Die opgestopte wors het ‘n seuntjie geword

Mannetjie was ‘n ketting om Milla se voet. Toe raak sy sommer net so, sonder om eens sy geboorte te registreer, van hom ontslae. Sy het hom by ‘n ou oom twee strate van haar af gaan neerplak.

Bedags werk die ou oom by Shoprite en saans stop hy vir Mannetjie vol met Shoprite se afvalkoek. Sy houthokkie staan agter op Jossy se erf.

Toe ek om die hoek by Jossy se huis kom, lê die agt maande oue Mannetjie soos ‘n opgestopte wors op sy rug op ‘n vuil sponsmatras onder die boom. ‘n Urinereuk hang in die lug. Mannetjie kan met sy logge liggaam nie self sit of kruip nie. Sy ogies dra en is toegekoek. Vlieë kring om hom soos om uitgespoelde bamboes.

Volgens Jossy, wie se eie kinders na herhaalde waarskuwings deur die welsyn verwyder is, het die ou man Mannetjie op haar afgeforseer sodat hy sy dagtaak kan verrig. Jossy is nie beïndruk hiermee nie. Sy is, net soos Milla, te lief vir haar vryheid.

Kyk, toe ek die arme Mannetjie so sien, toe is ek kwaad. Nie vir Jossy nie, want Jossy moet ‘n mens maar vergewe want sy weet nie wat sy doen nie. Nie die ou oom nie, want hy probeer maar net in sy eie onvermoë om die barmhartige Samaritaan te wees, al is dit op ‘n uiters ongesonde wyse. Nee, ek is kwaad vir Milla omdat sy nie eens probeer om haar verantwoordelikheid as ma na te kom nie.

Ek ry die twee strate op na Milla waar sy by haar susters woon. Milla sit lekker langbeen en bak in die son. Luilekker soos ‘n warm geitjie. “Ag nee, Milla,” sê ek. “Hoe kan jy vir Mannetjie by Jossy los wat jy self weet nie eens na haar eie kinders kon kyk nie en by die ou oom wat Mannetjie net vol koek stop? Hy kry nie melk of enige kos met voedingswaarde in nie. Jy is sy ma. Jy moet verantwoordelikheid vir Mannetjie vat.”

Milla sê niks. Sy kyk net voor haar uit. Ek sien hoe die woorde in haar brein begin vorm aanneem, “Welsynstief,” maar sy spreek dit nie uit nie. Sy staan net stadig op en begin met opgeblaasde wange straataf loop na waar Mannetjie lê. “Ek gaan volgende week weer kom kyk wat aangaan en of jy jou verantwoordelikheid teenoor jou kind nakom.” Milla loop net aan sonder om om te kyk.

Die volgende Maandag is ek weer daar. Jossy bevestig dat Milla vir Mannetjie kom haal het en nog nie weer terug gebring het nie. Sy is duidelik verlig dat dié logge las van haar skouers af is.

Ek ry na die susters se huis. Mannetjie is daar, maar Milla is skoonveld. “Sy het hom net hier kom dump, haar goed gepak en verdwyn,” sê hulle. “Sy het seker by een van haar boyfriends gaan bly. Ons het nog nie ‘n spatseltjie nuus van haar gehoor nie.”

Ek belê ‘n gesinsvergadering. Milla se broer, Johannes, en sy meisie kom ook. Ons praat oor Mannetjie. Wat nou? Die susters sê: “Die lewe is swaar, Mevrou. Ons kan nie vir Mannetjie vat nie. Ons het self ons eie spannetjie om voor te sorg.”

Johannes voel egter baie sterk daaroor dat Mannetjie in die familie moet bly en nie by vreemdes geplaas moet word nie. “Ek en my girlfriend sal hom vat, Mevrou. Hy moet net hier bly. Hy mag nie na vreemde mense toe gaan nie.”

Jou wortels is belangrik in dié gemeenskap, so ons besluit dat ons onder my toesig vir Johannes en sy meisie kans sal gee om na Mannetjie om te sien. En so word Mannetjie langer en maerder, kry Rastahare en kort voor lank hardloop hy kaalgat in die strate rond.

Mannetjie is nie lief vir klere nie. Hy trek al die klere wat ek vir hom aandra uit, maar almal laat Mannetjie maar begaan want soos Johannes sê, “Mannetjie het ‘n mind van sy eie nes sy ma.”

In die winter kom hy darem tot sy sinne en hou hy sy klere aan. Wanneer ons met ons Winterhoopprojek skoene in die gemeenskap uitdeel, poseer Mannetjie snotneus en hand op die heup, soos ‘n wafferse TV-ster op ‘n rooitapyt vir die fotos. Mannetjie lyk gelukkig.

Toe Mannetjie drie jaar oud is, tref dit my dat ek seker moet opvolg of hy al sy inentings gekry het. Toe nie. Niks. Mannetjie het nie eens ‘n kliniekkaart nie.

“Nou hoekom was die kind nog nooit by die kliniek nie?” vra ek Johannes se meisie. Sy kyk dié kant toe. Ek sien sommer wat gaan in haar kop aan. “Jissis, Mevrou, weet jy dan nie hoe lank die rye is nie! En Mannetjie is mos Johannes se bloedfamilie, nie myne nie.”

Johannes sien ek nooit met ‘n oog nie, want hy is ‘n getroue werknemer. So die takie val maar vierkantig op my skouers om Mannetjie te laat inent en op datum te kry.

Ek neem Mannetjie kliniek toe en ons sit in die rye en wag en wag en wag. Mannetjie is baie in sy skik met die uitstappie. Hy sit op die bankie, swaai sy beentjies en glimlag van oor tot oor, minwetende van die “eina” wat hom nou-nou gaan tref. Na ‘n ruk kom klim hy op my skoot. “Water,” sê hy. Ek neem hom na die kraan om water te drink. Hy klim weer doodgelukkig op my skoot. Na ‘n ruk sê hy “Tea.” “Nee, Tannie het nie sulke goed nie. Net water.” Ek lag oor Mannetjie so oulik is en sê vir die twee vroue langs en oorkant my, “Haai jinne, die kind vra sowaar tee, asof ek nou so iets by my sal hê.” “Nee,” sê hulle, “Pee.” “Hy sê hy wil pee.” Maar kyk, toe kry ek darem gou lewe met Mannetjie so op my skoot.

Met die terugkom van die badkamer af, tref dit my. Dankbaarheid. Daar is rede tot dankbaarheid. Die opgestopte wors het ‘n seuntjie geword wat kan sit, loop en praat en al toiletonderrig bemeester het. Ons vorder. En uit die hoek van my oog sien ek hoe Geppetto vir ons knipoog.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top