Die klank van die mishoring: Wetenskap en mistiek

  • 7

Dangerpoint Caretaker deur Terry Kobus

 

Ek word saam met die son wakker: in die somer dus vroeg, behalwe as dit bewolk of soos vanoggend mistig is. Die eerste voëlgeluide buite is die bekendes — janfrederik, ringnekduif, bosfiskaal, bandkeeltjie — maar daar is ook 'n vleikuiken te hoor, soos iemand wat veraf op 'n groot bottel blaas, net-net hoorbaar bo die gedruis van die see.

Onmoontlik. Ons het nie die habitat vir vleikuikens nie. En vleikuikens maak nie D, D, D, in onophoudelike stadige morsekode nie.

Dis Danger Point se mishoring. Net vier vuurtorings in die Wes-Kaap het mishorings: die ander drie is by Dasseneiland, Groenpunt en Mosselbaai. Danger Point se mishoring sit by breedte- en lengtegraad (-34.630,19.301), en ek is by (-34.613,19.381), dus trek daardie klank 7.5km om by my te kom. G'n wonder dis so sag nie.

Die vorige keer wat ek 'n mishoring gehoor het, was meer as vyftig jaar gelede, toe my pa sy gesinnetjie laat Sondagmiddag vir die tradisionele hamburger en melkskommel na Mouillepunt se inrykafee geneem het. Ek voel nostalgies, dus trek ek en Trienke vinnig aan en ry die entjie na Danger Point. Daar is 'n bankie omtrent 75m van die mishoring af waar ons sit en luister.

Mishorings blaas op 'n lae frekwensie sodat die klanksterkte nie veel aan demping verloor nie, maar dit is steeds onderhewig aan 'n wet van omgekeerde kwadrate. Ons sit 100 keer so naby as wat ons dit uit die bed kon hoor, dus is die klank nou 10000 keer so hard. Dit klink na baie, maar dis net 40 desibels meer, nie so veel dat ons nie kan gesels nie.

"Mishoring" begin met dieselfde drie letters as "mistiek". 'n Mistikus is iemand wat soms die stem van God hoor. Hierdie sinnetjie is terselfdertyd my definisie van "God": daar is geen manier om iets van God te wete te kom nie, behalwe jou eie mistieke ervarings en dié van mense wie se geloofwaardigheid jy as bo verdenking beskou.

Indien jy iemand is wat glo in die Heilige Gees, dan mag jy 'n mistikus defineer as iemand wat daarmee vervul is: met een talent, vyf talente of tien talente.

Want mistiek is soos musikaliteit. Byna almal het 'n bietjie daarvan, maar slegs die besonder begaafdes het genoeg dat 'n groot klomp mense bereid is om spesiaal na hulle te kom luister. Slegs 'n handjievol van die mees uitsonderlike musici en mistici se nalatenskap word deur die eeue gekoester en van een geslag na die volgende oorgedra.

'n Onversetlike ateïs is maar net iemand met geen aanleg vir mistiek nie, wat mistiek dus as selfbedrog beskou; iemand wat reg onder die mishoring sou kon gaan sit en dit eerlikwaar nie hoor nie. Maar 'n gelowige wat die rol van mistiek onderskat, is eweneens skuldig aan selfbedrog.

Dink jy die Bybel is 'n manier om te weet wie is God? Die Bybel vertel van Abraham, wat met God onderhandel het; van Moses, wat God as "Ek is" leer ken het; van Samuel, wat vir God gesê het "praat maar, ek luister"; van Jesus, vir wie God 'n Vader was; van Petrus, wat moes hoor die onreines is nou rein; van Stefanus, wat die hemele geopen gesien het; van Paulus en sy Damaskus-ervaring; van Johannes en sy openbaring. Die Bybel, vir soverre as wat dit vertel wie God is, is hoofsaaklik 'n versameling getuienisse van die ervarings van mistici.

Hoekom glo jy die ervarings van daardie mistici, en dat dit akkuraat in die Bybel gerapporteer is? Aanvaar jy byvoorbeeld die Bybel as gesaghebbend omdat dit van kleins af so aan jou in een van die susterskerke voorgehou is? Dan mis jy die punt. Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê oor die boeke van die Bybel:

Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.

Met ander woorde, jou kerk se eie belydenisskrif sê dat jou rede om die Bybel as die Woord van God te beskou, behoort te wees die persoonlike mistieke belewenis wat jy by die lees daarvan kry. As ek, of jy, 'n spesifieke passasie nog nooit met so 'n oortuiging kon lees nie, dan het dit vir my, of jou, nog nie die Woord van God geword nie.

Ek is nie iemand wat wetenskap en geloof as teenstrydig sien nie. Daar is 'n boek tans op die rakke van ons boekwinkels met 'n soort gholfspel, waarin twee opponerende kapteins, een vir geloof in God, een daarteen, elk 'n spannetjie van sy makkers gevat het sodat elkeen sy eie rondte met sy eie stel stokke kan gaan speel sonder om notisie van enigiemand anders te neem. Dis nie wat ek soek nie.

