Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte: ’n resensie

  • 1

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte
Cas Vos (samesteller)
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320148

In 1974 is André P Brink se opspraakwekkende roman Kennis van die aand (1973) deur die destydse sensuurraad verban. (Sommige literatore verkies die term “verbied”, maar volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is albei terme aanvaarbaar.) Die verbod op dié roman was ’n eerste vir die Afrikaanse letterkunde. Talle Afrikaanse tekste sou daarna deur die sensuurraad se wakende oog van die boekwinkelrakke verwyder word. As daar nou een faktor is wat boeke soos soetkoek laat verkoop (in ’n land waar die oorgrote meerderheid mense niks behalwe dalk Die Bybel en hul bankstate lees nie), is dit ’n verbode boek. Onlangs het duisende Suid-Afrikaners na boekwinkels gehaas om hul hande op Jacques Pauw se The President’s keepers – those keeping Zuma in power and out of prison (2017) te lê. As iets verbode is, wil mense die reëls verbreek en die establishment uitdaag. (Dink maar aan Engelse romans soos DH Lawrence se Lady Chatterley’s Lover.)

Onlangs verskyn Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte saamgestel deur die teoloog-digter, Cas Vos. Lux Verbi as uitgewer is in die geval gepas aangesien dié handelsmerk as deel van die NB-stal hoofsaaklik Christelike lektuur publiseer. Navorsing het bewys dat Christelike boeke naas kookboeke en hygromans goed verkoop. (Die Bybel is ook die boek wat die meeste van boekwinkelrakke gesteel word.) NB-Uitgewers se besluit om ’n digbundel uit te gee wat uit Christelike gedigte bestaan, was ’n strategiese bemarkingstrategie aangesien digbundels oor die algemeen swak verkoop. Dié bundel was skaars op die winkelrak toe ’n spreekwoordelike bom bars nadat klagtes oor die bundel ontvang is. Die klagtes was afkomstig van ’n aantal digters wat ontevrede was met die feit dat hulle gedigte sonder hul toestemming in die bundel opgeneem was. Verder was daar by sommige digters ontevredenheid oor die gekose titel. Laasgenoemde digters voel ongemaklik oor die “Christelike” verwysing in die bundeltitel en sou verkies dat die benaming met “religieuse” of “geestelike” vervang word. Briewe het in die pers verskyn en literêre webblaaie het gewemel van kommentaar en argumente vír of téén die bundeltitel. Nadat CUM boekwinkel die bundel van die winkelrakke onttrek het, het die spreekwoordelike storm effens bedaar. Ek vermoed egter dat talle poësieliefhebbers juis die bundel aangekoop het om te sien waaroor al die bohaai was en sodoende die verkoopsyfers ’n hupstootjie gegee het.

Aangesien daar al bladsye vol geskryf is oor dié bundel, stel ek in my resensie ondersoek in na die bundel as geheel in vergelyking met ’n soortgelyke bundel wat dertig jaar gelede verskyn het. In 1987 het CJM Nienaber en M Nienaber-Luitingh ’n bundel religieuse verse saamgestel getiteld Die braambos brand – ’n Keur van religieuse gedigte. (In 1995 is ’n soortgelyke bundel getiteld Jubilate! Loofgedigte in Afrikaans deur FIJ van Rensburg saamgestel.) Opvallend is die ooreenkomste tussen die Nienabers en Vos se voorblaaie. Dieselfde kleurskema is gebruik. Marthie Steenkamp se ontwerp van Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte stem dus gedeeltelik ooreen met die ontwerp van Die braambos brand. Was dit die uitgewer se bedoeling om die twee bundels se voorblaaie by mekaar te laat aansluit (’n tipe intertekstuele gesprek) of was dit bloot toevallig? Myns insiens was Steenkamp se ontwerp doelbewus om by Die braambos brand aan te sluit. Die bundels toon heelwat ooreenkomste wat ek later in die resensie sal bespreek.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal definieer “Christelik” soos volg: “[V]olgens die leer van Christus; waaruit die gesindheid van Christus blyk” (2015:169). Die term “religieus” word op sy beurt as “vroom; godsdienstig [en] godvresend” (2015:1052) beskryf.

Talle digters wie se gedigte in die versamelbundel opgeneem is, was ongelukkig oor die gekose titel. Alhoewel daar ’n verskil tussen die twee woorde is, sluit beide aan by die godsdiens. Die term “religieus” is meer inklusief met verwysing na ander nie-Christelike gelowe, terwyl Christelik meer spesifiek is. Ek vermoed die uitgewer het op laasgenoemde besluit aangesien die teikenmark Afrikaanssprekende Christene is en die woord “Christelik” moontlik meer bundels gaan verkoop as die meer omvattende “religieuse” verwysing. Ek glo uitgewers moet gereeld moeilike besluite neem om hul finansiële state te laat klop. Die keuse van die titel van hierdie bundel blyk een van daardie markverwante besluite te wees. Die samesteller sluit egter nie digters van ander geloofsoortuigings uit nie. Vyf van die Jodin, Olga Kirsch, se gedigte is in die bundel opgeneem. (Die Joodse geloof lees immers ook die Ou Testament.) Interessant was Vos se keuse om een van Loftus Marais se gedigte op te neem. Dit kan selfs as gewaagd beskryf word om “Wederkoms” by ’n Christelike bundel in te sluit:

