Die Kaap van baie kerke

  • 9

As daar nou een iets is wat ek nou nie kan kleinkry nie, dan is dit om wakker te word op ’n Sondag en te moet luister na drie different kerke in my community. Veral as jy nou die Saterdagaand bietjie gekuier het en jy verwag dan nou om ’n bietjie laat te slaap op die Sondag, maar no such luck. Dan is daar voor, langs en agter jou huis bands wat speel en nie even jou earphones drown die noise uit nie. En mens moet wonder hoekom dan die obsession met kerke in ons communities?

Ek word toe ook remind nou die dag, toe ek op pad is na ’n event en terwyl ek nou die adres op die Google Maps insit. Tot my shock, of eintlik seker nie, is die plek omring deur sewe verskillende kerke in ’n radius van 1 km. Catholic, Pinkster, VGK, New Apostolic, Old Apostolic, Moravian en ek dink Full Gospel ook. You name it, dis daar.

Mens probeer dan op daai moment te verstaan hoekom daar dan die massive behoefte is om ons communities so te oorweldig met al die kerke, maar ook wat die kerk se rol tog nou in ons gemeenskappe is. Ons weet tog histories het kerke nooit geglo ons KhoeSan het siele nie en sy groot doel was om ons te civilise, te bring tot sy ways.

En as daar nou een iets is wat ons mense dan nou nie oor wil praat nie, is dit hoe ons Christene geword het, want dit word eintlik vir granted gevat dat ons communities nou oorvloedig is met kerke en dat die meerderheid Christene is.

Ek is tans ook besig met iets wat praat oor hoe ons as KhoeSan ons eie indigenous spiritual practices verloor het, want voor die Christen missionaries hier aangekom het, was ons KhoeSan eintlik baie geestelik, nie kerklik, en ons was eintlik kerklik gemaak. Nou, imagine mense wat vir duisende jare in die natuur lewe moet dan in ’n kerkgebou sit vir 90 minute? Nee, mense, hoe?

Maar hoe dit gebeur het, is iets wat net nie oor gepraat word nie. Jy question nie die kerk of die pastore nie, of nog te minder die Bybel. Totdat jy eendag wonder waar kom die goed vandaan. Jy vra jou familie, die grootmense, en al wat jy kry is dowe, dooie kyke en word jy gevra of jy mal is. Met wie hang jy nou dan uit? Wil jy hel toe gaan of wat? Die vra na hel is dan snaaks, want as jy van die Kaapse Vlaktes is, waar daar amper elke dag iemand doodgeskiet word, waar jy omring word deur die apartheid-geboude blokke of flats, wonder jy dan hoekom ons dan nou eintlik die hel vrees as ons gemeenskappe klaar hel is.

Ek besoek toe die Rynse kerk in Stellenbosch. Ek kom by die deur en daar staan ’n KhoeSan-oom en -antie. Ek verduidelik toe aan hulle dat ek besig is met navorsing, want ek dink dis belangrik vir ons om die waarheid te weet. Ek lees en hoor allerhande stories van hoe ons KhoeSan in kerke gekom het en hoe ons eintlik geleer was om die Bybel lees. Van die stories is dat omdat ons rondbeweeg het, ons in winters na warmer plekke sou gaan en as ons terugkeer in die somer, na dieselfde plekke, sou ons dan die vreemde kerkgeboue op ons heilige grond vind en sou ons genoodsaak wees om in te gaan, want die stukkie grond is belangrik.

Die Rynse sendingkerk, Stellenbosch (Foto: WikipediaRosino - Flickr Uploaded by tm; CC BY-SA 2.0)

Die ander wat nog meer terrifying is, beantwoord die vraag van hoe ons KhoeSan die Bybel en Christianity aanvaar het. En die storie is dat die Christen missionaries ons grootmense vermoor het en toe die kinders ontvoer het en sodoende ons kinders forseer het om ’n vreemde taal te leer, om nie meer ons eie KhoeSan-tale te praat nie en hul tale en hulle godsdiens te aanvaar. Dié is eintlik nie so skokkend as jy dink dat dit is wat gedoen was aan inheemse gemeenskappe regoor die wêreld waar inheemse kinders ontvoer was en forseer was om die nuwe leefwyse te aanvaar nie. En hoekom word dié nie van gepraat nie?

So is ek toe by die Rynse kerk in Stellenbosch en ek sien toe die ornament wat sê "Eerwaarde Luckhoff" en dit praat van sy werk om die woord te versprei onder die mense van Stellenbosch, maar wat dit nie sê nie is die mense het tog vir duisende jare alreeds hul eie geloof gehad, hul hulle eie tradisies gehad. Dat dit versteur was.

Weet die mense by Hoërskool Luckhoff, ’n hoofsaaklik bruin skool en wat eintlik meerderheid KhoeSan is, wie die eerwaarde Luckhoff is na wie hulle skool verwys?

