Die kuns van verlies – Suid-Afrikaanse alchemie

  • 0

The art of losing isn’t hard to master;
so many things seems filled with the intent
to be lost that their loss is no disaster ...
Even losing you (the joking voice, a gesture
I love) I shan’t have lied. It’s evident
the art of losing’s not too hard to master
Though it may look like (Write it!) like disaster
(The One Art, Elizabeth Bishop)

Suid-Afrikaners het die ongelooflikste vermoë om terug te bons van die verskriklikste goed. Vind daar ’n ramp plaas, kan jy maar seker wees binne ure het iemand ’n grap daaroor te vertel. Gewone mense, sout-van-die-aarde-mense, het die kuns om verlies te hanteer en dit selfs amper alchemies in iets positiefs te omskep, vervolmaak.

Ek onthou hoedat ek eendag, jare gelede, in die hof sit en luister na ’n vrou se getuienis oor hoedat sy wreedaardig in haar huis aangeval en verkrag was. Toe sy klaar is, het sy na die beskuldigde gedraai en eenvoudig, kalm, gesê: “Ek vergewe jou.” Ons almal – die prokureurs, staatsaanklaers, hofordonnans en die landdros – het verstom gesit. Teen die tyd dat jy in die streekshof begin optree, het jy al geleer om jou emosionele afstand te hou, om oor en oor te luister tot watter depravities mense in staat is sonder om te reageer. Diegene wat nie daai detachment aanleer nie, ontwikkel vroeg emosionele probleme en brand uit. Ons het almal met ’n mate van detachment geluister na die vrou, maar daai drie woorde, die manier hoedat sy in staat was om ten spyte van die leed wat hy haar berokken het, uit te reik na die beskuldigde – daar was nie ’n droë oog in daai vertrek nie.

Ek weet nie wat van haar geword het nie. Hy het 15 welverdiende jare tronkstraf gekry, waarvan hy seker net ’n breukdeel uitgedien het. Miskien het daai woorde hom geraak. Ek hoop so.

Oor die jare het ek honderde sake verdedig, of in die hof gesit en luister terwyl ek wag dat my sake geroep word. Ek het hulle grootliks vergeet, maar daai een oomblik van humanity bly my by. Daardie vrou het bewys dat ons ’n keuse het: ons kan onsself laat lamlê deur ons verliese, of ons kan dit gebruik om gelouter anderkant uit te kom. “The world breaks all of us, and afterwards some are stronger in the broken places” (Ernest Hemingway).

Ons almal ken verlies. Iemand wie ons ken, het bande met ons gebreek, of weggetrek en kontak verloor, of gesterwe. Ons almal het al ’n besitting verloor, of is besteel. Ons almal het al van situasies en persone weggeloop en gekies om nie terug te kyk nie. Onskuld, die onskuld van glo dat mense basies goed is, dat ander ons beste belange op die hart dra, het ons vergete al verloor.

Soms lýk die verlies nie net na disaster nie, soms ís dit disaster. Laingsburg, Heidelberg, Soweto, Lwandle, Marikana, Franschhoek, Bhisho ... die lys gaan voort. Sommiges natuurrampe, ander mensgemaakte rampe, sommiges ongelukke. Ons kan die punch vat, ons Suid-Afrikaners. Ons weet hoe om ’n ramp in ’n triomf van oorwinning van die menslike gees te omskep.

Soms wens ek egter ons wil ophou grappe maak oor ons verliese en net een slag weeklaag soos die Israeliete van ouds. Dalk kan ons die verliese dan beter hanteer, en nie net ’n rofie oor ’n rou wond laat groei nie. Rofies word onvermydelik een of ander tyd weer oopgekrap.

Ons het al soveel verloor. Almal moes iets prysgee, maar as ons wil, kan almal iets anders terugkry, nie noodwendig beter of slegter nie, net anders.

