Die Kerkorrel-sindroom

  • 11

Die odes aan Johannes Kerkorrel, oftewel Ralph John Rabie, stroom nou weer, nes soos na sy dood destyds, in, tien jaar nadat hy grusaam aan sy eie hand gesterf, het – ’n eensame lyk wat aan ’n tou swaai in die skilderagtige kusdorpie Kleinmond in die Kaap – en mens wonder waarom dit dan nog só is.

As mens die berigte omtrent die oorsake van Rabie se oorlye kan glo, was dit ’n desperate, eensame handeling en wonder, hoe het dit dan gekom dat ’n selebriteit so tragies en eensaam aan ’n tou hang?

Rabie had ’n kontroversiële lewe. Hy was in die laat Tagtigerjare joernalis by Rapport en het sy bekendheid via kontroversialiteit bereik met sy musiek se anti-establishment en politiesgelaaide lirieke, sommige waarvan destyds (heeltemal onnodiglik) ‘verban’, was. Maar in sy persoonlike lewe is dit klaarblyklik waar dinge báie skeefgeloop het. Rabie was wel getroud en het 'n seun, maar, volgens berigte, van hulle ook vervreem weens sy lewensprioriteite … hy had ook ’n langtermyn homoseksuele verhouding gehad. 'n Kombinasie wat net hartseer en pyn as vrug vir die betrokkenes kan baar ...

Nou, waarom wéér al die odes? Die lofbetuigings? Die mooi en vroom woorde? Waarom nóú, nadat hy hand aan eie lewe geslaan het? Waar was die odebrengers en mooi-woorde-rymelaars en hegte-vriende in die aanloop tot sy eensame hangdood? Waar was die bemoedigers, die troosbrengers, die langtermyn homoseksuele ‘metgesel’ tóé? Was hulle betrokkenheid/onbetrokkenheid en die wyse waarop dit gedoen/nie gedoen was, nie, tóé almiskie só deel van die probleem dat die eensame hangtou as die enigste, maar grusame, 'oplossing' voorgedoen, het?

Het hy dit almiskie nóú nodiger as tóé?

Was Rabie as Kerkorrel die plaaslike King Rat wat floreer het op sogenaamde Apartheid soos die Tweede Wêreldoorlogse King Rat gefloreer het op die verskrikking van die oorlog, maar, soos King Rat, toe die oorlog deur die vredesverklaring beëindig is, selfmoord gepleeg het, en Rabie, toe sogenaamde Apartheid deur die 1994 'vredesverklaring'-verkiesing, beëindig, is? Waarskynlik ... Maar dit maak nie werklik verskil nie. Dit is tóé dat Rabie Kerkorrel in sy persoonlike krisisse die odebrengers en mooi-woorde-rymelaars en hegte-vriende se bystand nodig had ... nie nou meer, nie.

Hoeveel (minder 'nuuswaardige') mense sterf aan eie hand in hul eensaamheid, dog omring en verdring deur ander mense wat om hulle heen krioel, wyl ons nie eens daarvan hoor, nie?

Maar dit is die ding van die koue, hartelose, verligte, ‘intellektuele’ kamstige ‘moderne’ mens – ’n kil onbetrokkenheid wanneer liefdevolle bystand só nodig is, wat dan skielik omswaai in hierdie deernisvolle meelewende liriese odebrengers en ‘vriende’ wanneer die graf nie meer leeg is, nie …

Dít is die Kerkorrel-sindroom. Te min, te laat.

En daarom juis, is die Trienie's in hierdie wêreld se moedige en onbaatsugtige geloofswerk van soveel onskatbare  lewensredder-waarde, omdat hulle die Liefde van God BETYDS bedien, terwyl die siniese, afstootlike, sarkastiese en aanmerkings van die kille Chris Dippenaars van hierdie wêreld oor haar werk, deel is van die sindroom. Hoe skril kontrasteer die liefdevolle en onbaatsugtige voorsorgwerk van die gelowige nie met die kil krasheid en selfvoldane onbetrokkenheid van die ateïs nie.

Kobus de Klerk

  • 11

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    As jy bygelowigheid in demone en geeste bevorder, glo aan die einde van die wêreld wat om die draai is en dink dat daar ’n goeie mens agter die hatigheid van KdK se bydraes hier op LitNet is, is daar groot fout met jou. As jy jou nuttelose gebedjies en breinspoeling met Bybel-twak aan mense in nood beskou as moedige en onbaatsugtige geloofswerk is daar nog groter fout met jou.

