Die Noord-Kaap se spookdorpe

  • 28

Putsonderwater (foto voorsien)

Die Noord-Kaap beskik vandag oor nagenoeg 10 spookdorpe. ’n Spookdorp is ‘n dorp wat vroeër ‘n lewendige gemeenskap gehuisves het, maar wat sedertdien ‘n stildood gesterf het, en al wat oorgebly het van hierdie eens pragtige dorpie is ‘n paar ou murasies en ‘n begraafplaas.

Burgerville, Deelfontein, Draghoender, Grootmist, Platbakkies, Sydney on Vaal, Putsonderwater, Koegas, Volop en Wallekraal is almal Noord-Kaapse spookdorpe.

Deelfontein lê soos ‘n bonkige litteken op die Karoo se voorkop. Vroeër jare was daar ‘n spoorweghalte en ‘n klein stasie. Hierdie stasie was geleë tussen Hutchinson en De Aar, maar in 1889 het ‘n Russiese Jood, Elias Adamstein, daar ‘n hotel opgerig.

Adamstein het in 1880 vanaf Litaue na Suid-Afrika geïmmigreer, brandarm, maar het danksy die uitvoer van volstruisvere, ‘n fortuin gemaak. In sy dae as volstruisveresmous het hy gereeld oorgebly by JD Logan se plaashotel op Matjiesfontein.

Adamstein het baie van die idee van ‘n plaashotel gehou en het in 1889 vir hom ‘n stuk grond op Deelfontein gekoop. Daardie jare het die grondpad wat De Aar, Victoria-Wes en Richmond verbind het, by Deelfontein verbygeloop. Dit was ‘n besige roete gewees vir beide kar en trein.

Adamstein se Deelfontein Hotel was uit die staanspoor ‘n reusesukses gewees. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die Engelse later daar langs die hotel ‘n groot hospitaal opgerig. Adamstein het uit simpatie met die Engelse soldate sy hotel se naam verander na The Hotel Yeomanry.

Sy hotel het lank na die Anglo-Boereoorlog bly voortbestaan. Later jare is daar ook ‘n poskantoor en winkel op Deelfontein gevestig. Met die bou van die N1-roete tussen Johannesburg en Kaapstad het die verkeer helaas nie meer by Deelfontein verby geloop nie en het eers die hotel, toe die winkel, en later ook die poskantoor hulle deure êrens in die laat 1980’s gesluit. Vandag is wat eens die pragtige Hotel Yeomanry was, bloot ‘n vervalle murasie en Deelfontein ‘n godverlate spookdorp.

Nog ‘n spookdorp in die Noord-Kaap is Burgerville. Dié vroeëre dorpie is op die N10-roete, sowat 30 km vanaf De Aar op die pad na Hanover. Die dorpie is op 25 Januarie 1879 uitgelê op die plaas Zevenfontein. Zevenfontein was onderverdeel. Nr 1-gedeelte het behoort aan Barend Burger en nr 2-gedeelte, waar Burgerville ontstaan het, aan J Viljoen. Die dorpie is na Barend Burger vernoem.

Daar is ‘n sindikaat deur Diederik Jooste van Bloemhof en sy seun Frikkie, daardie tyd prokureur te Philipstown, gevorm. Aandele van £100 elk is uitgereik en omliggende boere en dorpsbewoners het dit gekoop. Erwe is toe opgemeet en verkoop. Op watererwe was daar ‘n rekonie van £2 en op droë erwe £1.

Die mense was toe in rep en roer en huise is gebou en tuine aangelê. Ploegvore is langs die strate getrek en bome is geplant en binne ‘n paar jaar was dit groot bome, want die grond daar was baie vrugbaar. Vandag is daar niks meer van te sien nie.

Tesame met die opmeting van die dorp het gerugte versprei dat daar diamante op Burgerville gevind is en ook dat die moontlikheid bestaan dat daar fabrieke sou opgaan. Maar dit was alles wolhaarstories. Sowat 30 huisgesinne het hulle daar gevestig en daar is selfs met ‘n skool begin.

