As die naaimasjien die fan tref

  • 2

Hesmarie Jordaan is nie ’n mak mens nie. Puntenerig soos ’n ou wiskunde-onderwyser, vind fout met alles. So trots, dit grens amper aan hoogmoed.

Miskien het sy rede, want haar man is een van die vernaamste boere in die Middelburg-distrik en sy self kom van ’n baie welaf familie. Vir haar man is Hesmarie die perfekte trofeevrou. Sy dra klere van grênd boetieks, laat doen haar hare en naels twee keer ’n week en verlaat nooit die slaapkamer sonder ’n gegrimeerde gesig nie. Hulle wine ’n dine saam met die elite in die kontrei, meestal met Hesmarie aan die stuur van sake. Die foutlose gasvrou met haar gourmetdisse en oordadige oorsese wyne.

Hesmarie Jordaan is my skoonma. Ek het haar altyd op haar naam genoem. Nie tannie Hesmarie of Ma nie, net Hesmarie. Want agter al die fasade van rykdom, roem en boetiekuitrustings is sy vir my ’n doodeenvoudige pyn in die gat.  Omdat ek van Pick n Pay Clothing se rakke af aantrek, verkies om te werk eerder as heeldag by die huis te sit en teepartytjies hou en nie genoeg guts het om my man se kredietkaart my slaaf te maak nie, is ek nie haar idee van ’n perfekte skoondogter nie. Ek is getroud met een van haar twee seuns. Die oudste boer saam met sy pa op die familie se spogplase. My man het, goddank, besluit om in Swellendam te kom boer. Ver genoeg van Heksmarie Jordaan en haar gemanikuurde vingertjies wat gedurig krap waar dit nie jeuk nie.

Oukei, ek gee toe, Hesmarie het darem een goeie eienskap ook: sy is baie erg oor haar kinders. Versmoor hulle met liefde en beskerm hulle soos ’n regte mammabeer. Die mammabeer is nie skaam om vir haar bababeertjies se vroue te grom nie. Die kos wat ek maak is nie voedsaam nie, die vriende (wat ek kastig gekies het) is nie geskik vir ons nie en my huis is nie netjies genoeg na haar sin nie. Weet nie juis hoekom sy my daarop moet wys nie, want sy self lig nie ’n hand in haar eie woning nie. Los alles vir die dosyn bediendes. Miskien is dit wat sy dink ek vir my man moet wees. ’n Bediende wat sý kan hiet en gebied om om te sien na die behoeftes van haar klein kroonprins.

So tussendeur al haar streke en dinge was Hesmarie darem al een keer in haar lewe nice met my ook. Twee jaar terug, met ons troue. Die laaste maand voor die troue was chaos. Daar was baie los drade en ek het gespartel om alles klaar te kry. My ouers en bruidsmeisies is in Brackenfell waar ek grootgeword het. Al was hulle baie gretig om te help, was die afstand tussen Swellendam en die Kaap net te groot en het dit gevoel of ek in elk geval alles alleen doen. Vir Hesmarie het ek niks hulp gevra nie. Al het sy heeltyd gesnoep en gevra of sy hand moet bysit. Ek het haar so ver moontlik van die reëlings en beplannings probeer hou. Sy het haar oudste seun se troue so bekruip en oorgeneem. Sy spog (of kla) vandag nog oor al die baie werk wat sy moes doen vir die troue van die jaar. Ek het nie kans gesien vir Hesmarie se oorywerige “behulpsaamheid” nie. Veral nie toe die naaimasjien die fan tref drie weke voor die troue nie. Ja, gewoonlik is dit die pôpô wat die fan ingeslinger word, maar my krisis het niks met vrugte te doen gehad nie.

Al die reëlings was so te sê klaar, dit was nog net die drie bruidsmeisies se rokke wat moes afgehandel word. Infinity-rokke was toe baie gewild. Deur aanbeveling van ’n goeie vriendin het ek gebruik gemaak van ’n rokkemaker in Bloemfontein. Sy het pas haar besigheid begin, maar sy was so vriendelik en gaaf oor die foon en die prys was verby billik. Die deposito is betaal en die rokke was goed op dreef. Maar toe laat weet sy my op ’n dag dat een van haar werknemers oornag die pad gevat het en dié is vort met van die kliënte se bestellings. Ek is toe wraggies een van die unfortunate kliënte. Daar was ’n paar slapies oor voor my troue en ek was minus my bruidsmeisierokke! My moed was in my skoene. Asof troue reël nie genoeg stres veroorsaak nie! Ek het die vrou se storie geglo en haar amper meer jammer gekry as vir myself. Sy het belowe hulle sal hul bes doen en deurnag werk om binne vyf dae my bestelling oor te doen en gereed te hê vir pos.

