Die papegaai

  • 2

Hy stap teen donker met die voëlhok voor hom die huis binne.  Haar oë hou syne gevange voordat sy afkyk na die hok.  Buite het die tromme reeds met hulle vreemde, dreigende ritmes begin. 

“Dis ’n African Grey-papegaai,” verduidelik hy en sit die hok op die vloer neer.

Die voël draai sy kop effens skeef, korrel na haar, vou sy vlerke stywer na agter.    

“Dalk kan julle mekaar geselskap hou, Lalie.”  Die troetelnaam klink vreemd, ongemaklik in sy mond.  Hy kyk weg.  Vir ’n oomblik sien sy iets van die man wat sy leer ken het.  Voordat hy haar na hierdie godverdomde land gebring het.  

Sy antwoord hom nie, sak net af tot op haar hurke sodat sy die papegaai van nader kan bekyk.  Die voël se vere sit soos grys skubbe dig teen sy lyf geweef. 

Hy lig die hok op en dra dit na die eetkamertafel waar hy haar papiere eenkant toe vee en die hok ’n voet van die tikmasjien af neersit. 

“Jy kan die ding ’n naam gee.  Lumumba kan hom voer.”  Hy kyk tersluiks na haar, sê dan spottend:  “Dis blykbaar ’n ouwêreldse voël, een wat voor mense in die Kongo was.”  Sy hoor die afkeur in sy stem, voel hoe iets toemaak in haar.

Sy laat haar hand ’n oomblik op die hok rus.  “Gooi hom toe Charles, dis donker buite.”

Die volgende oggend luister sy hoe Charles in die kamer langsaan opstaan.  Lumumba sal sorg vir koffie, ontbyt, vir die nederige dienswilligheid wat sy lankal opgegee het.  Later staan sy traag op, trek die ligte japon stywer om haar.  Vanoggend lê die droefheid swaarder in haar lyf.  Haar borste pyn.  Sy probeer diep asemhaal.  Steek dan haar eerste sigaret op en stap na die voëlhok.  Die papegaai skree toe hy haar sien.  ’n Lang hoë skree wat haar soos ’n onsigbare golf tref sodat sy abrupt tot stilstand kom.  Hy knik-knik sameswerend vir haar, fluit dan ’n helder deuntjie.  Sy voel ’n roering in haar maag fladder.  Die melodie huiwer op die rand van haar onthou.  Sy trek diep aan haar sigaret, blaas die rook in die voël se rigting.  Hy krys, skud die rook uit sy vere.  Sy stap nader.  Daar is fyn bloedkolle aan sy bors.  Die hok lê vol donsvere.  Hy sit gepantser in grys, sy pootjies styf gekrul om die stok, sy gesig nou weggedraai.             

Vir twee weke gee sy die voël kos en water.  Lumumba weier eenvoudig en mompel onverstaanbare inkantasies wanneer hy deur die eetkamer beweeg, sy gesig weggedraai van die hok, sy wit gehandskoende hande afwerend voor hom.  

“Mens sit nie ’n gees soos syne in ’n hok nie, Mam.”  Lumumba se blik gly oor Lalie se gin en tonic, die sigaret, haar stil hande op die tikmasjien.  

Sy gee nie die papegaai ’n naam nie.  Sy neurie vir die hom, fluister trooswoorde teen die draad van die hok.  Die voël raak stiller, kleiner, sy vlerke trillend teen die weerlose lyf.  Wanneer dit donker word en die tromme begin praat, lig hy sy kop, volg haar met ’n stipswart oog. 

Sy voel toenemend hoe iets dig trek om haar.  Charles werk later saans, spandeer naweke by die manne-klub.  Hulle praat minder en minder.  Sy sit bedags voor die tikmasjien sonder om iets te skryf, rook een sigaret na die ander.  Sy dink aan Delft, verlang na die sneeu en lae, grys lug.  Die voël fluit melankolies, ’n kort drienoot-deuntjie.  Skemer gooi sy die hok toe, loop onvas na haar kamer.  Snags hou die tromme haar wakker.  Sy snak na asem wanneer sy soggens wakker word, die lug swaar en onbekend vir haar. 

Die plan kom na haar in ’n koorsdroom, en sy herken die troos daarin. 

Toe sy wakker word, vou haar hand onverwags om ’n lang grys veer.  Sou sy dit opgetel het die vorige aand?  Saamgedra het bed toe?  Sy kan dit nie onthou nie.  Nou, met die eerste roering in die kamer langsaan, streel sy oor die gladde veer. 

Sy wag tot Charles weg is voordat sy die pistool gaan haal en na die hok loop.  Die papegaai lig sy kop, fluit háár melodie.  Sy stap kaalvoet met die hok uit die huis, oor die stoep, die nat gras, volg die bospad wat Lumumba soggens werk toe bring.  Toe die bos toemaak om haar fluister sy vir oulaas teen die tralies voordat sy die hok oopmaak.  Die papegaai fladder verskrik, sit vir ’n oomblik stil voordat hy uitklim.  Hy sprei sy vlerke en lig homself moeiteloos in die lug.  Sy vlerke blink, sy stert is bloedrooi bo haar kop. 

Sy maak haar oë toe teen die oordadigheid, lig die pistool en trek die sneller.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top