Die NG Kerk se U-draai oor die Rubicon

  • 15

Ek het oor die jare verskeie van die NG Kerk-familie se sinodes bygewoon. Sommige van hulle was – om dit sag te stel – minder lekker, en ander was nogal lekker. Daar was sinodes wat my selfs weer moed gegee het vir die kerk en sy profetiese stem, wat veronderstel is om ’n kerk se grootste kenmerk te wees.

Die eerste sinode van die NG Kerk wat ek bygewoon het, was in 2002 in Pretoria. Dit was ’n stywe, formele affêre met groot binnegevegte, waar die broers en enkele susters nog in rye gesit het en byna soos in ’n parlement oor die Woord beraadslaag het.

Die gay-kwessie was nie so hoog op die agenda soos in 1986 toe daar onder “leiding van die Heilige Gees” besluit is homoseksualiteit is ’n afwykende vorm van seksualiteit en dat dit gevolglik ’n gruwel voor God is nie.

Daar is wel besluit etiek is ook belangrik en dat daar opnuut gekyk moet word na beleidstandpunte oor Skrifgesag en Skrifgebruik.

Tydens 2004 se algemene sinode het die gay-debat weer in alle erns op die kerk se agenda beland. Ten spyte van die feit dat dit vir hulle geblyk het die Bybel beoordeel homoseksuele dade as opstand teen God, en dit sodanig as sonde veroordeel het, was daar ’n al hoe luider wordende stem in die kerk wat anders gevoel het.

Skoorvoetend is die eerste klein treetjies begin na ’n ietwat meer akkommoderende houding teenoor gays. Piepklein babatreetjies, maar darem so effens vorentoe.

Die “Heilige Gees” het hulle begin oortuig homoseksualiteit is nie ’n gruwel voor God nie. Maar die daad! Ja die dáád! Wat maak ons tog met die dáád? Daaroor sou die broers nog jare lank biddend murmureer.

In 2007 woon ek weer die NG Kerk se algemene sinodesitting in Kemptonpark by. Die toon van die gesprekke was oor die algemeen minder veroordelend en die gayvriendelike faksie in die kerk het hulle stemme al hoe harder laat hoor.

’n Onwerkbare en totaal teenstrydige kompromis is bereik.

Daar is besluit gay dominees mag gelegitimeer word mits hulle nie die daad by die woord voeg en die daad pléég nie. As gay dominees en proponente die daad by die woord voeg kon daar daadwerklik teen hulle opgetree word.

Kerkrade kon darem besluit gays wat nie dominees is nie, mag min of meer die daad by die woord voeg en vir mekaar lief wees.

So het sommige dit verstaan.

Op die keper beskou was dit natuurlik ’n lawwe besluit wat nóg kant nóg wal geraak het, want mense van dieselfde geslag mog steeds nie trou nie. Om die daad by die woord te voeg is volgens die kerk sonde as mens nie getroud is nie.

Daarmee het sommige gedink die probleem is opgelos. Kort en klaar. Seks is vir die huwelik en basta met die res! Dat die huwelik soos wat die kerk dit vandag verkondig, eintlik maar ’n kultuurding is wat oor die jare baie verander het, nié deur God ingestel is nie en beslis nie die sogenaamde Bybelse huwelik is waarop die kerk hom beroep nie, word natuurlik met allerhande slim woordgimnastiek verswyg.

Die laaste woord oor die huwelik – wat net soos Skrifgesag een van die olifante in die vertrek is – is nog lank nie gespreek nie.

Tydens 2013 se sinode het die broers en enkele susters na hoeveel “verdere studies” vir nóg verdere studie gevra. Ek het vroeg geleer veral die kerk se broers is gaande daaroor om gays deur middel van “verdere studies” te "bestudeer".

Teen 2015 het ek so min hoop gehad dat die kerk ooit ’n dapper besluit oor homoseksualiteit sou neem dat ek ’n weddenskap daaroor verloor het. Ek gewed het dit sal nie gebeur nie.

Die sinode van Oktober 2015 het die wind uit my seile gehaal. Kort voor spertyd moes ek ’n halfklaar artikel wat ek vir die volgende Sondag se Rapport Weekliks moes indien, in die asblik gooi. Teen al my verwagtings in het die sinode dit goedgekeur dat gays mag trou, al word dit nie ’n huwelik genoem nie. Dieselfde sou vir dominees geld. Ek het die pot heeltemal mis gesit met my voorspelling. Ek moes die halfklaar artikel waaraan ek gewerk het, inderhaas van voor af oorskryf om die koerant se spertyd te haal voordat die koerant drukkers toe is.

Die nuwe artikel, wat ek teen die spoed van wit lig geskryf het terwyl die redakteur ongeduldig plek oophou en daarvoor wag, se opskrif het gelui dat die NG Kerk sy Rubicon oorgesteek het.

Die kerk het skielik weer integriteit gehad. Gewone mense het nie meer so hardop gelag vir die kerk nie. Daar was weer hoop. Dit het gelyk of die liefde seëvier en dat Paulus tóg reg was toe hy in ’n oomblik van wysheid geskryf het die liefde is groter as geloof en hoop.

