Die media, demokrasie en burgerlike deelname: ’n Etiek van luister

  • 0

Opsomming

Suid-Afrika kan as ’n “nuwe demokrasie” beskou word wat in die 1990’s tot stand gekom het na baie jare van kolonialisme en apartheid. Die ontstaan van die nuwe demokrasie het saamgeval met ingrypende veranderinge in ander dele van die wêreld. Hierdie beweging word soms die “Derde Golf van Demokrasie” genoem. As deel van hierdie demokratisering het die Suid-Afrikaanse media betekenisvolle veranderinge in eienaarskap en regulering ondergaan, en die media moes hulself heroriënteer ten opsigte van ’n nuwe demokratiese omgewing. Hierdie heroriëntering het gelei tot ’n voortgaande debat oor die mees geskikte normatiewe raamwerk vir die nuwe demokrasie binne ’n Afrika-konteks. Hoewel die etiese kodes waartoe die Suid-Afrikaanse media hulself in die demokratiese era verbind het, ooreenkomste toon met die kodes van die media in gevestigde demokrasieë in Noord-Amerika en Europa, is hierdie norme telkemale gekritiseer deur waarnemers wat wil sien dat die media ’n groter meewerkende rol speel om die nuwe demokratiese regering te ondersteun in sy pogings om ontwikkelingsdoelwitte te behaal, asook deur diegene wat daarop aandring dat die media “Afrika-waardes” moet navolg. Hierdie artikel sal ’n oorsig gee oor hierdie normatiewe spanning en debatte ten einde te illustreer hoe media-etiek in ’n nuwe demokrasie, en binne ’n nie-Westerse kulturele konteks, die onderwerp is van ’n onderhandeling tussen globale norme en plaaslike omstandighede. Nadat hierdie debatte en onderhandelinge geskets is, sal ’n alternatiewe raamwerk voorgestel word, naamlik ’n “etiek van luister”, wat demokratiese deelname in die nuwe demokrasie kan ondersteun.

Trefwoorde: Afrika; demokrasie; demokratisering; etiek van luister; joernalistiek; media; nuwe demokrasie; Suid-Afrika


Abstract

The media, democracy and civic participation: Towards an ethics of listening

South Africa can be considered a “new democracy” that came into being in the 1990s after many years of colonialism and apartheid. The emergence of this new South African democracy coincided with far-reaching changes in other parts of the world. This movement has been called the “Third Wave of Democracy”. As part of this democratisation process the South African media underwent significant changes in ownership and regulation, and had to reorient itself in relation to a new democratic environment. This reorientation led to an ongoing debate about the most appropriate normative framework for the new democracy within an African context. Although the ethical codes to which the South African media committed themselves in the democratic era show similarities to those from media in more established democracies in North America and Europe, these norms have often been criticised by observers wanting to see the media play a more collaborative role to support the democratic government in achieving its developmental goals. There have also been critics that have been of the opinion that the South African media should do more to observe “African values”. Although press freedom is entrenched in the democratic Constitution, the self-regulatory system of the press has repeatedly been criticised for not having strong enough sanctions or being biased towards the media. This criticism culminated in a proposal by the ANC for a statutory media tribunal that would have the power to impose fines or even prison sentences on journalists. In reaction to these threats the Press Council embarked on a series of public hearings countrywide in 2011 in an attempt to strengthen its self-regulatory processes (and repair its reputation in the public eye). One of the outcomes of this consultation was a revised press code and constitution for the Press Council. A subsequent investigation by the newly established Press Freedom Commission headed by former judge Pius Langa, whose task it was to scrutinise the effectiveness of the self-regulatory system, recommended that the self-regulatory process be replaced with one of co-regulation, with greater representation from the public.

These debates have been intense at times, but tended to focus on the procedural rather than the substantive nature of media ethics in post-apartheid South Africa that lie at the basis of the regulatory processes. Not only have fundamental principles such as “freedom” and “responsibility” been understood differently by journalists, politicians and other role players in the communication landscape, but fundamental differences of opinion also exist about which normative framework would be the most appropriate one for an African democracy in a post-colonial, post-apartheid era.

Two main perspectives in these debates are identified, even though they are articulated in different ways and acquire different nuances according to the various contexts in which they are deployed. The consensus among the mainstream media since democratisation has been that the media should play a liberal-democratic “watchdog” or “Fourth Estate” monitorial role. This role was aimed at ensuring that the new democratic government would keep its promises to the citizenry and preventing new abuses of power and corruption. The counter-argument to the “watchdog” approach was that it was based largely on the assumption that the media in the post-apartheid environment had a responsibility to support the democratically elected government, and that it should make a special effort to broaden its news agenda and audience reach to include voices that had been silenced or marginalised by the apartheid history. Critics have pointed out that issues concerning the poor majority of the population do not receive the same amount of attention from media watchdogs as issues concerning elite audiences. Opponents of the liberal democratic framework base their criticism on various alternative frameworks, including development journalism, alternative journalism or African value systems.

The central argument of this paper is that the perspectives on normative media ethics offered in the debates thus far have led to an impasse and that an alternative framework is needed to deepen the democratic culture in South Africa while simultaneously addressing criticisms that the media’s interpretation of “the public interest” has been too narrow.

The article first provides an overview of normative debates and negotiations, touching on key issues and problems that have arisen during the democratic era. As part of this overview the various perspectives on normative ethics that have characterised these debates are identified and discussed critically. The article then proceeds to propose an alternative “ethics of listening”, drawing mainly on theoretical perspectives on “voice” and “listening” from Susan Bickford, Tanja Dreher and Nick Couldry. These perspectives are applied to the South African media and an example offered of how such an ethic could be made appropriate to the South African context against the backdrop of a globalised media industry.

Keywords: Africa; democracy; democratisation; ethics of listening; journalism; media; new democracy; South Africa

 

1. Inleiding: Media in ’n nuwe demokrasie

Die demokratiseringsproses wat in 1990 in Suid-Afrika ’n aanvang geneem het met die ontbanning van die bevrydingsbewegings en die begin van onderhandelinge vir die oorgang van ’n outoritêre regime na ’n demokratiese regering, het ook vir die media implikasies gehad. Die media is genoop om sy etiese oriëntasie binne ’n nuwe, demokratiese openbare sfeer, en in verhouding tot ’n nou legitieme, demokratiese regering te ondersoek. Die ingesteldheid van die media onder apartheid was óf ondersteunend van die apartheidsregime (in die geval van die meerderheid Afrikaanstalige media) óf in opposisie daartoe (die Engelstalige en alternatiewe media). Soortgelyke prosesse van herdefiniëring van die media se rol het plaasgevind in ander sogenaamde “nuwe demokrasieë” wat in die “Derde Golf van Demokrasie” aan die einde van die Koue Oorlog tot stand gekom het (sien Murphy 2007:2).

