Die "ons" in Afrikaanse handboeke

  • 5

Bron: https://revdavidsouthall.files.wordpress.com/2013/09/stereotypes.jpg

 

Estelle Kruger gesels met Alta Engelbrecht oor haar LitNet Akademies-artikel:

Praktyke met betrekking tot visuele voorstellings in ’n Afrikaans Huistaal-handboekreeks na apartheid

Hoe het dit gebeur dat jou belangstelling in taalhandboeke ontstaan het?

Ek was deel van ’n skrywerspan wat Afrikaans Huistaal-handboeke vir ’n postapartheid Suid-Afrika moes skryf en daar het ek bewus geraak van die rol wat handboeke in die amptelike, maar veral ook die nie-amptelike, kurrikulum speel. Ons het byvoorbeeld ure lank gedebatteer oor die naam van die reeks, wat uiteindelik ter wille van inklusiwiteit verander is van Afrikaans my taal na Afrikaans ons taal

Vertel asseblief van jou eie agtergrond as onderwyser voordat jy die akademie betree het.

Ek het by Hoërskool Kempton Park begin skoolhou en was daarna by Hoërskool Silverton. Ek het dit baie geniet, veral om Afrikaans te gee, asook die buitemuurse aktiwiteite wat daarmee saamgaan, soos die redenaarskompetisies en die skoolkoerantjie. Ek was veral verlief op kreatiewe skryfwerk en poësie-onderrig. Ek mis dit vandag nog!

Watter probleem in taalonderrig het jou laat soek na ’n oplossing in jou navorsing?

Ek het vir twee jaar in Engeland gebly en toe ek terugkom, weer begin aflos by skole. Daar was ’n fantastiese handboekreeks met die ongelooflikste oefeninge en kreatiewe aanslag, die Ruimland-reeks. Toe vind ek uit dat ’n mosie in die parlement ter tafel gelê is wat die reeks uit die skole wou verban, omdat dit kwansuis “New Age-beginsels” bevat. Die uiteinde was dat ek my meestersgraad daaroor gedoen het. Van daar af was daar geen keer nie; ek het my PhD oor kulturele stereotipering in taalhandboeke gedoen en vir ses maande in België en Nederland gaan studeer.

Hoe voel jy oor die feit dat taalonderrig nou handboekgebaseerd is en onderwysers nie meer hulle eie taalonderrigprogramme uitwerk nie? Wat is die voordele en nadele daarvan?

Die KABV is ’n vol en veeleisende kurrikulum. Onderwysers kan deur ’n goeie handboek werk en seker wees dat hulle gedoen het wat hulle moes doen. Dit hoef geensins hul kreatiwiteit te beperk nie; ’n mens kan net deur die onderwysersgidse blaai om te sien watter moontlikhede daar alles voorgestel word om die klas te verlewendig. Natuurlik hoef ’n mens ook nie die handboek slaafs na te volg nie. ’n Handboek is ’n hulpmiddel en help onderwysers oorleef te midde van al die eise wat aan hulle gestel word. Handboekgesentreerde onderrig kan positief of negatief wees. As dit ons terugneem na hoe ons dekades gelede “getalk en chalk” is, is dit ’n onding. As ons floreer op die struktuur en idees wat dit verskaf … voilà!

Dink jy nuwe moedertaalhandboeke het die probleem opgelos wat jy noem “die ignorering en stilswye ten opsigte van die religieuse en sosiolinguistiese werklikhede van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap”?

My navorsing oor die oorgangshandboeke ná apartheid wys dat handboeke hoogs suksesvol was in die poging om die demografiese werklikhede te verwoord en te verbeeld. Ons moet onthou dat meer as die helfte van Afrikaans-moedertaalsprekers bruin mense (en dikwels ook Moslems) is. Ek dink almal kan op hierdie stadium ’n tuiste in Afrikaanse handboeke vind, maar ons moet net bly waak daarteen dat ons nooit weer ’n “ons” en “hulle” in ons handboeke skep nie.

Het jy dit in jou eie taalonderrig ervaar dat anderskleurige moedertaalleerders aanstoot neem oor stereotipering en neerhalendheid in moedertaalhandboeke sedert apartheid?

