Die naderende dood van queer-rolprentkuns: die LGBT-films by die Cape Town International Film Market & Festival (CTIFMF)

  • 0

“Even when coupled with a toleration of minority sexualities, heteronormativity has a totalizing tendency that can only be overcome by actively imagining a necessarily and desirably queer world.” (Warner 1991:8, beklemtoning bygevoeg)

1. Inleiding: “nuwe heteronormatiwiteit” / homonormatiwiteit en die onsigbaarwording van queer

In 2003 publiseer die bekende Amerikaanse queerkultuurkritikus Lisa Duggan ’n boek getiteld The twilight of equality? waarin sy Michael Warner se term heteronormativity herbedink in die konteks van die hegemonistiese opkoms van die neoliberalisme. Warner het in 1991 met die term vorendag gekom in ’n nou beroemde teks, “Fear of a queer planet”. Heteronormatiwiteit is ’n kollektiewe betekenaar waarmee verwys word na die dominante sosiale stelsel van norme, diskoerse en praktyke wat heteroseksualiteit voorhou as beide natuurlik én verhewe bo alle ander uitdrukkings van seksualiteit.

Duggan meen dat ’n nuwe neoliberale seksuele politiek by sekere oënskynlik pro-LGBTI+-bewegings bespeur kan word en sy verwys hierna as nuwe heteronormatiwiteit. Nuwe heteronormatiwiteit word gekenmerk deur ’n politiek wat dominante heteronormatiewe aannames en instansies hoegenaamd nie teenstaan nie, maar sodanige aannames en instansies eerder handhaaf en ondersteun, terwyl dit die moontlikheid van ’n gedemobiliseerde gaypubliek, sowel as ’n geprivatiseerde en gedepolitiseerde gaykultuur (wat geanker is in huislikheid en verbruik), verseker (Duggan 2003:50). Duggan som die nuwe heteronormatiwiteit (en die “neoliberal gang of gays” (bl 63) wat daarmee gepaardgaan) soos volg op:

There is no vision of a collective, democratic public culture, or of an ongoing engagement with contentious cantankerous queer politics. Instead we have been administered a kind of political sedative – we get marriage and the military, then we go home and cook dinner, forever. (Duggan 2003:62)

Nuwe heteronormatiwiteit is dus ’n geïnternaliseerde heteronormatiwiteit by mense met ’n nieheteroseksuele oriëntasie en, as sodanig, eintlik ’n homonormatiwiteit. Dit word gekenmerk deur die opvatting dat seksuele minderhede kan en moet konformeer aan heteronormatiewe instellings en waardes ten einde groter aanvaarding in die dominante samelewing teweeg te bring (Robinson 2016). ’n Queeringesteldheid, daarenteen, vereis dat mens ’n kritiese posisie inneem teenoor tradisionele heteroseksualiteit, konvensionele gesinsvorming, monogame verhoudings, kuise seks en die al hoe meer dominante Westerse idee van “gay pride”-parades as kleurvolle, karnavaleske partytjies eerder as ’n geleentheid vir protes teen die gematigde en onderdrukkende bourgeois waardes van ’n ouer geslag.

Homonormatiwiteit vereis ’n depolitisering van seks en seksualiteit, met die belofte dat mens beloon sal word met verdraagsaamheid en selfs aanvaarding binne die breë kultuur, solank mens maar net nie moeilikheid maak en die grense van heteronormatiewe “fatsoenlikheid” vertroebel nie. Homonormatiwiteit is, volgens Duggan, reeds die oorheersende waardestelsel in die Westerse gaykultuur en gevolglik die ideologie wat, om dit in Louis Althusser se terme te stel, die kerngesin as ’n ideologiese staatsapparaat onderlê en onderhou. As ideologiese staatsapparaat verseker die gesin op sy beurt die voortsetting van die kapitalistiese, neoliberale ekonomiese basis deur die reproduksie van gehoorsame, gewillige en dienswillige verbruikers. Op hierdie wyse verkry neoliberalisme ’n hegemonistiese status in Gramsci se sin van die woord: die apparatuur van Mag hoef nie langer op die gelegitimeerde geweld van dwang te steun ten einde die ideologiese doelwit te bereik nie – hegemonie beteken dat ideologiese indoktrinasie konsensueel, selfs onbewustelik volgens Althusser, plaasvind.