    As jy jou lewensuitkyk hier kom plak in "nederigheid" vir ’n bietjie KREDIET en dit word uitgewys aan jou in, hoe stel jy dit, "siniese, afstootlike, sarkastiese en aanmerkings van die kille ateïs", moet jy dalk aanskuif elders waar mense dink soos jy as jy dit nie kan vat nie. Dit lyk in elk geval of dit jou veel meer pla as vir haar.

    Trienie weet wie en wat sy is: ’n Fanatiese fundamentalis wat vir jare ’n lae profiel gehad het wat nou in haar wedergebore geloof die mag bekom het om te neuk met mense se emosies en koppe. Wat sy beskou as liefdadigheid is niks minder as die magsug van die "alwetende" en "direkte-kontak-met-Jesus" fanatikus. Die uitbuiting van mense wanneer hulle op hulle laagste is. Ek vind daarin niks om te bewonder nie.

  • CorneliusHenn

    Kobus, ek daag jou om jou eentonige sensasiejag op die werf te laai met die veronderstelling dat geen "ware gelowige" nes jy en die res van julle infernale dwepers  op die werf midde alle denkbare liefde en ondersteuning nog nooit die hand aan eie lewe geslaan het nie. Ek kan maar net bid dat niemand naby aan Ralph of enige ander midde sulke hartseer jou besetenheid hier kruis nie. Jy het duidelik geen benul midde jou eiewaan waarvan jy praat nie. Mag Jesus Christus onse Here ons almal genadig wees. Cornelius.

    • Jaco van tonfer

      Die Here sien als raak. Onthou dit net, die oordeelsdag is naby as jy kyk wat in wêreld aangaan. Kan nie glo jul mense is so blind. God is real en dis wonderlik om God te dien. Ek kan net bid vir elke een wat God sleg sê en nie in Hom glo nie. Eendag gaan elke knie buig en elke tong getuig dat Hy God is.

  • Thys Human (PTA)

    Ek blaai gewoonlik maar verby Kobus se artikels want ek het oor die jare geleer dat dit nie help om met hom oor godsdiens in ’n debat te tree nie.

    Maar toe kom kyk ek wat hy oor Kerkorrel/Rabie te sê het en ek moet raaksien dat ons nogal heelwat in gemeen het oor die man en sy vermeende bydrae. Dit het my ook opgeval hoe die odes aan hom tien jaar later weer opstu – amper soos ’n heilige in die kerk se graf weer oopgegrawe word en hy opnuut aanbid word (met natuurlik die pleidooi dat hy steeds wonderwerke sal verrig). 

    Die Kerkorrel-lofsangers soek blykbaar ook politieke en sosiale "wonderwerke" van hom in hierdie tyd van hulle benoudenis – die beloofde land van oop denke oor godsdiens, die politiek en sosiale kwessies soos homoseksualiteit het vir ’n wyle  voor in die wapad geflikker – en toe ’n skielike en grusame dood gesterf.

    Was DIT miskien deel van die redes vir Rabie se keuse om homself en sy Kerkorrel-beeld en boodskap letterlik en figuurlik nek om te draai?  Die ontnugtering, die liederlike besef dat dit waarvoor hy die argwaan en die woede van sy mede-Afrikaners van daardie tyd op die hals gehaal het, nie verwesenlik gaan word nie, maar gaan verdwyn in die agterlike, ultra-verkrampte politiek en sosiale Afrika-leefwyse en ideologie?

    Dit help julle aanbidders niks om sy ideologiese en maatskaplike "lyk" op te grawe in die hoop op wonderwerke nie. Hy is weg, sy tyd is verby en die enkeles van julle wat nog in daardie milieu rondsweef se tyd is vinnig besig om verby te gaan.

    Maar snaaks genoeg is daar tekens – weliswaar eintlik net hier in die Noorde – dat die gees van Afrikaner-Nasionalisme weer begin opflikker en sy stem laat hoor.  Ja, daai stem sing nog baie psalms en gesange, maar selfs ’n ekstremistiese non-teis soos ek word al na gesprekke en byeenkomste genooi. Dis iets wat Kerkorrel nooit te beurt sou geval het nie.

  • Kobus de Klerk

    Naby aan Kerkorrel, sê jy, Cornelius?

    Waar was hulle toe hy sy krisis beleef het? Was hulle toe ook na aan hom? So 'na' dat hy by hulle geen vertroosting kon vind of ten minste die weg na vertroosting, nie?  Hy is nou dood - op watter manier is hulle nou, met sy gevulde graf, 'na' aan hom?

    En so kekkel en koggel julle maar aan, sonder begrip vir wat mens skrywe.   Maar soos gewoonlik verstaan jy en jou mede agnostici nie waaroor ek skrywe nie.

