Die opvoedermoreel van vandag se onderwysers

  • 0

Die land het verander. Die onderwysstelsel ook. Vandag se onderwysers beleef unieke eise en hoë werksdruk. Estelle Kruger het met Kobus Liebenberg gesels oor navorsing wat hy hieromtrent gedoen het. Lees haar onderhoud met hom oor sy LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel ’n Evaluering van opvoedermoreel in skole in Wellington.

Hoe sou jy die konsep opvoedermoreel in 25 woorde verduidelik aan belangstellende (maar oningeligte) ouers om hulle meer betrokke te kry by die probleem?

Opvoedermoreel is die positiewe ingesteldheid en werksetiek by opvoeders om hul beste te gee tot voordeel van al die leerders met wie hulle daagliks in kontak is in die klaskamer en op die sportveld.

Jy was ’n skoolhoof ...

a) Hoe het jy opvoedermoreel in die werksituasie bestuur?

Ek was daagliks daarop ingestel om opvoedermoreel te bestuur. As skoolbestuurspan het ons op proaktiewe wyse knelpunte aangespreek wat die opvoeders se moreel in die skool negatief kon beïnvloed. Ons het kwartaallikse personeelontwikkelingsessies gehou, gereelde personeeluitstappies onderneem en sommer net lekker aktiwiteite aangepak, soos: die Stormers se wedstryde gaan kyk, fliekuitstappies in die stad, bootroei op ʼn rivier, ens.

b) Hoe kan opvoeders meer ondersteun word sodat hulle moreel hoog is/bly?

Prinsipale, beheerliggame en skoolbesture behoort ook daagliks toe te sien dat opvoeders op alle posvlakke in skole hul opvoedingstaak as sinvol ervaar. Aspekte wat opvoedermoreel negatief kan beïnvloed, behoort gereeld geïdentifiseer en aangespreek te word. Distrikskantore en provinsiale departemente behoort tot die gesprek toe te tree, aangesien baie van die druk, stres en spanning wat opvoeders ervaar, veroorsaak word deur groot werkladings, lang werksure, en administratiewe rompslomp.

Sou ’n vroulike skoolhoof die spanning wat ontstaan agv opvoedermoreel anders bestuur as ’n manlike skoolhoof? Motiveer asseblief.

Nee, nie noodwendig nie. Elke prinsipaal wat sy/haar sout werd is, sal die belange van die opvoeders in die skool op die hart dra en omsien na hul welsyn. Hier gaan dit oor effektiewe skoolbestuur en leierskap, ongeag die geslag van die prinsipaal.

Wat was jou ervaring in die onderwysberoep voordat jy die akademie betree het?

Ek was 31 jaar in die onderwys, waarvan die laaste 13 jaar as skoolhoof. Toe ek in 1979 as opvoeder aangestel is, was die onderrig en leer in die klaskamer die primêre doel van onderwys. Gepaardgaande daarmee het die afrigting van sport opvoeders baie besig gehou. Sedert die implementering van uitkomsgebaseerde onderwys in 2000 het die administratiewe lading in die onderwys toenemend toegeneem en baie meer druk op opvoeders geplaas.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer? Hoe het jy bewus geword van opvoedermoreel en die implikasies daarvan in die onderwys?

Die veranderinge op onderwysgebied het sedert 2000 ʼn groot impak gehad op die werkverrigting van opvoeders. Onderwystoestande het verander en meer intensief geword as gevolg van hoë verwagtinge, groter eise, groter verantwoordbaarheid, meer sosiale werkverpligtinge, eskalerende administratiewe werklading, die stand van dissipline in skole en die kurrikulêre administratiewe rompslomp. Dit het gelei tot ʼn toename in negatiwiteit onder opvoeders.

Die bekendmaking van statistiek deur die Departement van Basiese Onderwys dat byna 27 000 onderwysers gedurende die jare 2005 tot 2010 die skoolstelsel verlaat het, het my aan die dink gesit en het as inspirasie gedien vir my navorsing oor opvoedermoreel. Alhoewel die redes vir die diensverlating toegeskryf is aan vroeë bedanking, pensioen en swak gesondheid, wou ek graag meer te wete kom oor die werklike redes wat bydra tot lae opvoedermoreel en waarom opvoeders uit die onderwys bedank.

