Die kring van spotters

  • 0

Elke dag wat ek om my kyk is ek dankbaar virrie seëninge wat ek het. Ek bly nie in ’n sinkhok of oppie straatie. Ek het opleiding wat vêder strek as net hoërskool. Ek weet ek kan iets doen om my liewe te veanner. Ek wiet oek ek kan iets doen ommie liewe vi anners te veanner. Ek kan nog elke dag iet en ek besit meer dan wat ek 10 jaa geliede besit het. Ek liewe nog steeds op minner as R12 ’n dag, maa dit wiet ek sallie vi lank soe bly nie. Ek is bieter af dan mense met wie ek opgegroei het. Ek is baie bieter af dan baie mense met my velkleur, en wie in my rasboks sal inpas. Ek vestaan my voorreg baie goed en ek proebee elke dag om te onthou van my voorregte. In 2007 het ek my introduksie in menseregte gekry. Daai introduksie het my fondasie, ’n Christen-fondasie, stêker gemaak. ’n Fondasie wat gegrond was in liefde en nie innie kêkkie. Ek was stadig maa vesieker wys gemaak oo waaoor die hele “menseregte”-storie gan en wat my rol en veantwoodelikheid is. Ek was 24 jaa oud, jonk en nog baie dom. Dit voel soes ’n leeftyd geliede.

1994 was my laaste jaa op primêre skool. Wat ek gewiet het van “apartheid se val”, was wat ek gehoorit innie huis, by my ma en haa tjommies, en wat ek gesien het oppie TV. Ek het niks gewiet vannie Freedom Charter of vannie land se niewe Konstitusie nie. Al wat ek kan onthou oo daai tyd was die heppieness wat ek gesien het om my. Die kaspes het opgehou ry, die hoërskoolkinners was trug by die skole en ôs konnie Strand se beach gebruik. Ek het oek gewiet die onnewysers maggie mee vi ôs geslaanitie, en ôs ouers het altyd gejoke dat ôs kan nou met hulle polisie toe halloep, wan ôs het regte. Die niewe gawwement, van 1994, het daai tyd beloftes gemaak. Beloftes wat praat van ’n bietere liewe vi amal, maakie saak wie nie. Hulle was eeder arrogant of miskien het hulle die nommes vekeed gedruk, wan die goed wat hulle gebeloewe het, wel ...

Dit was aanie begin, en mens sou sieke dink dat soes die jare veby gan dat die inligting oo menseregte aan mense bieter sou veduidelik wôd. Die gawwement spandeer geld op onodige dinge, wat glattie ôs se liewens bieter maakie. Die niewe Konstitusie raak 21 dié jaa. Dit kry nou die sleutel van grootmens wies. Maa nog steeds wôd meeste van daai “reëls en regulasies” nie toegepas nie. Die huidige president, sy kabinet ennie res vannie politicians trap links en regs oo amal se regte. Maa natuurlik kan ôs mos nou nie vewag dat amal wie in daai groot poste vannie gawwement wêk, alles onthou wat virrie mense beloewe wassie. “Huise vi amal,” het Mandela gesê; “klinieke en hospitale vi amal en ’n goeie liewe vi amal.”

Mense van Suid-Afrika was gesê: “Julle sal soes mense gehanteer wôd. Ôs gan vi julle al die regte gie. Kyk, ôs skryfit nee.” Ampe soes Moses die gebooie geskryfit op daai plat klippe. Die niewe gawwement het gesê: “Moetie warry nie, niemand sal seekry nie. Amal sal heppie saamit mekaa bly. Julle sal sien, wan die regte wat ôs vi julle gan gie ... Julle sal net sien.”

Maa, het hulle rerig dit bedoel? Toe hulle sê: “Hie is regte vi julle”? Die gawwement staan agterie manne wie die meeste geld in hulle sakke het. Dies wat kom uitie buiteland uit, wie land kom opkoep soes ôs op ’n Virtual Monopoly game is. Ek het nooit gedink aan Monopoly in soe ’n way nie, wan daa is mos net grond, daa issie mense nie. Is net djy, met jou reënboog-coloured geld, die anne spelers wie djy moet beat, die bank ennie eiendom wat djy moet koep. Dan sit djy huise op en hotelle en djy vra huur tot jou hart se begeerte. Mense issie deel vannie gamie. Dis koep en vekoep, maak geld, veloo geld, koep en vekoep. ’n Sirkel wattie gewarried is met die liewe van mense nie, en die gawwement, wel, hulle is oek maa net nog ’n stuk eiendom wat gekoep was. Dissie veel different hie innie regte liewe nie, wan dit gebee net soe. Die mense van kleur was gesien as vullis wat moet weggery wôd. Dit was innie veliede, en niks het gechangie. Dis net ’n anne naam.

