Die reis gaan inwaarts deur Cas Wepener: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Die reis gaan inwaarts
Cas Wepener

Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA
ISBN: 9781928355144

Karel Schoeman en die kuns om te sterwe

Inleidend

In hierdie artikel wil ek twee boeke bespreek: een óór Karel Schoeman, die ander deur hom geskryf.

In Die reis gaan inwaarts ondersoek die teoloog Cas Wepener die uitbeelding van die ars moriendi, die kuns om te sterwe, in drie romans van Karel Schoeman, en die karakterisering van die doodsbegeleiers daarin; in Slot van die dag spreek Schoeman direk sy gedagtes uit oor ouderdom, sterwe en selfdood, en motiveer hy sy besluit om sy lewe te beëindig. Sentraal in albei die bespreekte tekste is dus Schoeman en die dood; dit is wat die twee boeke met mekaar verbind. Hoewel hierdie artikel nie wesentlik ’n vergelykende studie is nie, is daar boeiende raak- en verskilpunte tussen die twee boeke waaraan ek aandag wil gee.

Wepener vertel in sy “Vooraf” iets aangrypends wat al dadelik ’n skakel tussen sy boek en die dood van Schoeman tot stand bring. Tydens die finale redigering van die boek, op 27 April 2017, het hy sy moed bymekaar geskraap en ’n e-pos aan Schoeman gestuur waarin hy van sy manuskrip vertel. Twee dae later het hy ’n vriendelike antwoord van Schoeman ontvang waarin Schoeman sy tevredenheid uitspreek oor die titel van Wepener se boek, en ook oor die newetitel: “Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman”. Want inderdaad is sterwe ’n kuns, skryf Schoeman, “al doen min mense die moeite om dit aan te leer”. In die e-pos kom die aangrypende verontskuldiging voor: “In die huidige omstandighede wil ek liewer geen verpligtings aangaan so ver in die toekoms soos Julie nie.” Twee dae later, op Maandag 1 Mei, het Karel Schoeman sy eie lewe geneem.

Cas Wepener: Die reis gaan inwaarts

Voorwoord: In die voorwoord waarsku Willie Burger, in aansluiting by Derek Attridge, teen die gevaar om die letterkunde “instrumentalisties” te benader, om ’n literêre teks te bestudeer met die doel om jou eie “projek” te bevorder, om ’n boodskap daaruit te haal wat jy as leser wil propageer. So ’n gevaar, skryf Burger, bestaan wel deeglik vir Wepener, iemand met praktiese teologie as vakgebied, wanneer hy oor doodsbegeleiding in die werk van Schoeman skryf. Wepener ontkom egter aan hierdie gevaar, sê Burger tereg, “omdat hy ’n sensitiwiteit vir die onbekende en onvaspenbare van die drie romans behou”.

Daar is vir my iets teenstrydigs in die res van Burger se argumentasie. Volgens hom moet die leser alle soeke na betekenis aflê; “dit [is] juis wat Schoeman se romans telkens aan die leser doen” (bl vii). Maar hy skryf ook dat die romans ’n inwaartse reis moontlik maak: Schoeman se verhale vorm ’n mosaïekpatroon wat ooreenkom met die Jungiaanse idee van ’n mandala (vi). Hierdie stellings impliseer tog nie dat die leser die soeke na betekenis moet aflê nie, dat daar nie iets sinvols tot stand kan kom in die interaksie tussen die leser en die werke van Schoeman nie. Dit is wel so dat Schoeman se romans nooit klinkklare antwoorde vir die leser bied nie, dat ’n mens nie eenvoudige lesse daaruit moet probeer haal nie, maar die lees van sy romans kan wel ’n uiters sinvolle en verrykende ervaring wees, soos wat die studie van Wepener oortuigend aantoon. Burger wys daarop dat karakters by Schoeman telkens bewus is van verlies, dat alles wat sin gee aan hul bestaan, verlore raak (iii), maar noem nie dat daar ook karakters is wat ’n diepe sin in hul lewe bereik, soos Danie Steenkamp in Die uur van die engel.

Cas Wepener

Inleidende hoofstukke: In sy drie inleidende hoofstukke maak Wepener ’n aantal opmerkings van algemene belang vir sy studie. Hy wys daarop dat die proses van sterwe en doodgaan ’n kuns is wat die mens moet aanleer; ook om hulp te verleen aan sterwendes is ’n kuns (4–5). Sterwendes word die beste gedien, skryf hy, “deur die taal van ritueel, dade van diens en heel dikwels die woordelose taal van empatiese swye” (4). Die onvermydelike realiteit van die dood bevestig dat die mens ’n vreemdeling op aarde is, en die beste doodsbegeleiers is mense wat bewus van hul vreemdelingskap is, “buitestanders wat aanbied om daar te wees” (51).

Hy sluit in sy studie veral aan by die navorsing van Ronald Grimes, wat beweer dat die hedendaagse Westerse samelewing die ars morieni verloor het (44), en meen dat gepaste rituele “her-uitgevind moet word vir ’n hedendaagse konteks” (41). Wepener se studie is multidissiplinêr en verbind waardevolle insigte uit die letterkunde, sosiologie en teologie, maar hy beklemtoon dat sy benadering slegs een van baie moontlikhede is (30). Hy wys daarop dat sterwe ’n dominante tema in die oeuvre van Schoeman is, maar beperk hom in sy boek tot die ontleding van sterwe en doodsbegeleiding in drie romans waarin hierdie temas besonder sterk na vore kom: ’n Lug vol helder wolke, ’n Ander land en Die uur van die engel.