Die opkoms van homonormatiwiteit as oorheersende waardestelsel in gaykultuur impliseer die ondergang van queeringesteldheid en die toenemende onsigbaarheid daarvan in gay-estetika en in die invloedrykste meganismes en mediums van representasie soos die rolprentkuns. Jacques Rancière (Althusser se beroemde afvallige student) voer lank reeds aan dat die politiek in beginsel en as sodanig ’n estetiese aktiwiteit is en dus is hierdie onsigbaarwording van queer nie verrassend nie. Wat egter wel verrassend is, is die snelle pas waarteen neoliberale homonormatiwiteit besig is om die sogenaamde LGBT-rolprent as uitdrukkingsmedium op te eis – en soos ons sal sien, geld laasgenoemde nie uitsluitlik vir Westerse films nie.

2. Die LGBT-films by die Cape Town International Film Market & Festival (CTIFMF)

Die rolprente (om van die kortfilms eerder nie te praat nie) wat onder die LGBT-vaandel by vanjaar se CTIFMF vertoon is, bevestig dat die queerfilmgenre soos dit tot nou toe daar uitgesien het, besig is om weg te kwyn. Daar kan in hierdie verband selfs van ’n kaping van die LGBT-rolprent deur die nuwe heteronormatiwiteit / homonormatiwiteit gepraat word. Teen die agtergrond van hierdie tendens word dit noodsaaklik om die LGBT-rolprent radikaal van die queerrolprent te onderskei – oorvleueling kan nie meer, soos in die “ou” dae, eenvoudig aangeneem word nie. Die oorweldigende meerderheid van die rolprente wat as LGBT op die fees vertoon is, bevestig die geldigheid van die onderskeid, aangesien hierdie films meestal nié ’n queeringesteldheid betrek, beliggaam of verteenwoordig nie. Van verset en weerstand is die aanduidings bloedweinig. Inteendeel, daar is eerder ’n soort kollektiewe estetiese inkruipery by en ophemeling van die nuwe heteronormatiwiteit / homonormatiwiteit.

Op sy mees reaksionêre ergste is hierdie tendens aanwesig in die Afrikaanse speelfilm Twee grade van moord van Gerrit Schoonhoven. Dit is wel so dat hierdie film nie onder die LGBT-vaandel vertoon is nie, maar ’n selfdegeslagtelike verhouding is prominent in die storie. Die uitbeelding van hierdie verhouding, maar veral van die problematiese posisie wat ander karakters teenoor die verhouding inneem en wat hulle daaroor te sê het en wys, sal enigiemand wat Michel Foucault se History of sexuality gelees het, nagmerries gee. Mens weet nie eintlik waar om te begin nie. By die vooroordeel wat oënskynlik net tot die swart huishulp beperk is – ’n truuk wat lyk soos ’n poging om die aandag af te lei van die vooroordeel van die ander (wit) karakters? By die hipergestileerde uitbeelding van die modelseun wat gay geword het (die karakter, vertolk deur Roelof Storm, lyk pal of hy so pas van die loopplank by Cape Town Fashion Week afgestap het)? By die manlike hoofkarakter se uitlating dat sy gay seun “meer man in hom het” as sy heteroseksuele eweknieë, of so iets? By die Sandra Prinsloo-karakter se uitdrukking van absolute afgryse, skok, teleurstelling en ontnugtering wanneer sy haar modelseun wat gay geword het by ’n ander man betrap? Een ding is seker: met só ’n film as vriend het die queersaak nie vyande nodig nie. (Terloops, wanneer laas het jy gehoor van iemand wat in Suid-Afrika vir vyf jaar tronk toe gaan omdat sy haar eggenoot gehelp het om die tydelike met die ewige te verwissel?)

Maar selfs in die speelfilm waarin mens dit die minste verwag, naamlik Dome Karukoski se Tom of Finland, gedy die homonormatiwiteit. Hier is dit in die vorm van wat een van die jurielede, Melanie Judge, ’n “sterilisering van seks” noem. Tom se kunswerke word meestal skrams en vlugtig vertoon – dit is asof die kamera skaam is vir die seksueel eksplisiete (wat fundamenteel is in Laaksonen se kunswerk) en dit gevolglik doelbewus vermy.