My studente vir seker. Hulle is baie sensitief daarvoor. Voorheen wou hulle nie eers in hulle eie streektaal praat nie – uit vrees dat ander vir hulle sou lag. Veral Kaaps het dikwels die etiket gekry dat dit (net) snaaks is. Gelukkig het ’n sepie soos Suidooster en joernaliste soos Eloïse Kupido en Jody Hendriks die stereotipering deurbreek.

Wat was jou eie ervaring van die kommunikatiewe benadering tot taalonderrig?

Ek glo onvoorwaardelik daaraan. Taal is nie deel van onderwys nie. Dit is onderwys. Ons berei leerders voor om taal in die outentieke leefwêreld te gaan gebruik. In addisioneletaalonderrig het iemand eendag gesê dit help nie jy ken die reëls van byvoorbeeld ontkenning in Afrikaans, maar jy kan dit nie self in ’n gesprek gebruik nie. Wanneer onderwysers onthou dat hulle slegs fasiliteerders van kennis is, dat hulle op geïntegreerde wyse ten opsigte van ander vakke moet werk en dat die klaskamer ’n oefenplek vir die wêreld daar buite is, is hulle besig om die kommunikatiewe benadering toe te pas.

Wat is die nuwe “verskuilde kurrikulum” in handboeke soos Ruimland en ander wat jy bespreek?

Die oorgangspublikasies in reekse soos Afrikaans Ons Taal (AOT) en Ruimland het slegs een ideologiese strewe gehad: om die wanvoorstellings van die verlede reg te stel deur ’n inklusiewe aanslag. ’n Nuwe “ons” (alle Suid-Afrikaners) is geskep en “hulle” is dié wat nie deel van die reënboognasie wil wees nie. Bietjie van ’n utopie, maar handboeke het ook die verantwoordelikheid om ’n ideale wêreld daar te stel waarna gestrewe behoort te word.

Een van die slagspreuke van huidige proteste in onderwysgeledere is die oproep tot “gedekolonialiseerde kurrikula”. In watter mate is nuwe moedertaalhandboeke sedert die KABV wel versoenbaar met hierdie slagspreuk?

’n Interessante vraag ... en geldig. Ek het geen twyfel daaroor dat solank ons eerlik en oop deelneem aan die debat rondom Afrikaans, ons reeds hiermee besig is nie. Byvoorbeeld: in Engels kan jy nie aanhou met Shakespeare en Yeats en skrywers soos Zakes Mda ignoreer nie. In Afrikaans kan jy nie voorheen gemarginaliseerde skrywers soos Small en Petersen se plek ontken nie. Daar moet openlik met die sosiolinguistiese werklikhede omgegaan word en nuwe stemme soos Ronelda Kamfer moet ingetrek word. Dit beteken egter ook nie dat ons nét Mathews Phosa se gedigte op skool moet voorskryf nie!

Hoe het dit gebeur dat jy besluit het om ’n tematiese ontleding as metodologie vir jou navorsing te kies?

Toe ek op Braun en Clarke (2006)1 se ses stappe hier onder vir ’n tematiese ontleding afkom, het ek geweet dis wat ek wil doen. Dis amper soos om ’n gedig te ontleed; net meer intensief. 

  • Raak bekend met die data
  • Skep aanvanklike kodes
  • Soek na temas
  • Hersien temas
  • Verfyn en benoem temas
  • Lewer verslag.

Watter kritiek het jy gekry mbt jou navorsing oor moedertaalhandboeke? Hoe het jy daarop gereageer?

Ek het in België en Nederland moedertaaltaalhandboeke ondersoek en met Afrikaanshandboeke vergelyk. In elke land het ek ’n reeks ondersoeke en een fokusgroepbespreking gehou. In my PhD-verslae was dit geen probleem nie, maar onlangs het keurders die klein steekproef begin bevraagteken. Ek sal voortaan beslis ter wille van geldigheid na ’n wyer steekproef kyk.

As jy die vakhoof van Afrikaans in ’n skool sou wees, hoe sou jy ’n taalhandboek(reeks) vir moedertaalonderrig kies? Motiveer asseblief.

Daar is natuurlik baie faktore wat in ag geneem moet word, maar suiwer uit ’n diversiteitsperspektief, beslis die volgende:

  • Sluit illustrasies en tekste aan by die kennis en ervaring van alle leerders? (Swart/wit rolspelers)
  • Verwys die aanspreekvorm “ons” na blankes of na alle leerders?
  • Verskyn alle leerders as “gewone mense” in die lesmateriaal of is daar stereotipiese uitbeelding?
  • Word alle kulture as dinamies en modern uitgebeeld?
  • Word verskillende perspektiewe van en deur die verskillende kulture gegee?
  • Word stereotipes doelbewus weerlê en aangespreek? (Geslagsrolle, ras- en beroepsuitbeelding)
  • Word taboes soos vigs, ongewenste swangerskap, tienerselfmoord, dwelms aangesny?