Jou navorsing handel oor opvoedermoreel in Wellington, wat ’n spesifieke plaaslike gemeenskap is. Is dit aanduidend van positiewe werksetiek op provinsiale en nasionale vlak in Suid-Afrika? Verduidelik asseblief.

Baie onderwysleiers op provinsiale vlak en politici gaan dalk nie van my antwoord hou nie. Ek het baie kontak met opvoeders in ander provinsies en uit ons gesprekke is die verskille tussen die stand van onderwys in die Wes-Kaap en die ander provinsies baie duidelik. Die maatskaplike en ekonomiese verskille tussen die omstandighede van skole in kwintiele 1 tot 5,[1] ongeag die provinsie, is net te beduidend groot. Alhoewel Wellington in die Wes-Kaap geleë is, ervaar ons ook soortgelyke probleme aan dié in die res van die land. Die ervaring van die morele belewing van die onderwyskorps in die Wellington-area kan nie veralgemeen word nie en opvoedermoreel in skole in die verskillende distrikte en provinsies word op verskillende wyses, deur verskillende faktore geaffekteer en negatief beïnvloed.

Dit blyk dat die implementering van die nuwe kurrikulum ’n groot bydraende faktor tot negatiewe opvoedermoreel is – het opvoeders nou na enkele jare hierby aangepas?

Opvoeders het vinnig aangepas by die nuwe Kurrikulum en Assesseringsbeleidsverklaring en in baie skole sal hulle daarvan ʼn sukses maak. Die probleem wat opvoeders in Suid-Afrika ervaar, is dat met die implementering van vorige kurrikulums daar geen, of bitter min, geleentheid aan opvoeders gebied is om vorige kurrikulums te evalueer of insette te lewer. Veranderinge in die kurrikulum word eensydig deur die nasionale Departement van Onderwys op opvoeders afgedwing en die nasionale kurrikulumbeamptes is nie in voeling met dit wat in die praktyk gebeur nie. Hierdie praktyke is die eintlike rede waarom opvoeders nog nie regtig eienaarskap van die nuwe kurrikulum in Suid-Afrika aanvaar het nie en tensy dit verander, sal die “ons-hulle”-gevoel tussen opvoeders en die kurrikulumbeamptes bly voortduur.

Die infasering van multikulturele klasse sedert 1994 het tot verskillende sosiale probleme gelei. Dink jy dat opvoeders nou (na 23 jaar) geleer het om hierdie uitdaging die hoof te bied? Motiveer asseblief.

Opvoeders moes maar op eie stoom vaardighede aanleer om die sosiale probleme in die klaskamer baas te raak. Prinsipale, skoolbestuurspanne en opvoeders moet in die huidige situasie proaktief wees om die groeiende sosiale uitdagings in die klaskamer aan te spreek. Veral die nuutste tendense, soos waar bendeverwante probleme oorspoel na skole, gaan opvoedermoreel verder negatief beïnvloed.

Opvoeders in Suid-Afrika behoort beter opleiding te ontvang in die hantering van etniese en diverse kultuurverskille soos wat in skole in Australië en België plaasvind. In skole in Australië word deur middel van die Discovering Diversity-programme respek vir alle kulture aangeleer en alle leerders word die vaardighede geleer om harmonieus in ʼn insluitende gemeenskap te leef. In Kent in België hanteer opvoeders in die Tierlantuin Preprimêre Skool programme ter voorkoming van multikulturele konflik. As gevolg van die positiewe gesindheid teenoor diversiteit is die program  baie gewild in die gemeenskap. Nie net die ouers word daarby betrek nie, maar ook die gemeenskap is baie betrokke by die program.

Deur soortgelyke programme kan opvoeders voldoende opgelei en betrek word in die hantering van multikulturaliteit in skole en klaskamers, wat opvoedermoreel positief kan beïnvloed. Multikulturaliteit (taal- en kultuurverskille) in die klaskamer en in die skool moet so hanteer word dat alle vennote in die skool sal besef dat multikulturaliteit ʼn besonderse kenmerk en uniekheid van Suid-Afrika is en dat nasiebou ʼn verantwoordelikheid van alle burgers is.