As deel van hierdie demokratiseringsproses het die media se rol onder apartheid gedurende twee postapartheid-ondersoeke onder die loep gekom. Die Menseregtekommissie (MRK) se ondersoek na rassisme in die media in 2000 het aanleiding gegee tot een van die eerste fel openbare debatte oor die media in die postapartheid-era. Dié ondersoek het voortgespruit uit klagtes dat die postapartheid-media voortgegaan het met die negatiewe uitbeelding van swart Suid-Afrikaners, ’n praktyk wat uiteraard oneties sou wees binne ’n nuwe demokratiese samelewing gegrond op grondwetlike waardes van gelykheid en niediskriminasie. Die kritiese siening van die media wat hierdie ondersoek ten grondslag gelê het, asook die wye siening dat die metodologie en die hantering van die ondersoek onbeholpe was, het vrese versterk dat die nuwe ANC-regering pogings sou aanwend om die media te beheer of druk daarop uit te oefen (Olorunnisola 2006:232). In hul reaksie op die MRK-ondersoek het die media meestal ’n strategie van “ontkenning van rassisme” uitgeoefen (sien Durrheim, Quayle,  Whitehead e.a. 2005, asook Wasserman 2009 vir ‘n argument dat dieselfde strategieë steeds deur die media toegepas word in die dekking van rassisme). Die MRK-verhore het gevolg op die meer substansiële proses van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK), wat menseregteskendings in die apartheidsera ondersoek het. Die media het ’n belangrike rol gespeel om ’n platform te verskaf vir die WVK-verhore om die openbare diskoers te bereik, maar die media het hulle ook aan die ontvangkant van ’n WVK-ondersoek bevind toe die WVK sy fokus verbreed het om vas te stel hoe die media in die apartheidsera bygedra het tot ’n klimaat waarbinne menseregteskendings kon plaasvind (Krabill 2001:573).

Bogenoemde twee verhore het die toon aangegee vir die voortgaande debat oor die etiese verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse media in die nuwe demokratiese era. Vryheid van spraak, insluitende vryheid van die media, word in die nuwe demokratiese Grondwet gewaarborg. Nietemin bly die verhouding tussen daardie vryheid en die media se verantwoordelikheid teenoor die nuwe demokratiese samelewing – wat tegelykertyd ’n hoogs ongelyke en sosiaal gefragmenteerde samelewing is – die onderwerp van heelwat onenigheid en meningsverskil.

Waar die Suid-Afrikaanse media onder apartheid sigself moes reguleer te midde van ’n onderdrukkende regering wat die pers aan bande gelê het met verskeie wette en sensuur, asook dreigemente en aanvalle op joernaliste (Giffard, De Beer en Steyn 1997:75, 92), kon die Persraad en Ombudsman (sien www.presscouncil.org.za) vir die gedrukte media, en ’n onafhanklike tribunaal, die Uitsaaiklagtekommissie, vir die uitsaaimedia (sien www.bccsa.org.za) hul in die postapartheid-era beroep op die grondwetlike beskerming van vryheid van spraak, wat vryheid van die media omvat.

Ondanks die inwerkingstelling van hierdie selfreguleringsmaatreëls binne die nuwe grondwetlike bedeling, het vrese dat mediavryheid bedreig word, die afgelope paar jaar weer opgeduik. Hierdie keer het vrese ontstaan weens ’n voorstel deur die regerende party dat ’n statutêre mediatribunaal ingestel word. Die tribunaal sou by magte wees om joernaliste boetes of selfs gevangenisstraf op te lê. Die ANC se voorstel vir ’n tribunaal is gegrond op kritiek dat die selfreguleringsmeganismes nie behoorlik werk nie en nie sterk genoeg sanksies inhou nie. In reaksie op hierdie dreigemente en kritiek het die Persraad in 2011 ’n landwye reeks openbare verhore van stapel gestuur in ’n poging om sy selfreguleringsprosesse te verbeter (en sy aansien in die openbare oog te herstel). Een van die uitvloeisels van hierdie konsulteringsproses was ’n hersiene Perskode en grondwet vir die Persraad. ’n Opvolgondersoek deur ’n nuutgestigte Persvryheidskommissie onder leiding van oudregter Pius Langa, wie se taak dit was om die stelsel van selfregulering te ondersoek, het aanbeveel dat die stelsel van selfregulering vervang word deur een van mederegulering met groter betrokkenheid van die publiek (Politicsweb 2012).

Hoewel hierdie regulatoriese prosedures en meganismes intens gedebatteer is, was daar eintlik ’n dieperliggende onenigheid oor die normatiewe raamwerke (substantiewe etiek) wat hierdie regulatoriese meganismes (prosedurele etiek) ten grondslag gelê het. Nie alleen is die fundamentele konsepte vryheid en verantwoordelikheid verskillend verstaan deur joernaliste, politici en ander kommunikasie-rolspelers nie (Wasserman 2010), maar fundamentele meningsverskille bestaan ook oor watter normatiewe raamwerk nou eintlik die geskikste sou wees vir ’n nuwe Afrika-demokrasie in ’n postkoloniale, postapartheid-era (Wasserman 2006). Hoewel die etiese kodes wat deur die Suid-Afrikaanse media in die demokratiese era aanvaar is, tot ’n groot mate dié van gevestigde demokrasieë in Europa en Noord-Amerika weerspieël, is hierdie norme dikwels bevraagteken deur kritici wat ’n meer meewerkende rol vir die media verkies. So ’n meewerkende rol word gesien as ’n manier vir die media om die regering te ondersteun om sy ontwikkelingsdoelwitte te bereik. Ander kritici het daarop aangedring dat die media “Afrika-waardes” moet nastreef eerder as om Westerse modelle te na-aap. ’n Voorbeeld van hierdie diskoers was president Thabo Mbeki (2003) se oproep aan joernaliste om “as Afrikane” op te tree en oor “Afrika aan die Afrikane” te berig. Sesanti (2010) bepleit meer integrasie van Afrika-waardes in joernalistieke opleiding. Sien ook Tomaselli 2003 vir ’n bespreking van kulturele diskoerse van die media. Terselfdertyd is die Suid-Afrikaanse media ook dikwels gekritiseer vir wat gesien is as hul vooroordeel ten gunste van ’n elite, en dat hulle in gebreke gebly het om grondig te transformeer om demokratiese deelname deur gemarginaliseerde dele van die gemeenskap te fasiliteer. Soortgelyke vrae is ook gevra in ander oorgangsituasies waar demokrasie te weeg gebring is deur vennootskappe tussen elites eerder as deur ’n volledige transformasie van die samelewing, insluitende die media (Sparks 2011; Splichal 1992). Vir hierdie kritici (bv. Friedman 2011) het die Suid-Afrikaanse media nie voldoende gereageer op die etiese imperatief om ’n oop, demokratiese openbare sfeer daar te stel nie.

