Die kat

  • 1

Hoe dit gebeur het dat Kat my verantwoordelikheid geword het, weet ek nou nog nie. Dit was een van daardie vinnige transaksies tussen ma en kind en voor jy jou kon kry, besef jy dat jy ingeloop is. Die ratsheid van drukkies, redenasies en komplimente wat jy eers agterna as kulkuns herken. My kinders is goed daarmee …

So gebeur dit dan dat Kat na die Desembervakansie nie deel is van die bagasie terug universiteit toe nie. Die swart, benerige en uiters verbale kat, maak haar tuis in my kothuis om te bly. Ek verstaan die kat nie en die kat verstaan my nie, maar dit dompel my nie in ’n eksistensiële krisis nie. Ek verstaan mý ook nie en in hierdie stadium van my lewe, verstaan ek nog minder wat mense dryf om te wees soos wat hulle is. Daaroor wonder ek soms wél as insomnia sy swart mantel oor my kop trek. Of ek luister na my eie asemhaling en verwonder myself teensinnig aan die feit dat geen kognitiewe denke of besluit, die liggaam se drang om te wil leef kan uitkanselleer nie. Ten tye wat die siel kies om nie meer te wil wéés nie, bly die hart getrou suurstofryke bloed pomp. Bly asemhaal ’n onwillekeurige reaksie van ’n liggaam wat tot oorlewing geprogrammeer is.

Kat praat in tale en sy leer my ook in tale praat. Wat de hel soek jy? Kos? Water … of het jy nou bloot jou gat gewip oor ek jou alleen by die huis gelos het? Mettertyd begin ons mekaar se tale tog ontsyfer. Kat het haar eie fiemies. Kat eet nét as sy sien dat ek ’n vars skeppie kos in haar bak gooi. Kat drink water in die bad, en dan ook net as die water nóú getap word. En net ’n kleinerige dammetjie want Kat hou nie van nat voete nie.

Ek het ook my eie fiemies … Ek hou nie van ’n skuurdery nie en as Kat saam met my wil nuus kyk, moet sy uit my spasie uit bly. En ek verdra nie ’n saamslapery op een bed met ’n dier nie. Daai een verstaan Kat egter nie en net soos die kinders, kry sy later tog haar sin. Sy hou haar darem by die voetenent.

Synde die slapery op een bed, mag Kat nie buite speel nie, want by vlooie in die bed trek ek ’n besliste streep in die sand. Die buitehonde help om Kat binne te hou. Die verste wat sy dit waag, is om op die stoep se reëling te sit en die wêreld vanuit haar superieure hoogte te bekyk. Jy verbeel jou verniet, daag die honde haar uit! ’n Keer of wat is daar ’n onderonsie by die voordeur as Kat wil inkom, maar andersins bly hulle uit mekaar se pad.

Op ’n dag is daar fout met Kat. Sy kerm die aakligste geluide op ’n desibelhoogte wat my nerwe stukkend vreet. Sus Google … Kat is op hitte, Ma! Ek vererg my terstond. Hoe op hierdie aarde hou ek nou ’n hitsige kat in die huis opgesluit? Vir klein katte sien ek beslis ook nie kans nie en ek visualiseer die verdrinkingsproses in die swembad. Na ’n week van ween en tande kners, is Kat se origheid verby en dit vat my nog ’n dag of wat om haar te vergewe.

Dit blyk egter ’n herhalende probleem te wees … Kat is weer hitsig belus en ek is beneuk oor die kleinkinders wat die stoepdeur oop los as hulle kom kuier. Kat glip soos blits uit en selfs die honde kry haar hierdie keer nie gestop nie. Drie uur die nag kom krap sy aan die venster om in te kom. Ek skel haar vir al wat sleg is, maar sy trek net haar oë op vermakerige skrefies en maak haar salig tuis by my voete. Die klein slet!

Die natuur laat hom nie voorskryf deur wensdenkery nie, en ek gooi ’n blinde oog vir Kat se dikker wordende middellyf. Jy kry te veel kos, raas ek, maar Kat vreet en slaap haar dae salig om. Kat gaan babatjies kry, roep Sus kloekend uit tydens ’n af naweek. Nie in mý huis nie, swets ek brommend. Ek laai haar so gou soos nou by die DBV af! Of by die buurvrou wie se gemmer mannetjieskat breëbors en uitdagend heen en weer op die grensmuur tussen ons erwe pronk.

