Die koekie

 

Lavinia is verslaaf. Sy sukkel nog om dit te erken, al vermoed sy dit wel, maar om gerieflikheidshalwe bly sy in denial.

Waar sy op ’n Maandagaand, in die middel van winter om ’n beteuterde tafeltjie saam met ses ander mense by ’n rehab-vergadering sit, is sy oortuig daarvan dat sy beslis nie soos een van hulle lyk nie. Vir haar kom hulle voor as losers en sy is waaragtig nie aan die verloorkant nie, sy het per slot van rekening ’n suksesvolle loopbaan as dekorstilis. Maar wie is húlle?

Kyk na Dodge. Hy lýk dodgy, nes die vrou langs hom wat nie kan ophou praat oor die hond wat sy onlangs doodgery het nie, nogal toe sy nugter was, let it be known. Haar grys regrowth laat veel te wense, minstens twee sentimeter wat by die satbruin haarkleur aansluit. Daar is dierehare op haar verslete trui.     

Lavinia streel met selfvertroue oor haar nertsjas se kraag.

Wanneer een van hulle begin praat, stel die persoon sigself eers voor as ’n dranksugtige.

“My naam is Dirktina en ek is ’n alkoholis.”

Lavinia is van mening dat so ’n weerbarstige naam enige mens tot drank sal dryf. Dirktina het dit oor een of ander buurvrou wat inbraak maak op haar privaatheid en gedurig goed by haar wil leen en haar groot issue is dat sy nie kan ‘nee’ sê nie. Lavinia dink dit is pateties.   

Mens moet darem met iets meer gewigtig na die biegtafel kom, die Here weet.

Terwyl die vaal vroutjie in haar temerige stemmetjie voortkruie, maak Lavinia kopaantekeninge van die kerk se ekskuus vir ’n interieur sodat sy aan die lesers van Inhoud  kan vertel hoe daar nie met ’n ruimte omgegaan moet word nie. Inteendeel, die plek is genoeg om jou van nuuts af besimpeld te laat soog, en om te dink hulle sit hier en probeer hulle addictions oorkom! Ironies dat mense poog om hulle drankgewoontes baas te raak in hierdie holte vir geloofsverslaafdes !

“My naam is Ashwin en ek is ’n alkoholis.”

Die man se groot ronde gesig laat haar aan ’n maan dink, ’n maan wat snags in die donker sal kan skyn.

Hy vertel dat hy onlangs noorde toe moes gaan vir die herdenking van een of ander gebeurtenis en dat dit dinge vir hom oopgespoel het tot so ’n mate dat hy weer begin fuif het.

Aan die einde van die sessie vra Lavinia vir Dirktina waarom ’n samekoms Ashwin kwansuis so kon ontstig. Sy deel haar mee dat hy die slagoffer was van ’n lang en tragiese politieke alliansie waarvan hy nooit herstel het nie.    

Politiek sal haar nie tot drank dryf nie, dis vir seker, vir daardie arena voel sy minder as niks. Lavinia, toegewyde hedonis,  sal slegs oorboord gestuur word by gebrek aan sjokolade en orgasme.

Dis reeds lente toe Dodge hulle een aand vertel hoe hy hom opgetrek het van die parkbank met slegs een ambisie: om die kok in Huis Hester te word.

“Wat is Huis Hester?” vra Lavinia.

“Dis ’n rehab joint in Pretoria se middestad, ek dink nie die plek bestaan meer nie. Dit was lank terug.”

Bekentenisse loop kloksgewys en dit is die dekorstilis se spreekbeurt.

“Goeienaand, my naam is Lavinia, ek weet steeds nie eintlik wat ek hier doen nie want myns insiens het ek nie juis ’n probleem nie.”

Vanaand is daar slegs vier ander mense teenwoordig. Soos die gebaar uit ’n komplot knik hulle instemmend.

“Goed, goed . . . die laaste ruk was buitensporig veeleisend, daar het soveel opruiende goed gebeur, ek voel soos ’n stomp in die meesleuring van die lewe. Waar om te begin; julle sal dit nie glo nie. En om als te kroon huur ons ’n glorified garage by ’n man met wie ek nou boonop ’n affair begin het. Ek voel nie eers skuldig nie, dis die ergste van alles. Ek begin dink dat ek geen gewete meer het nie. Dis omdat die laaste paar maande so erg was, my barometer is ingesluk, gone with the wind.”