en wanneer die ramshorings blaas
en die hele wêreld terugtrek na Jerusalem
in gypsy-karavane en campers
en in busse en busse vol afgepiste ateïste
sal ek my mooi maak
regmaak
ek sal al my sondes soos juwele dra
want hulle is mýne
my gitrok sal skitter
’n parfuum van skande en swael
sal om my hang
en wanneer ek voor Hom moet staan
sal ek verwyfd curtsy
en Hom netjies verduidelik
dat my catsuit
(opgevou in ’n groot tas langs die vanity case)
fire-resistant is

Dertig jaar gelede was dit ongehoord dat ’n gedig oor ’n fopdosser in ’n bundel met ’n Christelike tema opgeneem sou word. Laasgenoemde ondersteun my argument dat Vos soveel digters as moontlik wou insluit en dat die verwysing na “Christelik” nie as elitisties binne geloofsverband beskou moet word nie.

Ses-en-tagtig digters se gedigte is in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte opgeneem vergeleke met slegs drie-en-veertig in Die braambos brand. (Dus presies dubbeld soveel as in 1987.) Nege-en-dertig van die drie-en-veertig digters wie se gedigte in Die braambos brand opgeneem is, verskyn weer in Vos se samestelling. Vos het Hester Heese, Everwyn Wessels, Jeanette Ferreira en Rosa Smit se gedigte weggelaat, maar talle nuwe stemme soos Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Ilse van Staden en Nathan Trantraal by die bundel ingesluit. Tagtig gedigte wat in Die braambos brand verskyn het, is ook in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte opgeneem wat die intertekstuele verbintenis tussen die laasgenoemde tekste verder ondersteun. Ook nuwe gedigte is spesiaal vir dié publikasie geskryf naamlik “Naghemel” en “Wiskunde 1” deur Daniel Hugo, “alle donker en lig” deur Susan Smith sowel as Bernard Odendaal se “Gebed vir ’n Somerkersfees” en “Romeinse offisier by die Kruis”. ’n Resensent het elders gevra waarom voorheen ongepubliseerde gedigte in ’n versamelbundel opgeneem is. Is daar ’n amptelike reël wat voorskryf dat dit nie gedoen mag word nie?

Vos het sy net wyd gespan en ook gedigte wat by kleiner uitgewers soos Cordis Trust Publikasies verskyn het, ingesluit. Sy doelwit as samesteller was dus om so inklusief moontlik te wees. Die een belangrike digter wie se naam egter in beide tekste ontbreek, is Breyten Breytenbach. Ek kan verstaan dat Breytenbach in 1987 moontlik weens politieke redes nie in Die braambos brand ingesluit was nie (hy kon moontlik toestemming vir publikasie geweier het), maar waarom sy gedigte nie in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte opgeneem is nie, is ’n misterie. Myns insiens moes Breytenbach wel in die bundel opgeneem word. Die feit van die saak is dat dit die samesteller se keuse van digters en hul gedigte is. Net soos Opperman en Brink oor die prerogatief beskik het om digters in die Groot Verseboek op te neem of weg te laat, was dit Vos se prerogatief om die digters en gedigte van sy keuse in die bundel op te neem. Daar sal nooit ’n versamelbundel verskyn (in enige taal) wat alle lesers tevrede sal stel nie. Die inhoud van versamelbundels, hetsy kortverhale en of gedigte, is subjektief van aard. Om soortgelyke omstredenheid in die toekoms te vermy, raai ek uitgewers aan om voortaan alle digters skriftelik om toestemming vir publikasie te nader.

Ongeag die polemiek wat rondom die versamelbundel ontstaan het, is die bundel as geheel ’n pragpublikasie wat ’n plek op elke poësieliefhebber se boekrak verdien. Die oorgrote meerderheid gedigte wat in die bundel opgeneem is, sal tematies aanklank vind by die teikenmark. Die leser hoef nie noodwendig ’n Christen te wees om die skoonheid van die Afrikaanse taal en metafoor in hierdie versameling gedigte te kan waardeer nie. Hierdie bundel bevat ’n wye verskeidenheid gedigte wat lesers met pitkos vir die siel sal laat.

God die digter

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur die digter gemaak

TT Cloete

Verwysings

Luther, J, Pheiffer, F & Gouws, R (redakteurs), 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.

Nienaber, CJM & Nienaber-Luitingh, M. (samestellers), 1987. Die braambos brand – ’nKeur van religieuse gedigte. Kaapstad: Tafelberg.

  • 1

Kommentaar

  • Lux Verbi het nie die bundel van winkelrakke onttrek nie. CUM het wel besluit om dit nie in hulle winkels te verkoop nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top