    Kyk maar na die naywerige en afgunstige Chris die kille, se aanmerkings hierbo. Al wat hy deesdae kan doen en skrywe, is om uiting te gee aan sy voortdurende innerlike krisis wat hy beleef as hy ons gelowiges se bydraes lees. Maar, wie gee om wat julle in jul toestand dink, behalwe net in jul nou en benouende binnekring?

    Daarom dat julle eerder geïgnoreer word.

    Die inhoud van ons skrywes spreek vir sigself. Ander mense verstaan wel.

    Kobus de Klerk

  • Trienie Mahne

    Ai-tog,

    KdK se brief oor Kerkorrel, en die manier en toestand waarin Rabie gesterf het, stem my hartseer. Alhoewel dit voorkom of Kobus se brief kil en simpatiekloos voorkom, moet ons erken dat hy die waarheid praat. Sommige het dalk nodig om in die bek geruk te word, want:

    Waarom is dit so dat dat ongelowige skielik die gelowige se gebed opsoek, wanneer hul kind in die hospitaal beland en die Dokter se woorde koud en genadeloos kom:  “Meneer, jou kind gaan dit nie maak nie.”

    - Dit is soos mosterd na die maal …

    Waarom is dit so dat die nie-kerk mens skielik na ’n kerk sal soek om sy geliefde vanuit te begrawe en skaam moet erken: “Ons het nie ’n kerk om die begrafnis in te hou nie.”

    - Dit is soos om bekering te soek na die dood …   

    Waarom is dit so dat die paartjie wat skuldig voel en tog besluit om te trou, sal soek na ’n Leraar en gemeente met die versoek: “Leraar, sal jy die seën oor ons huwelik uitspreek?” net om daarna nooit weer God en sy gebod oor die huwelik na te volg?

    Dit is soos om jou eie seën te verkrag.

    (Hierdie volgende een kry ekself nogal baie.)

    Waarom sal die ronslaper skuldig voel en na die gelowige gaan om die “soul-tie’s” van vorige eenwordings te verbreek, en dan dink dat die daad so sal verdwein?

    - Dit is soos om jou eie gewete te verkrag.

    Waarom is dit so dat die gelowige altyd bereid is om te help wanneer mense in nood verkeer, en nie geld of tyd daaraan koppel? Miskien het Chris vir my 'n antwoord?

    Trienie Mahne

  • Chris Dippenaar

    Trienie, jy weet so goed soos ek dat die oorgrote meerderheid Christene, of dan meer spesifiek, mense wat hulle self Christene noem, dalk een of twee keer ’n jaar in die kerk kom. Godsdiens word beskou as ’n kulturele aspek van mense se bestaan en woord aan deelgeneem (bv. begrafnis, trou) wanneer nodig. Jy verwar geloof in ’n god met kulturele rituele.

    Die Moslem, Boeddhis of Sikh vra nie die Christengod om te help met ’n siek kind nie. Elke geloof op aarde sal stories te vertel hê waar versoeke aan die gode vir gesondheid toegestaan is. Behalwe vir die aansprake van gelowiges dat hulle god ’n wonderbaarlike genesing laat plaasvind het, is daar geen ander bewyse dat dit so was nie. ’n Beroemde Templeton fondasie eksperiment (jy kan dit self gaan soek) het gewys dat gebede absoluut geen effek het op die gesondheid van mense nie.

    Jyself glo dat jou kanker genees was deur God en dat dit bewys is van sy bestaan. Daar kan duisende ander redes wees, een kan dalk die mediese behandeling wat jy gekry het wees, maar jy het die een gekies wat waarin jy persoonlik tyd/gebede belê het. Elke oggend as my wekker afgaan moet ek so gou as moontlik by die toilet uitkom, en nooit dink ek dat die wekker dit veroorsaak het nie. Geloof is die rat aan die masjien wat niks dryf nie, maar die krediet kry as werk gedoen word.

    Iemand het my onlangs gevra wat ek gaan doen as my kind siek is en op sterwe lê as ek nie glo in God nie. My antwoord: Presies wat die Christen ouer sal doen. Ek sal haar versorg en bystaan. Ek sal selfs as sy wil praat met ’n dominee of priester ek die ou gaan oplaai by sy huis en bring na haar. Die enigste ding wat ek nie gaan doen is om te gryp na die grashalms van geloof.