Maar dan sien ons ook die wonderlikheid van die Afrikaanse taal met die woord “eerwaarde”, want wat sê dit tog vir ons as ons die woord “eerwaarde” gebruik? Dat die persoon eerwaardig was. En tog, om mense te ontneem van dit wat hulle vir duisende jare gedoen het en dit as heidens en verkeerd te bestempel, is dit eerwaardig?

En weer eens kom ons by vandag waar daar amper 100 kerke in elke KhoeSan-gemeenskap is. Somtyds is van die mooiste kerke in die mees armoedige gemeenskappe waar mense eintlik omring is met hokkies – daar is soms triple storey-kerke. Orals waar jy dan ook vandag die Morawiese kerke sien, eintlik regoor Suid Afrika en sowaar as ou bokvet, waar hulle staan is daar KhoeSan-gemeenskappe. Hier dink ek weer eens aan die storie van die Duitse sendelinge, die Morawiese sendelinge onder leiding van Georg Schmidt, wat bekend sou word as die Apostel van die Hottentotte, wat deur die mees wrede paaie sou gaan om die Hottentotte in ’n plek soos Wupperthal te convert na Christianity en enigeen wat daai pad al gewaag het, sal weet hoe genadeloos daai pad is, en dan tog nie net in Wupperthal nie, maar in Genadendal, Mamre, Pella, Elim en vele meer. Wys jou net hoe desperaat die mense was om die heidene te doop. Het ons mense dalk net so maklik ons eie tradisies en geloof prysgegee vir die vreemdheid? Sekerlik nie, maar ons hoor ook niks daarvan nie.

Genadendal sendingstasie (1849) deur George French Angas (Bron: Wikipedia)

Nou, mens, ek is nie teen die Christelike of enige ander geloof nie en dis nie my plek om vir ons KhoeSan-mense voor te skryf nie, maar ek glo wel dat mense moet weet hoekom ons sekere dinge glo. Want net dan kan jy ook die regte besluite neem.

Maar wat ironies is, is tog dat die kerke wat toe dan nou al vir dekades hulself tuiskom gemaak het, die Morawiese, Presbyterian/Pinkster, Metodiste, Nuwe Apostoliese, Ou Apostoliese, VGK, Anglican, Roman Catholic, was daar, post-1994, ’n klomp nuwe kerke wat tot stand gekom het. ’n Kerk op elke hoek en draai, so ’n pop-up church concept, iets waar elke persoon nou apostel, profeet of pastoor is.

So, voor 1994 was die kerke se doel om verwarring van ons eie KhoeSan se spiritual beliefs te verseker en ons in ons oppression te hou met die gesegdes dat "die slaaf moet onderdanig wees aan sy slaafmeester" of "moet nie worry oor môre nie, God sal vir jou sorg", maar die een wat ook vertel van "moenie worry as dinge met jou gebeur nie, wees net stil" en nou na 1994 is dit dit en net geldmaak.

Hoe hartseer is dit dan as jy hoor dat die pensioners dan van hulle R1 400 hulle tiendes aan die pastoor, wat reeds sy tweede huis en derde kar gekoop het, moet gee, anders word hulle eintlik gedreig dat hulle nou nie die koninkryk van God gaan intree indien hulle nie hul laaste gee nie. Oukei, ek besef dis nie al die pastore nie, maar ons weet baie is so. Dat die vrese wat die Europese missionaries in ons forseer het, dan nou gebruik word en ons dan nou deur beide hierdie vreemdelinge en ons eie mense uitgebuit word.

Ek kyk en dink ook dat daar nie huise gebou word nie – ons mense bly op mekaar en word backyard dwellers in familie of vreemde mense se plekke genoem. Wat as ons dan van die kerke gebruik en dit omskep in toeganklike en affordable huise of accommodation of dit gebruik as community learning centres of skole? Maar nee, dan sê ons eie mense ons need kerke.

Maar die gebou staan dan vir 90% van die tyd dolleeg op groot stukke grond? Mense loop eintlik nie meer kerk nie. Weer eens salig onbewus van wie op daai land was voordat die kerke daarop gebou is. Wie dan soos die Morawiese kerk nou een van die grootste grondeienaars. Is dit nie nou tyd dat daar krities hieroor gepraat word nie?

In Wupperthal was daar reeds gepraat oor wat gedoen moet word met die grond en die eienaarskap daarvan. Want soos ek dit verstaan, het die koloniale/apartheidsregering die grond in die besit van die kerk gesit en vandag besit die kerk nog steeds al die grond en kan doen net wat hy wil. Mense is nou bietjie moeg daarvoor.

Die vraag is of kerke dan nie self eienaarskap moet vat vir hulle rol in ons KhoeSan se verlies van ons tale, identiteit, kulture en menslikheid nie. In plaas van goed wegsteek kan hulle hulself afvra wat hulle kan doen in ons Kawakawas of die restourasie van die Khoekhoe-taal, want dis tog ook maar die regte ding om te doen. Ons kan nie steeds sien hoe ons mense bang gemaak word en dan steeds nie die waarheid aanvat nie. Om weg te kruip agter die Bybel gaan niks antwoorde bring nie.

