Die nag van Legio: ’n teaterresensie

  • 0

Foto verskaf

’n Motto vir hierdie bekroonde drama en die voortreflike opvoering daarvan:

              ... in plaas van net groot en net goed,
                het daar verskriklikheid en eenvoud
               en boosheid en eenvoud
               en eenvoud en nederigheid ...
               by die breuk uit wat jy is, kom peul.
               Die aarde is nie eenvoudig nie.

                                  NP van Wyk Louw: Tristia

Ons beleef PG du Plessis se karakters in “’n saal in ’n inrigting vir sielsiekes”.

Elkeen het ’n “streep”. Een van hulle, Oubaas Menge (Gerben Kamper), noem dit so. Hy stel ook graag vas  wat elkeen s’n is. Sommige in die Kaapse openingsaandgehoor lag met oorgawe vir sy sêdinge. Iets soos “Die plek klink soos ’n  malhuis.” Of: “Jy ken my as ’n man wat sy medemens se foute respekteer.”  Of: “Ek persoonlik druk nooit my dinge op ander mense af nie ...” Dit nadat hy al hoeveel maal op ander geskreeu het dat hulle hom as ouer man moet respekteer. Hy sal hom nie laat beledig nie. Hulle moet uit sy karakter bly. Hy wil die “voorsitter” bly. Kamper se vertolking maak hierdie “leiersfiguur” baie lewensgetrou. Hy is heelwat op die voorgrond.

’n Uitmuntende vertolking kom ook van  Francois Jacobs as die jonge Dirk. Van hierdie rol word hoogs emosionele uitbarstings en die weergee van liggaamlike pyn verwag. Soos by ander ook. Kyk hoe word sy gesig verwring in daardie oomblikke. Sy geestesworsteling vlam op as Dogoman (André Roothman) daardie  aand by hulle toegelaat word. Dirk dring aan by die dokter (’n baie ratse en energieke Riaan Visman) om hom nie te laat slaap in dieselfde kamer as Dogoman nie. Want hy kén dié hoflike, selfs sagsprekende man wat metafisiese uitsprake maak. Dogoman het dit byvoorbeeld oor hoe die stand van die maan “die sappe van simpatieke ingewings in die mens (laat) styg.” Die intrige sal dan draai om die ware aard van Dogoman en watter invloed  hy in die verlede op Dirk gehad het en ook, voor die nag verby is, op die ander gaan hê. Dirk en die dokter het noodgesprekke oor die werklikheid en illusie. Dirk het dan al so goed vordering gemaak in terapie om daartussen te onderskei. Illusies versus werklikhede is dus ’n belangrike tema in die drama.  

Francois Potgieter is die verpleër. Hier het ’n mens ’n voorbeeld van hoe ’n speler van kort verskynings en spreekbeurte iets boeiend maak. Hy wil die manne gerusstel met entoesiastiese  en gewoon vriendelike opmerkings en gesigsuitdrukkings. Maar hy vererg hom darem ook en brul vir hulle.

Vir Deon Lotz het ek werklik aanvanklik nie herken nie. Hy is Claassens wat aanhoudend wil tel. Tot skoon onderbroeke. Hy glo dat niemand anders weet wat lyding is nie. Hy ken diep smarte. Telkens sal hy hom probeer verberg op sy bed. Maar die tonele wat ek veral  sal onthou is dié waarin hy effens met sy bolyf vooroor gebuig staan, woordeloos en pateties te midde van die geweld en chaos.

Duncan Johnson ís Charley. Met hom soek jy nie moeilikheid nie. As hy vir jou is, sal hy jou beskerm met daardie frisgeboude lyf van hom. Hy sê self: “Ou Charley kan altyd ’n dingetjie doen.” In een toneel staan hy net redelik lank stil. Dit sein soveel kragtige dreiging oor. Een van die hoogtepunte is die “verhoortoneel” waarin dit ysingswekkend duidelik word waarom ’n mes vir hom belangrik is. Die spreekbeurte van verskillende karakters laat ’n mens dit in besonderhede sién.

Hein Poole is Jakkie. Vir Oubaas is dié mannetjie ’n oorlas. Hy vermoed die vent wil hom ore kom aansit. Hy sou dan voorgee dat hy sekere handelinge nie kan uitvoer nie. Hy kla teenoor  Dirk: “... vir wát moet ons elke goddelike aand sy boude vir hom was?” Jakkie se binnekoms met die hulp van Oubaas-hulle is  visueel sterk dramaties. Jakkie ruk en steier rond. Later sal hy aan sy bed vasgebind word. Dit lyk oortuigend vanweë die tegniese spel van die spelers en van die verhoogbestuur se ervarenheid.  

Die voortreflikste van hierdie toneelopvoering is die samespel en dan die voortstuwing van die handeling. Aanhoudend gebeur dinge. Almal wat in ’n toneel is reageer na sy aard. Groot en  klein handelinge kom voor. Daar’s visuele verrassings. As ’n mens al dikwels gehospitaliseer is, sal jy daardie wit voorwerp wat as rekwisiet rondgeswaai word, beslis ken.

Aan regisseur Albert Maritz: knap gedaan.  Gaerin Hauptfleisch het hom bygestaan met stelontwerpe en ander tegniese aangeleenthede. (Alles is so realisties. Moes die gedeelte bo die deur nie onbeweeglik gewees het nie?) Josh Prinsloo versorg die klank wat ’n mens se verbeelding prikkel. Veral aan die begin en einde is dit baie onheilspellend. Jako Beyleveld se beligting was baie meer as net in- en uitdoof. Dis deel van die intrige. Linette de Kock en Maryke Howard se reklame was eersteklas.

Gaan hierdie opvoering nie dalk verfilm word nie?

(Aanhalings is uit die eerste uitgawe van 1969 soos deur Nasionale Boekhandel gepubliseer. Dit mag verskil van die speelteks.) 

PG du Plessis

Die nag van Legio

Met André Roothman, Francois Jacobs, Gerben Kamper, Duncan Johnson, Deon Lotz, Riaan Visman, Francois Potgieter en Hein Poole

Regie: Albert Maritz

In die Kunstekaap-arena tot 19 November

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top