Die mag en waarde van simbole

  • 3

Maandag 5 Maart kom ek die oggend vroegerig by Bloekomhoek uit. Die treurige, stadige klank van ’n viool trek my aandag, en ek stap nader om te gaan kyk.

Miskien het ek nie dadelik besef wat sy speel nie omdat my gedagtes iewers anders was. Tot ek die oranje-blanje-blou op die grond sien lê. Toe besef ek dis “Die Stem” wat so langsaam gespeel word. By die vlag, wat vol name geskryf is, is daar ’n uitnodiging. “Stap gerus hieroor.”

Iemand probeer te hard, was my eerste gedagte.

Én my tweede, hoe meer ek later daaroor gedink het.

Later die week, op Internasionale Vrouedag, neem ek deel aan ’n paneelbespreking oor “Vroue in verandering”. Tydens die vraag-en-antwoord-sessie vra ’n lid van die gehoor hoekom nie een van ons, gespreksleier uitgesluit, in pikswart aangetrek is in solidariteit met die #MeToo-beweging nie. Verskillende paneellede het verskillende antwoorde gegee.

Die vraag, tesame met die aardbewing in ’n miershoop oor die ou vlag, het my aan die dink gesit oor ons verknogtheid aan simbole.

Die voorstanders en ondersteuners van die #MeToo-beweging het swart gedra tydens die Golden Globes. By die meer onlangse Oscars het hulle alreeds terugbeweeg na die meer gebruiklike kleurvolle uitrustings. Hoekom sou enigeen dan van ons, in ’n ander land en met ’n heel ander konteks, verwag om die simbole van protes en bewusmaking aan te neem? Wat is die belang daarvan om ons solidariteit op daardie manier te wys? Wat, indien enigiets, verander ons daardeur?

Dit bring ons terug by die vlag. Daar was heelwat gesê en geskryf oor die feit dat daar oor die vlag geloop was. Meer as een persoon was van mening dat dit gebrek aan respek vir ’n belangrike stuk geskiedenis is.

Ander was weer ongelukkig oor die keuse van name wat op die vlag aangebring was. Interessant genoeg het nie een enkele kommentator protes aangeteken omdat die vlag alreeds geskend word deur die blote aanbring van name daarop nie.

Anders gestel, dis aanvaarbaar om die vlag te skend, op ’n aansienlik meer permanente wyse, deur daarop te skryf. Die minder permanente skending deur die stof van voetmerke daarop aan te bring, maak dat mense heftiger kapsie maak.

Hoekom het ’n stuk lap wat twee dekades gelede in onbruik verval het, nog soveel verdelende mag oor ’n groep mense? Hoekom het die keuse van kleredrag die mag om eenheid aan een groep te verleen en terselfdertyd ’n ander groep te laat sidder? Dink maar aan die onlangse protesoptogte, en die effek wat die see van rooi T-hemde op die nasionale psige gehad het.

Dis nie die klere self, of die vlag self, wat mag besit nie. Dis die lens waardeur ons dit bejeën wat daaraan mag verleen. Dis ons, deur die konnotasies wat ons daarvan het, wat daaraan mag gee.

Vir elke persoon wat met die ou vlag gekonfronteer word, is daar ’n spesifieke historiese konteks en spesifieke ervaringe waarmee die vlag verbind word. Dis daardie herinneringe wat die manier waarop ons die vlag sien, met betekenis inkleur. Dis daarom dat twee persone na die vlag kan kyk en die een met nostalgie vervul word terwyl die ander een siek word van weersin.

In daardie opsig het die kunstenaar dalk nié te hard probeer nie. Ons as toeskouers word tog uitgenooi om deel van die performance te word. Dit hang dus van ons af hoeveel betekenis daar aan simbole geheg word. Dit hang van ons af of ons oor die vlag loop, om die vlag loop, of heeltemal ’n ander koers inslaan om die keuse te vermy.

Ek het nie Maandag oor die vlag geloop nie, omdat ek dit net te contrived gevind het. Donderdag het ek daarvan vergeet, en ek was halfpad oor die vlag, besig om ’n boodskap op my selfoon te lees, voordat ek besef het dat ek oor die vlag loop.

Ek voel nie anders noudat ek oor ’n stuk lap geloop het nie. Ek het nie anders gevoel die oomblik toe ek agterkom ek loop oor die vlag nie. Dis irrelevant vir my bestaan vandag. Die lap het geen betekenis vir my nie.

En tog wonder ek.

Miskien moes ek tog my voete aan die vlag gaan afvee het, en so simbolies en terapeuties die stof van die ou Suid-Afrika afgeskud het. En miskien sal ek volgende jaar met Internasionale Vrouedag simbolies in solidariteit met een of ander beweging tree deur my kleredrag.

Of miskien het dit tyd geword dat ons almal leer om die lens waardeur ons kyk, ’n bietjie skoon te maak. Miskien moet ons positiewe simbole wat bymekaarvoeg eerder as verdeel, begin vind.

Tot dan, laat my toe om weg te bly van simbole van enige aard.

  • 3

Kommentaar

  • Skokkende dinge het ook onder die nuwe vlag gebeur. So ons kan maar ons voete ook daaraan afvee. Dink aan Marikana en die geestessieke pasiënte wat dood is. Skryf sommer op die vlag Zuma, Schaik, Abrahams, Guptas,Selebi, Malema, ens. Dan kom kinders wat verdrink in puttoilette, swak onderwys en gesondheidsorg. Lys is te lank.

  • Dieselfde gebeur in die parlement as dit by simbole kom wat verdeeldheid verteenwoordig. Die ROOI oorpakke van EFF. Hoog tyd dat dit aangespreek word. Parlement wás ALTYD stigtelik tot hulle in ROOI opgedaag het. Daar moet ’n dragkode wees wat dan ook gerespekteer behoort te wees. Lap is dan mos lap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top