Die ontstaan van die komieks

  • 0

Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.

Lees hier Faika Haroun se voordrag oor “komieks” (moppies).

Kaapse Maleierkoor (Distrik Ses) (Foto: Wikimedia Commons)

’n Veelbesproke aspek van Distrik Ses, wat telkens neerslag vind in Kramer-Petersen-musiekblyspele oor hierdie area, was die musikale lewe van sy inwoners. Distrik Ses was ’n belangrike sentrum van tradisies soos die Kaapse Klopse, die Kaapse Maleierkore en die Krismiskore, tradisies wat vandag oor ’n unieke musikale repertoire beskik, onder meer die sogenaamde moppie en nederlandslied wat deur prosesse van kreolisasie gevorm is.

[En in eindnota 4:] [...] Die repertoire van die Kaapse Maleierkore en die Kaapse Klopse het hulle wortels in koloniale Kaapstad se slawehandel van die 17de, 18de en 19de eeue. As sulks getuig die moppie en die nederlandslied van die ontmoeting, selfs skermutseling, tussen die musiek en taal van setlaar, slaaf en inheemse Afrikaan. Kreolisasie beklemtoon die kreatiwiteit van onderdrukte mense in die skep van nuwe kunsvorme – hierdie nuutgeskepte kreoolse musiekvorme bevat dus die spore van musiekelemente van verskillende kulture, insluitende dié van Europa, Afrika, Amerika en die Indonesiese Argipel.

Sommige slawepiekniek- of straatliedjies (ghoemaliedjies) gaan so ver terug as voor 1750, toe grootouers en ouers liedere mondeling aan hulle kinders oorgedra het (Du Plessis 1935:37). Hulle het ’n soortgelyke struktuur as die Indonesiese pantun. Dit is ’n literêre vorm van vier reëls waarvan die eerste twee skynbaar geen verband hou met die ander twee nie, maar waar van die leser verwag word om die ironiese verband raak te sien. Die ghoemaliedjies het die pantun omstreeks 1700 vervang toe die slawe, wat sulke uiteenlopende oorspronge gehad het en geen gedeelde taal nie, nie in staat was om ’n slawekultuur gebaseer op die tradisies van hul vorige lewens te behou nie (Winberg 1992:80).

Hulle het die pantun en die Nederlandse taal aangepas en het van Nederlandse volksliedjies en tydgenootlike verwysings gebruik gemaak om in hulle ghoemaliedjiessatiries op die lewe aan die Kaap kommentaar te lewer. Hierdie liedere is ’n “werkersklas-weergawe van Suid-Afrikaanse geskiedenis” en verskaf ’n “alternatiewe weergawe van historiese gebeure” (Winberg 1992:81). Baie ghoemaliedjies het vir meer as 300 jaar oorleef en word nog steeds jaarliks by die Kaapse Klopse se feesvierings in Kaapstad gesing.


Die ontstaan van die komieks 

In die Bo-Kaap groet ons onder andere so: “Salaama laykom. Hoe vaar al die mense?”

Ek is gebore in die Bo-Kaap en het die grootste gedeelte van my kinderjare en jongmensjare in die Bo-Kaap spandeer. Ons het in Buitengrachtstraat gewoon, maar omdat ons onderkant die reilings gewoon het, moes ons uit met die implementering van die “Group Areas Act”. Maar my ouma se suster, wat ook in Buitengrachtstraat gebly het, Fatima se oumagrootjie, kon aanbly. Alhoewel ons getrek het, het ons lewe in die Bo-Kaap nog aangegaan. Ons was nog altyd betrokke by sport soos rugby en krieket, en ook by die Maleise kore. Die kore waarby ons betrokke was, was egter nie deel van die kompetisie nie.