Vyf dae het gekom en gegaan. Ek het nie geweet watter kant toe nie. Dit was twee weke voor die troue. Vir die bruidsmeisies en my ma het ek niks gesê nie, gehoop ek kon die dilemma uitsorteer op my eie. Na dae se stilbly en broei oor die ding pak ek een aand na werk snot en trane by my verloofde af. Sy voorstel was dat ons sy ma moet vra vir hulp. Sy ken mos ’n paar ontwerpers wat vinnig ’n plan sal maak. Ek wou nie. Het hardegat vasgesteek by die  rokkemaker van Bloem. My verskoning was dat ek nie die deposito wou verloor nie. Al moes my bruidsmeisies in swartsakke by die paadjie afstap, sou ek steeds nie Hesmarie Jordaan se hulp vra nie. Ek het die trane vinnig weggevee en met nagemaakte kwaaigeid my aanstaande man verseker dat ek wel die rokke by die vrou sal kry. Kom wat wil.

Ek het gebel, ge-epos, op Facebook en WhatsApp boodskappe gelos, maar ek kon net sowel probeer kontak maak het met ’n dooie mens. Die rokkemaker van Bloemfontein was so stil soos ’n Sondagskoollokaal op ’n Maandagmôre.

Die drama met die rokke het my kop seergemaak. So seer ek moes een oggend afvat by die werk en tuisbly met ’n helske migraine. Dit was twaalf dae voor die troue. Ek was nog in my pajamas en voor die rekenaar. Spree en Takealot moes my help met die nuwe soektog vir bruidsmeisierokke.

’n Klop aan ons voordeur het my aanlyn soektog onderbreek. Die hand wat geklop het, behoort toe aan ’n afleweringspersoon van die een of ander koeriermaatskappy. In sy ander hand was ’n groot boks. Ek het vir die pakkie geteken, die man bedank, gegroet en die deur toegemaak. In die kombuis het ek gesien die pakkie is van Hesmarie af. En dit was aan my geadresseer. Vreemd, want sy stuur gewoonlik net pakkies vir haar seuntjie. Bederfies met biltong of duur aftershave. Maar hierdie boks was van haar aan my. Ek het die naaste groentemes gegryp en die boks getakel. Pleks dat ek sit voor ek die boks oopmaak, want toe ek die inhoud sien, val ek byna agteroor.

Dit was my bruidsmeisies se rokke. Al drie van hulle, presies soos ek hulle bestel het by die rokkemaker van Bloem. Saam met die rokke was ook ’n jammersêbriefie van die rokkemaker. Sy het om verskoning gevra vir die oponthoud. Vir die ongerief van die situasie het sy my verseker dat ek nie die balans hoef te betaal nie.

My mond het oopgehang, die migraine was vergete. Ek wou nie, maar ek moes. Ek het dadelik vir Hesmarie gebel. Hoe, wat, wat, waar en wanneer?

Ek weet: sy het ’n luisterapparaat in ons huis laat inplant, so sy weet presies wat alles gedoen en gesê word. Dis hoe sy toe weet dat die rokke nog nie klaar was nie. Toe klim sy op haar besem, vlieg Bloemfontein toe, wurg die rokke uit die rokkemaker uit en toor die arme vrou in ’n veldrot.

Nee, dit is darem nie heeltemal waar nie. Ek neem aan haar seuntjie moes haar, agter my rug, van die rokke vertel het. Hy was tog die enigste persoon wat daarvan geweet het. Hesmarie het deurgery Bloemfontein toe en die rokkemaker gaan aanvat. Die rokke was nooit gesteel nie, sy het net van die bestelling vergeet en toe sy daarmee moes begin, het sy nie geld vir die materiaal gehad nie. Vra ek jou, waarvoor betaal mens dan deposito’s? Wat Hesmarie als vir die vrou gesê (of toegesnou) het, sal niemand weet nie, maar ek het my rokke betyds gekry en hulle was foutloos.

“Niemand hoef hiervan te weet nie,” het Hesmarie oor die foon gesê, “daar is net een voorwaarde.”

“En dit is?” wou ek versigtig weet.

“Van nou af noem jy my Ma.”

Ek het nie gestry nie, was maar net te dankbaar.

Die troue was pragtig perfek. Geen verdere dramas het opgeduik nie. Niemand het geweet van die marakkas met die rokke nie. Die geheim was myne en Hesmarie s’n. Die wenkbroue het wel vreeslik gelig toe ek dadelik die woordjie “Ma” vir Hesmarie gebruik. Ek self was verbaas oor hoe maklik ek dit kon regkry.

Hesmarie is steeds haar ou self. Niks het verander nie en as ek vandag aan die troue en die bruidsmeisierokke terugdink, kan ek skaars glo dat Hesmarie tot die redding gekom het. Die woordjie “Ma” het nie veel aan haar verander nie. Vind steeds fout en soek skoor vir die eerste span. Ek verduur haar. Maar in my hart voel ek tog dat sy wel tot ’n moederfiguur in staat is vir haar onperfekte skoondogter. Sy het immers al een keer haar mammabeerkostuum ook vir my aangetrek, die dag toe die naaimasjien die fan getref het.

  • 2

Kommentaar

  • Sjoe Helena, baie goed gesê. Die prentjie het in my kop afgespeel. Jy mag maar skryf ...
    Sien uit na jou volgende verhaal.

  • Leave a Reply to ena Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top