Nou eers genoeg, dink sy, jy is in overshare mode meisie – hokaai! Laat hulle maar wonder.

Lavinia wonder hoe op aarde sy hier beland het? Maandagaande is goed vir DStv so dis nie asof daar ’n gebrek is aan vermaak by die huis nie. Nietemin beur sy voort en vertel die storie wat haar op die spits gedryf het. Haar man se broers, die bouery – (om jou huis te verlaat), die dam in die reën waar ’n huis moet kom staan ten spyte van ’n hopelose bouer. Sy vertel aan hulle dat sy nog altyd hierdie soort ding wou bywoon, meer uit nuuskierigheid, omdat sy al van kindsbeen af soveel wynlappe ken. Sy onthou dat sy op die ouderdom van tien haar pa se whisky begin drink het; klein slukkies van die ‘koeldrank’ op die stoep het sy weggeteug, daar het ys in geklingel. Vandag nog gee whisky vir haar ’n gevoel van genoegdoening, ook die reuk daarvan. Miskien moet sy eerder begin om dit te drink in plaas van wyn, wyn het baie suiker en met banting moet mens wegbly van suiker.

Twee maande later begin Lavinia sekere voordele uit die groepsessies bespeur. Die eienaardige mense het op haar begin groei, maar sy stel haarself steeds nie voor as ’n alkoholis nie.

“Ek het besluit om nie meer Maandae en Donderdae te drink nie. Verder drink ek beslis minder en ek drink nou selfs een glas water vir elke glas wyn.”

Dodge het vir haar interessant geraak; hy is ’n goeie storieverteller en iets omtrent hom laat haar selfs aan haar oupa Lukas dink. Sy vel is deurskynend en sy oë is sag, deurweek van jare.

Wanneer hy lostrek, wil sy net luister en luister. In sy herstelboek is foto’s van sy kinders en kleinkinders. Hy sê die feit dat hy met hulle tyd kan bestee die grootste geskenk van  sy lewe is. Hy is al sestien jaar "skoon" en op die buiteblad van die boek is medaljes vasgeplak ter stawing van sy triomf oor die drankduiwel.

Lavinia se man vrees wat mense gaan dink as hulle hoor sy vrou is by die rehab-groep.

Soms is daar net drie mense om die tafel en ander kere sit al sewe van hulle daar. Hulle moet vertel wat hulle die afgelope week ervaar het.

“My naam is Lavinia. Ek is ’n sosiale drinker, maar my man se sibbe sal maak dat ek myself deur aarvoeding aan ’n boks dooswyn laat koppel. Ek weet hulle hou niks van my nie, maar die feeling is gelukkig mutual. Ek wens ek hoef hulle nooit weer te sien nie, ek hou sommer ’n fake begrafnis vir daai twee.”

“Liefde kom later,” sê Dodge. Lavinia sien hoedat sy oë skyn.

Sy vermoed dat dit haat is wat haar so uitmergel, dat sy te veel daarvan in haar gemoed stoor en dat dit nog kwaai gevolge vir haar gaan hê.

Moet sy hulle vertel wat haar man se broers aangevang het? Sy kan nie die verhaal oor haar lippe kry nie, kan haarself nie sover kry om dit aan enige mens te vertel nie. Hoe seer hulle haar man gemaak het? Hoe ongenaakbaar en berekend hul strategie? Hoe siek in wese en hoedat hulle aksies alles laat onstpoor het – vir ewig. Soos ’n soom wat begin lostorring totdat daar slegs ’n wolkrioel oorbly.

Sy dink dat sy dalk moet gaan perdry, sodat sy die verhaal in Equus se ore kan fluister. Iemand moet weet.

Lavinia is die stilis wat blou tot nuwe hoogtes geneem het. Met die kleur wat in die spektrum tussen groen en violet lê, het sy haar deurbraak gemaak op die filosofie van die merkwaardige tint se moontlikhede in binneruimtes. Blou se Zen het sy vervolmaak.

En terwyl sy daar sit in die mistroostige interieur, omring deur mislukkings, ervaar sy vir die eerste keer in ’n lang ruk ’n gevoel van genoegdoening, asof sy plotseling onthou het wat sy reeds in haar loopbaan bereik het. Nugter of te niet, sy is Koningin Blou.