Die sentrale argument van hierdie artikel is dat die perspektiewe op normatiewe etiek wat tot dusver die debatte oor die media se rol in postapartheid-Suid-Afrika gekenmerk het, tot ’n dooie punt gelei het en dat ’n alternatiewe raamwerk dus gevind moet word. So ’n alternatiewe raamwerk sal tegelykertyd die demokratiese kultuur in Suid-Afrika moet verdiep, asook ’n antwoord bied op kritiek dat die media se interpretasie van “die openbare belang” te oppervlakkig was en gefokus op ’n klein elite.

In die res van hierdie artikel sal ’n oorsig gebied word oor enkele van hierdie normatiewe debatte, waarna ’n alternatiewe etiese raamwerk – ’n “etiek van luister” – voorgestel word. Daar sal aangevoer word dat hierdie raamwerk van “luister”, geskakel met ’n siening van “stem” as ’n etiese waarde, meer toepaslik is vir die media in ’n nuwe demokrasie wat gekenmerk word deur fundamentele meningsverskille oor die rol wat die media behoort te speel, asook vir ’n media wat funksioneer in ’n samelewing wat gebuk gaan onder voortslepende materiële ongelykhede en sosiale fragmentasie.

 

2. Omstredenheid oor normatiewe raamwerke

Daar bestaan verskeie menings oor wat presies die media se rol in die samelewing behoort te wees. Die algemene verwagting is dat media bepaalde sosiale doelwitte moet dien en bydra tot die openbare belang. Wanneer daar na “normatiewe teorie” verwys word, word bedoel die idees ten opsigte van die regte en verantwoordelikhede van die media wat hierdie verskillende verwagtinge onderlê – die kriteria waarvolgens die media beoordeel word binne ’n bepaalde samelewing (McQuail 2005:162). Van die bekendste normatiewe teorieë sluit in dié van persvryheid uitgeoefen in die openbare belang (dikwels uitgedruk as die “waghond-rol”), die sosiale-verantwoordelikheid-benadering, waarvolgens die media in ’n beperkte mate gereguleer word, die professionele model, waarvolgens sekere waardes gekodifiseer word, maar deur die media self toegepas word, en alternatiewe modelle soos die kommunitaristiese of progressiewe benaderings (sien McQuail 2005:162–86 vir ’n inleidende opsomming, asook Christians e.a. (2009) vir ’n meer omvattende oorsig).

Hoewel die normatiewe raamwerke tussen media en regerings in die gevestigde demokrasieë van Noord-Amerika en Europa met die verloop van tyd ontwikkel het tot “mediasisteme” waarbinne die verhouding tussen media en die staat duidelik gedefinieer is (Hallin en Mancini 2004), is hierdie rolle en verhoudinge aansienlik meer vloeibaar in nuwe demokrasieë. Die Suid-Afrikaanse geval kan dus gesien word as ’n voorbeeld van hoe joernalistieke paradigmas onderhandel word (Berger 2008) in samelewings wat in politieke en sosiale oorgang is.

In die debatte oor die ideale rol vir die media in postapartheid-Suid-Afrika kan vernaamlik twee hoofbenaderings onderskei word – hoewel hierdie benaderings op verskillende maniere geartikuleer word en spesifieke nuanses verkry na gelang van die omstandighede. Die konsensus onder die hoofstroommedia sedert demokratisering was grotendeels dat die media ’n liberaal-demokratiese “waghond”- of “Vierde Stand”-monitorparadigma behoort na te volg (vgl. Christians, Glasser, McQuail e.a. 2009 se bespreking van verskillende normatiewe paradigmas). Sodoende sou verseker word dat die nuwe, demokratiese regering sy beloftes vervul en nuwe magsvergrype en korrupsie verhoed word. Die selfregulerende stelsel wat, soos hier bo beskryf, in werking gestel is in die postapartheid-bedeling, het ten doel gehad om die vergrype van ’n vrye pers te korrigeer deur ’n mate van sosiale verantwoordelikheid te verseker. Sommige aanhangers van hierdie waghondrol, veral diegene in die burgerlike gemeenskap, het wel die mediabedryf gekritiseer dat hulle te behep is met kommersiële belange, en dat hulle beheer word deur ’n klein groep van groot mediakonglomerate wat die beginsels van liberale pluralisme en die verskeidenheid van stemme in die openbare sfeer ondermyn.

Die argumente teen die “waghond” normatiewe raamwerk is aan die ander kant weer grootliks gegrond op ’n siening dat die media in ’n postkoloniale, postapartheid-omgewing ’n verantwoordelikheid het om die demokraties-verkose regering te ondersteun. Vanuit hierdie perspektief het die regering aan die bewind gekom deur ’n meerderheidsbesluit van landsburgers na ’n jare lange bevrydingstryd, en verdien die regering derhalwe die steun van die media om sy ontwikkelingsdoelwitte te behaal en die skade van apartheid en kolonialisme ongedaan te maak. Hierdie kritici meen dat ’n vyandige waghondmedia die legitimiteit van die nuutverkose demokratiese regering sal ondermyn. Voorts, meen kritici soos Friedman (2011), beteken die wanbalans van die Suid-Afrikaanse medialandskap ten gunste van elite-gehore (Friedman 2011) dat die waghondrol in elk geval slegs namens ’n bevoorregte minderheid uitgeoefen word. Kwessies wat die arm meerderheid van die bevolking raak, geniet dus nie dieselfde aandag van mediawaghonde as dié sake waaroor die elite-lesers en -gehore begaan is nie. Kritici van die liberaal-demokratiese paradigma grond egter hul argumente op verskeie alternatiewe raamwerke. Vir sommige is die raamwerk van ontwikkelingsjoernalistiek, wat ’n bepaalde mate van samewerking met die regering veronderstel, die aangewese een om die media in staat te stel om ’n meer progressiewe en konstruktiewe rol te speel (Christians e.a. 2009). Ander het weer die liberaal-demokratiese normatiewe raamwerk gekritiseer as synde Westers en daarom onvanpas vir die Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie kritici dring dan daarop aan dat die media hulself beter oriënteer ten opsigte van Afrika-tradisies en -waardestelsels.

Soos verskeie gevallestudies uit Afrika (bv. Ndangam 2006; Lodamu en Skjerdal 2009) duidelik gemaak het, is die omstandighede waaronder joernaliste in Afrika werk, dikwels radikaal anders as dié van hul eweknieë in die noorde. Om dié rede sou ’n huidjie-en-muidjie-invoer van noordelike raamwerke onvanpas wees. Postkoloniale kritici (Wasserman 2006; Rao en Wasserman 2007) het ook reeds aangevoer dat die onlangse akademiese belangstelling in vraagstukke rondom “globale media-etiek” – die kwessie oor of daar globale etiese raamwerke vir die media opgestel kan word en of elke samelewing eerder sy eie waardes het – weer die risiko loop om (hetsy onbedoeld) noordelike norme af te dwing onder die dekmantel van universalisme. Oproepe om die “verinheemsing” van media-etiek het erkenning geëis vir kontekstuele spesifisiteit en lokale kulturele waardes. Hierdie waardes word binne die Afrika-konteks gewoonlik gesien as meer gemeenskapsgerig in hul oriëntasie as die individualistiese media-etiek wat nou verbind word met die Westerse tradisie van die Verligting.