In 1933 was die waterposisie in De Aar sodanig dat die inwoners hoofsaaklik van windpompe afhanklik was. Die enigste opsie was om Burgerville se ryk watervoorrade vir De Aar op te koop. Wat hulle dan ook gedoen het. Die tragiese gevolg was dat Burgerville in die versengende Karoo hitte ‘n dors dood gesterf het.

’n Ander spookdorp in die Noord-Kaap is Putsonderwater. ‘n Ou bruin man, Dawid Ockhuis, het kort na 1880 daar ‘n put gegrawe. Sy seuns, Hans en Gert, het hom gehelp en hulle het ‘n goeie voorraad vars water oopgegrawe. Die put was baie belangrik in ‘n streek waar trekboere ver ente van die een waterplek na die ander in die droogtetye moes aflê. Ockhuis het besef dat as hy met sy water spog, hy maklik van sy plaas afgedruk kan word, want grond was toe nog heeltemal vry en baie min het ‘n wettige grondbrief gehad.

Gevolglik het Ockhuis vir elke trekboer wat daarlangs kom, gesê: “Ja, meneer, ek het ‘n put, maar dit is ‘n put sonder water.” Op dié manier het Ockhuis die plaas nog ‘n hele paar jaar behou totdat dit in 1886 aan Peter Connan, ‘n Skotse winkelier van Draghoender, verpag is. Ockhuis moes trek en Connan en sy vennoot, Liebenberg, het die plaas van 20 000 morg ‘n paar jaar later vir £9 000 gekoop. Die put wat Ockhuis en sy seuns gegrawe het, was vir jare die perseel van ‘n pompstasie wat die dorp Putsonderwater en die spoorweglokomotiewe van water voorsien het.

Putsonderwater was vroeër jare die spoorwegstasie vir Kenhart, wat 80 km verder wes lê. Vandag is dit ‘n spookdorpie. Al die geboue staan verlate. Die Kaap-Windhoek-spoorlyn snel daar verby en die trein stop helaas nie meer op Putsonderwater vir water nie. Alles op Putsonderwater is vandag grafstil en die geboue staan verwese onder die Afrika-son en bak.

Die laaste spookdorpie wat ek wil noem, is Sydney on Vaal, ‘n ou, klein delwersdorpie wat op die oewers van die Vaalrivier naby Delportshoop en Barkly-Wes geleë is.

Die dorpie is in 1902 deur die Vaal River Diamond Exploration Co Ltd begin. Die besturende direkteur van hierdie maatskappy in 1902 was Sydney Mendelssohn en die dorp is na hom vernoem. Hy was die seun van Meyer Mendelssohn, die eerste Joodse rabbi wat in 1878 na Kimberley toe verhuis het.

In 1906 het hierdie delwersdorp oor ‘n mark, poskantoor, biblioteek, stadsaal, hospitaal en ‘n Vrymesselaarslosie beskik. Die bekende argiteksfirma Timlin en DW Greatbach het die kerk ontwerp. Beide Standard en Barclays Bank het destyds takke op Sydney on Vaal gehad.

Van die rykste diamantvondste is in 1902 hier ontgin. Meer as 66 730 karaat diamante is destyds binne ‘n tydperk van 18 maande hier uitgehaal.

Sydney Mendelssohn, die stigter van New Vaal River Diamond Company, het die geskiedkundige Mendelssohn-biblioteek vir die delwersgemeenskap hier op die been gebring. Dié biblioteek het in 1934 oor meer as 20 000 boeke beskik. Die Mendelssohn-biblioteek se susterbiblioteek wat ook deur Mendelssohn gestig is, is vandag nog in die Parlementsgebou in Kaapstad in gebruik.

Vandag is Sydney on Vaal die eiendom van die alombekende diamantdelwer Chris Potgieter en word hierdie spookdorpie met deernis in stand gehou. Dit is voorwaar die juweel van die Noord-Kaap se spookdorpe. Die pragtige ou delwersgeboue staan vandag nog pragmooi en pronk op die walle van die Vaalrivier.

Een van die dinge wat ‘n mens bybly elke keer as jy van ‘n spookdorp in die Noord-Kaap wegry, is die gevoel van nostalgie.