’n Lug vol helder wolke (alle bladsyverwysings in hierdie onderafdelings is na Wepener, tensy anders vermeld): Wepener toon aan dat die tema van die dood deur die hele novelle aanwesig is, en dat dit juis deur die dood is dat ’n inwaartse reis vir die hoofkarakter, Kobus, moontlik word – Kobus ondergaan ’n “disoriëntasie waarsonder heroriëntasie nie moontlik is nie. Dit is binne die konteks van die dood dat Kobus begin om nog dieper te reflekteer oor die lewe en die sin daarvan” (76).

Twee doodsbegeleiers word met mekaar gekontrasteer – die dominee en die Meester. Die Meester, hoewel hy “in niks meer glo nie” (81), is ’n veel verstandiger doodsbegeleier as die dominee. Laasgenoemde is hard en veroordelend teenoor Alida, wat haar lewe beëindig het deur in die plaasdam in te loop. Haar begrafnisdiens word derhalwe deur die Meester waargeneem, wat sy begrafnisrede baseer op die boek van Jona, wat soos Alida onder die water gegaan het maar deur die Here se genade gered is. Dit is ironies dat die ateïstiese Meester ’n Christus-figuur is wat genade verkondig, in teenstelling met die dominee wat Christus se leer behóórt te verkondig:

Meester se optrede wys hoe hy afskeid geneem het van ’n sekere God, ’n God wat met mag geassosieer word. Dit is Meester se a-teïsme wat in sy optrede juis as Christelik voorkom en so genade en vergifnis beliggaam. (95).

Meester is ’n randfiguur onder die Afrikaners, maar het insigte wat by die dominee ontbreek. Hy veroordeel nie vir Alida nie, maar merk op: “Miskien het sy soos ’n kind gestap met haar hand in Syne” (aangehaal op bl 88). Hierdie woorde verkry ’n skrynende ironie wanneer ’n mens Schoeman se uitbeelding van Alida se einde verbind met sy eie einde heelwat jare nadat die novelle geskryf is.

Besonder insiggewend is Wepener se uiteensetting van die simboliek van die dam waarin Alida verdrink het. Hy wys daarop dat doop tradisioneel in die Christelike kerk die teken is van “verdrinking” in Christus sowel as van reiniging en nuwe lewe. Hiermee hang die feit saam dat in ouer liturgiese tradisies begrafnisdienste by die doopvont begin is, as ’n teken dat dood vir die gelowige die poort tot die ewige lewe is.

Wepener verbind die Meester se houding met “anateïsme”, ’n begrip wat deur die filosoof Richard Kearney geskep is. Hy haal Kearney soos volg aan (95):

That is why I understand open atheism as a-theism, namely, a salutary moment of estrangement, a departure from God (a-dieu) that struggles with God (contre-dieu). It may thus allow the possibility of a return to a God beyond God (hors-dieu), a God who may come back to us from the future.

Aan die einde van hierdie hoofstuk kom Wepener tot die gevolgtrekking dat

’n beter liturg en versorger die een is wat goed met die seer van hierdie lewe en met die onsekerheid wat dit vir mense bring, kan omgaan. Dit is die karakters wat nie antwoorde het wat in vooraf geformuleerde frases slaggereed wag om vir mense in nood aangebied te word nie, maar wat dink voor hulle praat en swye bo praat verkies. (93)

’n Ander land: Hierdie roman, sê Wepener tereg, handel basies oor die dood. Die hoofkarakter, Versluis, se reis na Bloemfontein is ’n reis na die dood, ’n inwaartse reis waarin hy die kuns om te sterwe moet bemeester. Wanneer Amien, die koetsier, aan die einde van die roman vir Versluis kom oplaai, dan is Amien ’n Charon-figuur wat hom oor die rivier van die dood sal neem, ’n oortog waarvoor hy in die loop van die verhaal geleidelik voorberei is.

Wepener verbind die gebeure in die roman met relevante uitsprake wat Schoeman self oor die lewe en die dood gemaak het. Oor die dood het Schoeman opgemerk:

Sterwe is stadia, sterwe is nie onverbiddelik ’n skedel wat hier in jou begin gryns en daar lê jy in ’n doodkis nie. Sterwe is iets wat jy lewenslank mee besig is. (Aangehaal op bl 113)

Oor die aanvaarding van die dood het Schoeman gesê:

Om die verskynsel van die dood te aanvaar; om die beginsel te aanvaar dat jy self ook moet doodgaan; om jou eie persoonlike sterfte te aanvaar namate dit geleidelik nader – elkeen van hierdie stadiums is ’n nuwe krisis [...] Om die gedágte van die dood te aanvaar, dis wat ’n stryd kos, soms wel ’n lewenslange stryd. (Aangehaal op bl 115)

Dit is hierdie “lewenslange stryd” wat die sentrale tema van ’n Ander land uitmaak, ’n lewensreis waarop pastoor Scheffler as wyse en simpatieke mentor van Versluis optree. Scheffler vertel hom dat lewe en dood met mekaar verstrengel is, dat jy leer om te sterwe wanneer jy leer om te lewe, en suggereer dat aanvaarding en oorgawe die sleutel tot gemoedsrus is. Moontlik bied die aanvaarding van die oomblik van die dood, sê Scheffler, dieselfde vryheid as die oorgawe aan die “onverkende leegheid” van die land (104).

