Die maan val bewusteloos by die KKNK 2017: ’n resensie

  • 1

Die maan val bewusteloos

Spelers: Nancia Dorland, Marté Roux, Mia du Toit, Nicholas van Huysteen, Adele van Doorn,  Melnisha Arnolds, Lara Naudé, Hanno Janse van Vuuren en Cyle Smit
Teks en regie: Nico Scheepers

Sien is glo. Maar mens leef nie voor ’n spieël nie. So daar is waarde in om soms vir ’n kort rukkie stil te sit, en te kyk, of te luister. En om die wêreld waarin jy leef, te sien. En hiervoor is ’n spieël nuttig. In enige kleur. In enige taal.

Afrikaanses veral sien deesdae deur die oë van towenaars soos Olwagen, Pretorius, Nico Scheepers, om net ’n paar te noem. Hul touwysmakers – oftewel die leermeester van toorkunsies, hul prof Snape – is engelmense soos Pieter Nel, maestro Jan Burger en sy fee Amelia, Nellie Wolmarans. Daar’s nog. Die spieëltjie van tienertoneel is aantreklik aan die muur van talle kastele.

Afrika is bevoorreg. Kulture hier is enersyds rou, kragtig en betekenisvol. Andersyds is kultuur hier boonop uitdagend, verhewe, progressief, en afgerond. As die reënboog hier is, beteken dit nie noodwendig die goud is elders begrawe nie. Die reënboog se begin, en die punt waar hy eindig, is dalk net mooi hier op die Suid-Afrikaanse ondermaanse. En om nie by so ’n spieël stil te gaan staan en die weerkaatsing in die water gade te slaan nie, is soos om by die pot goud verby te loop. Dit sou ooglopende oogklappe suggereer, of wees soos om onooglike ontgogeling in die gesig te staar.

Ek moet my oë laat sny. Daar’s ’n klein bietjie fokus verlore na 50, en tussen die hand en die mond beland die fyn aanraking – in die fyn lig – en fyn, geheimsinnige, meevoerende, skouspelagtige besonderhede dalk net op die grond.

En dit deug nie. Jy moet deelneem hier. Saam bak. Saam brou. Jy word bakker en die deeg klei in jou hande.

Sit een aand doodstil. Af met die slaapkamerlig. Oë toe. Nou – verbeel jou jy wil die gelukkigste mens op aarde wees. Jy’s pottebakker en draai in jou verbeelding alles waarvan jy hou. Nes jy dit wil hê. Probeer rêrig. Sien jouself so op jou eentjie, vreesloos soos ’n kind.

Goed: jy vaar goed. Jy is nou kindertjiedapper. Jy is die prins in ’n verhaal.

Sien die kostuums aan die karakters wat in jou gesigsveld kom. Sien die lig wat op die klere spat, en in selfs nog meer skerwe kleure afbons en reis. Lig wat kaats – bo, onder, tussenin, binne-in. Ja, lig binne-in die klere.

Jy dink ... kinderverbeeldingsvlug van sterre. Die silwer sterlig skaats op die prinses se silwerkleurige sleep se valletjies. Van die baie bane van die sluier is selfs verlig. Lig vloei soos goudstof deur die kledingstukke. Als asof van binne. Asof dit die skoonheid binne jou spieël en, soos salige water oor salige akker, liefde deur skoonheid en suiwerheid laat vloei, en suiwer skoonheid en suiwer water laat word. Spitsies van sterflikkertjies dans op deurskynende, derduisende waterperdjies, waarop hemelse sterretjies wys, en die maan weerkaats. Wys en weerkaats soos léwe in water, van onder en van binne ook silwerig en kristalglanshelder krioel en baljaar.

Dink jou jou prinses in. Blas sal mooi gaan saam met feekleertjies. Of met sneeuwit gelaat. Met flitsies sterre wat sprankel en skyn in die soompies, en in silwer serpies en in satyn.

En hê lief. Jy mag maar liefhê. As dit wat jy jou verbeel, as dit mooi is, mag jy liefhê. Jou prinses is ’n tiener. Sy kan selfs ballet doen. Dink kalwerliefde. Dink seksie. Ja, jou gedagtes steek jou gevoelens aan. Jy is nie skaam nie.

Rooi hart pomp bloed met spikkels goue glinster wat verguld gloei in die rooi. Spierwit balletrokkie, hoog op teen haar gladde bobeen. Dis musiek, atletiesheid; dis Lautrec, beweging, dis smake – wat die wêreld en sy gevare uitdaag sonder geweld. Volmaakte mooi. Onoorwinlike mooi. Waarteen geen wapen, euwel, lummel of lans bestand is nie. Hier is die goedheid veilig.

Dink liefde, maar meer as liefde. Dink hartstog. Verbeel die pyn – en vreugde – van ware verlange. Pyn en vreugde van begeerte. Pyn en vreugde van onvervulde hoop. Stapel beelde op honderde verdiepings van nog ontelbare liggies van nog miljoen-miljoenste kamers op nog fabelagtige eilande van nuwe kanse in nog paleise, huise, universiteitskoshuise, plakkerskampe, strooise, tuistes in weeshuise, gastehuise, spelonke, pondokke, grasvelde, ander wonings in verre lande, iglo’s, woestyne.

