Die Kandidaat en Citizen Kane

  • 0
die-kandidaat

Die Kandidaat (Bron: Youtube)

Die verskyning van Die Kandidaat in 1968 was ’n gebeurtenis in Afrikaanse flieks vergelykbaar met die eerste vertoning van Citizen Kane in Hollywood in 1941.

Beide was die eerste flieks van jong kunstenaars met ’n teateragtergrond maar weinig ervaring van wat ’n film behoort te wees. Beide het die konvensionele flieks van die dag in die stof gelaat met nuwe tegnieke en ’n hele industrie ongemaklik laat voel oor die eendersheid-van-aanslag wat dit belig het.

Clark Gable het blykbaar gesê nadat hy Orson Welles se fliek gesien het: “Now I have to go back to making those ‘A’ movies again.”

Die regisseur Dirk de Villiers het vertel watter indruk die eerste toneel van Die Kandidaat op hom gemaak het: die jong Roelf Jacobs wat deur ’n gang van moderne kuns in ’n raadsaal instap waar ou Afrikaanse gesagsfigure vir hom wag – die lewendes en die dooies. “Is dit dan soos ’n Franse fliek hierdie? het ek gedink. Op daardie oomblik het ek besef hier is ’n kunstenaar; voor dit het ek gedink Jans Rautenbach is maar net nog ’n kriminoloog wat probeer flieks maak. ;)”

Vyf jaar tevore was Jans Rautenbach, inderdaad, die hoof van Witbank gevangenis. Hy was 29 jaar oud. Hoe het hierdie ongelooflike transformasie gebeur?

Die Kandidaat gaan oor ’n stigting wat Afrikanerbelange bevorder. In die fliek word dit die "Stigting Adriaan Delport" genoem, vandag se gelyke is die Dagbreek Trust.

Alles speel af oor twee dae waarin die stigting ’n nuwe direkteur moet aanstel. Daar is net een kandidaat en meer as die helfte van die speeltyd gebeur in net een vertrek: die raadsaal waarin die bestuur die onderhoud voer en beraadslaag oor die aanstelling.

Eers na 30 minute verlaat die fliek hierdie vertrek en ’n tweede storie begin: die kandidaat se dagwerk is hoof van ’n verbeteringskool vir seuns, en hier loop dinge vinnig skeef terwyl hy besig is met sy onderhoudvoering.

Dit was die eerste keer dat ’n nuwe groep karakter-akteurs op doek verskyn het: Cobus Rossouw as ’n aggressiewe sestiger, Hermien Dommisse as ’n volksmoeder en die jong Regardt van den Bergh (saam met sy pa Gert in hul enigste fliek saam) as ’n probleemkind in die verbeteringskool.

Die twee milieus – die raadsaal en die verbeteringskool – is die haves en die have nots van Afrikanerdom circa 1960’s; die beginpunt en die eindpunt; die arm verlede en die ryk toekoms. Twee verskillende wêrelde, klanke en visuele teksture.

Roelf Jacobs, die kandidaat, probeer (soos Jans Rautenbach) die sprong van die een wêreld na die ander maak. Die fliek is gemaak in die jaar na die moord van Hendrik Verwoerd, en ’n groot beeldhouwerk van hom (saam met ander Afrikanerleiers) staan in die raadsaal, stille toeskouers tot die gesprek van die lewendes.

Die debat in die raadsaal gaan grootliks oor wat die ideale Afrikanerleier se eienskappe behoort te wees. Politiek, kerk en sedes (ek sidder om te dink wat Dr Verwoerd daarvan sou sê).

Twee jaar tevore het Emil Nofal en Jans Rautenbach ’n nuwe filmmaatskappy begin en saam twee flieks gemaak, met Nofal as regisseur – King Hendrik en Wild Season. Beide was, volgens die resep van die dag, Engelse flieks met die minimum 40% Afrikaanse dialoog om vir die groter regeringsubsidie te kwalifiseer.

King Hendrik het ’n toekenning van die nuwe Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, maar Dr Verwoerd se sluipmoord het ’n sterk Afrikaner-intellektuele teenreaksie veroorsaak en dieselfde Akademie het geweier om Wild Season te bekroon omdat dit "onvoldoende Afrikaanse inhoud" gehad het.

Hierdie verwerping was ’n storm in ’n teekoppie, maar het vir Rautenbach ’n idee gegee: ’n 100% Afrikaanse fliek vir die Akademie oor die Akademie, met Afrikaner-gewroeg, maar ’n onweerstaanbare in-jou-gesig kwaliteit, onmoontlik om te ignoreer.

Dit was die Die Kandidaat.

As die premis vir ’n kommersiële fliek in die hande van ’n debuutregisseur kan ek dit kwalik sien, maar die gode, die storms en die wilskrag het gewoed en hierdie onwaarskynlike fliek is gemaak.

Dit was ’n enorme sukses: ’n lokettreffer, ’n deurbraak en het – soos Citizen Kane – dadelik opbeweeg na die top van Afrikaanse beste-ooit lysies.

En dit het – les bes – ’n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die 60’s het die 70’s geword, en die 80’s, en met die volheid van tyd het Die Kandidaat in die verte verdwyn. Ek self het dit deur die jare vermy – die debatte oor die ideale Afrikaner, gevoer in die verlig/verkramp paradigma van daardie tyd; wat die res van Suid-Afrika se bevolking as ’n oorweging uitsluit – is ’n doodgebore baba.

Dit is eers nou, met die herkyk daarvan, dat ek besef dat al die water wat onderdeur die brug gevloei het – die septer wat uit die Afrikaners se hande geworstel is – Die Kandidaat bevry het om weer die Die Kandidaat te wees.

Sonder al daardie onregverdige mag kan ons nou weer eerlik debatteer (sonder ’n groot olifant in die raadsaal): bestaan daar nog so iets soos ’n Afrikaner, soos Afrikaners en wat probeer hulle bereik?

En vir Jans Rautenbach was Die Kandidaat – in triomf en later in stilte – sy mees geliefde film, “want dit was my eerste. Want daarna was daar nie meer ’n eerste nie …”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top