Die bekendste Afrika-etiese raamwerk is waarskynlik dié van die Zambiese etikus (wyle) Francis Kasoma. Sy “Afri-etiek” (Kasoma 1994, 1996, 2000) bly ’n verwysingspunt vir pogings deur ander navorsers (bv. Christians 2004; Wasserman en De Beer 2004) om skakelpunte tussen inheemse etiese raamwerke soos ubuntu(’n relasionele etiek wat dikwels uitgedruk word as “’n mens is ’n mens deur ander mense”, of “ek is omdat jy is”) en Westerse raamwerke soos kommunitarisme te vind. Desnieteenstaande het verskeie kritici hierdie pogings verwerp op grond van wat beskou word as romantiese sienings van ’n idilliese Afrikagemeenskap wat onaangeraak deur die Weste bly (bv. Banda 2009; Nyamnjoh 2005:91).

Aansprake op Afrikawaardes kan ook gebruik word as ’n siniese retoriese strategie deur politici om mediavryheid in te perk of kritiek deur die media af te weer. In Suid-Afrika het die destydse president Thabo Mbeki byvoorbeeld joernaliste opgeroep om te onthou dat “julle Afrikane was voordat julle joernaliste geword het, en dat, ten spyte van jul beroep, julle steeds Afrikane is” (Mbeki 2003). Hierdie stelling kan geïnterpreteer word as ’n poging om steun te verkry vir Mbeki se destydse agenda van ’n “Afrika-Renaissance”. Meer onlangs het die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), Blade Nzimande, gevra om die instelling van ’n “beledigingswet” om president Jacob Zuma se waardigheid teen aanvalle van wit joernaliste, wat glo nie swart kulture respekteer nie, te beskerm (Ndenze 2012). Die oproep dat ’n “beledigingswet” in Suid-Afrika ingestel word, volg die voorbeeld van verskeie Afrikalande waar sulke wetgewing veronderstel is om politici se waardigheid te beskerm teen “beledigings” deur die media. Berger (2007:141) het egter aangetoon hoe hierdie wette dikwels gebruik word om die teistering van joernaliste in Afrikalande te regverdig. Die idee van “Afrika-waardes” kan ook maklik foutiewelik aangewend word om kulturele relativisme te ondersteun – die idee dat media-instellings in Afrika hul eie morele riglyne moet volg en dat etiese waardes afkomstig uit ander tradisies volledig onvanpas is vir die Afrika-konteks. Só ’n relativistiese houding kan maklik misbruik word om die belange van ’n elite-klas te dien wat aan kritiese ondersoek kan ontsnap deur kritiek af te maak as “Eurosentries” of “Westers” (Tomaselli 2003:430). Om “Afrika-waardes” as ’n normatiewe basis vir etiese mediapraktyk te gebruik, kan dus ’n bedreiging inhou vir vryheid van uitdrukking, aangesien kritiek van die regering of politici afgemaak kan word as on-Afrikaans (un-African), onpatrioties of minagtend van gesag (Fourie 2008). Tomaselli (2011:82) wys daarop dat Kasoma se siening van Afrikakultuur as gebonde en staties problematies is, en dat sodanige essensialistiese diskoerse daartoe kan meewerk dat onreg en korrupsie verberg word onder die dekmantel van “respek vir Afrikakultuur” (sien egter ook Sesanti 2010 se teenargument dat so ’n misbruik van “respek” deur elites nie noodwendig getrou is aan Afrika-opvattings van respek, wat toelaat vir kritiek deur die burgery, nie).

Uit bostaande oorsig blyk dit duidelik dat media-etiek bestrede terrein is. Verskeie normatiewe raamwerke bestaan naas mekaar en ding mee om dominansie. Hierdie etiese raamwerke het ook ’n politieke dimensie, aangesien hulle botsende sienings van die sosiale verantwoordelikheid en vryheid van die media kan ondersteun. Dit moet daarom nie as vanselfsprekend beskou word dat die manier waarop etiese konsepte soos mediavryheid en sosiale verantwoordelikheid in die Suid-Afrikaanse mediakonteks verstaan en gebruik word, noodwendig sal ooreenstem met die interpretasies van dieselfde en soortgelyke terme in gevestigde demokrasieë en ander kultuuromgewings soos dié in Noord-Amerika en Europa nie (Wasserman 2010).

Uit bostaande bespreking behoort dit duidelik te word dat debatte oor media-etiek in Suid-Afrika ontstaan uit (i) fundamentele meningsverskille oor die media se rol en verantwoordelikheid in ’n “nuwe demokrasie” en in Afrika, en (ii) die besef dat die Suid-Afrikaanse media gesitueer is in ’n samelewing wat gekenmerk word deur voortslepende materiële ongelykhede en sosiale fragmentasie wat die demokratiese openbare sfeer ondermyn. ’n Alternatiewe normatiewe raamwerk moet gevind word wat die media kan help om op eties-verantwoordbare wyse te praktiseer binne ’n demokratiese samelewing wat steeds die littekens van historiese onreg en die oop wonde van ekonomiese en sosiale ongelykheid toon. Een so ’n alternatiewe raamwerk wat hier voorgestel word, is ’n “etiek van luister”, gegrondves in die alledaagse belewenisse van burgers oor die grense van sosiale en ekonomiese verskille heen.

 

3. ’n Etiek van menswaardigheid en van luister

In hul bespreking van globale media-etiek stel Christians en Nordenstreng (2004) drie universele “protonorme” voor wat die media oor die wêreld heen kan rig: waardigheid, waarheid en nieskadelikheid.

Hoewel Christians en Nordenstreng aanvoer dat hierdie “protonorme” oor kulture en samelewings heen kan resoneer, sal hierdie norme in spesifieke kontekste meer diepte van betekenis moet verkry. Die verhouding tussen hierdie konsepte – die relatiewe belangrikheid van “waardigheid” in verhouding tot “die waarheid”, byvoorbeeld – sal ook afhang van die spesifieke situasie waarbinne hulle gebruik word. In samelewings wat uit konflikbelaaide geskiedenisse ontstaan, soos die “nuwe demokrasieë” wat sedert die “Derde Golf van Demokrasie” in die 1990’s tot stand gekom het, is die media se rol om by te dra tot die opbou van ’n nuwe samelewing, gegrond op gedeelde fundamentele etiese beginsels, van uiterste belang. Die media in hierdie nuwe demokrasieë kan die ontwikkeling van burgerlike identiteite en deelname van alle burgers aan die demokratiese kultuur óf bevorder óf aan bande lê.

In die Suid-Afrikaanse konteks, waar die historiese konflik gegrond is in sistemiese rassisme en die miskenning van die menseregte van die meerderheid van die land se bevolking, kan aangevoer word dat ’n normatiewe teorie van die media gegrond moet wees in die konsep van menswaardigheid.