Wepener wys daarop dat Scheffler se kontak met Versluis oor die grense van denominasie heen strek, en verbind dit met die Meester se optrede in ’n Lug vol helder wolke wat ook oor dogmatiese grense reik:

August Scheffler [...] steek dus denominale grense oor deur uit te reik na mense wat nie Lutherane is nie en wat selfs nie Christene is nie. In ’n Lug vol helder wolke reik ’n ateïs die hand na ’n Christen en in ’n Ander land reik ’n Christen die hand na ’n ateïs. (119)

Oor Schoeman se uitbeelding van Gelmers, ’n Hollander soos Versluis, en wat net soos hy die dood tegemoet gaan, merk Wepener op dat die dood van Gelmers, in sy angs en woede, kontrasteer met die dood van Versluis, wat in groter vrede sterwe. Hierby wil ek ’n verdere interpretasie voeg: Gelmers is ook ’n alter ego van Versluis. Dit word onder andere gesuggereer in die toneel wat Wepener ontleed waar Versluis met die dooie Gelmers in sy arms sit, in die spieël kyk en sy eie beeld daarin sien (110). Gelmers is nie net ’n kontrasterende karakter nie, maar ook ’n vergestalting van die skadukant van Versluis; wanneer Versluis, teen sy weersin in, vir die sterwende Gelmers omhels, kan dit as ’n simboliese selfaanvaarding gelees word. Aanvaarding van die onaantreklike “ander” vervloei hier met die aanvaarding van jou (onaantreklike) self. Versluis moet naamlik homself leer liefkry, homself “omhels” voordat hy die dood sonder angs en woede tegemoet kan gaan. Wanneer Gelmers skynbaar in vrede sterf, kan dit as ’n teken gesien word dat Versluis vredevol die dood ingaan omdat die Gelmers “in” hom gesterwe het. Dit is interessant dat Schoeman in Slot van die dag (141) noem hoe moeilik hy dit vind om homself te vergewe. Die latere worstelinge van die skrywer is blykbaar reeds vroeg vergestalt in “n karakter wat hy geskep het.

Die uur van die engel: Dit is die roman waaraan Wepener die meeste aandag gee. Die landskap self dra hier die merke van die dood, onder andere deur verskeie verwysings na grafstene. Wepener haal Willie Burger aan oor die band wat grafstene tussen die dooies en die lewendes skep. Deur die grafstene word die verlede in die hede teenwoordig gestel (aangehaal op bl 134); die verlede en die hede vloei inmekaar (136). Deur die landskap word die leser op ’n reis na die verlede geneem, sodat die leser op ’n inwaartse reis gevoer word en die daad van lees ’n sakramentele karakter kry (137). Soos ’n refrein word die woorde “iets het gebeur” in die roman herhaal; maar wát presies gebeur het, word nooit eksplisiet gestel nie, want die gebeure kan nie in taal vasgevang word nie – dit is ’n misterie. Wepener verbind dit met die verhaal van Elia in 1 Konings 19, waar die profeet God ontmoet in die “fluistering van die windstilte” (aangehaal op bl 145, my kursivering).

Daar is drie sterftes van sentrale belang in die roman: dié van Jood, van dominee Heyns en van Danie Steenkamp, en ook hier maak Schoeman van kontraste gebruik. Anders as Jood, is dominee Heyns bewus van ’n roeping, en dit bring vir hom sin in sy lewe en aanvaarding van die dood (168). In teenstelling met die predikante van sy tyd, wat sterk gesagsfigure is, suksesvol in die oë van die wêreld, is dominee Heyns sieklik en versukkeld, en hy sukkel om te praat; maar hy vind ’n roeping in die versorging van arm en vergete mense (169). Deur die uitlewing van sy roeping kan hy in die lig sterf, terwyl Jood in die donkerte doodgaan (171). Aanvaarding van die lewe en aanvaarding van die dood is weer eens met mekaar verbind; Jood se probleem lê in sy houding teenoor die lewe:

By Jood is dit nie soseer dat hy nie die dood aanvaar nie, maar dalk eerder dat hy tot ’n groot mate nie die lewe aanvaar nie, en dat hoe hy lewe en hoe hy uiteindelik sterwe, mekaar weerspieël. (168)

Jood met sy selfbeheptheid is ’n karikatuur van Christus; dominee Heyns is ’n beelddraer van Christus; maar dit is Danie Steenkamp wat meer as enige ander karakter in die roman ’n ware Christus-figuur is. Hy bied die morele maatstaf waaraan al die karakters gemeet word; hy is die ideaal waarna al die karakters implisiet op soek is (171–2).

Nog ’n karakter wat in Die uur van die engel met die dood verbind word, is Oom Lammie, sterwend aan kanker. Uiters insiggewend skryf Wepener oor die aansluiting van Oom Lammie by die engelmotief in die roman. Oom Lammie hef sy hand op soos die engel wat aan Danie Steenkamp verskyn en soos die engelbeeld op die graf van dominee Heyns. Dominee Heyns bring seën aan die sterwende man vir wie hy besoek, maar word self ook geseën in die vervulling van sy roeping; dominee Heyns en Oom Lammie is seënend sowel as geseënd; hulle tree op as gashere en ook as gaste van mekaar:

Sodoende is Oom Lammie self ’n engel en word die daad van ’n betoning van gasvryheid (hier in die vorm van versorging) teenoor hom ook ’n wyse waarop die persoon wat die gasvryheid bewys sigself oopstel om verras te word. Die rolle van gas en gasheer vervloei hier en eintlik is ds Heyns en Oom Lammie beide gaste en gashere van mekaar. (160)

Een beswaar wat ek wel teen hierdie hoofstuk het, is die simplistiese manier waarop romankarakters en skrywer met mekaar verbind word:

Die ideale liturg in Die uur van die engel is ten dele Karel Schoeman se uitbeelding van homself, die kloosterling, teologiestudent, versorger, verpleër, Rooms-Katoliek, Boeddhis, historikus en skrywer wie se reis in die verloop van drie aantoonbare fases van sy kreatiewe oeuvre self inwaarts gegaan het. (172)

As ’n mens Schoeman se direkte segging in Slot van die dag (wat in die tweede deel van hierdie artikel bespreek word) vergelyk met sy romans, dan blyk dit dat daar wel ’n verband tussen skrywer en karakters is, maar dit is nie ’n enkelvoudige, direkte verband nie. Tereg het TS Eliot ons daaraan herinner dat literatuur nie altyd selfopenbaring is nie: “Poetry is not a turning loose of emotion, but an escape from emotion; it is not the expression of personality, but an escape from personality” (“Tradition and the individual talent”).