Aan die begin van die film is daar uiteraard oomblikke waarin die versmorende heteronormatiwiteit van die postoorlog dekades omseil en selfs omvergewerp word, maar dit is byna asof die film aangedryf word deur ’n kompulsie om die boodskap oor te dra dat dit op die ou einde nutteloos is om jou teen homonormatiwiteit te verset. Dit is asof die film sê dat as jy jou teësit, sál een van die volgende dinge gebeur: jy sal sterf; of iemand (selfs baie iemande) vir wie jy lief is, sal sterf aan ’n siekte waarvoor jy (deels) geblameer word; of jy sal andersins regtens, moreel en metafisies gestraf word; of jy sal (betyds) die sondigheid van jou weë besef en jou heil vind in die veiligheid van die heteronormatiwiteit en die normaliserende samelewing, huis toe gaan en kook in jou swart leerbroek tot in der ewigheid, amen.

Selfs wanneer Tom sy siek lewensmaat by die huis los om die hedonistiese, hiperseksuele gay Kalifornië van die sewentigs op uitnodiging te besoek, lyk die uitbeelding wat die kyker kry ten beste na ’n soort koddige kostuumpartytjie met swak rekwisiete (amper soos deesdae se MCQP). Van die promiskue seks, die dwelms, die radikale bevraagtekening van heteronormatiwiteit as ideologie, is taal en tyding min. En die einde van die film is ’n skaamtelose ode aan die wyse waarop selfs hierdie oorspronklik transgressiewe subkultuur van bikers, sailors, officers, bendes en baie gay, promiskue seks, klaaglik voor kommodifikasie en die verbruikerskultuur swig.

Die twee beste films wat by die fees vertoon is – Screwed en Heartstone – handel op soortgelyke wyse, hoewel tot ’n mindere mate, met homonormatiwiteit. In hierdie films is daar darem steeds sprake van ’n oorvleueling van LGBTI+ met queer. Beide films gaan op eiesoortige wyse om met tienerliefde en die onsekerhede, vrese oor manlikheid, verwarring en selfhaat wat (selfs in die Eerste Wêreld-konteks waarbinne dié films afspeel) nog steeds sommige tienerseuns teister wat op ander seuns verlief raak.

Heartstone, die Yslandse film van regisseur Guõmundur Arnar Guõmundsson, beklemtoon die genadelose heteroseksuele hipermanlikheid wat op die Yslandse platteland heers. Die film ontvang die jurieprys vir beste LGBT-film. Dit is goed vervaardig, die regie is subtiel en selfs simpatiek in die oomblikke wanneer die liefde van Christian nie deur sy beste (straight) vriend, Thor, beantwoord word nie.

Wat egter die bykans algehele afwesigheid van ’n queeringesteldheid betref, lê die probleem van Heartstone hoofsaaklik by die draaiboek. Dit neem as vertrekpunt nogmaals die idee dat om nie in te pas in die heteroseksuele milieu nie, en om nie aan die verwagtinge van die heteroseksuele wêreld te voldoen nie, net tot tragedie en ongelukkigheid kan lei. Dit wil lyk of daar in die film aangeneem word dat ’n queer tienerseun – selfs ’n tienerseun wat woon in ’n land waar daar geen wetlike diskriminasie teen gay en lesbiese mense is nie – nie gelukkig en onvertroebel kan grootword nie. Tensy hy konformeer, sal hy tot in lengte van dae ’n slagoffer wees van die genadelose en onontkombare logika van die heteronormatiewe samelewing waarin hy vasgevang is. Dus: If you want to be happy for the rest of your life, be hetero.

Die enigste troosprys waarmee hierdie konformistiese film vorendag kon kom, was ’n sekslose soen: deur die straight, macho Thor op die voorkop van die bedremmelde, bedlêende Christian geplaas, net voordat Thor soos ’n wafferse ridder (of Wiking?) van ouds by die kamervenster uitspring, seker om gewillige straight dames elders te gaan vermaak. ’n Oop einde is dit helaas nie, en hoewel ons almal weet dat die tango ’n dans is vir twee, dat transferensie deur teentransferensie gekomplementeer word, is die regisseur blykbaar van hierdie gemeenplaas salig onbewus.