Ek wil ruimte hê om soos 'n wetenskaplike te dink ook binne my geloof, om plek vir my geloof te hê ook binne my wetenskap.

Wetenskap bestaan uit waarnemings en teorieë. Kepler het Tycho Brahe se noukeurige waarnemings van planeetposisies bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat die planeetbane ellipse is. Newton het bewys dat 'n gravitasiewet tot elliptiese planeetbane lei, onder die aanname dat swaartekrag net soos die dissipasie van klank werk: die sterkte van die krag is omgekeerd eweredig aan die kwadraat van die afstand. Skielik is Kepler se wette nie meer net 'n beskrywing van hoe dinge voorkom nie, maar gevolge van 'n ander, meer basiese wet.

Nou sou ek graag wou sien dat teologie ook werk met waarnemings en teorieë. Die mistici is die Tycho's, die eksperimentele wetenskaplikes wat die waarnemings maak; die mistici; die teoloë is die Keplers, die teoretiese wetenskaplikes wat die waarnemings saamsnoer tot samehangende teorieë.

Van die kant van ware wetenskaplikes verwag ek nie teenstand nie. Mistici bestaan; hulle is net so veel die aandag van wetenskaplikes werd as 'n afgesonderde stam op die een of ander plato in Papua Nieu-Guinee. Van die kant van die "apostels van die leegheid", wat geloof uit beginsel verwerp maar niks in die plek daarvan stel nie, verwag ek wel teenstand; maar met hulle het ek in elk geval niks in gemeen nie.

Van die kant van gelowiges verwag ek ook teenstand, want onder die dinge wat uitval, is die siening dat alles in die Bybel ewe gesaghebbend is. Dit is vir my glashelder dat Jesus verreweg die mees begaafde mistikus ooit was. Dit impliseer dat wat die lewende Jesus gesê het, belangriker is as enigiets uit die Ou Testament, of as enigiets wat slegs via Paulus se mistiek by ons uitgekom het.

Maar daardie sake lê nog voor. Op die oomblik is al wat ek vra, 'n bietjie wetenskap by die teologie, 'n bietjie geloof by die wetenskap, en 'n groot dosis nederigheid by albei.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 7

Kommentaar

  • Wow! Wat 'n ongelooflike artikel. Bring teologie, wetenskap en geloof saam wat 'n wenresep word. Dankie Dirk Laurie

  • CorneliusHenn

    Beste Dirk,

    Soveel mooi gedagtes om so 'n erge dwaling te verdoelsel ... 

    Jy tik: "Met ander woorde, jou kerk se eie belydenisskrif sê dat jou rede om die Bybel as die Woord van God te beskou, behoort te wees die persoonlike mistieke belewenis wat jy by die lees daarvan kry. As ek, of jy, 'n spesifieke passasie nog nooit met so 'n oortuiging kon lees nie, dan het dit vir my, of jou, nog nie die Woord van God geword nie ... Dit is vir my glashelder dat Jesus verreweg die mees begaafde mistikus ooit was. Dit impliseer dat wat die lewende Jesus gesê het, belangriker is as enigiets uit die Ou Testament, of as enigiets wat slegs via Paulus se mistiek by ons uitgekom het."  

    Dirk, Jesus Christus is die Woord van God.  

    Die Woord van God - is God.  

    Ek het geheel ooreenstemming met jou dat "Jesus verreweg die mees begaafde mistikus ooit was" want Jesus Christus, is God.  

    Dirk, hoe op aarde is die mistieke belewenis vir jou by die lees van die Bybel genoeg rede om die Bybel as die Woord van God - GOD - te beskou/verheerlik?  

    Uit ervaring getuig ek dat net Bybelaanbidder-fundamentaliste voordeel kan skep deur die Bybel, as Jesus Christus onse HERE (die Woord van God) te verheerlik. Daarmee mislei hulle menige naïeweling wat glo dat veral hul regsinnige geleerdes (gereformeerdes met 'n klein g) , God daarmee in kan pag het.

    Deur God tot 'n bron van heilige Skrifte soos die Bybel te beperk, glo die regsinniges hulself naderhand, en veral in hul besonderse  "begaafde interpretasie" daarvan, dat hulle ALLEEN God in pag het - soos ook in hul belydenis "sola scriptura".  

    Dirk, as geleerde en gesaghebbende in vele onderwerpe het jy reeds sodanig jou punt gestel.  

    Met respek; ek bedoel nie hiermee vir jou enige verleentheid te skep nie, maar bid dat jy wel 'n weg sal vind om die dwaling dat die Bybel die Woord - Jesus Christus - God is, uit die weg kan klaar.  

    Ter wille van die Evangelie.