Toe wetgewing aanvanklik ingestel was om toegang tot geboue en ablusiegeriewe vir rolstoelgebruikers te vergemaklik, was daar ’n gemor, want ’n deel van die spasie vir ander gebruik moes nou prysgegee word, nuwe planne moes opgestel word, ekstra onkoste moes aangegaan word. Die besware het alles gegaan oor moeite en die prysgee van voordele vir die bevoordeeldes. Bitter min aandag of energie was bestee aan die voordele vir die persone in rolstoele. Vandag het die meeste openbare geboue opritte vir rolstoele, spesiale gemerkte parkeerspasies, ekstrawye deure en minstens een toilet vir rolstoelgebruikers. Die opritte veral word nou deur almal gebruik, nie net mense in rolstoele nie. Wat ons moes prysgee in spasie vir trappe, het ons teruggewen in gerief met die stoot van waentjies en gebruik deur persone met kieries, krukke, swaar sakke en ma’s met kleintjies in stootwaentjies. Die wetgewer het nie in gedagte gehad dat ander gebruikers ook voordeel sal vind in hulle voorskrifte nie. Tog het ons.

Wanneer dit egter groepe is wat geraak word, ongeag of dit nou kultureel, godsdienstig, ras of wat ook al is, verdwyn dieselfde beweeglikheid wat ons individueel so resilient maak. Laertrek en vergewensgesindheid was nog nooit goeie bedmaats nie. Soos sonsondergang sonopkoms volg, so volg laertrek en die verlies aan sosiale kohesie mekaar.

Vir baie was die einde van apartheid ’n rampspoedige verlies, aan albei kante van die kwessie. Eksklusiewe regte moes nou gedeel word, en sommiges het volstrek geweier om te deel. Vir ander het die einde van apartheid weer die opgee van die gewapende stryd beteken, en baie het bra langtand hulle AK-47’s neergelê. Chris Hani se dood op ’n stadium toe politieke partye besig was om te onderhandel oor die bepalings van die interimgrondwet, was een van daardie verliese wat beslis soos ’n disaster gelyk het. Vir ’n rukkie het dit gelyk asof ons op die randjie van ’n burgeroorlog staan. As ’n nasie het ons egter gewys ons kan deurbeur en ’n vreedsame oplossing vind, grootliks omdat ons leiers gehad het wat in staat was daartoe om te kompromitteer.

In 2015 het ons ander uitdagings: ’n regerende party wat skynbaar meer belangstel om hul eie belange te beskerm as om die land te regeer; ’n president wat nog nie daarin kon slaag om een enkele jaar te regeer sonder een of meer skandale nie; die elektrisiteitskrisis; die polities georkestreerde polemiek rondom die Openbare Beskermer, die een openbare amptenaar wat deurgaans met integriteit optree; die voortslepende en toenemende radikalisering van die taalkwessie aan universiteite; ’n dreigende waterkrisis; die kwotastelsel in sport; poo-protesteerders; die verkrummeling van die rule of law; die gebrek aan vertroue in die polisie; die ekonomiese krisis. Na 1994 kon ons kop omhoog in enige land onsself as Suid-Afrikaners aankondig, selfs terwyl Amerikaners nog skaam-skaam beweer het hulle kom eintlik van Kanada. Nie meer nie. Ons buitelandse beleid het daarvoor gesorg dat ons toenemend as pariahs gereken word.

“[S]o many things seems filled with the intent/ to be lost that their loss is no disaster.” Is ons resilience voldoende om die verliese hierdie keer te mitigeer, of het ons ’n nasionale tipping point bereik? Is ons stadig maar seker besig om ons siel as ’n nasie te verloor?

Even losing you (the joking voice, a gesture
I love) I shan’t have lied. It’s evident
the art of losing’s not too hard to master
Though it may look like (Write it!) like disaster.

Net ’n bereidwilligheid om weer hande te vat, te praat, te luister en nooit die rug te draai op enigeen wat wil praat nie, kan ons help. Laertrek sal nie net lýk na disaster nie, dit ís disaster, een waar ons almal verloor.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top