Ek tel nie kalenderdae af nie en die verhouding tussen my en Kat raak strammer by die dag. Hoe dikker sy raak, hoe meer vervies ek my vir haar heiliger-as-jy houding. En ek mis happy hour … Kat se uitspattige spelery saans om nege wat retrospektief tóg die saaiheid van lang aande opgekikker het. Sy stel ook nie meer belang in die nuus van die dag nie en haar dragtige lyf word warm op die bed, dus kry sy nie meer haar lê in die waai van my bene nie. Ek mis die ekstra asem as ek snags wakker lê en na die drogbeelde teen die mure staar. En daaroor is ek ook die vieste in. Ek het immers kognitiewe besluite geneem om nooit weer afhanklik te raak van ’n tweede asem in my kamer óf in my kleinserige naby-spasie nie.

Een nag kom klim Kat tog in. Slaapdronk voel-voel ek na die bedlamp se skakelaar en maak myself gereed om haar goed die leviete voor te lees. Dis immers ’n ongeskrewe reël wat nog altyd strafregtelik afgedwing word. Sy hou haarself bó die beddegoed! Dis haar plek …

Ek pluk die kombers oop en my skrikvlakke spring in een asemteug hemelhoog. Die kombers val uit my dom hand om die gedoente te bedek. Wat doen ek nóú, pluk paniek aggressief aan verflenterde binnesnare. Bel ek vir Sus? Nee, dis twee uur in die nag, sien ek.

Ek bly versteen sit en paniek en woede los mekaar oorhands af. Ek dóén nie bloed en beserings nie! Vra enige iemand wat my ken. Deur die genade van Bo was daar nog altyd ’n buurvrou of vriendin byderhand om my kinders se kleintyd-beserings met salf en pleister te behandel. Nou sit ek met ’n kat wat besluit het dat my bed ’n kraamsaal is en ek het geen begeerte of behoefte om vroedvrou te speel nie.

Diere kry hulle kleintjies sommer in die veld, kalmeer ek myself. Hulle weet van nature hoe om te maak ... Die beste wat ek nou kan doen, is om in Sus se leë bed te gaan inkruip. Tog kry ek dit net nie oor my gewete om weg te stap nie. Daar is nie iemand anders om te help of raad te gee nie en dit is nie sommer net ’n verdwaalde straatkat wat op my stoep wil kleintjies kry nie. Dis Kat ... Ek byt op my tande en lig die hoek van die kombers weer stadig op.

My oë pas stadig aan by die skemer van die veilige hawe wat sy self kom kies het. Ek skuif dieper en nader onder die beddegoed in … Kat se oë glim moeg, maar dapper en triomfantlik. Sy draai op haar rug om vir my te wys … Teen haar maag lê die klein rotagtige dingetjie, mooi skoon gelek en reeds aan ’n tepel geheg. Kat druk haar kop liefderyk teen my vinger wat oor die ragfyne rugstring van die kleintjie vryf.

Daar is ’n vreemde gorrel-geluid agter in haar keel. ’n Primitiewe taal wat ek dadelik eien as barensnood. Oeroue woorde van sus en aanmoediging glip deur my droë keel soos ek deel word van hierdie magiese klein tafereel van lewe gee. Ek onthou opeens ook elkeen van my eie kinders se geboortes. Die pyn en doodsbenouing, maar ook die liefde met eerste oogopslag. Ek onthou die reuk van melkasempies en babapoeier … Die melk wat inskiet as ’n roosknop mondjie snuffelend soek.

Ek huil … oor ek moeg is en nog nie klaar geslaap het nie. Ek huil oor die volmaakte beplanning in dag een tot ses van die Skeppingsverhaal en dat ek deel kan wees van die gestalte daarvan. En ek ween onbeheersd oor my eie kinders se pa wat na agt en dertig jaar gekies het om soos ’n jagse mannetjieskat die pad te vat …

Uitgehuil vee ek my trane met die laken af en ek weet dat ek lankal só moes gehuil het. So totaal aards en in die oomblik. Sonder om voorgeskiedenis te probeer herskryf en sonder om angstig te beplan aan die toekoms. Gestroop van dogmatiek en ’n eksegetiese uitleg van voorafbestemming en dat daar iets beters wag vir dié wat glo, want soms is die lewe net pleinweg nie fair nie!

Ek krom my lyf om Kat en die nuwe lewe wat soos ’n naelstring tussen ons lê en vir die eerste keer in ’n lang tyd, voel ek deel van die onmiddellikheid van ’n geheel vol diepte en ruimte wat verby my eie kleinserige grense strek. Ontspan my vel onder die aanraking van beddegoed en ek verbeel my dat ek en Kat tóg eenselwige tale sal kan praat, noudat sy ook ma is.

Al ek hou nie eers van katte nie …

  • 1

Kommentaar

  • Clari Niemand

    Jy beskryf daai "lewe-ding" so goed. Besondere storie, nie jou average "kat-storie" nie! Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top