    Katolieke (met 'n klein k) groete,  

    Cornelius Henn

  • Cornelius, jy sê: Jesus Christus is die Woord van God.

    Hoe weet jy dit? Omdat dit in die Bybel staan? 'n Persoonlike openbaring net aan jou?

    Enige van daardie twee antwoorde bewys my punt.

  • CorneliusHenn

    Beste Dirk,

    Hoe verstaan ek jou punt?

    Uit jou antwoord hierbo, blyk dit moontlik om 'n panteïstiese beskouing daaruit te bepaal naamlik dat God, ALLES is - selfs ek en jy!

    Steeds, hoekom die Bybel dan uitsonder en dit as God verheerlik/mistifiseer net omdat dat Jesus Christus as die Woord van God daarin oordink word?

    Deur die Bybel as God te mistifiseer net omdat God se openbaring as die Woord (Jesus Christus) daarin oorpeins word, laat gewis 'n paradoksale en fundamentele vraagstuk ontstaan.

    Sou jy minstens kon ooreenstem dat God se openbaring as Jesus Christus, en Jesus Christus as die Woord, slegs een van vele sulke mistieke openbaringe van ons almal se Skepper in die ganse mensdom is?

    Eenselfde tyd; sou jy kon ooreenstem dat die Bybel, ook slegs een van vele mistieke bundels is waarin God se woorde opgeteken staan?

    ... alles dusver genoem ook maar net enkele uit vele moontlike wyse van God se openbaringe pas?

    Dalk ietwat van jou punt af, maar wat ek werklik hier wil uitdra: Sou daar hoegenaamd mistiek omtrent God vir ons gewees het as ons, of enige ander opsig in die Skepping, reeds met God verenig was (ook gelees aan die panteïstiese veronderstelling dat God, reeds met alles verenig is)?

    Helfte van die antwoord staan dalk tog in my laaste vraag: Die Bybel is mistiek; ons harte is mistiek; die hele Skepping is mistiek ... juis omdat dit (nog) nie met God verenig is nie (dus in direkte teenstelling met onder meer die panteïsme).

    Dirk, dankie vir jou antwoord dusver. Ek verneem graag jou verdere antwoord in die juiste sin en betekenis aan die woord mistiek, in besonder die lig daarvan jou mistieke belewenis (bespieëling / oorpeinsing / meditasie / vrome oordenking / kontemplasie) by die lees van die Bybel, en jy ten spyte van al hierdie mistiek daaraan steeds genoeg rede vind om die Bybel met GOD, as Jesus Christus (die Woord/Logos) in jou gedagtes hier gedeel te verenig?

    Namaste!

    Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke Boeregroete en Afrikaliefde,

    Cornelius Henn

  • Helize van Vuuren

    Treffende assosiasie, dié! Mooi evokasie van 'n streek, en dan die ekstra dimensie via die verbandlegging ... Vers-materiaal!

  • Cornelius, my punt het min met teologie te doen maar baie met wetenskap.

    Ek onderskei vier vlakke van weet.

    0. Nie weet nie. Soos 'n slak.
    1. Weet. Soos 'n hond.
    2. Weet dat jy weet. Soos 'n mens.
    3. Weet, en weet hoekom jy weet. Soos 'n wetenskaplike.

    Ek wil my geloof op Vlak 3 hê.

    Anders as die ateïste, aanvaar ek die moontlikheid van direkte kommunikasie van God met 'n mens. Anders as party gelowiges, beskou ek trouens daardie kommunikasie as die enigste moontlikheid. Ek gebruik die woord "mistiek" daarvoor.

    Ek is bereid om iemand anders se mistiek as my rede vir geloof te beskou, maar dan wil ek weet wie se mistiek dit is en hoekom ek daardie persoon in daardie spesifieke geval vertrou. Selfs al is dit Paulus.

    Ek beskou nie die Bybel as 'n geheel nie, inteendeel, ek verwerp dan juis die siening dat alles in die Bybel ewe gesaghebbend is.  Ek weet nie waar in my stuk jy die idee vandaan kry dat ek die Bybel met Christus gelykstel nie, behalwe dalk die gebruik van "Woord" met 'n hoofletter in een paragraaf. Ek trek daardie hoofletter met graagte terug.

  • CorneliusHenn

    Beste Dirk,  

    Jy tik: "Ek [Dirk] weet nie waar in my stuk jy die idee vandaan kry dat ek die Bybel met Christus gelykstel nie, behalwe dalk die gebruik van "Woord" met 'n hoofletter in een paragraaf. Ek trek daardie hoofletter met graagte terug." 

    Dirk, dit was wel die enigste rede wat my laat dink het dat jy die Bybel met Christus gelykstel.  

    Ek aanvaar jou regstelling. 

    Baie dankie vir jou geduld.  

    Mag Jesus Christus, die Woord, self die mistiek in elkeen van onse harte wees.  

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top