Die Maleise Koorkompetisie was nie die gemeenskap se idee nie. Toe ID du Plessis as sosiale wetenskaplike die taak opgelê is om ’n subgroep van kleurlinge te identifiseer, het hy sy ondersoek gedoen onder die sogenaamde Kaapse Maleiers. Hulle is so genoem nie omdat hulle van Maleisië afkomstig was nie, maar omdat hulle Bahasa Malei as lingua franca gebruik het. Eintlik is hulle die nasate van slawe uit die Oos-Indiese Argipel, die suide van Indië en Oos-Afrika. So het Boeta Achmat Davids ook oor die onderwerp geskryf.

Du Plessis het besef dat dié groep mense hou van musiek maak. Hulle het koorliedere gesing en ook ou Nederlandse volksliedjies. Dit het hom beïndruk, maar alhoewel die moppie ’n lekker ghoemaritme gehad het, het die lirieke nie vir hom sin gemaak nie. Hy het gesê dat dit net ’n klomp nonsens is. Wat hy nie besef het nie, is dat hierdie liedjies hulle oorsprong in die slawetyd gehad het. Dit is ’n mengelmoes van musiek met sy oorsprong vanuit die verskillende kulture wat saamgesmelt het in die Kaap. Die woorde het nie vir hom sin gemaak nie omdat dit meestal in kodes was.

Die moppies is gesing toe die slawe saam met hul meesters piekniek gehou het en die geleentheid gekry het om  met die slawe van ander meesters te meng. Hulle wou mekaar vertel van die onreg wat met hulle of hulle medeslawe gebeur het. Maar omdat die meesters nie hierdie soort gesprekke sou toegelaat het nie, het hulle kodes gebruik en ghoemaliedjies daarmee gesing. Die meesters het toe gedink dat die slawe bloot net pret maak, maar só het hulle mekaar ingelig gehou.

Die moppies wat nou gesing word, is nie altyd oor onreg nie, maar kan verdeel word in ander onderwerpe. Dit gaan oor gender normitivity, hair politics, verhoudings ens. Hierdie jaar is daar ook ’n paar komieks wat oor die waterkrisis gaan. Komieks, soos ek dit sien, is social commentary in ’n gemeenskap waar daar blykbaar geen voice is nie.

Hier is dit belangrik om te vertel waar my belangstelling in die moppie, of komiek, begin het.

Nadat ek ’n referaat in Maleisië gelewer het oor taal, kultuur en identiteit, het ek begin om meer belang te stel ook in my eie identiteit. Ek lees toe oor die Maleise kore en oor die moppies. Moppies, dink ek toe, maar ons noem dit nie moppies nie, ons noem dit komieks. En die mense wat Engels praat, noem dit die comic songs.

Ek lees toe ’n artikel in ’n uitgawe van die iZiko-museums wat geskryf is oor die moppie “Daar kom die Alibama”. Die artikel was in Engels geskryf en die liedjie is vertaal. Die vertaling het toe heeltemal die betekenis verander. “Nooi, nooi die rietkooinooi” is vertaal as “Girl, girl the reed girl”.

Lag-lag vra ek toe vir my man wat ’n rietkooinooi is. Sy antwoord was: “Jy is my rietkooinooi.” Dit beteken eintlik die vrou by wie jy slaap en met wie jy seks het. Ek het toe besef dat net 'n insider die volle betekenis van die komieks kan verstaan. Dit het toe daartoe gelei dat ek meer hieroor wou uitvind en besluit het om ’n PhD-studie daaroor te doen.

Omdat ek ’n taalwetenskaplike agtergrond het, is die studie hoofsaaklik gebaseer op die lirieke van die komieks. Die meeste van die lirieke is nie beskikbaar in geskrewe formaat nie. Daarom luister ek na die komieks en transkribeer dit dan. Ek doen dan ’n analise van die lirieke. Die analise gee dan vir my die riglyne om ’n storie te vertel. “Wilhelmina die drag queen” is een van die komieks wat ek sover geanaliseer het.

Alhoewel al die komieks in Afrikaans is, skryf ek in Engels. My promotor het aanbeveel dat ek nie die lirieke moet vertaal nie, maar die woorde moet verduidelik in die analise en aandui waar die betekenis in ’n direkte vertaling verlore sou gegaan het.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top