Dié issie regte dié nie. Ôs amal was of wôd nog steeds ’n dirty getrek. Ôs wiet mos nou amal dat politiek is met leuens gevul, van boe tot onner. Leuens wat siekere mense boe hou ennie res van ôs laat suffe. Dit is wat politiek is. Nou natuurlik moet ’n mens sieke anne mense het wat agte ôs amal se liewens kyk. Reg?! Mense wie warry oorie paaie, die selfoontorings of hoeveel vliegtuie ôs se lughawe kan vat. Dis sieke reg dat ôs mense het wat warry oo ôs se veiligheid, of wie warry oo ôs regte mediese behandeling kry. Ek mien dis sieke net reg as hulle met allie veantwoodelikheid sit om ôs liewens bietere te maak. Hoe sal ôs kan liewe as ôsie ’n president het wat met anne presidente praatie? Ek mien die president, hy of sy, moet mos dan oek getreat wôd soes iemand spesiaal. Hulle doen dan sulke spesiale wêk. Reg?! Hulle kyk agte elke kind, man, vrou, en daai in-betweens vannie land. Hulle wôd mos betaal om sieker te maak dat elke een kos en veblyf het, en dat hulle gesond is en hulle is veilig en het beskerming van goed wat hulle kan see maak, en oek van hulleself. Reg?! Ek wiet darem nie. Die way hoe dit vi my voel, is die gawwementwêkers kry eestens te veel geld virrie service wat hulle doen. Wanne ’n kantoorassistent innie gawwement mee geld betaal wôd innie maand as ’n onnewyser of ’n polisievrou dan het ôs rêrig ’n proebleem. Wanne ministers sit en slaap tewyl hulle hulle job moet doen, dan het ôs ’n proebleem. Wat dink die gawwement rêrig van ôs? Hulle liewe in luxury tewyl ek en djy moet warry oo wat-kom-neks. Die regering sal liewer kyk hoe ôs nog vêder tien mekaa opstaan, dan actually die probleme reg te hanteer. Hulle issie hie virrie benefit van Suid-Afrikanersie, wan vi hulle gannit oo allie geld wat hulle kan maak tewyl hulle kan.

Het djy al ooit gewonne hoe sal die liewe wies as ôsie presidente, of amptenare, of al die klompie reëls en regulasie gehad hettie?

Ek bedoel dink net aan hoe amal dan sal moet veantwoodellikheid vat virrie rol wat hulle speel innie land. Imagine net gou. Die wit en swart en annekleuriges is iets vannie veliede. Ôs tickie mee daai boksies nie. ’n Land waa amal, elke een van ôs, elke dag ’n liewe kan hê waa nieman hoef te warry oo waa die neks bôd kos vandaan sal kommie. Klas is iets vannie veliede. Daa issie die een wat hoër is dan ’n neks pesoonie. Ek mien, issit reg om te liewe in soeveel warry, issit gesond? Ek wiet dat elke een van ôs wat liewe, vestaan as djy nie wêkie, gan djy nie ietie. Reg?! Maa hoe kan djy wêk as djy elke dag vetel wôd hoe sleg djy is as mens en hoe sleg jou ras is? Hoe kan djy wêk as jou moraal weg van jou af gesteel wôd? Jou erfenis, jou heenkome, jou uitkyk op ’n bietere toekoms, jou huidige liewe, weggevat wôd deur dies wat daa is om jou liewe bieter te maak. Hoe kan djy ’n eienaar wôd van jou eie liewe as djy moet warry oo daai mense wie jou liewe regeer? Natuurlik gan ôs kwaadraak, en die kwaad-raak moet iewes na toe gemik wôd. En daai mikpunt sit mossie vê nie.