    Jy vra: "Waarom is dit so dat die gelowige altyd bereid is om te help wanneer mense in nood verkeer, en nie geld of tyd daaraan koppel?" Niemand ontken dat Christene meer betrokke is by hulpverlening as enige ander groep nie. Van die vroegste tye het Christene die waarde daarvan gesien om hulle boodskap te versprei. Twee duisend jaar se oefen en bou van strukture plaas hulle in ’n posisie wat moeilik geëwenaar kan word. Dan het mens nog nie eers in ag geneem die politieke bystand en toegewings wat gemaak word aan Christen organisasies nie. Om hierdie posisie voor die ongelowige se neus te swaai as maatstaf van hoeveel beter die gelowige se bydrae is, is onregverdig. Christene help met die een hand en gee Bybels aan met die ander. Neem jouself as voorbeeld, wat anders is jou vertellings hier op LitNet as propaganda vir jou geloof. Wat anders as krediete van Jesus insamel is jou bydraes hier. Vertel my hoeveel Christene jy ken wat goeie werk doen net as daar ’n 'spotlight' op hulle skyn. Vir die wat nie hou van die aandag is daar natuurlik ook die prys van die ewige lewe aan die einde, of dan ten minste die vryspring van die hel. Vir die Christen is niks verniet nie. Sê vir my of jy bereid sal wees om ’n Satanis te help met die vooraf wete dat daar absoluut geen kans is dat hy sy aanbidding van Satan gaan opgee nie? Hoeveel keer vra predikante gelowiges om te bid vir so en so wat in nood verkeer? Hoeveel Christene doen presies dit en niks anders nie? Alles om te wen, die ewige lewe, dit kos niks geld of tyd nie, en dit maak geen verskil!

    Laastens, wat ’n arrogante stelling om te maak dat ongelowige nie "altyd bereid is om te help wanneer mense in nood verkeer, en nie geld of tyd daaraan koppel". Moet goeie werke gekoppel wees aan ’n geloof om te tel? Hoeveel ongelowiges ken jy om so ’n algemene stelling te regverdig?

  • Chris,

    Dankie vir jou skrywe. Dalk verstaan ek nou beter hoe jy dink en voel. Ek moes jou skrywe egter 3 keer oorlees voordat ek jou woorde kon inneem. Elke stem of skrywe het ’n gees agter dit. En moes ek eers deel met die magtelose en hartseer besef dat wat ek ookal verduidelik, jou nie gaan oortuig. Jou hart, te verhard. Maar ek was verlig om te ervaar dat jou aggressie hierdie keer nie so geweldig teenoor my was, dan die vorige.

    Ek wil tog bevestig wat jy noem. Jy is reg dat baie christene nie kerk toe gaan. Daarom my duidelike skeiding tussen ‘christen’ en ‘gelowige.’  ’n Christen WEET van God, ’n gelowige KEN God. Eintlik begin dit by woordskennis, dan verhouding, dan ondervindinge, dan openbaringe, dan wonderwerke. En glo my, vir my as voorheen rebel, het dit nie maklik gekom.

    Templeton kan dus hoe beroemd en slimgeleerd wees, hy sal nie gebed-effek met ’n aards-instrument kan lees nie. Die natuurlike kan nie die bonatuurlike wêreld meet nie. Dit is soos om ’n klavier (instrument) te vra hoe het die hande (skepper) dit reggekry om ’n musiekstuk te speel.

    Verder slaan jy my op die kop met jou rede dat dit onregverdig van my is om die gelowige se bydraes te sien as beter dan die ongelowige. Eintlik het jy my gewys op die vrou wat net een penning gehad en dit gegee het. Volgens Jesus was haar bydrae die meeste. Ek en jy meet dinge aan Rand en sent, maar die Here sien die gewer se hart raak. Skuus, menslike faktor het ingesluip.

    Ek wens natuurlik dat ek jou een naweek saam my kon vat, al is dit net om jou die wonderwerkende krag van Jesus Christus in aksie te laat sien. Maar ja, heel eerste, jou vrou sal dit nie toelaat ...

    Pas jou dogtertjie mooi op. Ek sien jy het ’n mooi vaderhart. Hou haar weg van satanisme. Klink of jy eerder dit sal glo dan die Skepper van hemel en aarde. KdK of ek sal nie jou hart draai, maar moet jy dalk nie hierdie kind van jou eendag onderskat...

    Dankie jou tyd

    Trienie

  • Chris Dippenaar

    Trienie, die groot verskil tussen jou en KdK, alhoewel julle altwee uiters onkundig is oor wat geskryf staan in julle heilige boeke en die implikasies van geloof, is dat jy dink jy doen goed daarmee terwyl Kobus besef dat sy godsdiens ’n baie effektiewe werktuig is om uiting te gee aan sy minagting en haat van sy medemens. Geen hoeveelheid aanhalings en verwysings na Bybelversies kan die monster wegsteek wat agter sy bydraes staan nie. As ek ’n Christen was sou ek seker gebid het vir die ou, maar ek sou myself nie vir ’n oomblik wou assosieer met wat hy te te sê het nie.