Maar die hoop was van korte duur. Die kerk se U-draai oor 2015 se gay-besluit is teen dié tyd ou nuus. Die sinode se broers en susters wat teen verhoudings tussen mense van dieselfde geslag gekant is, het “onder leiding van die Heilige Gees” stert in die lug al die pad terug oor die Rubicon tot amper weer binne in die Middeleeue in retireer.

Die meeste van hulle weet waarskynlik nie dat die Rubicon wat Julius Caesar in 49 vC oorgesteek het, eintlik ’n baie vlak rivier is nie. Nie een van hulle sou daarin verdrink het as hulle die vlak modderige rivier regtig sou oorsteek nie.

Al wat nou van die NG Kerk se 2015-Rubicon oorgebly het, is die modder in die rivier waarmee hulle mekaar in 2016 gegooi het en mekaar steeds mee besmeer.

Iewers in die toekoms sal die kerk wéér omswaai en sulke verbintenisse goedkeur. Ek is egter bevrees teen daardie tyd sal daar so min van die kerk se geloofwaardigheid oor wees dat dit geen impak meer sal maak nie.

Vir die soveelste keer in sy geskiedenis het die kerk wéér die bus verpas.

Al wat nou oorbly, is dat daardie gemeentes wat sterk voel oor menswaardigheid, hulle eie kerk se sinodebesluit eenvoudig ignoreer en voortgaan om ’n veilige ruimte te bied vir daardie handvol mense in die gay-gemeenskap wat hoegenaamd nog deel wil wees van ’n kerk wat hulle menswaardigheid vir die soveelste keer verneder en vertrap het.


Lees ook: Artikels op LitNet Akademies

Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

Helena van Coller
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

Ernest van Eck, Ralph Barnard
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)


Webseminaar op grond van 2015 se sinode

Die begin van 'n ruimer gesprek

Lulani Vermeulen, Charlene van der Walt
Seminare en essays

God se Woord verander nie. Of hoe?

Ralph Barnard
Seminare en essays

Geestelike geletterdheid en die sekspolisie

Louis van der Riet
Seminare en essays

Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel

André Bartlett
Seminare en essays

Daar is 'n olifant in die kerk

Jean Oosthuizen
Seminare en essays


  • 15

Kommentaar

  • Dit is so jammer dat die Heilige Gees gekoppel word aan sulke afskuwelikke dade, geen mens wat roem dat hy die Heilige Gees ken of as iets Heiligs ag sal met so 'n fabel die Heilige Gees wil opweeg.

    Wat word dan van die waarskuwings in die Woord van God aangaande sulke optrede en dade wat God en sy gebod nie behaag nie, om genade aan so iets te wil koppel om dit te reregverdig is vir die Here 'n gruwel.

    Dit gebeur wanneer die mens, die mens wil behaag en nie met God in verhouding te wil wees nie. Dis so waar, "in die laaste dae sal die mens vir hul menigte van predikers versamel wat hulle met die gehoor sal streel".

  • Rinus Mosterd

    Laat ons bly wees die NGK het darem weer vir 'n slaggie 'n u-draai gemaak terug in die rigting van die Bybel se waarhede rondom hierdie kwessie.

    Hulle het darem weer 'n bietjie verlore integriteit herwin.

    • Ja, ek is baie bly daar is nog mense in die NGK wat erns met die Woord wil maak! Niks van Jean se geteem kan die Woord verander nie ...

  • Martie Potgieter

    Dit is sover ek weet die NG Kerk wat die gay mense wil akkommodeer. Die ander susterkerke en die Metodistekerk sover ek weet praat nie eers daaroor nie, wat nog te sê sal goedkeur.
    Nêrens in die Bybel is daar iets positiefs te sê oor gay persone nie. As mens na die diereryk kyk is daar sover ek weet ook nie van so iets ter sprake nie. God het die mens man en vrou geskape as pasmaats ... nêrens in die Bybel word dit anders vermeld nie. As mens na die anatomie van die mens kyk, is daar ook niks aanvaarbaar dat mans geslagsgemeenskap met mekaar kan hê nie.
    As mense gay is en saam wil leef is dit hul eie goeie reg en kan hul seker na enige kerk toe gaan, maar ek dink om die NG Kerk te wil afkraak is regtig bietjie wyd gevat.
    Die NG Kerk probeer ten minste om hul te akkommodeer, maar om te wil trou en as die NG Kerk dit nie goedkeur nie, is die NG Kerk die vark in die verhaal ... asseblief gaan soek dan 'n ander kerk wat huwelike sal goedkeur tussen dieselfde geslag. Hou die NG Kerk hieruit.

    • Barend van der Merwe

      Homoseksualiteit is goed gedokumenteer onder ander spesies. Jy kan jouself gerus van die feite vergewis. Wat die Bybel betref is die manier hoe die kerk daarmee omgaan total arbitrêr. Dit is 'n ope vraag of die Bybel as 'n wetboek gebruik kan word. Daar is baie Bybelse praktyke, onder meer die blatante seksisme teen vroue, wat eenvoudig deur die kerk geïgnoreer word, vir baie goeie rede.