Kyk gou die situasie van Mannenberg, of Hanoverpark oppie Cape Flets. Die mense was weggejaag van hulle heenkome. Hulle was loep dump in fletse, sonne sê. Die gawwement wie hulle regeer het, het net gemaak en doen soes hulle lis gevoelit. Hulle hettie een kee gedink aan wat met daai mense se mens-wies gebeerie. Soelank hulle nettie land kon kry, om te maak mie soes hulle gedink het was reg. Die stad was skoon geskraap van allie rubbish, en dit was loep dump mee as 15 km weg vannie City af. Die dice was gerol, ennie wit baas vannie buiteland het gepraat, en dit gebee nog steeds. Oppie huidige oomblik skyf die dumping sites net vêde en vêde weg uittie City uit. Mense wie vi generasies op een plek gebly het, wôd op lorries gesmyt en oppie niewe dumping sites gat smyt om te kyk vi ’n liewe vi hulleself. Die mense raak kwaad ennie gawwement warry net niksie.

Blikkies Dorp, Wolwerivier en Delft. Dieselle storie, net ’n anne naam. Ek kyk toe ’n dokumentêre film oorie liewens vannie arm mense in Munsieville, Johannesburg. Innie onnerhoud wat gevoer wôd gedurende die film, wôd daa toe gesê dat die tyd waain ôs nou liewe ’n “reversed apartheid” is. Die ding is dié: die storie het glattie veannerie. Dit kan nog nooit “reversed apartheid” wies wanne daa soeveel mense van kleur is wat op plekke soes Blikkies Dorp, Wolwerivier en Delft loep smyt wôtie. Die gawwement noem dit die “Tydelike Hervestiging Gebiede”. Nou ek wietie wat die mense wie wêk in die department vestaan wat bedoel wôd met “tydelike” nie. Ek wiet oekie of hulle dink oo wat hulle aan mense doen nie. Ek dink ôs moet net gou eerlik wies met ôsself en aanvaar dat apartheid se strukture en wet nog steeds sterk staan. Die huidige Suid-Afrikaans konstitusie is nou mee as 20 jaa oud, maa nog steeds liewe meeste van Suid-Afrika nog innie veliede, sonner regte. Hulle liewe nog steeds met daai hoep dat al daai beloftes wat gemaak was, van huise, regte jobs, goeie opvoeding, en anne basiese regte sal nagekom wôd. Dis soes amal vi die afgelope 20 jaa vas aanie slaap was. En die mense is biesag om stadig maa vesieke wakke te skrik. Die wakkeskrik gan ’n groot gemôs wies. Amal gan kwaad wies, en die gawwement sit agte hoë traliehekke, en het die hele polisiediens en army agte hulle. Vi wat moet hulle luiste? Die huidige gawwement is te swak om ôs reg te lei.

Die huidige gawwement is ’n groter vloek dan apartheid. Ja, ek het dit gesê, wan daa is iets groots fout as jou eie broer, die een wie saam met jou gesit het, omdraai en jou innie rug stiek. At least hettie apartheidgawwement nie ’n geheim daavan gemaakie. Hulle het niks gedink van ôsie en hulle het dit plain-uit gesê. Dis hoeko soe baie wit mense nog steeds gloe hulle is bieter dan ek, en my soort. Dis tog net my realiteit. Maa hulle issie agte-affie.

Daa is glad niks changie. Dink ôs daa is change ommat die City ’n niewe busdiens het, of ommat Suid-Afrika vol world-class sokkevelde staan? Dink ôs daa is change ommat Model C-skole nou oek swart leerlinge aanvaar, maa nie hulle hare nie? Is daa change ommat meeste van die land se mense op welsyn liewe? Dink ôs dat daa is change ommat ôs reg deurie nag innie stad kan party? Dink ôs rêrig daa is change ommat ôs op wit beache kan loep sit en protest? Hoe kan ôs dié sien as change wanne die liewe soeveel swakker is virrie meeste van ôs? Selfs al issie ding tog dikker dan nettie gawwement offie City, wan hulle proebee sieke maa. Hulle proebee sieke ommie mense te help om vi hulle die sinkhokkies op te sit. Al is dit in plekke wat vê van publieke vevoer af is, of op plekke waa daa nie skole of hospitale en klinieke issie. Al is dit in plekke in wat 30 km buitekantie stad is. Dit maakie saak vi die mense wie ôs regeer wat met ôs gebee nie. Dié is my waarheid. Die wit mense, of kan ek sê dié wie vi baie-baie jare bevoorreg was, hulle kyk na hulle “eie”. Hulle gan oppie kleur van hulle vel en voel dat hulle moet by “hulle” mense staan. Ek mien, hoe gan jy voel as iets met jou of jou familielede moes gebee, iets wat djy daagliks innie nuus sien, iets soes moord, vekragting, roof, diskriminasie of evictions? Hoe sal dit met jou sit? Sal jy anvaa dat dit is wat gebee ennit net soe los? Djy sal sieke nou sê: “Maa Livy, dissan net die mense van kleur wat soe erg angan. Kyk na die plaasmoorde, kyk na die motorkapings, kyk na Munsieville. Die wit mense liewe in armoede.” Ek dinkie dis soe maklik net om te sê dat die mense van kleur haloep mal innie strate rontie en dat wit mense nie in armoede mag liewe nie. Die pyn en lyding strek ver en diep.