Screwed, ’n Finse film deur Nils-Erik Ekblom, is meer suksesvol omdat dit nie die karakters as hopelose en tragiese slagoffers van nuwe heteronormatiwiteit / homonormatiwiteit uitbeeld nie. Die storie sal bekend wees vir diegene wat al ’n paar queerfilms gesien het: tydens ’n somervakansie raak die skaam en closeted Miku verlief op Elias wat ons sommer met die eerste ontmoeting weet is al lánkal uit die kas uit en wat op die oog af meer flambojant en selfversekerd is as Miku. Die families van beide Miku en Elias is effens onkonvensioneel en dit verleen aan die film ’n sjarme wat by die meeste ander films op die fees ontbreek het. Die verhouding tussen Miku en Elias word ook nie oorverromantiseer nie en dit lyk of die film ons wil laat dink oor die verknogtheid aan romantiese liefde en die mite dat ’n romanse gelukkig kan eindig net as dit “happily ever after” gaan wees. Screwed is ’n viering van die soort liefde waarvan Danny Nobus (2000:97) soos volg skryf: “not a love which turns the contingency of an encounter into the necessity of a relationship, but a love which cherishes both the marvel and the uncertainty of the first accidental meeting”. In hierdie opsig, asook in die spottende wyse waarop die film omgaan met die heteroseksuele verhouding van Miku se ouers, is dit die enigste film wat op die fees vertoon is waarin ’n queeringesteldheid, selfs ’n “krities queer” ingesteldheid, duidelik blyk. Oor krities queer (“critically queer”) skryf Judith Butler in haar Bodies that matter (1993:173):

If the term “queer” is to be a site of collective contestation, the point of departure for a set of historical reflections and futural imaginings, it will have to remain that which is, in the present, never fully owned, but always and only redeployed, twisted, queered from a prior usage and in the direction of urgent and expanding political purposes.

Die dringende politieke oogmerke waarvan Butler praat, figureer in Screwed as die politiek van die alledaagse en die gewone – die soort nieskouspelagtige politiek waaroor Njabulo Ndebele in ’n ander konteks geskryf het. Uiteindelik laat die film mens met die vraag aangaande die mate waartoe ’n “gewone”, “alledaagse”, maar queerlewe, moontlik is in ’n samelewing wat deur heteronormatiewe normalisering aangedryf word.

Die Nederlandse film Cas van regisseur Joris van den Berg verken ’n verdere aspek van hierdie tema. Sjors bring een van sy Grindr-skelmpies, Cas (’n jong student), huis toe en nooi hom om vir ’n paar dae op die bank te slaap in die voorkamer van die woonstel wat Sjors met sy lewensmaat Pepijn deel. ’n Ingewikkelde maar sjarmante liefdesdriehoek ontwikkel tussen die drie. Ligvoets leer Pepijn en Sjors die nuweling ken en wedywer hulle om sy guns en aandag. Die film beeld op subtiele wyse die effens onderdrukte jaloesie uit van die twee wat nou skielik drie geword het. En so halfpad deur die film dink mens dat dit dalk op die no-nonsense Nederlandse manier vir ons gaan kom vertel dat monogame, langtermynverhoudings tussen twee lieflinge nie die enigste manier is waarop ons ons betekenisvolle en standhoudende verhoudings sou kon indink nie. Maar dis asof die draaiboekskrywer koue voete kry en (soos seker maar in die meeste tradisionele verhoudings sou gebeur het) dan lei die onortodokse paar weke van die ménage à trois tot ’n soort folie à deux: Cas word vriendelik maar ferm uitgesit en die oorspronklike verhouding tussen Sjors en Pepijn kom ook tot ’n abrupte einde. Nou ja, selfsensuur is seker ook ’n integrale deel van heteronormatiewe oorheersing.

Al die films wat tot dusver bespreek is, is vervaardig en speel af in die globale Noorde, in lande waar wetgewing nie meer teen mense diskrimineer op grond van hul seksuele oriëntasie nie. Is dit toevallig dat die film wat die meeste queerelemente bevat in Indië afspeel waar dit nog ’n kriminele oortreding is om met iemand van dieselfde geslag seks te hê? Of beteken dit dat ’n queerestetika en -ingesteldheid bitter moeilik is om te handhaaf in ’n kapitalistiese staat waarin aanvaarding beloof word (en selfs binne perke bereikbaar is) solank mens maar net so goed as moontlik probeer inskakel by wat Butler in Gender trouble (1990:35) die “heteroseksuele matriks” genoem het – solank mens se andersheid op geen wyse die dominante heteroseksuele leef- en verbruikspatrone binne die kapitalistiese staat bedreig nie?