Slothoofstukke: In die laaste drie hoofstukke skenk Wepener aandag aan nog ’n paar stemme in Schoeman se werk, en kom dan tot ’n aantal samevattende gevolgtrekkings. Hier is die teoloog sterker aan die woord, en wys hy op ’n aantal teologiese insigte wat uit sy studie voortvloei. Uit sy ontleding van die romans van Schoeman blyk dit dat die dood en die lewe nie teenoor mekaar staan nie; inteendeel, die dood kan die lewe dien (194), en dis in die misterie van die dood dat die misterie van die lewe ontdek kan word (203). Diegene wat die kuns van kenosis ontdek het, wat geleer het om mag en aansien prys te gee en hulself te offer ter wille van hulle roeping, kan die kuns van sterwe bemeester (215). Sulke mense is ook die beste sterwensbegeleiers.

Van die bespreking van die romankarakters gaan hy oor na die ervaring van die leser. In die romans van Schoeman kry die onverbiddelike landskap van die Vrystaat en die Karoo ’n dimensie wat ’n mistieke ervaring moontlik maak (202). Die ontvanklike leser van Schoeman se werk, glo Wepener, laat ’n gasvrye ruimte vir God oopgaan, sodat die leser ’n priester kan word en ervaar: “Iets het gebeur.” Hy haal nogmaals vir Kearney aan: “For as flesh becomes word in the text the word becomes flesh in the reader” (213).

Die reis gaan inwaarts is ’n stimulerende teks wat vars insigte in die werk van Schoeman bring deur die verbinding van perspektiewe uit verskillende dissiplines.

Karel Schoeman: Slot van die dag

Op 9 Januarie 2017 ontvang Nicol Stassen van Protea Boekhuis ’n e-pos van Karel Schoeman waarin hy onder andere die volgende skryf:

Moeilik om te glo dat dit net drie weke gelede is dat jy hier was. Ek het dadelik aangegaan met die boek en dit voltooi, en het dit gister vir (meen ek) die tweede keer gekorrigeer (my geheue laat my heeltemal in die steek) [...] Dit behels 56 000 woorde (hofies ens inbegrepe), en bestaan uit die teks self of “eintlike boek” (die ouderdom, met persoonlike divagasies oor Suid-Afrika en skryfwerk), waarvan die laaste deel meer spesifiek oor selfbeskikking gaan, soos bespreek. Dit word gevolg deur ’n soort joernaal met ongedateerde inskrywings wat van 2009 tot 2015 loop en vir die leser miskien enigmaties sal wees, maar ek is nie bereid tot groter openlikheid nie.1

Die voltooide boek waarvan Schoeman praat, het na sy dood by Protea verskyn onder die titel Slot van die dag. Dit bevat, soos hy in sy e-pos noem, die “eintlike boek” wat die vorm van ’n betoog aanneem, gevolg deur “’n soort joernaal met ongedateerde inskrywings” wat inderdaad vir die leser enigmaties kan wees, omdat selfopenbaring met versluiering verweef is. Schoeman noem nie in sy e-pos die derde kort afdeling nie, die twee bladsye aan die einde van die boek wat begin met “Hierdie laaste dae” – dit is moontlik later bygevoeg. Ook hierdie twee bladsye kan vir die leser “enigmaties” wees. Wat Schoeman in Die laaste Afrikaanse boek skryf, geld in ’n groot mate ook vir Slot van die dag:

dat dit die onuitgesproke en onuitspreekbare is wat die volle gewig van die mededeling dra en nie dit wat toevallig uitgespreek is nie [...] Of, soos Wittgenstein dit op sy beurt eens uitgedruk het in ’n aanhaling wat my steeds bybly: “Die onuitspreeklike is – onuitspreeklik – in die uitgesprokene vervat.” (Die laaste Afrikaanse boek, bl 132)

“Daar is net een werklik ernstige filosofiese probleem en dit is selfdood” – so skryf Albert Camus in Die mite van Sisiphus. Dit is oor hierdie filosofiese probleem dat Slot van die dag handel; daarin motiveer Schoeman sy besluit om sy lewe te beëindig. Veral die eerste van die drie dele het die vorm van ’n betoog, byna ’n hofsaak, waarin hy as getuie optree om sy saak te stel en ander getuies oproep om sy getuienis te ondersteun. Hy tree op as “toeskouer, waarnemer, betragter, kommentator. Getuie” (19). Sy uitdaging is om ’n tema wat kennelik intense emosies by hom gaande maak, met afstandelikheid te betrag en so daaroor te skryf. Sy uitgangspunt is

dat ek dit waaroor ek skryf, van buite en oor ’n afstand, as waarnemer en toeskouer betrag en trouens móét betrag, en hoe intenser die emosie wat betrokke is, des te groter moet die afstand wees en des te onverbiddeliker moet dit gehandhaaf word. (18)