Apartheid en kolonisasie het darem vi ôs amal ’n ding gewys. Ôs amal sit nog kop-gesak, kannie mekaa innie gesig kykie, en dit is die proebleem.

Innie afgelope paar maane het daa baie goed gebee innie land wat sommer vi ôs wys hoe die land nog steeds opgedeel is in hopies van mense wat bieter af is dannie volgenne, of wat dink hulle bieter dannie volgende is. Mense wat vi Jesus kan dien, maa ’n man wie verskillend lyk dan hulleself in ’n kis in kan druk net om vi hom ’n les te leer. Some mense dink dit was ’n joke, wan dis wat mens moet doen wanne ieman anners op “jou” land loep. Djy maak van daai man ’n joke, maakie saak of djy vi Jesus dienie. Dan was daa, nou onlangs, toe die vrou wie bekend is as Linda, wat virrie baas gesê het sy wil agter oppie bakkie in ’n skaaphok sit. Dit is mos wat sy gevra het. Ek mien ’n mens moet sieker dankbaar wies dat die baas die arme vrou ’n hike dokter toe gegie het. Dis siekerie sy skuld dat Linda gebesluit het om agteop te sittie. Dis siekerie die baas se skuld dat Linda dink sy is minner as wat hy issie. Die wit-tien-swart-botsing is nieman anners se skuld as die voovaders en hulle skepe nie. Hulle het hie gekom en gesê: “Ag, ôs is bieter as hulle.” Daai botsing gat nog ver met ôs stap, wan die wit is te trots om te aanvaar en te herken dat dit is wat gebeer het, en wat nog steeds biesag is om te gebeer. Dit gannie net mee oo die “ras-botsing” nie. Dink julle rêrig Malema gan vi elke EFF-lidmaat ’n stuk grond kan gie? Amal gan geraak wôd as ieman wat met haat in sy hart gan opstaan en die land lei. Haat is êger as uitgevrietgeid. Ôs wiet hoe maklik dit is vi ryk mense ommie gawwement in hulle sakke in te stiek. Maa Hitler het ôs gewys, Rwanda het ôs gewys en nou wys Trump ôs oek, hoe maklik dit is om mense wie honger en moedeloos is, te flous om iets te gloe wattie waar issie.

Ek was nou die dag vetel: maa amal gan daa deu. Amal wôd geraak deur apartheid en dié se dood. Dis heeltemal reg – amal wôd geraak. Kyk net vi Munsieville. Maa dit is nog steeds makliker vir ’n wit man om ’n lening te kry vir ’n niewe besigheid dan ’n swart vrou. Wan die banke soek sekuriteit, of waarborg dat hulle hulle geld sal trugkry. Nou wie innie eeste plek sê ’n wit man het meer “waarborgstatus” dan ’n swart vrou? Geskiedenis sê soe. Reg genoeg, die gawwement proebee mos nou vi die afgelope 20 jaa om vi mense van kleur lenings en skenkings te gie om hulle klein besighede te begin. Maa dis net vir ’n paa mense wat die geld kry en meeste van ôs besighede gan innie afgrond af, wan ôs hettie die skill om dit te bestuurie. Die sisteem is ’n onregverdige een. Kyk wat is biesag om te gebee in die VSA. Die arm mense, die werkersklas, het daai man daa gesit, wan hulle was gatvol van leë beloftes. Die diskriminasie ruk al klaa hand-uit. Hoe dink julle wat gan hie gebee? Dink julle ôs gan hanne hou ommie vuur en vi “Kumbaya” sing? Elke een wie meer bevoorreg was, en wie deel van die land is, het ’n veantwoodelikheid tienoor die neks pesoon wattie wiet hoe om iets te doenie. Dit is wat dit betieken om deel te wies van ’n land soes Suid-Afrika. Djy moet jou kant bring.

