Die laaste eer

Hulle sê wanneer die kerkklokke in ons dorp lui, is daar groot moeilikheid. Dis nou te sê as dit nie Sondagoggend of -aand voor en na die kerkdiens is nie. Reeds in 1748 was daar ‘n dorpsbesluit dat die klokke sou dien as ‘n waarskuwing aan almal in die omgewing dat daar 'n noodgeval is. En nie sommer enige noodgeval nie.

Die besluit het breedvoerig uiteengesit wat presies as so ‘n nood gesien moet word, en die stadsvaders het met die jare die edik getrou nagevolg, soseer dat die klokke laas gehoor is tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Daar was ‘n versoek dat die klokke gelui word die dag met prinses Diana se begrafnis, maar dit is ter elfder ure tersyde gestel.

Baie dorpsmense het grootgeword, getrou, kinders- en kleinkinders gehad en sou nie eens van die bestaan van die dorpswet geweet het nie as die stadsvaders nie jaarliks ‘n burgerlike oefening gehou het nie. Hierdie jaar was die oefening tydens die lentefees, want dan is die meeste boere van die omliggende gebiede in die dorp.

Lentetyd het gekom en gegaan, so ook Kersfees. In die middedorp, regs langs die kerk met sy imposante kloktoring, is die huisie van oom Koos en tannie Maria de Wet. Hierdie jaar het hulle hul vyf en sestigste huweliksherdenking gevier, ‘n besonderse mylpaal in hulle lewens. Beide van hulle is in die kerk gedoop, aangeneem en later getroud. Hulle sewe kinders is ook in die kerk gedoop, voorgestel en aangeneem. Tannie Maria was jare verantwoordelik vir die tee na die diens, en oom Koos was tot en met sy uittrede hoofouderling. Vir baie mense in die gemeenskap wass hierdie twee ware steunpilare en hulle was wyd en syd geliefd.

Nou is hulle albei diep in hulle tagtigs en hulle leef stilweg die aftreejare saam. ‘n Mooier storie gaan jy nie sommer kry nie, het baie mense met bewondering in hulle oë gesê as hulle van dié twee praat. So nou en dan word die paartjie uitgenooi na dorpsfunksies. Dan is tannie Maria altyd deftig uitgevat in ‘n steeds-modieuse rokkie uit die vyftigerjare, afgerond met haar ouma se borsspeld en ‘n jakkalsvel om haar skouers.

Oom Koos was maar altyd in ’n swart pak, maar nadat hy die ouderlingsroeping vaarwel toereroep het, het hy begin om hemde en dasse te dra wat by die tannie se uitrusting pas. En altyd afgerond met ‘n swierige angelier of roos in die lapel van sy baadjie. Soos tydens hierdie jaar se Kersete, toe hulle as eregaste saam met dominee by die hooftafel aangesit het.  Die tannie se vrolike klokhelder laggie is die heel aand gehoor soos wat die een en ander dorpsinwoner ‘n draai by die tafel kom maak het. En hulle foto was weereens op die voorblad van die dorpskoerant op die agt en twintigste Desember, geneem by die Kersete, sy  feestelik  in ‘n smaraggroen tabberd, glimlaggend aan sy sy.

Ja, hulle was nog sterk vir hulle jare, hulle sê mos dat ‘n goddelike toegewyde lewe vir ‘n mens ‘n geseënde laatsomer bring.

In alle opsigte was hulle geseënd, miskien nie in geldelike terme nie, maar geld was nog nooit vir hulle belangrik nie. Hulle liefde vir mekaar het alle besluite wat hulle maak, bepaal en daar was ‘n geestelike rustigheid in hulle lewens te bespeur.

Op die dertigste het tannie Maria bietjie laat gelê. Nee, nie siek nie, maar sy wou net so ‘n rukkie langs oom Koos nog lê en gesels voor hulle opstaan. Dit was in elk geval Vrydag en daar was geen dinge wat hulle kon haas nie. Oom Koos weet al wanneer die die tannie so bietjie wil laatlê, dan verlang sy.  So getrou aan sy aard sal hy dan styf teen haar lê terwyl sy gesels en onthou van dinge lank lank gelede.

Vandag dink sy ander die kinders, kom hy gou agter. Van die vyf wat nog leef, is drie van hulle met hulle gesinne in Australië en die ander tweetjies iewers in die Kaap. Elke tweede Desember hou hulle ‘n groot familiebyeenkoms en dan word daar behoorlik gekuier en gesels. Maar dis nou eers weer volgende Desember, want tannie Maria het aan haar kinders gesê dat hulle nie hulle skoonfamilies mag afskeep nie. Die telefoonrekening gaan hierdie Kersfees weer hemelhoog wees. Hy kan verstaan hoekom sy lê en verlang.

So skuins na elf staan hulle op en maak reg vir die dag. Mevrou dominee het hulle vir middagtee genooi, en vanaand is oom Koos se gunstelingstorie op die TV. “Dinner for One”. Hy wil hom elke keer slap lag as tannie Maria kraai van die lag vir die man wat so gesuie oor die leeuvel se kop steier. Dit is elke jaar sy gunstelingprogram, hy ken al die storie agterstevoor uit sy kop, maar hy geniet dit om tannie Maria te sien lag.

