Die liefdeslewe van miskruiers: V&A met Einstein-kompetisie-wenner Anneke Schoeman

  • 5

einstein_anneke650
Anneke Schoeman, ’n entomologie-honneursstudent aan die Universiteit van Pretoria, is pas as die algehele wenner van die Einstein-kompetisie, asook R10 000 in kontant, aangewys. Haar inskrywing het skoonskip gemaak met stemme deur al sewe LitNet Akademies-beoordelaars en lui:  
anneke_weninskrywing2Projekbestuurder van die kompetisie, Imke van Heerden, het met die entomologie-entoesias oor haar liefde vir insekte gesels.

imke300Anneke, veels geluk met hierdie wonderlike prestasie. Jou flikflooiende miskruiers het volkome daarin geslaag om die beoordelaars te boei en die belangstelling van ons lesers te prikkel. Wat is vir jou sover die mees fassinerende aspek van hierdie navorsingsprojek?

Ek verwonder my altyd aan insekte se vernuftigheid as ek ander mense se navorsing lees. Maar om dit self met my eie oë waar te neem, byvoorbeeld as ek ná lange voorbereiding en gesoek die miskruier se piepklein klierporieë onder die elektronmikroskoop vind, presies waar ek geraai het hulle gaan wees, is werklik verwondering op 'n dieper vlak. Dit is sulke oomblikke wat my 'n klein dansie laat uitvoer daar in die laboratorium ten aanskoue van die meer besadigde siele rondom my.

Ek dink wat my die meeste fassineer van hierdie projek is die ingewikkelde, dog eenvoudige wyse waarop die natuur aanmekaargesit is. Die hele gekompliseerde proses van hofmakery, paring en ouersorg word gelei deur die doodgewoonste molekules. En álles is daar om 'n baie spesifieke rede en speel so 'n kardinale rol in die biologie van die kewer; dit is werklik verstommend. Verder moet ek erken dat ek ‘n bietjie van 'n evolusie-junkie is. Ek word net so geïnteresseer deur hoe dinge in die natuur saamwerk en ook saamgewerk het in die verlede om vandag se interaksies tot stand te bring. Net so toon hierdie studie baie duidelik dat die chemikalieë wat my miskruiertjies afskei, 'n uiterse belangrike rol in hulle evolusionêre geskiedenis gespeel het en hoogs waarskynlik bygedra het tot die verskeidenheid van miskruierspesies wat ons vandag sien.

Jy is tans besig met jou honneursprojek oor die spesiasie van miskruiers op grond van hulle chemiese ekologie. Waarom het jy op hierdie spesifieke navorsingstema, asook Tukkies se Departement Dierkunde en Entomologie, besluit?

Alhoewel ek definitief dolverlief is op biologie, moet ek erken dat die lettere 'n stukkie van my hart gesteel het. Om hierdie rede wou ek graag die twee passies van my in my navorsing kombineer en so het die idee ontstaan om te kyk na hoe miskruiers met mekaar gesels. Ek is baie gelukkig om onder gesoute wetenskaplikes by Tukkies se Miskruiernavorsingsgroep, asook die Sosiale-insekte-navorsingsgroep, te werk – prof Clarke Scholtz is 'n miskruierdeskundige, dr Catherine Sole spesialiseer in miskruiers se evolusionêre verwantskappe, prof Christian Pirk werk aan gedrag in bye, en dr Abdullahi Yusuf is 'n chemiese ekoloog.

Watter gereedskap is altyd in ’n entomoloog se rugsak?

Wee die dag as 'n entomoloog 'n skaars insek sien verbyvlieg en sy bevind haar skielik sonder 'n enkele leë versamelflessie. Uit dure ondervinding dra ek dus altyd 'n paar saam as ek in die veld is. Mens kan ook nooit sonder 'n fyn tangetjie en 'n paar insekmonteerspelde nie. En my persoonlike moet-hê vir my rugsak is 'n lekker sjokolade – óf om die mismoedigheid te keer as ek by my valle uitkom en die jakkalse het alwéér alles omgedolwe, óf om die opgewondenheid te vier oor 'n rare sespotige vonds ...

Hoekom het jy vir die Einstein-kompetisie ingeskryf, en hoe voel dit om 'n wenner te wees?

Hier moet alle eer my ma toekom – sy het iewers van die kompetisie gehoor en my aangepor om in te skryf. En natuurlik is ek aangenaam verras, maar ook baie dankbaar dat my miskruiers vir meer mense as net vir my en my studieleiers opgewonde gemaak het! Die Einstein-kompetisie het my werklik geïnspireer om op alle fronte die publiek van my navorsing te verwittig.

Wat sou jy graag na jou studie wou bereik?

Dit is my droom om Jan Alleman intiem betrokke te kry by die welstand van die natuur rondom hom. Ek glo dat die natuur 'n belangrike rol speel in die mens se psige, buiten natuurlik die sentrale rol wat Moeder Natuur speel om meer materiële behoeftes te bevredig. Daarom moet die publiek eienaarskap neem van bewaringskwessies – vir die natuur se welstand sowel as hulle eie sieleheil. Ek hoop dat ek my entoesiasme vir tale en my passie vir omgewingskwessies sal kan saamsnoer om só 'n liefde en respek vir die natuur (en vir mekaar) in alle mense aan te wakker. Uiteindelik is dit ook die Groot Opdrag aan die mens – om rentmeesters van die aarde te wees.

Het jy dalk raad vir skoliere wat dit oorweeg om jou studierigting in te slaan? Watter aanlegte of passies bevoordeel mens in hierdie veld?

Entomologie is 'n veld vol teenstellings ... As jy hou van fyn besonderhede, maar graag groot dink; as die klein dingetjies in die lewe jou gelukkig maak, maar die groot vrae jou pla; as jy in die buitelug Moeder Natuur in al haar glorie wil ervaar, maar ook opgewonde raak om binne die vier mure van 'n laboratorium die oënskynlik onsigbare wonderwerkies van die natuur van naderby te beskou – dán is entomologie vir jou!  

Lees ook:

 

  • 5

Kommentaar

  • Inspirerende onderhoud. Dar het al iemand vir sy navorsing mbt miskruiers gesterf.
    Vroeg in die 1960s is (Jurg?) Aschenborn doodgeskok toe hy 'n miskruier se pad teen 'n kragpaal gevolg het.

  • As ek begin moedeloos word oor al die dinge wat verkeerd loop in ons land, en die afskaal van Afrikaans dan is hierdie inligting so inspirerend. Pragtige kind wat wonderlike werk doen. Wat 'n vreugde om haar entoesiasme te sien. Erkenning ook aan haar studieleiers wat besielende leierskap lewer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top