Die protonorm van menswaardigheid vereis van die media om maniere te vind om by te dra tot die herstel van waardigheid van dele van die bevolking wat steeds die wonde van ’n verontmenslikende rassistiese geskiedenis aan die lyf voel. Hierdie geskiedenis het sowel die onderdrukker as die onderdrukte se menswaardigheid aangetas, en die media het ’n etiese verantwoordelikheid om by te dra tot die heling van die wonde van die geskiedenis (daarom bevat Suid-Afrikaanse etiese kodes byvoorbeeld riglyne oor die vermyding van rasse-stereotipes).

Hoewel dit ’n universeel geldende waarde is (Christians en Nordenstreng 2004:21), kan die konsep van waardigheid as ’n etiese beginsel vir die joernalistiek problematies wees. Aan die een kant kan menswaardigheid die hoeksteen vorm vir stryde teen onderdrukking, soos die geval was in die bevrydingstryd teen apartheid. Die klem op menswaardigheid en ontwikkeling is ook al gebruik as ’n basis vir die bevoegdheidsbenadering van Nussbaum (2000) en Sen (1999), waar menswaardigheid gedefinieer is as die vervulling van ’n stel kriteria vir ’n ordentlike menslike lewe en welvarendheid. Die erkenning en ontwikkeling van menswaardigheid word ook as ’n beginsel gevind in nie-Westerse filosofieë soos Boeddhisme (May 2006:51) en Chinese filosofie (Zhang 2007). Vanuit hierdie perspektiewe kan waardigheid as ’n etiese beginsel vir die media daartoe bydra dat burgers se stemme beter gehoor word en sorg dat hul vermoëns beter ontwikkel word. Menswaardigheid as konsep kan egter ook misbruik word om mediavryheid te onderdruk. Die beskerming van ’n politikus se waardigheid kan ’n rookskerm word om die media se openbaarmaking van korrupsie en ander vergrype te verhul. Soos hier bo genoem, is dit die geval met baie van die “beledigingswette” wat in Afrika-lande toegepas word.

Die waarde van menswaardigheid word egter in die Suid-Afrikaanse grondwet beskerm weens die land se geskiedenis van sistemiese rassisme wat die meerderheid van die land se burgers die reg op waardigheid ontsê het. Teen die agtergrond van daardie geskiedenis is dit belangrik om ’n manier te vind om die waarde van menswaardigheid as normatiewe ideaal op so ’n wyse in stand te hou dat die toe-eiening en misbruik vir siniese politieke gewin vermy kan word. In stede daarvan dat dit politieke misbruik dien, kan “waardigheid” die grondslag vorm van ’n demokratiese politiek wat die media in staat sal stel om deelname van alle burgers aan die openbare sfeer te fasiliteer – veral daardie dele van die burgery wat in die verlede uitgesluit is van die bemiddelde openbare sfeer. As die morele eise aan ’n media wat beweer dat hy in die “openbare belang” werk in ’n omgewing gekenmerk deur uiterste armoede, sosiale marginalisasie en uitsigloosheid, ernstig opgeneem word, kan ons nie ontsnap van die noodsaak om in ’n meer substantiewe sin oor menslike waardigheid te dink nie.

Dit is teen hierdie agtergrond dat menswaardigheid as ’n protonorm vir joernalistiek, dat die idee van ’n “etiek van luister”, as ’n normatiewe raamwerk in ’n postkonflik-, oorgangskonteks soos Suid-Afrika, ontgin kan word. In die oorblywende gedeelte van hierdie artikel sal ek aanvoer dat “luister” as ’n etiese waarde gepas is vir ’n nuwe demokrasie waarin sosiale polarisasie voortgaan om ’n impak op medianarratiewe en –agendas te hê, en in ’n samelewing waar voortgesette ekonomiese ongelykhede sekere dele van die burgery voorsien van disproporsionele mag om hulself in die openbare sfeer gehoor te laat word.

Om mense met waardigheid te benader beteken in die eerste plek om hul stories ernstig op te neem. Couldry (2010:1) beskou die vermoë van ’n mens om sy eie lewe te beskryf as fundamenteel tot die menslike bestaan. Maar om te praat is nie genoeg nie – om mense as mense te behandel beteken dat hulle bewus gemaak sal word daarvan dat hulle stem wel saak maak – dat daar waarde aan geheg word (Couldry 2010:1). Om mense te beskou as waardig, ongeag hul sosiale status, beteken dat aan hulle gedink sal word nie alleen as statistieke waarmee die regering gedwing sal word om verantwoording te doen nie, maar as doeleindes uit eie reg – mense met waardevolle stories.

Couldry (2010:7) verwys na “stem as waarde”, dit wil sê mense se praktyk om ’n vertelling aan te bied, hetsy eksplisiet of introspektief, van die wêreld waarbinne hulle optree. Narratief is ’n basiese kenmerk van menslike optrede. Om ander die potensiaal te ontsê om hul eie stories te vertel is om hulle hul potensiële “stem” te ontsê, en daardeur ’n basiese dimensie van menslike lewe te ontneem (Couldry 2010:7).

Die idee van “stem” en “stemgewing” word dikwels deur die media gebruik as ’n metafoor vir joernalistieke praktyk. Couldry (2010:1, 7–11) wys egter tereg daarop dat hierdie gebruik van “stem” die gevaar loop om ’n banale begrip of term te word tensy meer waarde daaraan geheg word as ’n proses wat ten nouste geskakel is met wat dit beteken om mens te wees, dus met menslike waardigheid. “Stem” gesien vanuit hierdie perspektief is ook nie ’n eienskap van geïsoleerde individue nie, maar ’n praktyk wat beoefen word binne sosiale netwerke waar mense verantwoordelikheid aanvaar vir die stories wat hulle vertel, waar mense ook luister na die stories van ander, waar alternatiewe stories gedoog word, en ’n praktyk waarvoor daar materiële en institusionele ondersteuning gebied word.

Om menslike lewe as heilig (sacred) te beskou en mense te sien as wesens met ’n inherente waardigheid, sal ook inhou dat maniere gesoek sal word om mense aan mekaar te verbind. ’n Media-etiek van luister sal dus daarop gemik wees om die verbindings en verhoudings tussen en die interafhanklikheid van mense en hul stories na vore te bring. Mense se stemme, meen Couldry (2010:7), is gegrond in hul sosiale verhoudinge en is nie die praktyk van geïsoleerde individue nie. Couldry (2010:8) verwys voorts na die werk van Alasdair Macintyre wat die narratiewe van individuele lewens sien as ’n deel van ’n patroon van vervlegte stemme. Maar vir hierdie stemme om hul lewens te kan verwoord, te narrativeer, hang af daarvan of hulle gehoor word: “Stem” as ’n sosiale proses veronderstel vir Couldry (2010:9) ’n interafhanklike proses van praat énluister – dit is ’n daad van aandag gee wat die uniekheid van die Ander se narratief registreer.

Hierdie siening van Couldry van praat en luister as ’n interafhanklike proses resoneer klaarblyklik met die beginsel van ubuntu: “Ek is omdat jy is” of, om dit effens anders te stel: “Jy kan jou storie vertel, want ek luister daarna.”