Vanaand word daar uitgebrei oor die struikelblokke op die pad, goed wat jou kan laat ontspoor. Wat dryf mens tot drank? Vir Lavinia is die snellers legio: Name it. Sy gaan stap teen laatmiddag, ’n klein Karoolangstertjie wat pas uit die nes is en lyk of dit wil verkluim, piep langs die pad, sy tel dit in haar hande op, maar die ouers is naby en gaan erg te kere. Daardie aand lê sy en wonder of die ouers die arme veerkindjie sal terugneem nes toe. Die volgende oggend gaan kyk sy of die voëltjie dalk daar rond is. Vergeefs.

Sy weet dat sy  teen skemer weer gaan drink omdat sy sleg voel oor die voëltjie.

Só lyk die kerk: Daar is rye bottelgroen plastiekstoele met Bybels wat in lapsakkies oor die rugleunings hang en bokant die kansel rus daar ’n groot houtkruis. Biddende hande is op die voorste houtpaneel van die kansel aangebring. Dit is egter tussen aankoms en vertrek waar die pièce de résistance pronk; in die voorportaal word besoekers verwelkom deur ’n landskap – gelap uit watteersel. In die opgestopte uitbeelding is  twee groot bome aan weerskante van ’n fynbos-rotstuin in verskeie skakerings van groen, grys en malvapers. Die lug is blou.

Iemand (vroue van die gemeente?) het ’n toneel gestik met liefde en toewyding soos wat sý, Lavinia, met volle oorgawe altyd verslaaf is aan iets.

“Goeienaand, ek is Lavinia. Ek moes eintlik in New York gaan woon het want hier is geen stimulasie vir my kreatiewe kop nie, wat nog te sê om in ’n klein dorpie soos hierdie te moes opeindig. Sedert ek julle laas gesien het, het die bouprojek minstens vyf katastrofes opgelewer, die graaftoestel het oor ons melkhoutbome gery en die man wat met die tuinbou moes assisteer het spoorloos verdwyn. Een van my boesemvriende praat uit die bloute nie meer met my nie en die landheer het oornag afgekoel. Al wat ek eintlik wil doen is om terug te trek na my eertydse huis, om terug te gaan na alles soos wat dit was. Ek sal my oogtande gee om net weer die lig deur die bekende vertrekke te sien verander.”

Alhoewel die dae warmer word, bly die ruimte waar hulle vergader koud. Ivoorblink vloerteëls weerkaats kil. Teen een muur kyk Christus en die twaalf dissipels vanuit die Laaste Avondmaal na hulle. Lavinia dink nie dat sy al vantevore hierdie reproduksie gesien het nie. Dis beslis nie in die liga van ’n Da Vinci nie, daarvan is sy seker. Daar is brood en wyn op die heiliges se tafel. Tussen die sepiagesigte soek sy na Judas Iskariot.

Aan die einde van elke rehab-sessie doen ’n banksakkie die rondte.

Somer kom rus op die drempel van die kerkgebou en Lavinia voel optimisties. Saam met die oplewing van die seisoen is sy besig om Bacchus uit te oorlê.

Die eerste Sondagmiddag in November gaan kuier hulle by die skuur onderkant die berg. Drie kennisse uit die distrik het verjaar die afgelope week en daar gaan groot makietie wees. Die tema is retro. Party mense dra kostuums; daar is drie nonne en mans met pers lokke, asook ’n Elvis lookalike.

Lavinia en haar man sit langs die musikante se bussie en gesels. Madeleine, die een verjaarsdagmeisie, hou geel speldekussings vas wat Lavinia in die landheer se tuin vir haar gepluk het. ’n Potblou lint is om die blomme gebind. Vir Lavinia is die kombinasie van blou en geel ’n treffer.

Johannes die tromspeler gaan haal ’n tupperware-houer onder een van die bussie se sitplekke uit en kom hou dit uit na die mense wat digby sit en kuier.

“Gister gebak, lekker vars.” Klein stukkies doepa spikkel die beskuitjies. Lavinia neem een en begin stadig daarvan eet. Teen die tyd wat die son sak, voel sy hoe kalmte en tevredenheid oor haar daal.

Later die aand, voordat sy aan die slaap raak, sê sy vir haar man dat sy ’n plaasvervanger vir al haar verslawings gevind het.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top