  • 9

Kommentaar

  • Interessante stuk wat eintlik baie omtrent niks sê want die aanslag met die kyk om nie te sien is gebaseer op miskonsepsie.
    Sonder om te verduidelik wil ek die volgende plaas: die liggaam van Christus het baie dele daarom ook baie denominasies, maar nie alle denominasies is deel van die liggaam van Christus nie, net die wat bely dat Jesus die seun van God is en dus ook God is.
    Om deel van die liggaam van Christus te wees is nie net te beskore aan net sekeres nie, maar alle bevolkings, dus was die Khoesaan eintlik gehelp om die ewige lewe te bekom, en dus nie ’n negatief nie.
    Mal 3:8 Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe ... dus om tiende te gee gee jy dit nie vir die pastoor maar uit gehoorsaamheid aan God, as die pastoor dit verkeerd aanwend sal God oor hom regter wees, maar God sal die persoon wat die tiende bring vergoed .... Mal 3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

    • Richard J Cupido

      Deon Maritz, ek stel voor jy lees weer wat Denver sê met 'n kritiese oog sodat jy agter die Kaap van die byl kom ...

  • Pragtig en in die kol gestel, Denver.
    Lees gerus my gratis boek, "White Afrikaner Mischief" op Kobo.com. Enter net coen van wyk in die "search"-fasiliteit en dan sal jy hom kry.
    Sterkte met jou aktivisme!

  • Johann Basson

    Geagte mnr Breda, vrydenkers filosofeer oor die sin en betekenis van die lewe en menslike gedrag. Feit is ook dat hierdie lewe geen einde het aan vrae nie. Bevraagtekening maak die lewe interessant, maar die spilvraag is: "Wat doen ek as 'n Khoikhoi-afstammeling daaromtrent?"
    Tans worstel ek as afstammeling van die Khoikhoi met die vraag: "Wat het gemaak dat die Khoikhoi en San blykbaar so ongeveer 1000nC weggetrek het uit die noord-ooste van Suid-Afrika na die suide en suid-weste van Suid-Afrika? Was die beweegrede oorbevolking? Hongersnood? Natuurrampe? Kolonialisme uit die noorde? Slawerny?" Of het ek die kat aan die stert beet?

  • Sakkie Spangenberg

    Ek voel my tuis tussen die sinne van Denver Breda. Kort na die bewindsoorname het ek nek uitgesteek en in 'n referaat by 'n Ou-Testamentiese kongres op Stellenbosch (1996) vir die NG Kerk gespreek. Eintlik maar net 'n paar kritiese vrae gevra oor die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste noudat die RSA 'n nuwe bedeling betree het. Ek is spoedig die kop gewas. Maar ek het moed geskep toe ek die volgende sin in Theo Salemink se boek De Afrikaanse Mythe (1997:223) raakgelees het: "Als iemand teveel af gaat wijken van de dominante ideologie in een samenleving, in een sector daarvan, in een blad of een kerk, dan zal op den duur deze schrijver naar de marge geduwd worden en zo nodig buitengesloten." Die vrae wat in Denver se stuk gevra word, is belangrik, en dis hoog tyd dat die vrae uit die geledere van die Khoesaan self gevra word.

  • Sakkie Spangenberg

    Christensendelinge het nooit ander mense op gelyke voet ontmoet nie (en doen dit steeds nie). Die ander was/is altyd heiden, onbeskaaf, barbaar, onopgevoed. Die ander moet gekloon word om eintlik mens te wees. Neem jy nie die Christelike geloof aan nie en word jy nie gedoop nie, bly jy altyd op 'n laer vlak van menswees. Rassisme in die Westerse wêreld het 'n religieuse wortel. Daarom vra Theo Salemink heel tereg: "Kan het cultureel racisme van de Afrikaanse Mythe met wortel en tak uitgeroeid worden zolang de rangorde van lager 'heidendom' en hoger christendom gehandhaaf blijft? Kan de 'ladder van de mensheid' vernield worden als de 'ladder van de religies' overeind blift?" (Salemink 1997:213)

  • Rene Spalding

    Ek haal Denver aan: "Ek glo wel dat mense moet weet hoekom ons sekere dinge glo. Want net dan kan jy ook die regte besluite neem". Hy probeer net sy mense wakker maak met hierdie baie goeie en logiese uitgesette stuk, verander van lammers na denkende mense sonder om agter enige iets te skuil. Hy bring baie goeie redes vir nadenke na die tafel toe sonder om neerhalend of alwetend voor te kom. Hy, soos enige mens in hierdie hmm "vry land", het 'n reg tot vrye spraak en om antwoorde te soek. Ek hou van sy idee om leë kerke te gebruik om mense te huisves wat bo-op mekaar moet lewe. Gee mense hul "dignity" terug. Waar pas SA hierdie mense in of word hulle versteek agter palmbome, (dankie SW) en omring met kerke? Is ons nie maar almal bang gepraat om ons te probeer kontroleer nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top