Hoewel Bickford (1996:2) in haar werk oor luister as ’n demokratiese praktyk nie luister sien as primêr ’n versorgende of deernis-praktyk nie, sou die idee van luister tog ook kon aansluit by die feminis Carol Gilligan (1993) se “etiek van sorg”, waar luister gesien word as ’n poging om die waardigheid te herstel van mense teenoor wie daar in die verlede gediskrimineer is, of wat verontmenslik is, soos deur die rasgebaseerde praktyke van kolonialisme en apartheid. Gilligan sien die idee van menswaardigheid nie alleen as gegrond op “abstrakte bespiegelings” nie, maar in verhoudings wat “gegrond is in luister” (1993:xiii). Die mees basiese vraagstukke oor menslike lewe, sê Gilligan (1993:xiv), is fundamentele vrae oor menslike verhoudinge, want mense se lewens is ten diepste verbind – psigologies, ekonomies en polities. Om ’n stem te hê is om mens te wees (Gilligan 1993:xvi). Om iets te hê om te sê, is om ’n persoon te wees. Maar om te kan praat hang daarvan af of iemand luister, of jy gehoor word; dit is ’n relasionele daad.

Hierdie etiek van sorg is een van verbintenis, van deernis en verdiep wees in mense se lewens. Hierdie waardes word egter bevraagteken in die liberaal-individualistiese joernalistieke mantra van “professionalisme” en “onpartydigheid” wat ook in Suid-Afrika die botoon voer in etiese kodes en joernalistieke praktyke. Maar soos Bickford (1996:2) uitwys, kan ’n etiek van luister ook ’n dialogiese politiek onderlê wat daarna kan streef om teenstrydige opinies te verstaan, selfs indien ’n versorgingsverhouding afwesig is. Die waarde van “luister” vra dus in die eerste plek om ’n grondige herbesinning oor bestaande media-etiese raamwerke, maar selfs sonder so ’n volledige heroriëntering kan die waarde van luister bydra tot ’n verdieping van demokratiese deelname deur middel van die media, al word ’n raamwerk van sorg nie aangeneem nie.

’n Fundamentele heroriëntering van media-etiek in die rigting van ’n etiek van luister sal egter in die eerste plek nie besorg wees oor die korrekte prosedures om skade te beperk nie (byvoorbeeld deur die regulasie van media te sien as ’n voldoende oplossing vir alle etiese probleme in die media), maar eerder die substantiewe uitkoms ten doel hê om die waardigheid van gemarginaliseerdes te herstel en verbintenisse tussen mense te herontdek. Dit sal proaktiewe ingryping deur joernaliste in die samelewing vereis, veral wanneer daardie samelewing so ongelyk en gefragmenteerd is, soos baie oorgangs-, postkonflik-demokrasieë (waarvan Suid-Afrika een is).

Die etiek van luister is daarom nie ’n vorm van “beleefde gesprek” wat bloot die gapings en verskille tussen mense probeer toesmeer in ’n poging om maklike maar oppervlakkige konsensus te bereik nie (Dreher 2009:450). Dreher (2009:450) verwys trouens na “moeilike luister” – ’n manier om ’n inklusiewe politiek tot stand te bring wat nie wegskram van konflik en verskille nie. Soos reeds genoem, sien Bickford (1996:15) ook nie luister in die eerste plek as noodwendig gegrond in verhoudings of gemeenskaplikheid nie, maar waarsku teen ’n “vals” of “bestuurde” konsensus. (Vir verskeie perspektiewe op die etiek en praktyk van “luister”, sien die spesiale uitgawe van Continuum 23(4) (2009).

Die etiek van luister moet nie misverstaan word as deel van ’n gesellige, apolitiese dialoog nie. Bickford (1996:2) wys daarop dat luister fundamenteel is tot die politiek, dat dit inderwaarheid ’n voorvereiste vir die moontlikheid van politiek is. Bickford benader die idee van luister in die politieke sin vanuit ’n ander hoek as wat ’n kommunitariese etikus dit sou doen, en wys daarop dat luister ook ’n oriëntasie kan wees wat ten grondslag lê van die robuuste meningsverskille van demokratiese politiek. Luister, in die sin waarin Bickford die term gebruik, kan politieke rolspelers in staat stel om op demokratiese wyse te besluit hoe om op te tree in die aangesig van konflik, en om die aard van die betrokke konflik te verhelder en te verduidelik (1996:2). ’n Mededingende (agonistiese) politiek hang dus daarom ook af van luister. Dit verwag van joernaliste om meer te doen as om bloot ’n platform te verskaf vir burgers om met mekaar te praat, soos in aanlyn geselskamers of openbare forums, en dan bloot terug te staan en van die kantlyn af verslag te doen. Inteendeel – joernaliste kan horisontale gesprekke tussen burgers, byvoorbeeld oor plaaslike aangeleenthede (byvoorbeeld die alledaagse ervarings van munisipale dienslewering) verbind met die vertikale as van politieke mag (byvoorbeeld beleidsvorming). Die media kan die klankversterking verskaf sodat plaaslike stemme in nasionale of wêreld-arenas gehoor kan word. Joernaliste kan dus ’n politiek “van die grond af op” help fasiliteer.

Die verskil tussen hierdie nuwe etiek van luister en bestaande liberaal-demokratiese benaderings is dat die agenda vir hierdie vrae nie meer alleenlik, of hoofsaaklik, deur joernaliste bepaal sal word nie, maar deur burgers – en nie slegs in die modieuse “burgerlike joernalistiek” of “gebruiker-gegenereerde inhoud” nie. Laasgenoemde praktyke op koerantwebtuistes verskuif nog nie die dominante joernalistieke paradigma op grondige wyse nie.

Luister as ’n etiese imperatief vir joernaliste is ’n veel meer radikale projek. Dit behels ’n ondermyning van die grondliggende aannames oor joernaliste as “hekwagters” deur joernaliste eerder in “hek-oopmakers” te omvorm. “Hek-oopmakers” kan die magstruktuur inherent aan mediaproduksie desentraliseer deur die onderwerpe van die nuus – burgers, gewone mense – as eweknieë in die produksieproses te beskou. Nuwe tegnologieë soos selfone en internetplatforms maak dit toenemend moontlik om die van-bo-af-ondertoe struktuur van korporatiewe media te vervang met ’n meer vloeibare, van-onder-af-boontoe deelname (Carpentier 2003:438; 2011:123).