Dié is vrae wat by mens opkom met die kyk van KA Bodyscapes van regisseur Jaya Cherian. Die film is tegnies ongelukkig nie van ’n hoë standaard nie. Mens kan sien dis met min geld gemaak, die draaiboek is nie mooi afgerond nie, en die toneelspel is soms aan die amateuragtige kant. Maar ten spyte van die gebreke is daar iets vars aan die film. Dalk is dit omdat ons weet die karakters bevind hulle in ’n konserwatiewe milieu, in ’n ongeïdentifiseerde stad in die staat Kerala, en dalk is dit omdat die film wys dat hierdie karakters daarvan bewus is dat hulle nooit (of ten minste nie in die nabye toekoms) aanvaarding binne die bestaande samelewing gaan vind nie. Of dalk is dit omdat die film ’n meer opmerklike politieke dimensie het en die queer karakters uitgebeeld word as mense wat in opstand is teen hulle families, teen tradisionele godsdienstige en kulturele waardes, teen seksisme en die patriargie. Die karakters – Harris (’n skilder), Vishnu (’n kabaddispeler) en hulle vriendin Sia – se stryd is nie om aanvaar te word binne die gemeenskap wat hulle verwerp nie, maar om sigbaar te word en om deur hulle sigbaarheid vir hulle ’n plekkie in die stad oop te baklei waar hulle op hul eie voorwaardes met hul lewens kan voortgaan. Die slot van die film resoneer op ’n aangrypende visuele wyse met die nou gewilde argument in Westerse queerteorie dat queer die doodsdrang van die sosiale orde verteenwoordig (Edelman 2004).

Loev, die ander film op die fees wat in Indië vervaardig is, speel af in ’n effens geïdealiseerde middelklas ruimte (wat sekerlik nie buite die grense van die film bestaan nie) en waarin dit lyk asof die karakters se seksualiteit – ten spyte van die seksuele intriges tussen hulle – net terloops aan bod kom. Die film is ’n polities problematiese sprokie waarin Sahil, ’n jong Mumbaise musikant, ’n oënskynlik idilliese naweek op reis in die platteland deurbring (in ’n geleende afslaandakmotor) met sy kindervriend Jai, wat nou ryk en op besoek is aan Indië vanuit New York. Sahil het sy lewensmaat, Alex, in die stad agtergelaat en skep by Jai die indruk dat daar dalk tog iets tussen hulle sou kon gebeur deur freneties vir hom flikkers te gooi maar heeltyd net buite bereik te bly. Mens kry die indruk dat die film doelbewus die openlik gay Sahil as ’n klein fortuinsoeker uitbeeld wat Jai se aangetrokkenheid tot hom uitbuit ten einde ’n lekker naweek in die platteland los te slaan sonder dat hy self ’n sent daarvoor hoef te betaal. Is mens veronderstel om vasgenael te sit terwyl jy wonder of Sahil uiteindelik vir Alex of vir Jai gaan kies? Is mens veronderstel om te verstaan waarom ’n brutale verkragting hier ingesleep word, ’n verkragting waarvoor die dader probeer vergoed deur die slagoffer uit te neem vir ete – saam met die slagoffer se lewensmaat (wat hulle verras deur sy one-night stand wat nie wou huis toe gaan nie saam te bring vir ete)? Dis nie te duidelik wat hier aangaan nie, maar ons skryf in die dae waarin Kevin Spacey verklaar dat hy nie van ’n seksuele aanranding kan onthou nie en dan terselfdertyd verklap dat hy kies om as ’n gay man te leef. Waarom hierdie verbintenisse tussen twyfelagtige etiese waardes, geweld, misdadigheid en nieheteroseksuele oriëntasie? Dít binne ’n konteks geplaas waarin die kyker van die begin af weet dat Sahil aan die einde van die film met óf Alex óf Jai huis-huis gaan speel. Ander moontlikhede, queermoontlikhede, kan nie deel wees van die ontnugterende fantasie nie.

