat om in Suid-Afrika te kom sterf). Hy wys ook hoe hierdie karakters in hul menseverhoudinge uitwaarts reis deur dade van medemenslikheid, welwillendheid of gasvryheid te betoon. Versluis, wat vir Gelmers in sy sterwensuur vashou, en ds Heyns, wat die sterwende Oom Lammies besoek, sy bed verskoon en hom uiteindelik in sy sterwensoomblik bystaan in Die uur van die engel, kan hier as enkele voorbeelde van laasgenoemde dien. Wat hier duidelik word, is dat die inwaartse reis self dan ook in diens staan van die uitwaartse reis (én andersom) en dat die grense tussen inwaarts en uitwaarts op hierdie wyse in Schoeman se werk ontrafel, vergly of vervaag.

Dit is wel beduidend dat wanneer Wepener die karakters van ds Heyns en Danie Steenkamp in Die uur van die engel bespreek, hy wys op die uitwaartse prosesse van grensoorskryding in Schoeman se uitbeelding van hierdie karakters, byvoorbeeld die oorskryding, deur ds Heyns, van die etniese grens tussen hom en Steenkamp (wat ’n Griekwa was). Die ooreenkomste met die grensoorskrydings van Jesus soos dit in die Bybel gedokumenteer is, word dan ook op behendige wyse hier bygehaal (143). Hy dui ook herhaaldelik op die feit dat die karakters wat deur Schoeman as goeie beoefenaars van die sterwenskuns uitgebeeld word, konsekwent as buitestanders gefigureer word. Wepener is dus deeglik bewus van Schoeman se bemoeienis met die grensoorskryding, maar op die dekonstruktiewe gevolge van die grensoorskryding (as konsep) op die begrip van die inwaartse reis is hy minder gesteld. Tog maak Wepener ’n punt daarvan om die postmodernistiese en poststrukturele aard van Schoeman se tekste te beklemtoon. In hierdie verband kan mens aan die hand doen dat Schoeman se tekste ’n soort beliggaming is van die volgende woorde in Michel Foucault (1998:96) se The history of sexuality: 1: “Are there no great radical ruptures, massive binary divisions, then? Occassionaly, yes. But more often one is dealing with mobile and transitory points of resistance, producing cleavages in a society that shift about, fracturing unities and effecting regroupings, furrowing across individuals themselves, cutting them up and remolding them, marking off irreducible regions in them, in their bodies and minds”.

’n Verdere aspek van hierdie dekonstruktiewe grensoorskryding tussen inwaarts en uitwaarts by Schoeman is hoe die inwaartse reis (“as kreatiewe ondersoek van die onbewuste” eerder as “’n selfsugtige inkeer na binne” (Burger)) self ook uiteindelik, metafories gesproke, beskou kan word as of neerkom op ’n uitwaartse reis. Hoekom? Enersyds omdat, soos Jacqueline Rose dit stel, die (gestelde) psige ’n sosiale ruimte is (die binnegesprek sou immers sonder hierdie voorwaarde onmoontlik wees) en, andersyds, omdat ’n inwaartse ondersoek van die onbewuste neerkom op kontak met iets buite die grense van ons bewustelike self. Mens sou selfs aan die hand kon doen dat ’n sekere grensoorskrydende ontwrigting van die inwaartse ’n voorwaarde is vir die soort “kreatiewe ondersoek van die onbewuste” waarna Burger verwys. Derrida en Jean-Luc Nancy verwys deurlopend in hierdie verband na die Ander in myself, en dit is een van Jacques Lacan se blywende bydraes tot die psigoanalise dat die onbewuste talig is as “die diskoers van die Ander” (laasgenoemde beteken nog glad nie dat die onbewuste ooit volledig onder besegging gebring kan word nie). Lacan het ’n broertjie dood gehad aan “ego psychology”, omdat hy van mening was dat hierdie vorm van sielkunde die subjek daarvan weerhou om kontak met sy simptome te maak en dus nie in staat is om psigiese transformasie / die kuur teweeg te bring nie. Die ware inwaartse reis is (ook) ’n reis uitwaarts, wég van die Ek, die Eie, die Self en die Bekende na die onbewuste as die intieme Ander van my self. Dit is ook hoekom Schoeman die inwaartse reis, veral in Die uur van die engel, in verband bring met die aflegging van ego-gefokuste konstruksies van begrip, kennis en verstand (“[m]oenie probeer verstaan nie, want begrip is nie moontlik nie en aanvaarding die enigste doenlike aksie” (Schoeman 1995:386).