Verbied die Swart Slaaf – aaklige rooi verkeersligte, rekeninge, argumente, opgeskeurde vraestel, vuil klere in waswater, geraasbesoedeling, skerp lig, hitsige hitte, muskiete – om te vertroebel.

Laat die verhaal homself vertel van ’n weggooimeisiekind wat liefde vind by ’n ouma en oupa met ’n storieboek.

Verbeel die opgeskeurde vraestel se duisende klein stukkies, wentel die broodvlokkies, soos die middelpuntvlietende kragte van liefde die deeltjies meedeel om een te word. Pyn en kwaad word wonder in die helderwit oog van die man van Afrika, soos elke ouma oor die wêreld heen se sneeuvlokkies meel magiese moontlikhede moontlik maak oor sy saadjies strooi van die storie wat soos strooisuiker stort uit die storieboek wat silwer ligskakeringe speel op hulle gesig.

Vrese wyk, rooi stroom liefde transreis jy op ’n rekenkundepatroon magiese tapyt, die sterk protesstem eensklaps arias sang, angs liewer awesomeness, vuil klere vlerke, geraas nou silhoeëtte skoonheid. Lig belig geluk, minsaamheid, simbiose, samesyn. Warmte omhul als. Twyfel of struikel is spatseltjies oomblikkies.

Weg wantroue. Glo is goed. Vol hoop, liefde, goeie bedoelings, daad by die woord, welbehae, uitkomste – dit reis na die allerhoogste verheldering.

Dis al vir nou.

Tel stadig tot by 5. Maak oop jou oë . Sit nog nie die lig aan nie. Haal asem. Haal net asem.

Beoordeel die self. Was dit ’n “goedvoel”-gevoel? Kan lekker lekkerder wees as dit?

Het jy jouself so pas vervoer tot ’n … breukdeel weg – van die vreugde van iets selfs mooier? Van iets met ’n goedvoelgraad wat jou slape nat laat, waar daar trane teen jou kop afloop – die hemel in jou oë?

As jy jouself tot hierdie boheemse oomblik van genot kon vervoer, is jy amper daar.

Jy is treetjies weg van die vreugde wat jy sal ervaar as jy die toneelstuk Die maan val bewusteloos sien. Met of sonder goeie oë. Met of sonder antwoorde. Met of sonder al die vrae. Man of vrou.

Nico Scheepers se toneelstuk is Die Antwoord. Dis ’n beligtingspel-teaterstuk wat die gehoor hom wêrelde en hemele laat verbeel. Die maan val bewusteloos is die mees vernuwende kunsrekwisiete-verbeeldingsvlug ooit. Die mees volmaakte gevallestudie van ouderdom, verval, Alzheimers, liefde. Die sielkundig slimste skryfwerk om onder jou vel in te kom sedert Dan Sleigh se Eilande, PG se Fees van die ongenooides, Willem Anker se Buys, Fanman van William Kotzwinkle, Huckleberry Finn, Kabouter Kapot. Die maan val bewusteloos broei briljantheid. Die mooiste beelde van onskuld, aangeraak deur mensehande. Die mees vernuftig-verweefde kunswerk, wat herinner aan Scheepers se ewe mooi vorige projek, by name Wentel. Scheepers se werk is die wêreld se moetste moet-sien. Die wêreld se beste uitvoerskoonheid. Die storie wat jou weer meevoer, net as jy iemand vertel van die spieëltjie aan Maan se wand. Dis die hoendervleis-meesleur wanneer jy iemand vertel van die Beelde; en van Betekenis.

Pasop, die gedagte dring homself op: die hemel is dalk in die skepper se kop? Maan is ’n moet-sien. Maan vir die menigtes. In biblioteke, huise; by begrafnisse, feeste, etes, winkels, piengpongsale, kerke; elke, elke skool.

Laat dit speel – hier, in buurlande, oor die hele Afrika, op elke vasteland, deur die Midde-Ooste, die Verre Ooste, die noorde, die suide; tooi Thailand, versier Kersvader se land, elke nog ’n land. Reis dit op die eerste bemande vlug na welke ook al nuwe bewoonde planeet – met ’n retoer.

Vertaald, of net so, met akteurs van elke kleur, van welke taal jy wil; laat Nico Scheepers se Die maan val bewusteloos speel. Dis ons kans op oorlewing.

By KKNK 2017.

Afrikaans | Gesin | R90 | 45 min. | Griesselsaal

14 April 12:00 | 15 April 09:00

Albert Maritz het Die maan val bewusteloos by die ATKV-Tienertoneel se finale ronde tydens die Aardklop Kunstefees 2016 gesien.

  • 1

Kommentaar

  • Leave a Reply to Christel Scheepers Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top