Hoe sou jy taalonderwysers oplei om hierdie voorgeskrewe handboeke nie net klakkeloos te gebruik nie (dws van bladsy tot bladsy), maar ook steeds kreatief daarmee om te gaan?

Ek leer my studente om tematies te werk, ’n duidelike uitkoms te hê, dan na die handboeke te gaan en vier aktiwiteite te kies (wat in moeilikheidsgraad toeneem en ten opsigte van die vaardighede – luister en praat; lees en kyk; skryf en aanbied – varieer). Dit is die sogenaamde “backward design” (McTighe en Wiggins 2005)2 en werk regtig om induktief, eerder as deduktief, met die inhoud om te gaan.

Wat het jy van jouself geleer in jou navorsing en die publikasieproses van hierdie artikel?

In die akademie word ons gedruk om ’n spesialis te word in ’n bepaalde kennisveld. Maar in ’n stadium moet jy afskeid neem van jou vorige werk en aanbeweeg na iets nuuts. Hierdie was my laaste artikel uit my PhD.

Watter nuwe navorsingsmoontlikheide sluimer en wag vir jou op jou eie horison?

Ek beweeg nou na die terrein van multigeletterdheid, soos in 1996 reeds internasionaal deur die New London-groep uitgespel is. Ek is tans besig met ’n boek oor multigeletterdheid in Suid-Afrika wat, in ’n neutedop, kyk hoe ons kan wegbeweeg van die geykte siening van geletterdheid as die vermoë om te kan lees en skryf. Die klem word baie sterk op die konteks van die leerders, sowel as die onontbeerlike rol van tegnologie, geplaas. Elke onderwyser behoort hiervan kennis te neem sodat ons werklik kan begin om 21ste-eeu-leerders vir die 21ste eeu voor te berei.

1 Braun, V en V Clarke. 2006. Using thematic analysis in psychology. Qualitative Research in Psychology, 3:77–101.

2 McTighe, Jay en GP Wiggens. 2005. Understanding by design. Upper Saddle River, NJ: Pearson Education.

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    As alle kulture as dinamies en modern uitgebeeld word, word die werklikheid vervals. Die ons/hulle-onderskeid is so natuurlik soos water. Party mense is bv geneties en kultureel noodwendig nader aan 'n mens as ander. Data (elektronies aan/af, 1/0, ja/nee) is brokkies inligting waaraan eers binne konteks betekenis geheg kan word. Ek sou dus eerder skryf: Raak bekend met die inligting.

  • As jy dink 'n reënboognasie is nog moontlik moet jy jou kop laat lees. Ek hoop julle poging om Afrikaans te behou is suksesvol.

  • Net na daar bevestig is dat 'meer as die helfte van Afrikaans-moedertaalsprekers bruin mense is' verwys die vraesteller na hierdie bruin meerderheid as 'anderskleuriges'.
    Ons het 'n lang pad voor.

  • Ek sal graag wil hoor wat Elsa te sê het oor die onderrig van Afrikaans as Eerste Addisionele of Vreemde Taal veral aan leerders wat glad nie in Afrikaans kan kommunikeer nie. Stem sy saam met die uitgangspunt van die vertaling uit Engels in Afrikaans en die verskil in praat, luister en skrywe uit te wys. Ek sien uit na haar boek, multigeletterdheid om te kyk of sy veeltaligheid gaan aanstuur.

  • Die grondwet maak voorsiening vir alle Suid-Afrikaners binne eiesoortige kultuurverbande. Hierdie dryf voorskriftelik in die teenoorgestelde rigting en is in elk geval 'n teenstelling. Aanhaling: "Inklusief Die Nuwe “ons” (alle Suid-Afrikaners)" teenoor “hulle” ... dié wat nie deel van die reënboognasie wil wees nie." (!) "Handboeke het ook die verantwoordelikheid om ’n ideale wêreld daar te stel waarna gestrewe behoort te word. (Hallo ... Handboeke is lewelose voorwerpe - die voorskriftelike ingesteldheid het 'n naam.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top