Die onaantasbares deur Steve Hofmeyr: ’n resensie

  • 9

Die onaantasbares
Steve Hofmeyr

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092680

Op die eerste bladsy van Steve Hofmeyr se jongste boek pryk ’n versameling lofsange. Sy vorige boeke word hoog aanbeveel deur belesenes soos Deon Meyer, Joan Hambidge en Dana Snyman. Woorde soos maestro en kuns word rondgeswaai.

Die onaantasbares begin op ’n hoë noot met ’n lus se gapende mond wat glinsterend oor die voormalige bokser Nkosi Kani se kop glip. Hofmeyr se styl is eiesoortig; macho, soms oordadig, maar soms val die juiste woorde in gelid, soos: “Wie sou hierdie blakende dag kon versoen met ’n bloedige einde?” Soms is daar ’n woord wat steur, soos “kenaiwing” op bl 41. ’n Mens lei uit die konteks af dat dit ’n verafrikaansing is van “conniving”, maar dis darem die rowwe protagonis wat hier die eerstepersoonverteller is. Die Sluiper is ’n aweregse, opgedonnerde kalant, totaal bossies met impulsbeheerprobleme en ’n melkweg vol aggressie – die soort wat die mooiste, fynste vrou op aarde, ’n brose musikant, bliksem dat die bloed loop en die snare van haar harp uitkap om ’n moordwapen te prakseer. In sy eie woorde: “Ek het Tes laat betaal vir elke DRK-etter wat weggekom het en haar laat hoes vir die onvervulde drang in my om mense op hul knieë te sien bloei.” Hy is die tipe alfaman en kranksinnige geweldenaar met genoeg posttraumatiese stres en ander komplekse, donker probleme om die mooiste, fynste vrou op aarde se hart te wen.

Die storie tel dan só vinnig soveel momentum op dat die leser haar nooit weer oor taalgebruik verknies nie. Dis ’n dolle jaagtog vol lukrake geweld, gesuip tot anderkant skeelhoofpyn, tere liefde en rowwe seks. Die karakters oortuig, die dialoog is telegramstyl soos in die regte lewe, en word sonder aanhalingstekens weergegee:

Eeu.
Eeu wie?
Eeu ons. Ons ruik soos die kat se gat.
Eeu se gat.

Die disfunksionele liefdesverhaal en die disfunksionele hoofkarakter gryp aan. Die storielyn is knap, die pas nekbreektempo. Die pad is vol haarnaalddraaie met afgronde wat aantrek soos magnete. Die wêreld word vir die Sluiper warm wanneer die skurke wat hom as huurmoordenaar gebruik, besluit dat hy te veel weet en geëlimineer moet word. Hulle hou hom dop, onder andere met behulp van ’n klein hommel. Dis ’n kwessie van tyd voor hulle toeslaan. In ’n bloedige aanval word hy geskiet en sy huis aan die brand gesteek. Hy kyk hulpeloos toe wanneer Tes val en bly lê. “Hy dink: As ek by jou kan kom. Dan gee die dak in.”

Hier begin die eintlike verhaal: oor die obsessiewe wraaksending van ’n man wat nou na siel én liggaam monsteragtig geskend is. Soos onkruid het hy oorleef, maar van die vrou van sy lewe het net ’n hopie as en ’n verloofring oorgebly. As hy vantevore ’n renoster met tandpyn was, is hy nou veel waansinniger verwoed.

Meer kan ek nie verklap nie.

Die onaantasbares sal jou nie verveel nie, en die einde tref soos ’n krieketbal teen die kant van die kop, absoluut onverwags uit die buiteveld.

Ek stem met Deon Meyer saam: Hofmeyr weet hoe om spanning te skep. Dis een van sy gawes.

  • 9

Kommentaar

  • Anneleen Loubser

    Die boek gelees; was fantasties! As jy begin kan jy dit nie neersit nie!
    Baie baie geniet.

  • Ek het so derde gelees van Hitman for Hire; Exposing South Africa’s Underworld deur Mark Shaw. Die Onaantasbares is die roman-weergawe! Ongelooflik.

  • Dit is uitstekend, maar ek het besef Tes is nie dood nie.op bl 95 (sy word aan haar arms verbygetrek). Het my laat besef hulle was nie van plan om haar dood te maak nie. Meer 'n aanvoeling.

  • Etienne Lombard

    Steve jou yster! Ek het die boek geweldig geniet. Dis verfrissend, sonder 'n omhaal van woorde en spanning word deurgaans geskep. Ek sou die dialoog anders hanteer het, soos in 'n Hemingway boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top