Die onaantasbares deur Steve Hofmeyr: ’n lesersindruk

  • 0

Die onaantasbares
Steve Hofmeyr

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092680

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Ek was nooit van plan om ’n boek te lees wat deur Steve Hofmeyr geskryf is nie. Ek het nog nooit een van sy boeke gelees nie. Ek is ’n ywerige leser van boeke, en daar is hordes en hordes boeke wat meeding vir my aandag. Dan is daar ook so baie publikasies deesdae. Mens kom nie eens by die helfte uit van wat jy graag wil lees nie. Maar die resultaat van my snoeperigheid is dat ek selde regtig teleurgestel word deur boeke. Teen die tyd dat ek betaal, dan het daar reeds genoeg kritiek plaasgevind in my kop om te weet dat ek die boek waarskynlik, ten minste tot ’n mate, sal geniet.

Daar word baie gepraat oor die sogenaamde politieke inkorrektheid van Hofmeyr se Die onaantasbares. Ek het ’n probleem met die term polities korrek. Wat beteken dit presies? Dit hang maar af van in watter geselskap jy verkeer. Met polities korrek verstaan ek dit is ’n stelling wat verswyg word omdat dit nie gewild is nie. Polities inkorrek is dus ongewilde dinge wat gesê word. Taboes waaroor gepraat word. Dinge wat gewoonlik onder die mat ingevee word. Maar wat polities korrek is in een gemeenskap, is glad nie polities korrek in die volgende nie, en andersom. Die begrip is vir my vaag en ek stel die vraag aan almal wat hier lees: verduidelik asseblief vir my wat presies is so kwansuis polities inkorrek aan Die onaantasbares? Is dit omdat Hofmeyr op een stadium oor homoseksualiteit skryf? Want daar is mos nog baie kritiek teen homoseksualiteit uit sommige behoudende dele van ons land. Maar nee, ek het my vermoedens. Hierdie “politieke inkorrektheid” waarvan gepraat word, is seker maar die onvleiende dinge wat oor ’n sekere heersende politieke party kwytgeraak word. Dit is skynbaar nou skielik vreeslik “polities inkorrek” om sulke kritiek te lewer. Blykbaar. In hierdie tye van The President’s keepers nogal. En voor 1994 is alle kritiek teen die owerhede natuurlik met ope arms verwelkom.

En ja, ek is natuurlik eintlik Clark Kent en nie Vannemerwe nie.

Maar laat ek nou nie vasbrand by kleinighede nie. Die onaantasbares was vir my ’n heel stimulerende leeservaring. Dit is misdaadfiksie, maar dis nie die gewone geval van ’n speurder wat ’n moordenaar jaag nie. Dit gaan in hierdie boek oor ’n huurmoordenaar. ’n Ongure karakter wat op ’n wraaktog gaan. Glad nie ’n held nie. ’n Vroueslaner. Wat nogal ongewoon is vir misdaadfiksie. Baie skrywers van misdaadfiksie se hoofkarakters is helde met foute. Die jare van die onberispelike helde soos die Jessica Fletchers van die wêreld is al lankal grootliks iets van die verlede. Ons nuwe misdaadbestryders is gewoonlik alkoholiste en egbrekers. Met uiters vuil monde. Maar hulle motiewe is gewoonlik edel, al is hulle vol karakterfoute. Maar nie in Die onaantasbares nie. Hier is vuilspel deel van die hoofkarakter se agenda en psige. En mens wonder soms hoekom so ’n smerige karakter se storie vertel? Maar dit doen weinig afbreuk aan die spanning van die verhaal.

Die verhaal word ook in die eerste persoon vertel – weer eens ongewoon vir misdaadfiksie.

Ek is altyd krities oor boeke waar die skrywer se naam groter op die voorblad is as die titel van die boek self. Maar Hofmeyr is ’n baie begaafde woordkunstenaar, soos ons reeds weet uit sy musiek. Sy taalgebruik is keurig. Dis gelaai met Bybelse metafore. Die verhaal vloei vinnig. Jy gaan nie baie lank aan die boek lees nie. Dit het my maar een en ’n halwe aand geneem. Ek hou boonop van kort hoofstukke soos diés wat mens in Die onaantasbares aantref. Dit por my altyd aan. Nog enetjie. Nog enetjie. Net nog enetjie voor ek insluimer. Dalk nog een … Maar wees gewaarsku, die boek is kru. Vol geweld en vloektaal. En nie almal gaan daarvan hou nie.

Ek het Die onaantasbares gekoop hoofsaaklik omdat die buiteblad my aandag getrek het. Natuurlik is mens ook nuuskierig om te sien hoe iemand soos Steve Hofmeyr se boek nou sal lees, maar dit is die manier waarop die boek vertoon wat my, as jare lange leser van misdaadfiksie, laat koop het. En dit was geen teleurstelling nie. Hofmeyr het sy eie styl en dit is wat ek die meeste waardeer het. Ek sien daar is diegene wat die boek vergelyk met die boeke van ander skrywers. Ek self sien nie hierdie vergelykings raak nie.

Ek het Die onaantasbares geniet, en ek vermoed daarom baie ander lesers van misdaadfiksie sal ook.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top