    Ek weet dat daar baie Christene is wat LitNet besoek. Het jy nog nooit gewonder hoekom net jy en Dolf reageer op sy skrywes? Kan dit wees dat jy nie insien dat hy meer skade doen aan jou geloof as al die ongelowiges saam nie? As daar iets soos ’n Satan was sou hy baie tevrede gewees het met die "werk" wat Kobus hier doen.

    Chris

  • Kobus de Klerk

    En so sien ons hierbo weer die lis van Chris die agnostikus in werking,  waar hy weereens poog – futiel natuurlik – om ’n wig tussen twee gelowiges in te drywe – optrede wat God haat (Spreuke 6:19) en uiteraard is dit waarom die agnostikus as die dienaar van die duiwelswerk, dit so graag probeer doen. Dit is ook ’n rede vir die persoonlike aanvalle gedurig op ons gelowiges. Dit is ook een van hulle kenmerkende optredes. Tekenend van die lis van die slang wat hy dien.

    Staan daar dan nie geskrywe dat die slang die gelowige in die hakskeen sal wil byt nie? So sien ons ook met sy spirituele kinders. Maar daar staan ook geskrywe dat die gelowige hom die kop sal vermorsel...

    "En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt." – Genesis 3:15.

    En dit is presies die proses wat ons sien afspeel tussen geharde agnostici, die sielskinders van die satan, die duiwelskinders (Johannes 8:43-45) en die ware gelowiges, die sielskinders van God, uit SY Heilige Gees wedergebore as SY seuns en dogters (Johannes 1:12-13; Romeine 8:14-16).

    Dit is ’n rowwe proses. Daar is  nie mooi koekies te bak, nie, want spiritueel het ons niks in gemeen, nie (2 Korintiërs 6:14-18). Dit is spirituele oorlog waar die Swaard van die Woord gebring word om skeiding te bewerkstellig tussen kwaad en goed, tussen die leuens van satan en die dienaars daarvan (die agnostici) en die Waarheid van God en die dienaars van God, die ware gelowiges, ongeag die identiteit van die persone betrokke :

    " Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemele is. Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het" – Mattheus 10:32-40.

    Dit is ’n intense proses waar die geharde koues en loues soos loog van die opregtes geskei word  (Openbaring 3:15-16 g.m. Jesaja 1:25). ’n Proses waar die HERE diesulkes as afgewitte grafte, duiwelskinders en addergeslag, noem en verdoem (Mattheus 23:27; Johannes 8: 43-44; 1 Johannes 3:10; Mattheus 11:21-24; 12:34; 23:33).

    Hoe niks weet die arme agnostikus van die proses waarvan hy onlosmaaklik deel is... hoe niks weet hy van die feit dat hy soos kanonvoer deur die satan misbruik word om die spirituele duiwelswerk te doen. En hoe heelhartig doen hy dit nie!

    So, ek haat die duiwelswerk, die lis,  die satanswerk, wat deur die agnostici so geredelik bedrywe word. Hoe anders? My HERE haat die lis en Goddeloosheid wat hulle bedrywe (Psalm 5:6; 11;5; Spreuke 6:15-19; Johannes 3:36; Romeine 1:18) en daarom is dit sigbaar so. Maar ek haat nie die mens, die arme verdwaasde agnostikus, wat so vasgevang is in die euwels, nie – my stryd is teen wat die agnostikus doen, die duiwelswerk, nie die vlees en bloed mens self, nie (Efesiërs 6:12). Daarom spandeer ons baie tyd, energie en lankmoedigheid  en verduur baie beledigings en die massas ander kwaad wat in hulle harte dwing om uit te bars, om tog maar ter wille van hulleself ook (benewens ander wat baat daaruit sal vind)  die Waarheid aan hulle voor te hou, en hulle in ons gebede te hou.

    Die rede waarom ander ware gelowiges skugter is om deel te neem, is vanweë die aggressie, venyn en antagonisme van die agnostici. Maar ons is in ons diensbaarheid hier, wel in hul gebede.

    Kobus de Klerk

  • Nee, dis nie waarom gelowiges skugter is nie Kobus. Jy praat beslis nie namens my nie. Alhoewel ek nie saam met Chris oor alles stem nie laat jou onderliggende venyn my baie ongemaklik voel. Dis waarom ek (en miskien ander gelowiges ook? ) huiwerig is om tot die gesprek toe te tree.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top