Die première van ATKV: Filmverse 2 by die kykNET Silwerskermfees 2016

  • 0

Filmverse 2 se première het op Vrydag 26 Augustus by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai plaasgevind.

Altesaam 12 Afrikaanse gedigte is deur 12 animasiekunstenaars, of groepe kunstenaars, geanimeer. Daar is dus 12 kortfilms op een DVD – wat net R120 kos.

Hier is ’n voorskou:

Die films en die gehalte is uitstekend en die algehele produk is reeds strate beter as die eerste weergawe.

Daar wás puik films op die eerste Filmverse. My gunsteling op nommer 1 is Charles Badenhorst se animasie van "What about de lô" – Adam Small se ikoniese gedig. Badenhorst het dan ook ‘n jurieprys gewen in Weinmar vir hierdie puik werk. Vroeër is Naomi van Niekerk se film "'n Gewone blou maandagoggend" aangewys as die "beste eerste film", by die grootste internasionale animasiefees in die wêreld, Annecy International Animated Film Festival and Market, waar meer as 8 000 fimmakers vanoor die wêreld meeding.

Daar was dus puik films op nommer 1, maar liefhebbers moet maar net weet: Nommer 2 is al reeds beter.

Nita Cronjé, die uitvoerende vervaardiger vir die ATKV, het ook aangekondig dat die Filmverse 2 in vier tale beskikbaar is: Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sotho.

Johan Myburg, Diek Grobler, Nita Cronjé, Charles Badenhorst, Nathan Trantaal en Ronelda Kamfer

Tydens ’n paneelbespreking ná die vertoning, is het Johan Myburg verduidelik dat hulle verse gekies het wat  aan die animeerders voorgelê is. Die keuse het die skolemark in gedagte gehad, so ’n mengsel van ou, bekende gedigte en puik nuwe gedigte is gekies.

Diek Grobler, die kreatiewe regisseur van die projek, het daarna met die kunstenaars ontmoet, werkswinkels aangebied en het toe hulle voorleggings gekeur.

Diek het ook verduidelik hoeveel ure daar in so ’n film ingaan. Elke sekonde van die film het ten minste twaalf animasies nodig. "Die res is wiskunde," sê hy.

Die 12 kortfilms op Filmverse 2 is:

  • Jeanne Goosen se "My mamma is bossies", geanimeer deur Naomi van Niekerk. Die klankbaan is pragtig.
  • Nathan Trantraal se "Geel walvis", geanimeer deur Alida Bothma, is wonderlik. Die papierknipsels wat gebruik word, is so slim gedoen. Interessant genoeg is die Zoeloevertaling gebaseer op ’n Johannesburgse variant van Zoeloe, om die Kaapse variant van Afrikaans, wat Trantaal skryf, raak te vang.
  • DJ Opperman se "Stad in die mis", geanimeer deur Jac en Wessel Hamman, is grieselig; baie, baie goed.
  • Elisabeth Eybers se "Busrit in die aand", geanimeer deur Arnaud van Vliet, het weer aan my gewys: As jy iets opnuut beleef, word ou goed nuut. Dis so ’n bekende gedig, en daar in die donker het ek nuwe nuanses ontdek danksy die puik animasie.
  • Andries Bezuidenhout se "Perron", geanimeer Marinda du Toit en Tessa Louw, is baie indrukwekkend. Geen gesproke woorde nie, net... die perron. Kyk self!
  • Boerneef se "Die berggans het ʼn veer laat val", geanimeer deur Erentia Bedeker was oorrompelend mooi.
  • Martjie Bosman se "Nagte in die tuine van Spanje", geanimeer deur Theresa Jo Wessels het ook die klanke, kleure en beelde van die gedig baie fyn saamgevat.
  • Heilna du Plooy se "Afrikaan in Nederland", geanimeer deur Hanno, Dewald en Roger van der Merwe kon spanning, die keistene en die sofistikasie van die gedig vasvat.
  • Johann de Lange se "Wisseling" is slim geanimeer deur Michéle Nigrini.
  • Joan Hambidge se "Smoke gets in your eyes", geanimeer deur Katty Vandenberghe en Anni Snyman, was grinterig en wonderlik gepas.
  • Ronelda S Kamfer se "Vir die voëls" is deur Diek Grobler self gedoen. Die meester aan die werk.
  • Marlise Joubert se "Groet" is geanimeer deur Charles Badenhorst. Sjoe. Kyk dit. Daar is ’n pop en ’n rok. Kyk hoe daardie pop treur.

Dit is onmoontlik om elke film hier te resenseer. Koop dit. Die Filmverse 2-DVD kos slegs R120 en kan bestel word by Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of hanneliev@atkv.org.za.

Dis min geld vir baie puik kuns.

Filmverse 2 is ook te sien by Tuin van Digters (van 16 tot 18 September 2016) op die Aardklop Nasionale Kunstefees van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom, en daarna op al die nasionale kunstefeeste tydens 2017.

Die Silwerskermfees koester nie net goeie films nie, dit is ook geleë op ’n plek waarheen jy die wêreld wil nooi.

’n Mens voel lekker as jy so iets beleef. Trots Suid-Afrikaans. Kampsbaai is mooi.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top