  • Marius Muller

    Menswaardigheid? Wat van God se Godheid? Die mens het geen regte nie, net genadige voorregte wat geensins verdien word nie. Voorwaar ’n geseënde dag as homoseksualiteit in begeerte en daad as sonde verklaar word. Ek sal nie volhardende homoseksuele mense wat weier om dit as sonde te erken langs my in die kerk wil hê nie. Dit het niks met haat of liefdeloosheid te doen nie en alles met die waarheid in Christus. Almal wat sonde as sonde bely is welkom insluitende homoseksuele mense, maar nie die wat sonde probeer regverdig of bevorder binne die kerk van Christus nie. Valse leraars en Moderators moet hul eie vals gemeente stig en daar hul sondes sonder belydenis of enige skuldoortuiging bedryf. Dit is tyd dat die skape en bokke geskei word; saam kan dit nie, daar is eenvoudig geen ruimte in hierdie kwessie nie, leuens en waarheid het niks met mekaar te doen nie.

  • As gay ateïs verwonder ek my altyd oor al die doen en late van die NG Kerk, asook ander kerke wat nou kwansuis wil besluit dat die besluite van 'n algemene sinode voorrang geniet bo dit wat ondubbelsinnig in hulle heilige skrif, nl die Bybel geskryf is mbt homoseksualiteit, en wanneer 'n meerderheid besluit deur die algemene sinode geneem word, dit nou kwansuis onder leiding van die Heilige Gees gedoen is, en wanneer sodanige besluit weer teruggetrek word, dit ook onder leiding van dieselfde Heilige Gees geskied!
    Julle maak julle godsdiens belaglik. Indien gays Christene wil wees, dan moet hulle gehoor gee aan wat hulle heilige skrif omtrent die saak te sê het, en wat dit wel oor die saak te sê het, gaan hulle natuurlik nie van hou nie.

    • 'n Klompie jare gelede was daar 'n gay "gemeente" hier in Vereeniging (wat nie meer bestaan nie). Ek het van die dienste op aandrang van vriende bygewoon. Dit was 'n belewenis en ek moes hard poog om my gelag te onderdruk. Van die "gemeentelede" (mans) het in vrouedrag en pruik, lipstiffie, die "works" kerk (vorige NG kerkgebou in Stanleylaan) toe gekom. Na die diens was daar natuurlik die teepartyjie, met die tipiese gay taal, asook die "falsetto" toon van diegene wat soos vrouens wou geklink het.
      Kry julle NG mense dit reg om gay-huwelike toe te staan, wat volg gaan juis die prentjie mettertyd wees wat ek hierbo geskilder het, seker ook onder leiding van die "Heilige Gees".

  • Jean Oosthuizen

    Martie jy maak twee groot feitefoute in jou kommentaar. Die Hervormde Kerk wat die tweede grootste Afrikaanse susterkerk is maak wel ruimte vir gays wat trou. Dit is ook nie korrek dat homoseksualiteit glad nie in die diereryk voorkom nie. Daar bestaan talle voorbeelde daarvan onder verskillende dierespesies. Hier is 'n hele aantal bronne om dit te bevestig.
    https://en.wikipedia.org/wiki/Homosexual_behavior_in_animals

  • Pieter Greyling

    Die Bybel is nog net so van toepassing soos toe God dit ingestel het. Vir eens is dit tyd dat die kerk, enige kerk, kyk na wat werklik in die Bydel van ons verlang word en ophou om die wêreld te wil tevrede stel. 30% slaagsyfer is goed genoeg vir die wêreld maar nie vir God nie, Hy verwag 100% toewyding.

  • Geen Christen leef volgens die Bybel nie. Die Bybel verlang bv van die Christen dat hy sy stout kinders met klippe moet doodgooi. Daar is net een Bybelse wet wat, sover my kennis strek, geen Christen nog oortree het nie:niemand het nog ooit 'n bokkie in sy ma se melk gekook nie.

  • Ons land se grondwet maak voorsiening vir geen diskriminasie op grond van geslag, ras, ens nie. So, gays kan maar trou en alles saam doen. Omdat dit strydig is met Die Bybel hoort dit nie in die kerk nie. Dus, hoekom trou gays nie maar in die landdroskantoor en bly weg van die kerk af nie?

  • Onthou, dis "straigt" uers wat gay kinders het. En om vir daardie kind te vertel dat daar 'fout' is met hom of haar, oor 'n klompie verstokte ou ooms so 'besluit' het, is 'n skande.

    Die bloed van elke enkele tiener wat selfdood pleeg oor hierdie kwessie, oor die kerk nie God se Liefde wil of kan verstaan nie, is aan die hande van hierdie verstokte spul 'sinode-gangers'.

    Skaam julle.

  • Barnie Glover

    Die NG Kerk het die Kerk se deur vir die duiwel oop gemaak. Nou het die goddelose element in die NG Kerk besluit God is verkeerd, die hel wag vir julle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top