Daar is by hom die verlange om die tema van die ouderdom as ’t ware “oop te skryf”, om temas openlik te behandel waaroor daar in Suid-Afrika grotendeels geswyg word. Hy merk op “dat daar in die skeppende literatuur nie juis baie aandag aan die terneerdrukkende verskynsel van veroudering en sterfte geskenk word nie” (92). In sy eie fiksie het hy uitvoerig aan sterfte aandag gegee, soos die studie van Wepener bevestig; maar die tema van veroudering kom nie sterk daarin voor nie. Dit is hierdie tema wat hy nou, in Slot van die dag, met onverbiddelike eerlikheid wil bespreek. Optimistiese praatjies oor die ouderdom ontken volgens hom die harde werklikheid van die liggaamlike en geestelike aftakeling van die ouderdom – hy self gaan van “’n heel ánder standpunt en siening uit en is heelwat minder opgewek en optimisties, veral sover dit oud word en wees betref” (30). Hy vertel van sy eie frustrasies met die ouderdom, van die frustrasies wat hy by oumense rondom hom waarneem, en hy vertel wat hy oor oumense gelees het – vertellings wat almal op mense se “ontluisterende einde” dui (57).

As ’n tipe “teenstem”, in kontras met sy somber enumerasie van ouderdomsverhale, kom die tema van dankbaarheid na vore – daarmee begin hy die boek, daarmee eindig hy dit ook. Wanneer hy betrokke raak by gesprekke met die mede-inwoners van die aftree-oord, dan is die vernaamste tema gewoonlik “dankbaarheid vir alles wat ons nog hét: in die sin van volgehoue mobiliteit ten spyte van agteruitgang, behuising, praktiese hulp en bystand, en voldoende finansiële middele, eerder as klagtes” (5). Hy haal Boerneef aan wat gedig het oor “die gawe van die ouderdom”:

om dieper in die kleuregloed te kyk
aanhoudender na ondergaande son.

Boerneef herinner hom aan ’n vers van JC Bloem wat ook van dankbaarheid getuig, maar die dankbaarheid het iets van ’n angel:

Alles is veel voor wie niet veel verwacht (5).

JC Bloem

Dis ’n skrale troos: die digter kan dankbaar wees omdat hy nie meer veel van die lewe verwag nie. Schoeman haal vervolgens ’n reël aan uit Uys Krige se “Tram-ode”, wat ook ’n positiewe klank het: “Slot van die dag is ryp-appel-rooi” (6); maar net ná hierdie positiewe aanvang van sy boek gee hy ’n lys van die irritasies en frustrasies van sy oudag: “lastige of irriterende verwardheid”; “dat ek meermale iets doen of probeer doen waarvan ek weet dat ek dit nie behoort te doen nie”; “dat ek senuweeagtig of ongeduldig raak of my humeur verloor terwyl ek (voorlopig nog) goed weet dat dit nie nodig is nie” (6).

In die boek word ’n betoog opgebou wat selfdood motiveer en regverdig, en Schoeman besef dat elke oortuigende redenering ook ruimte vir teenargumente moet verskaf. Die tema van dankbaarheid vorm so ’n teenargument; maar die dankbaarheid is nie sterk genoeg om die dominante ervaring uit die weg te ruim nie: die onbehae met oudword. Dit is asof hy reeds in die eerste paar bladsye wil sê: ek weet daar is baie redes vir dankbaarheid, selfs op my leeftyd, maar dit is nie genoeg om die intense pyn van die ouderdom, van die stap-vir-stap-aftakeling tot by die dood, weg te neem nie. Die einde van die boek sluit aan by die begin en bevat ’n aangrypende verbinding van die temas van dankbaarheid en onbehae. Hierop kom ek later terug.

Die skrywer beklemtoon dat hy nie met sy boek ander mense wil probeer oorreed om hul lewe te beëindig nie, en haal in dié verband vir Huib Drion goedkeurend aan,

dat diegene die op grond van zijn eigen geloofs- of levensovertuiging van mening is dat hij de plicht heeft zijn leven tot het natuurlijke einde uit te leven [...] daartoe door de samenleving in staat moet worden gesteld. Dat spreekt vanzelf, en even vanzelf spreekt dat onze samenleving er alles aan moet doen om het laatste stuk leven van die mensen zo draaglijk en zo waardig mogelijk te maken. Iedere directe of indirecte pressie om het tot een eerder levensbeëindiging te brengen, zou in onze westerse welvaart moreel verwerpelijk zijn. (138)

Hiermee gee Schoeman aandag aan ’n moontlike beswaar teen sy argumentasie, naamlik dat hy mense sou aanmoedig om selfdood te kies. Dit is nie die geval nie, skryf hy:

Ek propageer [...] niks nie, maar teken my menings oor en waarnemings van die ouderdom op, waarvan die proses van sterfte onontkombaar deel uitmaak, en in ooreenstemming met my eie oortuigings ondersoek ek die moontlikhede wat ten opsigte van sterfte bestaan. (138)

Wat hy verlang vir Suid-Afrika, is ’n openlike en saaklike bespreking van die huiweringwekkende onderwerpe van ouderdom, genadedood en selfdood – die soort bespreking wat in die Nederlandse samelewing plaasvind en wat in Suid-Afrika nog grootliks taboe is. By sulke besprekings moet die praktiese probleme ingesluit word van die persoon wat besluit om sy lewe te beëindig: met wie jy oor jou besluit kan praat, en hoe jy dit verder geheim kan hou; hoe om die daad op die mins pynlike en mees humane wyse te doen; en hoe om nie ’n las op ander te plaas met die besluit wat jy geneem het nie.