  • Al hierdie verhale kan in Jan van der Merwe se Die Noord-Kaapse dorpe gelees word. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek wat die ontstaan- en naamgeskiedenis van 220 Noord Kaapse dorpe en ander plekke bespreek. Die boek bevat ook pragfoto’s. Dit kos R850, posgeld uitgesluit. Bestel by janvdm@live.com.

 

  • 28

Kommentaar

  • My pa, wat daardie wêreld soos die palm van sy hand geken het, het 'n interessante storie oor Deelfontein gehad. Blykbaar is die poskantoor onnodig groot gebou, omdat die destydse amptenary die planne omgeruil het met die van Dealesville, wat in dieselfde tyd 'n poskantoor gekry het. Dealsville se mense sukkel seker nou nog met 'n te klein poskantoor!

  • Dianè Hayes-Kotze

    Já dit is hartseer. Ek het as kind groot geword en skool gegaan op Koegasbrug en so was die pragtige hotel en stasie op Draghoender. As gesin het ons baie naweke op Putssonderwater gekuier by my niggie. Haar man was die stasiemeester en ja die algemene handelswinkel was wonderlik en bring mooi herinneringe terug. Vandag is my ouers oorlede en my niggie woon in Brisbane Australië en ons kleinboet boer nog steeds in die Noord-Kaap te Rietriviervallei. Ja dit is wonderlik. Wens ons verstedelike blankes wil hierdie dorpies opkoop en laat herleef. Koegasbrug is so pragtig en word verdeel met die groot Oranjerivier. Soveel potensiaal.

    • hannetjie van eeden

      Ek onthou vir Mev Volgraaf sub A en B in een klas. Dan ’n juffrou wat met n dokter getrou het; haar van het ek nou vergeet sy het die st 1 en st 2 klas gehad. Mnr Manley het st 3 en st 4 gehad. Mnr Hendrikse was skoolhoof en het st 5 klas gehad.

  • Ja ek groot geraak langs Putsonderwater se spoorlyn en ook my pa by Draghoender afgelos, goeie memories wens Pa nog gelewe vandag.

    • Ek het groot geword op Fransehof ook ’n stasie op roete. My pa was stasiemeester daar. Lees Havenga. Ons skool gegaan op Prieska. My pa ook soms afgelos op Draghoender.

  • Jan van der Merwe

    Tilla Nel se storie oor Deelfontein se poskantoor is inderdaad waar. Ek het nou nog 'n foto van daardie kasarm van 'n poskantoor se murasie. Ek vertel ook hierdie rare verhaal in my Noord-Kaapse dorpeboek.

  • Ek sou graag wou weet of die skrywer self op Putsonderwater was en of hy die put daar gesien het?

  • Die rede vir my vraag hierbo is omdat ek jare gelede ’n ander verhaal gehoor het hoe Putsonderwater sy naam gekry het. Hierdie verhaal is in 1964 aan ons standerd 5 (graad 7) klas vertel deur ons klasonderwyser, mnr Gert Behr, by Jagersfontein Hoërskool - Suid-Vrystaat.
    Boere wat met hulle ossewaens in 1838 uit die Kaap Kolonie begin getrek het omdat hulle nie langer onder die Britse owerheid daar wou bly nie, het later jare ook in die Noord-Kaap by die plek wat vandag as Putsonderwater bekend staan aangekom. Terwyl hulle daar oorgestaan het, het dit baie begin reën, amper soos met ’n wolkbreuk. Die water het strome begin loop en ook begin opdam waar die waens gestaan het en al hoër gestyg totdat dit net-net onder die waens deurgeloop het.
    Die praktyk daardie jare was om die waens se wiele en asse wat van hout gemaak was met teer te smeer wat gehelp het dat die wiele lekker glad om die asse kon loop en kon so ook die slytasie verminder.
    Die teer was in ’n emmertjie met ’n handvatsel wat onder aan die sykant van die waens aan ’n haak gehang was omdat dit altyd baie vuil van die teer was en nie in die waens vervoer kon word nie. Die emmertjie met die teer in was bekend as ’n “teerputs” en dit het later die dag onder die water wat onder deur die waens geloop het gehang en die boere het toe besluit dat die plek se naam voortaan “Puts Onder Water” sal wees.