Het jy dit al ooit pesoonlik geërvaar om op te staan tien ’n anne ras ommat ’n lid van jou ras bedreig wôd? Het jy al ooit opgestaan om ’n anne ras te help ommat daai pesoon bedreig wôd? Die hele storie gannie oo wie is ’n bieter rassie, of wie nie mag in skwatterkampe liewe nie. Die gan oo menseregte. Amal hettie reg tot ’n bieter liewe. Elke een van ôs, maakie saak wat jou velkleur issie, het daai reg. Elke een. Dié waamie ôs nou mie biesag is, is ’n pad wat lei na menseslagting, na volksmoord. Ôs liewe in ’n land waa die meeste mense op minne dan 1 USD liewe elke dag. Daai lyne van SASSA strek ommie blok vi mense om daai R350 te gan trek virrie maand. Die gawwement, hulle amal, voel dat hulle is in lyn met die Konstitusie se “Bill of rights”, maa hulle is vê van dit af. Soes innie geval vannie VSA en Trump, mense is moeg virrie leuens ennie feit dat meeste van mense wie in armoede liewe, mense van kleur is.

Vroeër het ek gesê dat ôs wiet mos as ôsie wêkie, dan kan ôsie ietie. As ôsie saam staan vir amal se reg tot ’n liewe nie, dan is die toekoms ’n baie donker ene. Ek praatie van net om te survivie, ek praat van liewe, sonne die warry van wat môre oppie kostafel gan wies. Ek praat van ’n liewe waa elke kind, man, vrou (en die ander) ’n liewe kan lei, wat hulle nie laat voel soes die grond waarop ôs stappie. Mense is moeg, honge en hulle wil virrie liewe is weggevat. Hoe kan hulle dink dat alles oukei is wanne hulle sien hoe blink anne mense se monne is en hulle maag grom vannie honge?

Die gawwement kan siekerie vi meer as 55 miljoen mense geld gie nie. Die ding is dié, dissie 55 miljoen mense wat hulp nodig hettie. Geld, uit ôse beurse uit, wôd bestee op goed wat nie daa is virrie vebetering van die land se mense nie. Dit gannie oo die skoolsisteem vebeterie, of om vi mense bieter gesondheidsbehandeling te gie nie. Dit gannie oo werkskeppingie. Dit gannie oo mense se regte nie. Dit gannie oo die moraal van mense nie. As dittie geval was, dan sou daa nie plekke gewies het soes Blikkies Dorp ie. Dit gan oekie oo herstellingie, wan as dittie saak was, dan was daa nie goed soes BEE of BBEEEE of een van daai goetie. Reparasie of herstelling in ’n land gannie oo ’n deel van die land se mense die afgrond intrap tewyl die res op- en uitklim nie. Wat dink julle gan rêrig gebeer? Het Suid-Afrika niks gelee van Rwanda affie? Of moet ôs eers daai selle pad loep, vol dooie mense? Het daa nie klaa genoeg mense doodgegannie, of is ôs rêrig op pad om allie blame op mekaa te sit? Tewyl die ware kriminele hulle vêder dik vriet en syp annie land se melk en heuning?

Die gesprek is vê van klaa af. Die lae wat gepaard gan met mens-wies is ingewikkeld. Elke mens wat hie is in die land moet sy of haa deel bring. Ôs kan nie skrie tien menseslagting van een rassie tewyl die res nog steeds op minne as die minste liewe nie. Dit kannie soe gebeer en dan verwag ôs dattie liewe maklik gan wiesie. Waa ôs nou is moet rêrig vi amal ’n eye-opener wies. Wan as ôsie gan changie, dan gan dinge nie changie. Die gawwement gannie land en vi ôs leeg besteel, tewyl hulle agte hulleself en hulle familie kyk. Ek is bang vi my toekoms, ek is bang vi ôs toekoms, ek is bang vi ôs kinners, en hulle kinners. Dié waamee ôs biesag is, veloo amal.

Op die oudedom van 16 was uh Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met uh mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa’vandaan hulle kom. O’s almal het oppie netbalbane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from? Heelwat op sy nerves. Ek ’it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”  

Bly te kenne!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top