Slot van die dag bevat nie net ’n objektiewe uiteensetting oor ouderdom nie; dit is in baie opsigte ’n persoonlike onthulling van sy ervaring van oudword. Om dit self te ervaar, is iets anders as om abstrak daaroor te redeneer: “Je moet er zelf binnen in zitten” (10, kursivering deur Schoeman). Hy verduidelik dit met ’n treffende beeld:

Laat ek dit wat ek wil verduidelik met beeldspraak probeer oordra.

In die omgewing waar jy woon, stap jy daagliks verby ’n gegewe huis, sodat dit oor die jare vir jou vertroud raak. Jy kyk na die blomme in die tuin en breek selfs vir jou oor die heining ’n rankroos af, groet die inwoners waar hulle op die stoep sit, merk op watter kleur hulle hul dak laat verf het, sien die gordyne voor die vensters en die vensters self verlig teen skemer; dog jy betree nooit daardie verligte vertrekke nie. Dan eendag gebeur dit deur ’n sameloop van omstandighede dat jy in daardie huis intrek en dit self bewoon: jy beweeg deur die kamers, struikel oor die ongelykheid van die drumpel en hoor die treë onder jou voet kraak wanneer jy met die trap boontoe gaan; teen skemer skakel jy die ligte aan en trek die gordyne toe. Jy het gemeen dat jy dit ken, maar om dit te bewoon, is ’n ánder ervaring as om in die verbygaan ’n rankroos oor die heining af te breek en die mense op die stoep te groet. Deur die vensters kyk jy nou na die tuin daarbuite en sien die blomme, maar as jy jou hand sou uitstrek om een te pluk, stuit jou vingerpunte op die kille vensterglas. (10)

Johann Rossouw

Twee tipiese ervarings van die ouderdom is in ’n besondere mate op hom van toepassing: toenemende eensaamheid en die kwyning van sy kreatiewe vermoë. Wat die eensaamheid betref: nêrens in die boek is daar sprake van ’n menslike verhouding van diepgaande aard nie. In die eerste sin meld hy dat hy “in die verbygaan” by gesprekke betrokke raak – hierdie frase kom ook later in die boek voor. Sy gesprekke is van korte duur; hy kom nooit tot stilstand by ’n gespreksgenoot nie. Johann Rossouw is in sy resensie in Die Burger (4 September 2017) krities oor die feit dat Schoeman geen melding maak van “die merkwaardige Afrikanervrou wat hom in sy laaste jare uitsonderlik bygestaan het” nie. Dit is asof Schoeman, in die uitbeelding van sy eensaamheid, nie ’n “teenargument” wou toelaat wat die geheeleffek van sy alleenheid sou ondermyn nie.

Die enigste “vriendskappe” waarvan hier sprake is, kom tot stand deur die “onvolprese” YouTube of deur boeke van skrywers wat hy nooit persoonlik ontmoet het nie. Soms word ’n skrywershand na hom uitgereik, maar dan is dit die hand van ’n gestorwene: “oor die afgrond van meer as drie eeue strek ek my hand uit en voel ’n ander hand in myne” (90). In verskeie tale haal hy aan wat hy gelees het, in boeke of op die internet, en met hierdie “geselskap” is hy tevrede. Die alleenheid hinder hom nie meer nie, skryf hy (67). Menslike verhoudings sou in elk geval die besluit van selfdood kompliseer.

In sy afgesonderde bestaan is sy skrywerskap vir hom ’n besondere bron van betekenis. Soos ander skrywers sy lewe verryk het, kan hy ook ander se lewens met sy skryfwerk verryk; hierdeur kan hy ook sy isolasie oorbrug (42, 74). Hy ondervind egter dat sy muse hom begin verlaat; hy skryf en tik al hoe moeiliker en voel al hoe meer vervreemd van Afrikaans – “dit word moeiliker om die woorde, die frases te vind; ek moet my al hoe meer inspan om die onmisbare ritmes nog op te vang” (111). Die lewe het nou vir hom “geen aantoonbare nut of doel meer nie”; hy spreek die vrees uit dat hy “in steeds groter mate ’n oorlas sal word vir myself en my omgewing” (120).

Maar dan, as ’n onverwagte genade, keer die kreatiwiteit terug, en kan hy begin werk aan die manuskrip wat later Slot van die dag sou word. Hy ervaar weer die “ondeurdringbare wonder van kreatiwiteit” (97) en hervat sy skrywerskap, al is dit nie met groot sekerheid of geesdrif nie:

Om ’n boek te skryf is nie, volgens my, genoeg om sin aan die lewe te gee nie, maar dit kan sin of ’n skyn daarvan aan ’n individuele bestaan verleen, of in elk geval ’n voorlopige doel verskaf. Blindelings gaan jy dus aan, dankbaar, al is dit miskien nie besonder geesdriftig nie. (96)

Die skryf gaan gepaard met opwinding, maar ook met uitputting – hy besef dat dit iets is wat hy “nou waarskynlik vir die laaste keer só beleef” (139). Met die voltooiing van die manuskrip sal ’n laaste moontlike rede om voort te leef, daarmee heen wees, en daarom kom die woord “genoeg” nou steeds sterker na vore: “Tyd om op te hou, op te hou. Genoeg, genoeg, genoeg” (140).

Schoeman vermeld die “spraaksaamheid van die ouderdom” (65); hy noem dat oumense soms “breedsprakig en vervelig” kan word (77), en hy self ontkom nie heeltemal aan hierdie gevare nie.

Baie lesers sal waarskynlik ervaar dat daar ’n “te veel” is in sy enumerasie van hartseer oumensverhale en toepaslike aanhalings – dat hy sy saak oorbeklemtoon. Hy self wonder dan ook watter reaksie sy boek sal wek by mense wat nie sy ouderdomservaringe deel nie: “Is die lewe in sulke omstandighede nog die moeite werd? sal jonger mense waarskynlik verslae vra wanneer hulle hierdie somber enumerasie van werklike belemmerings en dreigende gevare deurgelees het” (61).