Bickford (1996:5) beklemtoon die belangrikheid daarvan om die verhouding tussen mediaprodusente en -gebruikers op sy kop te keer. Sy verduidelik dat die praktyk van luister van die media sal vereis om die moontlikheid van beheer en die versekering dat hul doelwitte bereik sal word, te moet prysgee ten gunste van gemeenskaplike politieke aksie. Vir die media sal dit ’n aansienlike verskuiwing meebring, van die tradisionele professionele ideologie van beheer oor inligting en die disseminasie daarvan, na ’n veel meer interaktiewe, wederkerige verhouding met burgers. So ’n skuif vereis ’n transformasie van die media se begeerte tot heerskappy na ’n nuwe, etiese ontvanklikheid (Dreher 2009:451). Joernaliste sal moet leer om beheer af te staan, om te “laat los”. Hulle sal bereid moet wees om hul eie aannames te laat bevraagteken, en te aanvaar dat die beeld van die realiteit wat in die proses van luister na vore kom, meer kompleks en selfs meer onverstaanbaar sal wees as wat hulle voorheen gedink het. Die media mag selfs agterkom dat hulle medepligtig is aan die probleme wat hulle probeer verstaan.

Hierdie etiek van luister vereis ’n daad van die verbeelding. Nussbaum (2010:10) beweer dat verbeelding noodsaaklik is vir die demokrasie. Die vermoë om jouself in die skoene van ’n ander te stel, om die ervaring van die ander te verbeel, is volgens Nussbaum ’n vermoë wat alle mense in een of ander vorm besit. Hierdie vermoë, meen sy voorts, moet egter versterk en verfyn word indien ons enige hoop daarin stel om behoorlike demokratiese instellings tot stand te bring en in stand te hou, ten spyte van die verdelings in moderne samelewings.

Bickford (1996:13) stem saam dat demokratiese luister nie bloot daarop neerkom dat ander mense se menings verdra en verduur word nie. Nee – luister vereis van ’n mens om jouself in die posisie van ’n ander te verbeel, om moeite te doen om te hoor watter gemeenskaplike doelwitte of gemene goed daar tussen mense mag bestaan, ongeag hul verskille (Bickford 1996:13). Om op so ’n manier te luister, vereis ’n daadwerklike poging en is nie ’n moeitelose proses nie. In nuwe demokrasieë en oorgangsamelewings kan die media ’n uiters belangrike rol speel om burgers te leer om hul burgerskap aktief te beoefen deur middel van die media. So ’n rol sal egter van joernaliste vereis om oor die rasse-, klasse-, sosiale en kulturele verskille heen wat van die predemokratiese era geërf is, te kan luister.

 

4. Ter illustrasie van die benadering

Die “etiek van luister” is in hierdie artikel grootliks benader as ’n oorkoepelende filosofiese raamwerk wat verder ontwikkel kan word as ’n normatiewe benadering wat uiteindelik beslag gegee moet word in joernalistieke opleiding en -praktyk. Die ruimte ontbreek om hier uitvoerige toepassings of voorbeelde van so ’n benadering aan te bied. Tog kan een voorbeeld kortliks ter illustrasie van hierdie benadering genoem word.

Hierdie voorbeeld is City Press se bekroonde (met die Sikuvile-prys vir “SA storie van die jaar”) ondersoekende reeks “The Faces of Marikana” (Faces of Marikana s.j.).Waar veral die aanvanklike verslaggewing van die Marikana-slagting grootliks die perspektief van diegene in gesagsposisies oorgeneem het, het “The Faces of Marikana” verby die amptelike narratiewe van die konflik beweeg om te luister na die stemme van familielede wat geliefdes in die slagting verloor het. Dit is ’n voorbeeld van hoe nuwe, oudiovisuele media gebruik kan word om letterlik die stemme van mense te laat hoor en hulle met waardigheid te behandel as mense en nie net statistieke nie. Voorts het hierdie luisterproses ook voorrang gegee aan gewone mense se siening van die gebeure, eerder as die amptelike weergawes. Joernaliste het kritiese selfrefleksie toegepas oor die beriggewingsproses, waardeur die ambivalensies en voorlopigheid van die proses van “stemgewing” aan die orde gestel word, en ’n emosionele respons op die verhale wat vertel word, toegelaat word eerder as die saaklike, afsydige dogma van “objektiwiteit”. Voorts word die proses van “stemgewing” en “luister” as onvoltooid en oop gelaat, deur ’n ruimte waar mense hul eie bydraes of bykomende inligting oor die gestorwenes kan bydra.

Bogenoemde kenmerke suggereer ’n meer wederkerige, onvoltooide en relasionele benadering tot stemgewing as die aanname van konvensionele “waghond”-joernalistiek wat sigself dikwels aanmatig om namens ander te praat.

 

5. Gevolgtrekking

Suid-Afrika is ’n voorbeeld van ’n oorgangsamelewing wat na vore gekom het na eeue van konflik en nou beskou kan word as ’n “nuwe demokrasie”. Terwyl dit erken word dat die media ’n etiese imperatief het om burgerlike deelname aan hierdie demokrasie te fasiliteer, en kan bydra tot die oorbrugging van die skeidings van die verlede, is die normatiewe beginsels wat die media na hierdie doelwitte moet begelei, allesbehalwe duidelik.

Hierdie artikel het aangevoer dat ’n alternatiewe benadering tot media-etiek noodsaaklik geword het, buite die ou teenstellings van “waghond”- of “meewerkende” joernalistiek (soos lg. dikwels in die ontwikkelingsjoernalistiek na vore kom). So ’n etiese benadering sal ook moet verbybeweeg by retoriese en dikwels sinies-pragmatiese aansprake op “Afrika” etiese raamwerke. Daarteenoor sal ’n nuwe etiek gegrond moet wees in die universele protonorm van menswaardigheid, soos dit gemanifesteer word in die praktyk van “demokratiese luister”. So ’n benadering sal meer buigbaar en geskik wees vir die omstandighede in ’n nuwe demokrasie, waar ’n demokratiese kultuur nog in wording is en die media se rol in die bewerking van burgerlike deelname aan demokratiese prosesse nog onderhandel word.

 

 

Bibliografie

Banda, F. 2009. Kasoma’s Afriethics: A reappraisal. The International Communication Gazette,70(2):227–42.

Berger, G. 2007. Media legislation in Africa: A comparative legal survey. Grahamstad: School of Journalism and Media Studies/UNESCO.

—. 2008. A paradigm in process. What the scapegoating of Vusi Mona signalled about South African Journalism. Communicatio,34(1):1–20.

Bickford, S. 1996. The dissonance of democracy: Listening, conflict and citizenship. Ithaca: Cornell University Press.

Blankson, I.A. en P.D. Murphy (reds.). 2007. Negotiating democracy: Media transformations in emerging democracies. Albany: State University of New York Press.

Carpentier, N. 2003. The BBC’s Video Nation as a participatory media practice: Signifying everyday life, cultural diversity and participation in an online community. International Journal of Cultural Studies,6(4):425–47.

—. 2011. Media and participation: A site of ideological-democratic struggle. Bristol: Intellect.

Christians, C. 2004. Ubuntu and communitarianism in media ethics. Ecquid Novi: African Journalism Studies,25(2):235–56.

—. 2010. Communication ethics in postnarrative terms. In Steiner en Christians (reds.) 2010.