Hy moet tog vir iemand vra om die video bandjie wat hy daarvan het, vir hom oor te sit op daardie nuwe blink plaatjies, want dan kan hulle dit kyk op die masjien wat die kinders laas jaar vir hulle gegee het.

Saterdagoggend, een en dertig Desember. Die laaste dag van hierdie jaar, en die tannie wil alweer laat lê. Vanoggend gaan die gedagtes terug na hulle jong lewens en die swaar oorlogsjare. Hy weet nie wat hulle sonder mekaar sou doen in daardie moeilike tye nie. As hy in die oggend vroeg bus toe geloop het om die dag op die myn te gaan werk, het sy die kinders gevat en met hulle in die veld gestap. Daar het hulle verbleikte beendere van dooie diere opgetel en dit is Sasko-sakke gestop. Een keer ‘n week het sy dit aan die beenmeelfabriek gaan verkoop. As dit nie daarvoor was nie, sou hulle nie kon bekostig om drie maal ‘n dag ‘n bord kos te hê nie. Hy glimlag as sy hom herinner van die Sasko- onderklere wat sy vir die seuns en dogters gemaak het.

Hulle staan so halftwaalf op en sy gaan maak vir hulle iets om te eet. Dis ‘n lieflike dag en hulle gaan sit in die tuin en eet onder die perskebome. Na ete gaan stap hulle so ‘n entjie.  Dis ‘n pragtige somersdag en hulle sien heelwat van die ander dorpsmense op hulle staproete. Tannie Hannetjie nooi hulle om daar te kom eet vanaand. Sy sê dat die dorp se jongmense vanaand by die kerksaal gaan byeenkom om die nuwe jaar in te wag. En die klomp kwaaijongens gaan seer sekerlik ‘n geraas maak, so oom Koos en tannie Maria is welkom om by hulle te kom eet, so weg van die jongmense se lawaai. Tannie Maria wys dit egter van die hand. Sy is moeg na die lang dag en dink sy gaan maar liewer vroeg inkruip. So groet hulle en stap terug huis toe.

As hy nou daaraan terugdink, het sy effe swaar gestap tot by die huis, by die voorhekkie byna haar balans verloor, maar dit weggelag en vir hulle ystee gaan maak. Hulle het in die voorhuis gaan sit en na Johan Stemmet gekyk met sy blink pak en gladde hare, en daarna die TV afgesit en net so in die donkerte gesit en praat.

Sy het weer van die kinders gepraat. ‘n Oomblik nog iets gesê van klein Johan wat nou so statig lyk, maar dis nie moontlik nie want hy is die eerste kind wat hulle ontval het. Sy is maar net moeg vanaand, het oom Koos nog gedink.

Teen elfuur het hy gesê hulle moet maar gaan inkruip.  Hy het haar hand gevat en haar opgehelp. Saam het hulle kamer toe gestap toe sy skielik vassteek in die gang. Sy kyk na hom en vra dat hulle op die stoep moet gaan sit en luister na die klokke wat lui om middernag. Hy het eers gefrons, want weet sy dan nie die klokke word maar nooit gelui tensy dit 'n nood is nie? Maar hy het haar laat begaan. Dit is in elk geval ‘n heerlike someraand en die reuk van die yesterday today and tomorows hang swaar in die lug by die stoep.

Hulle gaan sit op die swaai op die stoep. Vandaar kan hulle die straat mooi sit en bespied. Nou en dan is daar ‘n jongmens wat te vinnig ry en toeter blaas, maar dit als gee kleur aan die aand. Teen halftwaalf kom daai klein kwaaijong Fanie Viljoen en so tien van sy vriende verby gestap op pad kerksaal toe. Hulle groet beleefd en stap dan giggelend en al stampend en stotend verder. Dominee het ‘n fout gemaak om die klomp bogkinders op oujaar in die kerksaal te laat byeenkom, dink hy nog, maar sy druk sy hand liefdevol en hy vergeet van die kinders.  Dit raak nou amper middernag en dan sal die toeters en klappers seker so twintig minute voortduur tot sersant Danie weer orde bring op die dorp.

Hy kyk op sy goue sakhorlosie wat hy nog van sy pa gekry het. Een minuut voor twaalf. Veraf kan hy die toeters reeds begin hoor. Dan volg die klappers.  Ou Jones hou mos nou vuurwerk aan in sy winkel.  Die nuwe jaar is hier. In die lug skiet pragtige ligte die hemel in en ontplof daar ver bo. Met hulle hande saamgehou bewonder hulle die vertoning van lig, en dan … hier naasby hulle, die lui van ‘n klok … dan nog een, en nog een! Dis die kerkklokke! Nou wie sal dit dan nou durf waag!

Sy kyk na hom met die vuurwerk se weerkaatsing in haar oë. Daar is dit nou my skat, die kerkklokke lui, ons Heer se Nuwe Jaar is hier, en met die woorde leuen sy oor en soen hom sagkens. Hy sit sy arm om haar skouer en saam geniet hulle die vuurwerk en die toringklokke wat defnitief deur ‘n groentjie gelui word, maar die oomblik is groot en hy gaan nie nou kyk wie die klokke so teen die wet lui nie.

Dit was seker so vyf minute oor twaalf toe die gelui ophou en hy agterkom dat sy nou stil is. Te stil, en toe hy sy arm om haar wegneem, het sy stadig teen sy skouer neergesak.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top