Schoeman noem verder dat oumense soms onredelik kan wees (79), en sy betoog bevat soms ook irrasionele aspekte. Hy het ’n appeltjie te skil met gevestigde Afrikaanse skrywers en literatore, en hoewel hy toegee dat hy opgehou het “om na besprekings te kyk of my aan hul uitsprake te steur” (50), maak hy self uitsprake oor die Afrikaanse letterkunde wat van groot onkunde getuig:

Die vermoede wat uit hierdie ervarings by my ontstaan, is dat Van den Heever en Malherbe êrens vér op die agtergrond nog altyd skimagtig aanwesig is, en sover skimme skaduwees besit, hul skadu steeds oor die Afrikaanse letterkunde laat val; dat dit húlle is, by wyse van spreke, wat nog altyd die standaard stel, selfs vir skrywers van latere generasies wat miskien nie eens meer hul name ken nie. (49)

Die rol van die leser van Slot van die dag is byna soos dié van ’n doodsbegeleier. Schoeman rig hom, in die afwesigheid van menslike vertrouelinge, tot ’n ideale leser met wie hy sy gedagtes en gevoelens oor oudword en sterwe kan deel, wat sonder veroordeling aan sy woorde aandag sal gee. Van die leser word verwag om soos die ideale doodsbegeleier op te tree, die tipe wat Wepener in sy studie beskryf as mense met ’n begrip vir buitestanderskap, persone wat “goed met die seer van hierdie lewe en met die onsekerheid wat dit vir mense bring, kan omgaan, [...] wat dink voor hulle praat en swye bo praat verkies”.

Met die skryf van Slot van die dag, maar ook met die selfdood waarna die teks verwys, wil Schoeman op twee maniere orde en sin aan sy lewe gee. Deur sy selfdood beëindig hy sy lewe op ’n tyd en manier wat hy self gekies het; hy maak ’n einde aan die aftakeling van die ouderdom wat hy as sinloos ervaar. En met sy boek wil hy ’n betoog op skrif stel wat sy gedagtes oor ouderdom, dood en selfdood op ’n ordelike wyse uiteensit. Die eerste deel van sy boek, dit wat hy in sy e-pos aan Stassen die “eintlike boek” noem, bevat inderdaad ’n sterk ordening – die temas word gegroepeer en volg mekaar op ’n logiese wyse op. Maar die res van die boek, dit wat hy in sy e-pos as “enigmaties” beskryf, is veel meer fragmentaries, asof die orde dreig om uitmekaar te val. Iets van hierdie teenstelling vind ons ook in die titel en newetitel. “Slot van die dag” het die suggestie van ’n ordelike verhaal met ’n gepaste afsluiting; “Gedagtes” suggereer ’n groter willekeur, meer spontaneïteit, ’n gebrek aan ordening en afsluiting.

Die verbinding van orde en die onvermoë om orde te skep, is besonder betekenisvol, want dit is dié tema wat uiteindelik die opbou van die geheel bepaal: die mens se verlange na orde, na begrip en helderheid, word verbind met die onvermoë om daardie helderheid volledig te vind. Soos in die slot van Die laaste Afrikaanse boek, wat teen die einde al hoe meer fragmentaries is, word ook hier ’n worsteling uitgebeeld, die vergeefse strewe na ’n sinvolle en finale afsluiting van die boek sowel as van die lewe. Hier is sekerlik aanwesig wat Burger in sy voorwoord die “onbekende en onvaspenbare” in Schoeman se werk noem.

Dit is veral aan die tweede en derde afdelings dat ek ten slotte aandag wil gee. Die twyfels, teenstrydighede en paradokse kom al hoe sterker na vore. Schoeman skryf byvoorbeeld oor die “onuitspreeklike troos en vertroosting van skeppende of ordenende werk”, maar direk daarna word die vreugde gerelativeer deur die twyfel of skeppende aktiwiteit van wesentlike waarde is:

’n Onnodige vermoë, iets wat geen doel dien nie, behalwe om ’n gevoel van voldoening te gee; iets wat in feite niks beteken nie, ’n blote illusie; maar hoe innig is daardie bevrediging nie vir die oomblik dat dit duur nie. (144)

Hy neem afskeid van die riglyne wat hom in verskillende stadiums van sy lewe bygestaan het: die Christelike geloof van sy kloosterdae, die filosofie van Jung en die Zen-Boeddhisme – hy is nou “sonder hulpmiddels van dié aard” (145). Wat hy daarsonder moet vind, op sy eie, is “aanváárding, berusting, ’n toestand van oënskynlike stasis waarin die liggaam, gees en gemoed hul eie gewig ervaar” (146). Maar dan vind hy, ondanks sy verklaarde afskeid van die Boeddhisme en die Christelike godsdiens, nog troos in die rustigheid van ’n Boeddha-beeld, en haal hy twee Christelike teoloë aan wat hom inspireer (148–9).