In ’n ideale wêreld – hoe sou jy die gehalte van opvoedermoreel mbt opvoederoutonomie sien; hoe sou dit op plaaslike vlak manifesteer? Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?

In die ideale klaskamersituasie het opvoeders outonomie in die uitvoering van hul pligte, ondergeskik aan die skoolbeleid en provinsiale en nasionale wetgewing. Hierdie outonomie impliseer groter vryheid in die uitvoering van hul pligte in terme van die wyse waarop hulle in staat is om hul professionele oordeel toe te pas in die uitvoering van aspekte soos kurrikulumaangeleenthede, die beplanning en die bestuur in die uitvoering van hul onderrigtake. Ten einde by hierdie ideaal van professionele outonomie uit te kom beteken dit dat elke opvoeder in Suid-Afrika verantwoordbaar sal moet optree en totale verantwoordelikheid vir sy/haar ontwikkeling, professionele groei en die akademiese groei van al die leerders in hul klaskamer sal moet aanvaar.

Enige beroep bied eiesoortige uitdagings en stres. Hoekom is negatiewe opvoedermoreel so ’n verreikende probleem?

Baie opvoeders is in staat om spanning en stres in hul beroep en persoonlike lewe te hanteer. Vir baie ander opvoeders is die stres en die spanning onhanteerbaar en dit veroorsaak werkuitbranding, emosionele uitputting en gevolglike lae moreel. As laaste uitweg bedank baie opvoeders uit die onderwys. Betroubare inligting dui daarop dat die onderwys vanaf 2008 tot 2012 die grootste persentasie (43,9%) opvoeders weens bedanking verloor het. Ervare opvoeders verlaat die onderwys terwyl daar ʼn tekort in sekere vakgebiede bestaan. Die moontlikheid bestaan ook dat die groot getalle opvoeders wat bedank, toegeskryf kan word aan lae opvoedermoreel.

Watter verrassings het jy in hierdie navorsingsprojek gekry?

Die grootste verrassings was tydens die terugvoering van die opvoederrespondente waar hulle in die vraelyste moes aandui in watter mate verskeie aspekte bydra tot lae opvoedermoreel. Die drie aspekte wat die meeste daartoe bydra, is:

  • Die onderwysberoep geniet nie die professionele respek, status, erkenning en waardering in Suid-Afrika nie.
  • Beriggewing in die media oor die beeld van opvoeders is op ʼn onaanvaarbare negatiewe vlak.
  • Met die implementering van die nuwe kurrikulum is geen geleentheid aan opvoeders gebied om die vorige kurrikulum te evalueer nie. Opvoeders kon geen insette lewer tot verbetering van die nuwe kurrikulum nie.

Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van jou bevindinge?

Die navorsingsproses en die publikasie van my bevindinge was uiters leersaam en ʼn verrykende ervaring. Die afhandeling van die navorsing en uiteindelike publikasie van die bevindinge was die lang ure van lees en skryf en herskryf die moeite werd.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?

Navorsingsprojekte, nee, maar die skryf van ʼn artikel oor die aanwending van Totale Kwaliteitsbestuur in die bestuur van opvoedermoreel in Suid-Afrika, ja.

[1] Jaarlikse befondsing en subsidie aan skole (volgens kwintielindeling 1–5) deur die Onderwysdepartement in Suid-Afrika word bereken volgens die Nasionale Norme en Standaarde, soos gewysig in Staatskoerant No. 29179 van 31 Augustus 2006. Gedurende 2006 is alle skole herrangskik ingevolge paragraaf 101 van Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing. Die armoede van die skole is gebaseer op die relatiewe armoede van die gemeenskap rondom die skool, wat op sy beurt afhang van 'n individuele of huishoudelike bevoordeling of benadeling met betrekking tot inkomste, welvaart en/of vlak van opleiding. Daarvolgens is alle skole in kwintiele 1, 2 en 3 geenskoolgeldeskole, wat dus nie verpligte skoolgeld mag hef nie, terwyl skole in kwintiele 4 en 5 dit wel mag doen.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top