Die Mannheim-sage 2: Die goudkewers deur Lerina Erasmus: ’n resensie

  • 0

Die Mannheim-sage 2: Die goudkewers
Lerina Erasmus
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174824

Nes suiwer goud die mees pletbare en rekbare metaal is, is geskiedenis die mees rekbare en pletbare storie. Die toorkuns om beide edelstowwe (goud én storie) suksesvol te ontgin noodsaak begeesterde soektogte, want die goudriwwe, lief en leed, lê diep onder die oppervlak.

Ondergrond en bogrond, onderduims, onderlangs en selfs boaards: die tweede deel van die Mannheimsage-trilogie delf in die historiese gebeure tussen 1898 en 1902 om die glorie (en gemeenheid) van Johannesburg as goudstad te laat glinster.

Die Mannheimsage is bekend as Springbokradiostorie en TV-reeks van die 1980’s.  

Die historiese roman vertel die verhaal van die vindingryke Deborah von Albein wat op ’n manier mevrou Mannheim word (al behoort haar hart aan Kit Malloy); wat deur myners en mynbaronne geag word, deur soldate verniel word; wat haar man staan tussen die  kettings van die aandelemark,  die skagte van myne, in ’n konsentrasiekamp, selfs teen Paul Kruger, die president van die ZAR. Sy is die Nkosazana, ’n prinses, ’n myner, skerpsinnige besigheidsvrou, ’n ma, ’n karakter wat plan maak; sy het lief en word liefgehad. Sy is die veerkragtige (en baie mooi) vrou van Suid-Afrika.

Ander vroulike karakters wat as argetipes dien is Ma-Fytjie, die wyse kruiemoeder; Liu-Hohan, ’n jig-jig meisie wat empatie met die eksentrieke Karl Mannheim het; naïewe Alice-in-Wonderland oftewel Cornelia Bailey; en die klaarblyklik (ver)wese Bess Visser wat droom om te leer lees en skryf en soos Cassandra van Griekse mitologie die Boerewaarheid oor en met Deborah praat: “Alle Engelse is eienaardig, bedot in hulle koppe”  (532);  “Ek dag jy sê jy’t ’n man wat gewond is in Lydenburg, ook ’n Engelsman. Het jy dan twee mans, hè?” (557).

Kit Maloy, Karl Mannheim, die goudbaron, Kurt Mannheim probeer verskillende aspekte van Deborah vir hulleself eien. Haar karakter gaan in die verhaal simbolies deur ’n hamermeule;  sy word na die spitzkasten vervoer en beland in sianiedoplossings sodat die goudgrein vrygestel word.

Sy kom tot haar reg wanneer sy die myners, “gesoute mynmanne wat die naatsome van die rots selfs in die duisternis sal kan uitken” (156), lei en oortuig om nie te staak nie.

Die historiese konteks word slim aangewend. Figure soos JB Robinson, Barney Barnato, ’n jong Winston Churchill, Jameson, Cecil John Rhodes en selfs die gehate “hondsdolle” Kitchener word mense en nie net name in geskiedenisboeke nie.

Mens kyk met nuwe oë na gebiede en geboue in die Johannesburg-omgewing na die lees van die boek. Orange Grove was werklik ’n lemoenboord, Braamfontein ’n rangeerwerf; by Doornfontein-, Modderfontein- en Germistonstasies het mense treine gehaal, Driefonteinmyn was meer as ’n baken, Ferreira’s Dorp was al honderd jaar gelede armoedig en êrens skuil Happy Valley nog waar dwelms vrylik bekombaar is.  Die verhaal se Zeitgeist ontbloot die begeerte om mag, die aanstigting van die oorlog deur Brittanje om die Rand se goudrif in te palm, die uitsluiting van groepe mense wat nie óf Boer óf Brit is nie.

“Wie is hy, die wit man met die groot hoed? Waar kom hy vandaan, die wit man op die wit perd?” (534).

Lerina Erasmus verwerk die piritiese erts van Johannesburg, die rommelerts van ons land se hartseer geskiedenis, sodat die sianiedproses in die smeltkroes ’n witwarm storie uitgiet met karakters waarmee lesers kan identifiseer.

Die Goudkewers is vir seker nie spoelgoud nie. Dit ontroer, ontstel en bied ’n lees van die geskiedenis wat as motivering dien vir die komplekse Egoli wat ons nou as Johannesburg ken. Koop dit, gee dit as ’n geskenk vir Afrikaners, sodat ons die traumatiese geskiedenis kan verwerk en ook swaelsuur toelaat om onsuiwerhede en vooroordele in ons liefde weg te vreet.

Foto van Lerina Erasmus: Robert Hamblin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top