Ander woorde vir die innerlike harmonie wat hy soek, is die “wil van God” en die “sakrament van die oomblik” – maar hy skryf dit tussen aanhalingstekens: dis woorde wat ander mense gebruik, en hy huiwer om hulle sy eie woorde te maak. Hy het steeds ’n ervaring van die teenwoordigheid van God, maar plaas ’n vraag daarby: “Is dit emosioneel of intellektueel; of albei?” (156). Hy besef dat hy nie in staat is om hom volledig aan God toe te wy, soos wat die kerk voorskryf nie; hy is sy eie middelpunt: “Jamais á moi” (158). Desondanks behou hy ’n “geloof in ‘God’ of ’n godheid, wat ek egter moeilik sou kan omskrywe” (160). Maar dan volg weer eens ’n teenstelling: ondanks sy geloof in “God” verklaar hy dat sy lewe “alle sin verloor” het (160), en hy haal Tolstoi aan: “The only absolute knowledge attainable by man is that life is meaningless” (161).

Leo Tolstoi

Maar ook dit is nie die finale punt in sy denke nie. Hy getuig nog ’n keer van sy gevoel van die nabyheid van God, hoewel hy dit dadelik relativeer, omdat “dit natuurlik subjektief is en op sigself niks beteken nie” (168). En nogtans volg ’n betekenisvolle aanhaling van Jung (van wie hy vroeër afskeid geneem het!), al word die betekenis daarvan in die Latyn verskuil: “Vocatus atque non vocatus, deus aderit” (“Of jy Hom aanroep of nie, God is teenwoordig”) (168). Ook die Boeddhisme maak weer sy verskyning in ’n aanhaling: “Wanneer mens radikaal loslaat en val, val jy nie so diep soos wat jy self gepeil het nie, maar so diep soos wat die afgrond werklik is” (168).

So slinger hy heen en weer tussen geloof en ongeloof, tussen sin en sinloosheid.

Die titel van die tweede afdeling is “Besluit”, wat dui op die besluit om sy lewe te beëindig sowel as op die afsluiting van sy teks. Maar hy aarsel met albei, met die afsluiting van sy teks sowel as met die beëindiging van sy lewe. Dus volg daar, na die “Besluit”, nog ’n laaste twee bladsye wat begin met die woorde “Hierdie laaste dae”. Vir laas soek die skrywer na ’n geskikte afsluiting van sy gedagtes, iets wat sy lewe tot die einde boekstaaf, woorde wat by sy laaste lewensdae pas.

Hy is totaal alleen; daar is niemand om ’n troostende ritueel aan hom te bedien nie, maar hy verlang ook nie meer daarna nie:

Tot betreklik onlangs nog sou ek behoefte gevoel het aan ’n gebed, ’n formule, een of ander klein, geïmproviseerde plegtigheid of gebaar om my handeling in te klee, maar nie meer nie. Die handeling moet sy eie sin, waarde en gewig hê en homself kan dra, en inkleding sou oorbodig wees. (178)

Geen ritueel is nodig vir die selfdood wat hy beplan nie, skryf hy; maar dan, paradoksaal, het hy tog waardering vir ’n plegtigheid wat wel plaasvind. Sy huishulp, Jemina, en haar twee kleindogters, Naledi en Onathi, het sy oorskietkos kom haal, en by hulle vertrek het hulle hom almal omhels. “Hierdie was miskien die plegtigheid, die gebaar waarna ek eerder verwys het” (178).

Wanneer hulle weggaan, laat hulle die huis skoon en stil agter – leeg en groot soos vir ’n bruid

en telkens moeisamer die reis
van bed na tafel, stoel na ruit ... (178, kursivering deur Schoeman)

Elisabeth Eybers (Foto: Leon Levson, Wikipedia)

Hierdie aanhalings uit “Portret”, ’n latere gedig van Elisabeth Eybers, noem dinge wat die ouderdom swaar maak en selfdood makliker: die alleen-wees in ’n groot huis, die moeisame beweging van ’n ou man. Tog sou ’n mens ook hier subtiele newebetekenisse kon inlees. Die huis is leeg en groot “soos vir ’n bruid” – aan die een kant is daar die ironiese werklikheid dat die skrywer allesbehalwe ’n jong bruid is; maar aan die ander kant bevat die woord bruid die konnotasie van ’n nuwe lewe, van ’n opwindende vervulling wat voorlê. Is hier miskien ’n hoopvolle suggestie van ’n moontlike mistieke verbintenis met ’n hemelse Bruidegom?

Dan volg die betekenisryke laaste paragraaf:

In volle erns, ten volle bewus van die erns van die besluit en van die stap. Dan bly slegs nog dankbaarheid; en die woord waarmee ek onlangs ook my Latynse aantekeninge afgesluit het: satis.

Die woord satis beteken “genoeg”, “voldoende”, en hou verband met die woord satisfaksie. Sodoende sluit dit aan by die woord dankbaarheid wat in dieselfde sin gebruik word, en dui dit op die tevredenheid wat met sy sterwe gepaard gaan. Maar die dankbaarheid van die slot het, soos die dankbaarheid van die begin, allerlei bowetone. Satis en dankbaarheid sluit aan by die herhaalde woord genoeg: hy is “sat” van die lewe; hy is dankbaar oor die einde daarvan, omdat hy genoeg gehad het. Sy boek kan nou tot ’n einde kom, en ook die lewe wat vir hom ondraaglik geword het. Met hierdie paragraaf word wel ’n afsluiting bereik; daarmee word die einde van die boek verbind met die beëindiging van sy lewe – alhoewel dit nie ’n afsluiting is wat ’n einde bring aan alle vrae, twyfels en onsekerhede nie.

Die reis gaan inwaarts en Slot van die dag hou met mekaar verband deurdat albei fokus op die temas van dood en doodsbegeleiding by Schoeman. Belangriker nog: albei tekste bevestig watter fenomeen Schoeman in die Afrikaanse letterkunde was en steeds sal bly: ’n meester van die woord, ’n diepsinnige denker, ’n komplekse en fassinerende mens.

1 Inligting verkry van Nicol Stassen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top