Dit is nie toevallig dat dit juis aanvaarding is wat die laaste fase in die beroemde Kübler-Ross-model van die sterwensproses verteenwoordig nie. (Wepener betrek die model breedvoerig in sy studie (60).) Want uiteindelik is die grootste in-/uitwaartse reis wat ons in hierdie lewe moet aanvaar, die kontak met die Absolute Ander van ons eie dood. Wepener verwys met goedkeuring na Kannemeyer se insig dat die dood as ’n ander land in die gelyknamige roman gesuggereer word (102), en dit is binne hierdie verband dat hy byna intuïtief nader beweeg aan ’n dekonstruktiewe siening van die inwaartse wanneer hy skryf: “Die dood bied in hierdie lewe die potensiaal van ’n disoriëntasie wat, indien dit inderdaad as ’n gas ontvang word, die potensiaal van reoriëntasie bied” (196). Maar Wepener voer die metafoor nie tot by sy dekonstruktiewe einde nie. Heidegger se beroemde definisie van die dood verdien om hier betrek te word: “Der Tod ist die Möglichkeit der schlechthinnigen Daseinsunmöglichkeit” (die dood is die moontlikheid van Dasein* se volkome onmoontlikheid). In navolging van hierdie definisie in sy laatwerk, volg/voer Derrida die metafoor tot op sy einde: die dood is die moontlikheid van die gas wat gasheer word.

Omdat die dood ’n absolute Ander is, behoort dit hoogstens tot die uiterste grense van taal en kan dit, as sodanig en soos die onbewuste, nooit volledig onder besegging gebring word nie. Soos Derrida (1993:22) tereg opmerk in sy Aporias: “It is well known that if there is one word that remains absolutely unassignable or unassigning with respect to its concept and to its thingness, it is the word ‘death’.” Hierdie oriëntasie verklaar gevolglik ook die bekende “tekstuur van stilte” (33) (Gouws se beskrywing waarna Wepener herhaaldelik verwys) in Schoeman se werk.

Hoewel Wepener dus meerdere aspekte van die in-/uitwaarts-dekonstruksie in Schoeman aanraak, skep sy sterk fokus op ’n predekonstruktiewe inwaartse reis met tye ’n blinde kol. Ek volstaan met ’n enkele voorbeeld. Marius Crous se homososiale beskouing van ’n Ander land kan verstaan word as ’n interpretasietegniek wat in die teken staan van die grensoorskryding wat ek hier bo aandui – ’n grensoorskryding wat, soos ek ook hier bo probeer wys, weer nou verband hou met die dekonstruksie van die metafisiese onderskeid tussen inwaarts en uitwaarts in Schoeman se werk. Homososiale begeerte soos dit deur Crous gelees word, kan dui op ’n uitwaartse beweging wat deur ’n inwaartse reis moontlik word – ’n beweging weg van die bekendheid en sekerheid van hierdie karakters se heteroseksualiteit en heteronormatiwiteit, na die onbekende, onsekere, vlugtige omgang met die Ander van homososiale begeerte. Met ander woorde, Crous se interpretasie van die verhoudinge en handeling maak sin wanneer dit beskou word as deel van die motief van dekonstruktiewe grensoorskryding by Schoeman. Dit is ook nie toevallig nie dat hierdie begeerte, volgens Crous, juis in ’n sterwensoomblik (Gelmers s’n) tot ’n hoogtepunt gedryf word: die verband tussen homososiale begeerte en die dood is nie net deur byvoorbeeld Koos Prinsloo in ons eie letterkunde verken nie, dit is ’n gevestigde, selfs oorbekende, tema in queerteorie. Wepener beskou Crous se leesstrategie as “onwaarskynlik” (100) en dit ís onwaarskynlik gegewe sy eie teksbenadering, maar mens wil vra of dit werklik so onwaarskynlik is as mens in gedagte roep dat Schoeman elders in sy oeuvre (steeds subtiel maar wel baie duidelik) oor homososiale begeerte skryf, naamlik in Op ’n eiland (1971). Dit is veral eienaardig dat Wepener se interpretatiewe gasvryheid – waarop hy herhaaldelik aandring deur te beklemtoon dat sy teks nie “op modernisties-positivistiese wyse die betekenis van die tekste” (66; sien ook 149) wil vaspen nie – blykbaar nie tot Crous se betekenisgewing van ’n Ander land strek nie.

