Die mier bring wysheid

  • 2

 

Wie van ons het grootgeword sonder dat daar ooit na die mier as ‘n deugsame dier of insek verwys is nie? Pa het altyd verwys na die luiaard wat moet wys word deur na die mier te gaan kyk. Wonder nog steeds oor daardie een. In Spreuke 6 vers 6 tot 9 het ek op die wysheid afgekom. “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan?” Dit bring my by my sorgelose kinderdae uit en die eerste lessie wat vir my wag.

Het jy al in die Karoo op ‘n swart, ronde ysterklip wat lekker deur die skrale oggendson ‘n bietjie warm gebak is gesit en oor die verte uitgestaar? Ek het die voorreg in my jeug gehad. Sonop kan jy nie kyk nie, die strale wat die ysterklip warm gebak het vir jou sitvlak verblind jou. Op daardie oomblik besef jy die son het nie net jou sitplek vir jou kom warm maak nie, die strale forseer jou om verder om jou te kyk. Jy is nie veronderstel om in die son te kyk nie, jy moet kyk na waar die sonstrale vir jou lig maak. Die sonstrale lig die sluier van die donker. Die donker van die nag asook die van die gebrek aan verstaan en leer wat net hier onder jou oë plaasvind, net onder die grond. Niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie.

Kyk verby jou kaal voete, gebarste hakskene en krom tone en selfs die modder op die groottoonnael toe jy deur die fontein se loop kortpad hier na jou ysterklip teen die randjie gevat het. Draai dan 'n bietjie om en kyk na die ander kant. Ja, hier naby jou onder ‘n Karoobossie wemel dit van die miere, daardie rooimiere wat so ‘n lekker brandhou kan byt. My pa se woorde kom weer by my op, die Bybel gebruik beeldspraak maar onthou luiaard, gaan na die mier en word wys. Hiermee het ek in die begin gesukkel, hulle skarrel net rond en dan weer terug in die gat. Jy moenie dat een jou bykom nie, dan trap jy die riel tussen die klippe.

Groot skrywers in ons taal soos Eugène Marais het ‘n vriend my na verwys dat hy geweldige groot gedagtes oor termiete gehad het. Nou moet ‘n mens maar gaan kyk. Sy tydlose studie en as ‘n fyn natuurkenner asook sy insig het boeke tot gevolg gehad. Wat my opval is sy gevolgtrekking dat die kolonie gesien moet word as ‘n enkele organisme wat later deur kenners verder gevat is. Dit het gelei tot wat ons vandag as etologie noem, die studie van die gedrag van diere.

Ek is nie ‘n genoegsame kenner om my te probeer voorstel dat ek werklik weet nie. Ek probeer leer deur te kyk wat al die groter geleerdes en wyshere kwytgeraak het sodat ek my perspektief en Pa se roetekaart oor die mier en wysheid kan opspoor. Om werklik die ingewikkelde intonasies van die weg en wonder van die mier te kan leer in vandag se uitdagende omgewing vereis ‘n kortstondige maar teregwysende stilstand.

~

Die Griekse skrywer Euripides se uitlating, is: “Hulle wat hul opvoeding in hul jeug verwaarloos, verloor die verlede en is dood vir die toekoms.”

~

Hierdie wysheid of selfs teregwysing dwing my terug na groot introspeksie oor wat ek geleer het, het ek my verlede verloor en is ek dood vir die toekoms? Wat van Pa se teregwysing en Salamo se spreuke? Die mier moet vir my nou help met perspektief en om my padkaart te bou. Is dis baie meer as hoe 'n mens moet werk?

Ek het altyd gewonder en of dit nou Pa se interpretasie van die Woord was. Nou met jare se boeke lees en baie eksamens later het ek niks wyser geword as toe ek as kaalvoet kind op die ysterklip gesit en na die rooi miere gestaar het nie. Het ek verval in Euripides se filosofiese uitkyk op opvoeding en het by die verkeerde afdraaipad gekom op wat ek dink my padkaart aanwys?

Gou het ek besef dit gaan oor al die miere wat besig is om iets te doen tot die voordeel van almal. 'n Natuurles in "Eendrag maak mag". Dis hoe ek dit verstaan met ‘n klein kykie van hoe Eugène Marais in die Waterberge termiete se doen en late in woorde kon vasvang.

'n Grote stukkie perspektief het uitgespring, almal is besig maar dis tot almal se voordeel. Is almal se voordeel gelyk? Moet dit gelyk wees? Wat is gelyk? Is dit ewe veel, is dit om genoeg te hê? Die vraebus loop dat die stof so staan op die grondpad met net 'n briesie wat dit soos 'n rookkolom na die kant toe wegwaai.

Salomo se wysheid in Spreuke slaan my tussen die oë. Eugène Marais se waarnemings beteken nou nog meer. Pa was reg. Ek worstel nog met perspektief, my padkaart, is ek op die regte pad?

Waar bring die gewaarwording ons vandag? Beteken dit dalk dat almal se voordeel uit werk dieselfde sal wees? Dit maak nie sin nie, help niks om perspektief te kry nie. In ‘n miernes is daar werkers wat na die eiers omsien, ander maak nes skoon terwyl ander na die swamme wat hulle voedsel sal wees omsien soos ons na ons tuine kyk. Dan is daar die koningin en die soldate ook nog. So almal doen hulle deel tot almal se gesamenlike voordeel. My hedendaagse gewaarwording het Eugène Marais baie lank gelede geyk.