Christians, C.G., T.L. Glasser, D. McQuail, K. Nordenstreng en R.A. White. 2009. Normative theories of the media. Chicago: University of Illinois Press.

Christians, C.G. en K. Nordenstreng. 2004. Social responsibility worldwide. Journal of Mass Media Ethics,19(1):3–28.

Continuum: Journal of Media & Cultural Studies. 2009. 23(4). Spesiale uitgawe: Listening – new ways of engaging with media and culture.

Couldry, N. 2010. Why voice matters: Culture and politics after neoliberalism. Londen: Sage.

Dreher, T. 2009. Listening across difference: Media and multiculturalism beyond the politics of voice. Continuum: Journal of Media & Cultural Studies,23(4):445–8.

Dreze, J. en A. Sen. 2011. Putting growth in its place. Outlook India. http://www.outlookindia.com/article.aspx?278843 (15 November 2011 geraadpleeg).

Durrheim, K., M. Quayle, K. Whitehead en A. Kriel. 2005. Denying racism: Discursive strategies used by the South African media. Critical Arts,19(1/2):167–86.

Eribo, F. en W. Jong-Ebot (reds.). 1997. Press Freedom and Communication in Africa. Trenton, NJ: Africa World Press.

Faces of Marikana. s.j. http://www.m24i.co.za/facesofmarikana  (5 Junie 2013 geraadpleeg).

Friedman, S. 2011. Whose freedom? South Africa’s press, middle-class bias and the threat of control. Ecquid Novi: African Journalism Studies,32(2):106–21.

Fourie, P.J. 2008. Moral philosophy as the foundation of normative media theory: Questioning Ubuntuism as a framework. In Ward en Wasserman (reds.) 2008.

Giffard, C.A., A.S. de Beer en E. Steyn. 1997. New media for the new South Africa. In Eribo en Jong-Ebot (reds.) 1997.

Gilligan, C. 1993 [1982]. In a different voice: Psychological theory and women’s development. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Hallin, D. en P. Mancini. 2004. Comparing media systems: Three models of media and politics. Cambridge, UK: Cambridge University Press.

Hyde-Clarke, N. (red.). 2011. Communication and media ethics in South Africa. Kaapstad: Juta.

Kasoma, F.P. (red.). 1994. Journalism ethics in Africa. Nairobi: ACCE.

Kasoma, F.P. 1996. The foundations of African ethics (Afriethics) and the professional practice of journalism: The case for society-centred media morality. Africa Media Review 10(3), 93–116.

—. 2000. The press and multiparty politics in Africa. Tampere: University of Tampere.

Krabill, R. 2001. Symbiosis: mass media and the Truth and Reconciliation Commission of South Africa. Media, Culture and Society,23(5):567–85.

Lodamo, B. en T.S. Skjerdal. 2009. Freebies and brown envelopes in Ethiopian journalism. Ecquid Novi: African Journalism Studies,30(2):134–54.

May, J.D. 2006. Human dignity, human rights, and religious pluralism: Buddhist and Christian perspectives. Buddhist-Christian Studies,26:51–60.

Mbeki, T. 2003. Address by the President Of South Africa, Thabo Mbeki, at the Sanef Conference on the media, the AU, Nepad and Democracy. Johannesburg, 12 April. http://www.info.gov.za/speeches/2003/03041410461001.htm (20 November 2012 geraadpleeg).

McQuail, D. 2005. McQuail’s mass communication theory. Londen: Sage

Murphy, P.D. 2007. Media and democracy in the age of globalization. In Blankson en Murphy (reds.) 2007.

Ndangam, L. 2006. “Gombo”: Bribery and the corruption of journalism ethics in Cameroon. Ecquid Novi: African Journalism Studies, 27(2):179–99.

Ndenze, B. 2012. Call for Zuma insult law. IOL News http://www.iol.co.za/news/politics/call-for-zuma-insult-law-1.1423784#.UKtBVYY1d8E (20 November 2012 geraadpleeg).

Nussbaum, M.C. 2000. Women and human development: The capabilities approach. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 2010. Not for profit: Why democracy needs the humanities. Princeton: Princeton University Press.

Nyamnjoh, F.B. 2005. Africa’s media: Democracy and the politics of belonging. Londen: Zed Books.

Olorunnisola, A. 2006. Media inquiries in South Africa: Continuities and discontinuities. In Olorunnisola (red.) 2006.

Olorunnisola, A. (red). 2006. Media in South Africa after apartheid: A cross-media assessment. Lewiston, NY: Edwin Mellen.

Politicsweb 2012. What the Press Freedom Commission recommends. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71656?oid=294997&sn=Detail (5 Junie 2013 geraadpleeg).

Rao, S. en H. Wasserman. 2007. Global journalism ethics revisited: A postcolonial critique. Global Media and Communication,3(1):29–50.

Sen, A. 1999. Development as freedom. New York: Knopf.

Sesanti, S. 2010. The concept of “respect” in African culture in the context of journalism practice: An Afrocentric intervention. Communicatio,36(3):343–58.

Sparks, C. 2011. South African media in comparative perspective. Ecquid Novi: African Journalism Studies, 32(2):5–19.

Splichal, S. 1992. Media privatization and democratization in Central-Eastern Europe. International Communication Gazette,49(1/2):3–22.

Steiner, L. en C. Christians (reds.). 2010. Key concepts in critical cultural studies. Urbana: University of Illinois Press.

Tomaselli, K.G. 2003. “Our culture” vs. “foreign culture”: An essay on ontological and professional issues in African journalism. Gazette,65(6):427–41.

—. 2011. (Afri)ethics, communitarianism and the public sphere. In Hyde-Clarke (red.) 2011.

Uitsaaiklagtekommissie. s.j. www.bccsa.org.za (5 Junie 2013 geraadpleeg).

Ward, S.J.A. (red.). 2013. Global media ethics. New York: Wiley-Blackwell.

Ward, S. en H. Wasserman (reds.). 2008. Media ethics beyond borders: A global perspective. Johannesburg: Heinemann.

Wasserman, H. 2006. Globalised values and postcolonial responses, South African perspectives on normative media ethics. The International Communication Gazette, 68(1):71–91.

—. 2009. “Ons is nie so nie”: Vryheid van spraak en ontkenning van rassisme in die Afrikaanse pers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(1):111–30.

—. 2010. Freedom’s just another word? Perspectives on media freedom and responsibility in South Africa and Namibia. International Communication Gazette,72(7):567–88.

—. 2013. Media ethics in a new democracy:  South African perspectives on freedom, dignity and citizenship. In Ward (red.) 2013.

Wasserman, H. (red.). 2013. Press freedom in Africa: Comparative perspectives. Londen: Routledge.

Wasserman, H. en A.S. de Beer. 2004. Covering HIV/Aids: Towards a heuristic comparison between communitarian and utilitarian ethics. Communicatio,30(2):84–97.

Zhang, Q. 2007. Human dignity in classical Chinese philosophy: Reinterpreting mohism. Journal of Chinese Philosophy, 34(2):239–55.

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top