As teoloog het Wepener ’n besondere belangstelling in “die pastorale en liturgiese hulp wat aan sterwende mense en naasbestaandes verleen word” (5) en fokus hy dan ook spesifiek op die rituele wat met hierdie hulp gepaardgaan. Wepener wys dat Schoeman ’n baie spesifieke siening huldig van daardie karakters “at the edge of life” (Derrida) by wie mens die beoefening van die sterwenskuns en dus (in navolging van Derrida, maar ook Wepener self) die lewenskuns sou kon leer. Die kriterium in hierdie verband kry aandag in die slothoofstuk, maar reeds in die voorafgaande hoofstuk vat die skrywer die verband by Schoeman tussen ritueel, sterwenskuns en die inwaartse reis goed saam wanneer hy skryf: “Dit is in die ritueel, in die daad van versorging, in die swye en neem van die sterwende se hand wat die antwoord opgesluit lê ten opsigte van die misterie wat as die inwaartse reis beskryf kan word. Schoeman beeld liturge en versorgers wat die dood hanteer gunstig uit wanneer daardie liturge en versorgers iets verstaan van ’n liggaamsgebaseerde epistemologie, ’n kennis wat anderkant woorde lê” (190).

Met hierdie aanhaling is ons terug by Derrida, wat begin by die lewe, by die argument dat mens nie op jou eie en deur jouself kan leer hoe om te lewe nie, dat lewe nie iets is wat mens leer in die konvensionele sin van die woord nie (dit behels eerder “’n liggaamsgebaseerde epistemologie”), dat mens alleen by die Ander en by die dood leer hoe om te lewe, of dan by die karakters van Karel Schoeman wat op die randjie van die lewe/dood huiwer.

 

  • Jaco Barnard-Naudé is Professor in Regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad en die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Geestes- en Sosiale Wetenskappe aan Westminster Universiteit, Londen.

* Dasein is ’n fenomenologiese term wat verwys na die mens se konkrete bestaan in die wêreld.

  • 1

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    "Die kuns van sterwe" - hoogs interessant.
    Heel toevallig het 'n artikel in Beeld op 23 Februarie 2018 p 15 verskyn met die opskrif "So het Karel Schoeman gesterf": eksklusief (nogal!).
    Ongelukkig is dit een van daardie berigte wat meer vrae as antwoorde bied. So byvoorbeeld is dit nog glad nie duidelik hoe Schoeman gesterf het nie.
    Die berig laat ook 'n etiese geurtjie. Is dit normaal vir 'n lid van Die Etiekinstituut en van Dignity SA om persoonlike inligting van kliënte aan die pers te verskaf?
    Vreemd dat die berig eers nege maande na die dood van Schoeman verskyn. Nog vreemder, geen melding word gemaak van die amptelike bevinding dat hy aan natuurlike oorsake oorlede is nie.
    Nico M Ferreira

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top