Klink dit nie nou na die edele voorstelle wat uit kommunisme sowel as sosialisme spruit nie? Ek kan nie verder gaan as wat Antjie Krog[1] dertig jaar terug gesê het en ek haal baie graag aan: “Afrikaners het 'n spesifieke kultuur, een waarvan die essensie vir dekades en langer een van onverdraagsaamheid was, en hoofsaaklik nog steeds is. Of 'n Afrikaner in die PAC of in die AWB is, hy is basies onverdraagsaam. Die onverdraagsaamheid dra verskeie klede. Dit word veral toegedek met eufemismes soos 'vryheidsdrang', 'liefde vir grond', 'selfregering', en sedert die nuwe bedeling ''n verset teen Kommunisme'. Wat dit in werklikheid is, is dat die Afrikaner nie iets met iemand wil deel nie.”

Nou wonder ek. Selfs die miere deel die vrugte van hulle arbied met mekaar ongeag watter werk jy doen. Is die mier meer intelligent as ons? Gaan dit oor die vermoë of die gebrek daarvan om te deel? Ek praat van deel nie verdeel nie. Verdeel het komplekse konektasies wat my op ‘n afdraaipad sal vat.

My gedragtes dwaal al weer. Ek kyk na die miere hier vlak by my skurwe voete. Wag tot skeertyd, dan sal ons voete olie kry daar waar ons die wol vastrap, skurwe voete vergete tot volgende skeertyd.

Ek sien miere oral, noudat die sonnetjie sy kop behoorlik uitgesteek het, wemel dit van hulle. Nie soos ons studente by die universiteit kampusse wat in 'n mengelmoes van dans, dreunsang and ‘n geskreeu meer eis nie. Ek gaan nie weer vir Euripides aanhaal nie. Maar ek is bevrees die gevaarligte begin flits.

Nee, hier is orde tussen die miere. Dis asof hulle onsigbare wandelspaaie het wat hulle loop. In ons hoogdrawende geleerdheid verwys ons na "neural networks". Die miere weet al eeue lank daarvan. Hulle stop en groet mekaar so ewe en dan gaan elk voort, gerig op die taak wat voorlê. Ek is in verwondering. Hoe weet elke mier wat gedoen moet word sonder dat daar sigbaar iemand staan en bevele uitbulder? Spreuke 6 kom weer by my op. Salomo se wysheid. Is dit instinktief soos 'n lam wat weet om te suig sodra hy op sy voete is?

Later op skool het ek geleer van feromone, glo soos parfuum / kommunikasie vir 'n mier om allerhande telegramboodskappe te stuur. Nogal slim vir 'n mier, nè.

Nou begin ek die kloutjie by die oor kry. Ek het geweet van die koningin, my maters het gesê sy is soos die Queen van Engeland, almal buig voor haar, haar “job” is om kinders te kry en te sorg dat ander werk. Nou na al die jare is hulle wysheid en insig verstommend. Later het ek geleer die Queen van Engeland stel die administrasies aan van die meeste belasting hemels waar belasting ontduiking geregverdig word. Hulle noem dit belastingbesparing en beplanning.

Soos met die miere, sonder die koningin kom alles tot stilstand. Geen nuwe miere maar die wat daar is weet nie wat om te doen nie. Klink verbasend bekend. Wie of wat jou koningin is weet ek nie. Ons almal moet daardie een vraag probeer beantwoord. Dit bring my met 'n langpad terug na wat is die perspektief agter dit alles. Ek is bevrees ek soek nog antwoorde op te veel vrae wat ek het.

Orde mag die sleutel tot die slot wees wat ek perspektief noem. Die miere leer ons dat daar hoef nie vrae oor wat reg of verkeerd is nie, of gelykheid seevier of nie. Sonder orde is daar chaos en niks. Dis nie afhanklik om noodwendig reg of verkeerd te wees nie. Om so iets te kan doen moet ons met iets vergelyk.

Wat is die mierkoningin se vergelykingsraamwerk om vas te stel watter feromone sy gaan afskei en of sy eiers lê van werkers, nuwe koninginne of dalk soldate? Miere is besonders, hulle oorleef in die reënwoude tot in die droogste woestyne.

Sjoe, en ons dink ons weet als. Ek ken nie die antwoord(e) nie. Al wat ek weet soos ek hier op my swartklip sit, is dat sy weet. Salomo het ons gehelp om ons padkaart te teken in Spreuke 6. So ook my pa en soveel ander mense terwyl ek groot geword het.

As dit 'n goeie reën jaar gaan wees kan jy maar verseker weet die mierkoningin gaan 'n klomp nuwe koninginne laat uitkom uit die nes na die eerste goeie reëns. Vooraf kan jy sien dat daar baie meer werkers rondskarrel om kos te versamel. Sy weet. Droogte baie meer soldate om die nes om hulle gebied te beskerm. So weereens, ek dink sy weet. Ek weet sy weet. In haar omgewing het sy perspektief, reën of droogte, sy weet wat om te doen.

Ek dink met heimwee terug na my pa en al die mense wat ‘n invloed op my gehad het. Hulle het eintlik bedoel, gaan na die mier en leer hoe dinge werklik werk, nou noem ek dit mierperspektief. Kyk, leer en deel met ander.

Ek is so verlig, ek het nie vasgeval is in Euripides se filosofie nie. Alles is nie verlore nie. Ons moet die dreunsang en gevoel van marginalisering wat by ons studente begin om ‘n ontluikende golf te word, aanspreek. Indien nie, sal die filosofie van Euripides ons voorland wees.

[1]   Tydens die verkennende gesprek oor 'n saambindende Afrikaanse organisasie, Stellenbosch, 30 November 1996.

  • 2

Kommentaar

  • Voorwaar 'n nuwe perspektief oor hoe die natuur se werking ook vir ons alledaagse bestaan kan sin maak en help hanteer. Dankie Jozua.
    Kan ons nie maar Euripides se uitlating 'n voorgeskrewe werk vroeg op skool en dalk ook vir eerste jaar studente maak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top