Die Jupiter-debat in perspektief

  • 6

“Debating spiritual intelligentsia on the topic of science is rather like trying to play chess with a pigeon; it knocks the pieces over, craps on the board, and flies back to its flock to claim victory."- Scott D Weitzenhoffer (met geringe aanpassing).

Die afgelope ruk is ons heerlik vergas met skrywes uit twee oogpunte oor Jupiter en sy mane. Aan die een kant het KdK vir ons die spiritueel intelligente perspektief verwoord en aan die ander kant het veral Brianvds en Panda vir ons die wetenskaplike perspektief weergegee. Hoe het ons by hierdie onderwerp uitgekom en hoe lyk hierdie twee perspektiewe?

’n Hele lang tyd gelede het ek ’n skrywe geplaas oor die wonder van die werklikheid. As ek reg onthou was dit nadat ek die e-boek weergawe van Richard Dawkins se The Magic of Reality aangeskaf het. Ek het die verwondering wat ek beleef het beskryf toe ek die eerste keer Jupiter se mane en Saturnus se ringe deur my seun se 200 mm Ø Newtonse teleskoop bekyk het. In ’n fanatiese poging om my te diskrediteer, verskyn daar toe uit die spiritueel intelligente sektor die onthulling dat Jupiter se mane nie met ’n gewone teleskoop vanaf die aarde sigbaar is nie. Dis nou omdat dit kwansuis nie teen die agtergrond van die strepe oor Jupiter moontlik sou wees nie. Toe KdK destyds besef dat die argument nie water hou nie het die hersenskimme van optiese illusies begin opklink. Omdat ons nie so ordentlik soos Brianvds was om aan te hou om op die sotlikhede te reageer nie, het die duif uit kammaland (lees kdK) triomfantelik weggevlieg en oorwinning verklaar. Die hele oefening was hoogs amusant en het ons almal die geleentheid gegee om die spiritueel intelligente metode in aksie te sien en die stappe te identifiseer. Stap een is om alles wat nie-gelowiges kwytraak, aan te val en ’n opinie daarteen uit te spreek al weet die spiritueel intelligente (SI) niks van die onderwerp af nie. Dit doen die SI deur webwerwe (veral kreasionistiese webwerwe) te soek wat oor die onderwerp handel, dit in (swak) Afrikaans te vertaal en dan voor te gee die SI weet iets. Dit was destyds heel gou duidelik dat die duif van kammaland hoegenaamd niks van die sterrekunde weet nie maar hy het onverskrokke aangehou om die stukke op die skaakbord om te stamp en oral wit blertse te laat. Die tweede stap in die SI-metode is om, selfs nadat jy besef dat jy verkeerd was, te hou by jou storie en te hoop dat jou opponent sal moed opgee sodat jy kan wegvlieg en oorwinning opeis. Dit werk gewoonlik want as jy lank genoeg aanhou is die skaakbord so bemors en al die stukke lê in so ’n warboel dat verdere spel nie moontlik is nie. Jou opponent draai gewoon weg en soek werklik intelligente geselskap op terwyl die SI kan opvlieg kammaland toe en oorwinning amptelik aankondig.

Brianvds en Panda het vir ons die afgelope paar dae die wetenskaplike perspektief kom illustreer met interessante feite en behoorlike argumente. As dit ’n gewone spel tussen werklik intelligente (WI) deelnemers was, sou alle drogargumene met behoorlik wetenskaplik gefundeerde redenasies en bewyse weerlê word en sou die spel eindig met ’n skaakmat-situasie waar bewese hipoteses die wilde aannames oorskadu. Hiervoor het ’n mens egter ’n skoon skaakbord en stukke wat regop staan nodig.

Dankie, Brianvds en Panda vir nuttige inligting en ek moet sê ek bewonder Brianvds vir sy geduld om tussen die blertse en die omgeskopte stukke die spel aan te hou speel. KdK verdien darem ook ’n dankie vir sy pragtige illustrasie van die proses van spirituele intelligensie.

Groetnis

Thomas

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 6

Kommentaar

  • Thomas: Dankie vir die ondersteuning. Ek was nou op die punt om jou term "spirituele intelligensie" te bevraagteken, maar die snaakse ding is, uit KdK se spelling en taalgebruik is dit duidelik dat hy nie aan intelligensie tekortskiet nie. 