Soos dit ook nie deel kon wees van die lewe van die beroemde Amerikaanse komponis Samuel Barber, oor wie se lewe die pragtige dokumentêr Absolute beauty (deur regisseur H Paul Moon) gaan nie. Barber was in ’n lang verhouding met Gian Carlo Menotti, in wie se arms hy ook gesterf het, maar Barber het sy lewe lank geweier om homself as homoseksueel of gay te beskryf. Die film en die musiek van Barber se beroemde Adagio vir strykers laat mens onwillekeurig dink aan Butler (1993:75) se werk oor gaymelankolie waarin sy skryf:

[I]t should become clear that a radical refusal to identify with a given position suggests that on some level an identification has already taken place [...] gender performance allegorizes a loss it cannot grieve, allegorizes the incorporative fantasy of melancholia whereby an object is phantasmatically taken in or on as a way of refusing to let it go.

Was die Adagio vir strykers uiteindelik Barber se melankoliese monument aan sy homoseksualiteit en sy liefde vir Menotti?

3. Slotopmerkings: Screwed

In haar seminale werk What’s queer? skryf Eve Kosofsky Sedgwick dat queer na ’n magdom moontlikhede kan verwys:

… the open mesh of possibilities, gaps, overlaps, dissonances and resonances, lapses and excesses of meaning when the constituent elements of anyone's gender, of anyone's sexuality aren't made (or can't be made) to signify monolithically. The experimental linguistic, epistemological, representational, political adventures attaching to the very many of us who may at times be moved to describe ourselves as (among many other possibilities) pushy femmes, radical faeries, fantasists, drags, clones, leatherfolk, ladies in tuxedoes, feminist women or feminist men, masturbators, bulldaggers, divas, Snap! queens, butch bottoms, storytellers, transsexuals, aunties, wannabes, lesbian-identified men or lesbians who sleep with men, or … people able to relish, learn from, or identify with such.

En dit is juis wat teleurstellend is van die meerderheid LGBT-films wat by die fees vertoon is: dat mens vergeefs soek na stories van mense wie se lewens die mensgemaakte grense van identiteit versteur en vertroebel, wie se lewens nie netjies in boksies ingepas en met ’n strikkie verpak is nie. In die gevalle waar afwyking van die heteronormatiewe standaard uitgebeeld word, is die eenvormige boodskap dat lelike dinge met jou sal gebeur. In die Thai-film Driver bereik hierdie sentiment ’n afgryslike hoogtepunt: heteronormatiwiteit word problematies uitgebeeld as ’n wraaksugtige, moorddadige en oppermagtige vrou wat álles sien, álles weet, álles onthou en nie sal skroom om queer om die lewe te bring as dit haar bedreig nie – hell hath no fury like heteronormativity scorned. Die feministiese potensiaal van die film word geheel en al deur die reaksionêre normatiewe boodskap gekelder.

Beteken dit dus dat ons besig is om die naderende dood van die queerrolprentkuns te beleef omdat dit al hoe moeiliker word om ’n ander soort bestaan te verbeel en uit te voer, om grense te vertroebel en te versteur, om nie (soos ’n ongelukkige karakter in Star Trek) deur die kapitalistiese Borg geassimileer te word nie?

Wat wel so duidelik is soos daglig, is dat die essensialistiese identiteitspolitiek, hier én elders, onmiskenbaar terug is op die toneel. Dit is asof die mensdom net mooi niks geleer het uit die katastrofes van die 20ste eeu nie. Daardie katastrofes het in en deur identiteitspolitiek ontstaan en dit wil lyk asof die katastrofes van die nuwe millennium ook daarin gaan ontstaan (sien, om enkeles te noem, “America great again”, nasionalisme in Europa en Adorno se “left fascism” hier in die hart van postapartheid Suid-Afrika). Film is maar altyd ’n soort spieël, en die afwesigheid (in meer as een opsig) van queer by die LGBT-films op die CTIFMF – wat in bykans dolleë ouditoriums vertoon is – is nie toevallig nie. Net soos dit ook nie toevallig is dat die beste queerfilm wat op die fees gedraai het se titel Screwed is nie.

* Jaco Barnard-Naudé en Pierre de Vos is professore in die Regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top