    • Nou wil ek aansluit by Diane Hayes-Kotze se voorstel dat ons van die dorpies moet opkoop, herstel en daar gaan bly - vir dieselfde rede as wat hul destyds ontstaan het - weg te kom van vandag se regering! Briljante plan!

  • Pragtige stories. Nou sit ek en lag vir myself, ek het altyd gedink Putsonderwater is maar net nog ’n naam, nie gedink dit bestaan regtig nie. Ai klein dorpies wat spookdorpies is het soveel mooi herinneringe. Bly daar is een wat onderhou word.

  • Christo van Aswegen

    Ek wonder hoe sou Deelfontein gelyk het as die N1 daar gebly het.
    Dankie vir die insiggewende artikel.

  • Elsa Liebenberg

    My ma, Wilhelmina Sounes het op Burgerville grootgeword. My ouma, Elsie en haar man, Herman Sounes, se grafte is in daardie begraafplaas. Nostalgie ...

  • Isabel Visagie

    Baie dankie vir die inligting. Ons het altyd gewonder hoe Sydney on Vaal ontstaan het. Ons is Maart 2008 op Sydney on Vaal in die kerkie daar getroud. My man het van 2002 daar gebly en ek het Oktober 2006 soontoe getrek. Ons het 2014 weggetrek.

  • Reg Boynton-Lee

    Ek is baie dankbaar, hier ver van SA af in die VSA, dat my goeie pel Wynand Louw hierdie artikel aan my gestuur het. Ons het laas jaar 'n "memory trip" Weskus langs gedoen en ek kan nie wag om weer so iets in die Karoo-wêreld te doen nie. My pa is op Port Nolloth gebore, ma op Grootmis (Rich familie), hulle is in die NG-kerk Grootmis getroud, en ek het my eerste 10 jare in Kleinzee gewoon (gedeelte van Kleinzee was nog my oupa se plaas voor die diamante gevind was). As iemand miskien daarin belang stel om my foto's te sien wat ook Hondeklipbaai en Wallekraal insluit gaan gerus na die skakel - daar is tot 'n foto van ons 1956 skoolklas van Kleinzee. https://thehappysnapper.smugmug.com/BoyntonLees-Travels/SOUTH-AFRICA-NAMIBIA-2016/CAPE-PROVINCE/MEMORY-TRIP-TO-KLEINZEE-TOWN-O/ en as hierdie skakel ( link ) nie werk nie, e-pos my gerus om die skakel te kry.

  • Jan van der Merwe

    Dagse Fanie Brink.

    Ek was inderdaad by Putsonderwater. Jou verhaal oor die naam van hierdie Spookdorpie het ek ook gehoor. Ek het die oorsprong daarvan probeer navors. Dit blyk dat dit 'n tipiese Afrikaanse mite is. Die mense van die Putsonderwater kontrei (Marydale / Prieska / Kenhardt en Groblershoop) het my die versekering gegee dat die storie van die put wat onder die water is, bloot 'n wolhaarstorie is.

    Dankie vir jou kommentaar, dit voeg waarde toe tot die artikel.

    Wees gegroet.

    Jan van der Merwe

  • Hélène Lewis

    My aarde, Frikkie Jooste, die jong prokureur van Phillipstown, was my oupa. Hy het later Suidwes (Namibië) toe verhuis en daar gepraktiseer as prokureur. Eers in Mariental en toe in Karibib.

  • Ek is skaam om te sê dat ek nie die gebied ken nie. Dit is nog op my wenslys om draai daar te gaan maak. Was al op Upington, vir so half uur en toe vertrek met die vliegtuig. Ek kan myself in een van die dorpe sien bly. Wonder net wie mens in verbinding kan tree om een van die dorpe te "koop", indien hulle te koop is. Dink net aan die rus en vrede wat jy daar kan ervaar. Net jou pelle en geliefde familie kan daar kom kuier of bly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top