    Maar sy skynbaar absolute fanatisme maak hom soos ’n muil met oogklappe aan: wat voor hom is byt hy en wat agter hom is skop hy, en dit wat aan die kante is bestaan eenvoudig nie. 

    Baie eienaardig, en inderdaad op die langer termyn frustrerend. Ek dink nie ek sal ’n goeie psigiater maak nie. 

    Maar hopelik het ’n paar lesers hier darem een aand hul verkykers gevat, in die aandlug uitgestap en die wondere van die kosmos self gaan aanskou. 

    Vreemd dat KdK skynbaar tevrede is dat jy wel Saturnus se ringe kon sien. Ek meen, hoe weet jy die ringe is rondom Saturnus? Dalk is dit ’n optiese illusie?

  • Chris Dippenaar

    Thomas, soos jy sit ek nou al ’n paar dae en verwonder myself aan KdK se stoofplaat-dans. Asof dit nie al voorheen duidelik was nie, demonstreer hy nou vir ons hoe nutteloos sy opinie oor enige saak is. Dit is nie vir my heeltemal duidelik wat hy probeer bereik met hierdie nie-geloof argument nie, maar ek vermoed dat dit soortgelyk is aan die post-moderne strategie om die wetenskap se aanspraak op kennis te ondermyn. Valslik neem hulle aan dat dit hulle eie aanspraak op kennis en die waarheid inlaat. Aansprake wat nie gegrond is op die wetenskaplike metode nie, en gewoonlik rus op reuse veronderstellings wat nie geregverdig kan word, kry dan ’n epsitemiese status wat dit nie verdien nie. In KdK se geval reken hy sekerlik dat die keuse lê tussen die kennis van die wetenskap en die waarheid van sy geloof. Dis ’n poging om godsdiens te bevorder sonder om dit te regverdig.

    Brian en Panda was absoluut briljant die laaste paar dae, baie dankie daarvoor. Ek hoop hulle mors nog so ’n rukkie met KdK. Ek geniet dit vreeslik om die ou meer as gewoonlik te sien sukkel met sy brein-bedrading.

    Chris

    Ns. Wonder of Trienie op ’n stadium gaan laat weet dat Kobus se bydrae baie leersaam en spiritueel vervullend was?

  • Chris: Ek merk op dat wat hierdie Jupiter-ding betref, KdK se gewone stel ja-broers verbasend stil is.

    Ek sal maar moet sien of ek die tyd en energie het om nog verder met hom te bodder. Maar ek wil hom eintlik ook aan die praat hou, want hoe meer hy sê hoe meer ondermyn hy sy eie geloofwaardigheid. Soos met alle fundamentaliste, is hy sy eie grootste vyand.

  • Chris: — Ja dit het my ook opgeval dat die tradisionele ondersteuning van Dolf en Triene vir Kobus se skryfsels in die Jupiter-debat nogal opsigtelik afwesig is. Ek meen lojaliteit het seker darem ook grense en beperkings.
    Panda

  • Kobus de Klerk

    Kostelik hoe julle outjies bymekaar kliek om mekaar moed in te praat sonder om in staat te wees om dit wat ek julle voor die deur lê, te kan hanteer op ’n sinvolle manier. Sommige het probeer maar gou moed opgegee.

    Briansvds erken nou al elders openlik dat hy nie verstaan wat ek sê nie (ek sê mos al lank so en uiteindelik kom hy dit nou self ook agter) hoewel hy my tipes daarvoor wil blameer. Maar hoe kan jy iemand anders blameer vir jou eie onbegrip en insigloosheid? Net agnostici sal soiets probeer doen.

    Kobus de Klerk

  • Kobus: Dit is straks ook moontlik dat jy bloot nie goed verduidelik wat jy van praat nie. Of doelbewus bontpraat sodat jy nie ooit ’n fout hoef te erken nie. Maar in daardie Jupiter-debat het ek in my nuutste boodskap nou ’n paar vrae gevra wat dalk die hele ding kan oplos, want hulle is taamlik direkte en eenvoudige vrae wat maklik met direkte, ondubbelsinnige sinne beantwoord kan word. 

    Ek sal dus dalk binne die volgende dag of twee heelwat meer duidelikheid hê oor wat presies jou idees is. Die probleem is dat jy tot dusver heel wilde aanvalle geloods het op die konvensionele wetenskaplike posisie, maar glad nie duidelik is oor wat jy as die alternatief sien nie. Dit is dus moeilik om jou boodskappe te volg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top