Die lewe is ’n lied

  • 1

In Afrikaans sê ons “die lewe is ’n lied” wanneer jy in ’n staat van euforie is, en alles vir jou regtig net wonderlik en lekker is. Ons Engelse vriende sê weer “good times never seemed so good”. Hierdie bekende Engelse strofe kom uit Neil Diamond se alombekende treffer “Sweet Caroline”.

Neil Diamond is op 24 Januarie 1941 in Brooklyn, New York gebore. Sy ouers was Jode wat vanaf Rusland en Pole na Amerika geïmmigreer het. Hy was op Erasmus Hall Hoërskool in New York en Barbara Streisand was destyds ’n klasmaat. Albei het op skool in die freshman-koor gesing.

Op die ouderdom van 16 sien hy die folksanger Pete Seeger in aksie tydens ’n skoolkamp en daar en dan byt die musiekgogga vir Neil Diamond. Kort na hierdie skoolkamp ontvang Neil Diamond sy eerste kitaar, en gou ontpop hy in ’n ywerige liedjieskrywer.

Neil Diamond was ook ’n bedrewe sportman, en danksy sy sport in skerm, kry hy ’n beurs om medies te gaan studeer aan die Universiteit van New York. In sy finale jaar bied Sunbeam-musiekuitgewers hom ’n kontrak aan om vir hulle popliedjies te komponeer. Hy skop daar en dan sy studies op en word ’n professionele liedjieskrywer (songwriter).

Aanvanklik sukkel hy om sy songs te bemark. Sangers en plate-agente kla dat sy lirieke te lank is, daar is volgens hulle te veel woorde in sy liedere. En Neil Diamond begin finansieel swaar kry, maar hy gee nie moed op nie.

In 1962 kry Neil Diamond sy eerste platekontrak. Hy en Jack Parker stig ’n popgroep Neil and Jack en bring ’n onsuksesvolle solussewe uit met die songs “You are my love at last” en “What will I do” daarop.

In November 1965 begin die kaarte egter vir Neil Diamond reg val, en komponeer hy treffers soos “Sunday and Me”, “I'm a Believer” en “Look out here comes tomorrow”. In 1966 word “I'm a believer” bekroon as die Popular Music Song of the Year, 1966.

Elvis Presley, The Monkees, Deep Purple en Cliff Richard begin almal om Neil Diamond komposisies te sing.

In 1966 kontrakteer Bert Berns’ Bang Records Neil Diamond vir ’n platekontrak. “Solitary Man” was Diamond se eerste groot treffer.

Daarna het songs soos “Cherry, Cherry” en “Kentucky Woman” gevolg. Inderdaad kon Neil Diamond al in 1966 sing “good times never seemed so good”.

Vandag het Neil Diamond al meer as 135 miljoen plate en CD’s verkoop. Van sy songs het 38 die Top 10 mees gewilde songs op die Internasionale Treffersparade gehaal en reken Billboard dat hy een van die mees suksesvolste songwriters ter wêreld is.

Die storie agter die song “Sweet Caroline” is die volgende: Neil Diamond het hierdie popliedjie op 16 September 1969 gekomponeer. Hy was op 16 September 1969 besig om sy eerste volwaardige langspeelplaat (LP) op te neem by American Sound Studio in Memphis, Tennessee, toe Charles Calello hom vra of hy nie dalk nog ’n ekstra liedjie beskikbaar het nie, want hulle het op die LP nog spasie beskikbaar vir een. Daardie aand in sy hotelkamer, het Neil Diamond binne ’n uur “Sweet Caroline” gekomponeer. Die volgende oggend was Charles Calello so beïndruk met hierdie nuwe popliedjie dat “Sweet Caroline” toe die hooftreffer op Neil Diamond se eerste volwaardige LP geword het.

In 2007 het Neil Diamond in ’n onderhoud gesê dat hy die song spesiaal vir John F Kennedy se dogter, Caroline, geskryf het, wat op daardie tydstip 11 jaar oud was.

In 2014 het Neil Diamond in ’n ander verklaring gesê dat hy “Sweet Caroline” destyds vir sy vrou (op daardie stadium) Marsha, gekomponeer het, maar dat haar naam nie lekker met die lirieke en melodie geharmonieer het nie, en dat hy op die ingewing van die oomblik die naam Marsha vervang het met Caroline. Hoe dit ook al sy, hierdie song was ’n baie groot treffer. Daar is destyds meer as tweemiljoen kopieë van hierdie popliedjie, wat op ’n seven single opgeneem is, verkoop.

Volgens Neil Diamond is “Sweet Caroline” sy persoonlike gunsteling, want soos hy sê: “Good times never seemed so good”. Vir myself is die lewe inderdaad ook ’n lied en deel ek graag Neil Diamond se vreugde: “Good times never seemed so good”.

  • Jan van der Merwe is van Bloemfontein. Hy is die skrywer van die Vrystaatse en Noord-Kaapse Dorpe-boeke.
  • 1

Kommentaar

  • André Badenhorst

    Ai, maar hierdie stukkie nagereg is soet, maar heerlik. En gelukkig is dit op voordat ek myself vergryp.

    Nou sit ek met die heerlike nasmaak: You were cryin' in your pretzels when I met you
    You were washing
    All the salt away from the dough
    You were cryin' in your pretzels
    And I'll never forget you
    But, baby, just why, I'll ever know.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top